‘God’ uit Kovsies se leuse gehaal

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Rapport van 9 Januarie 2011 verskyn. Dit berig daaroor dat die woord “God” uit Kovsies se leuse gehaal is. Die leuse het soos volg verander:

  • Vorige leuse: “In God is die lig van wys­heid”
  • Nuwe leuse: “In waarheid is die lig van wysheid”

Die rede is om polities meer korrek te wees.

‘n Mens wonder waar die teologiese fakulteit was toe hieroor besluit is. Die VF+ (Vryheidsfront+) het ’n sterk mening uitgespreek (kyk FF+ unhappy about removal of God), maar nêrens lees jy dat die teologiese fakulteit van die Vrystaat hulle daaroor uitgespreek het nie.

Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. (Lukas 9:26)

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie (Romeine 12:2a)

***************

‘God’ uit Kovsies se leuse gehaal

Rapport, 9 Januarie 2011

’n Storm in die kleine het losgebars oor die Universiteit van die Vrystaat (UV) se besluit om die woord “God” in sy leuse deur die woord “waarheid” te vervang.

Beswaarmakers meen die weglating van “God” uit In Deo Sapientiae Lux (In God is die lig van wys­heid) ontneem die UV sy tradisioneel Christelike karakter.

Die nuwe leuse, In Veritate Sapientiae Lux (In waarheid is die lig van wysheid), is reeds deur die senaat en universiteitsraad goedgekeur, maar word glo eers einde Januarie amptelik bekend gestel.

Teen gister het die nuwe leuse egter reeds op die UV se webblad gepryk.

Me. Lacea Loader, woordvoerder van die UV, het aan Rapport gesê hulle wil die universiteit herposi­sioneer sodat dit ooreenstem met die Suid-Afrikaanse visie van ’n demokratiese, inklusiewe en getransformeerde samelewing.

Sy sê in hul navorsing is bevind nie almal kan hulle met die bestaande leuse vereenselwig nie en dat daar vrae bestaan oor die toeganklikheid van die universiteit vir alle gemeenskappe.

Prof. Shaun de Freitas, hoof van die departement grondwetlike reg en filosofie, het in ’n akademiese artikel aan kollegas gevra of ’n “sogenaamde neutraliteit” met godsdiens die gewenste roete is.

Hy argumenteer dat die weglating van “God” weer ánder mense uitsluit.

Ook prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk wat verbonde is aan Kovsies se fakulteit teologie, het by navraag gesê: “’n Mens kan vanuit ’n Christelike perspektief inklusief wees.”

Strauss en ander kollegas het “sterk beswaar” teen die verandering gemaak, maar het by Rapport gehoor die koeël is deur die kerk.

Hy sê die UV moet die godsdienstige sienings in die vernaamste voedingsgebiede van sy studente – die Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap – in ag neem.

“Wat my betref is ‘waarheid’ ’n verswakking. Dis ’n ingrypende verandering.”

Mnr. Abrie Marais, leier van VF+ Kovsies, sê baie van die studente voel hulle is nie behoorlik geken in die besluit nie.

Die UV het nie ’n studenteraad om oorleg mee te pleeg nie. Die vorige een is verlede jaar ontbind weens rassepolitiek wat spanning op die kampus veroorsaak het.

Ander rolspelers het vrede daarmee. Mnr. Naudé de Klerk, voorsitter van Kovsie Alumni en lid van die universiteitsraad, sê hulle het aanvanklik ’n paar vrae gehad, maar hy meen al die kommer is deur oorlegpleging uit die weg geruim.

“‘Waarheid’ is vir ons aanvaarbaar.”

Volgens Loader weerspieël die nuwe leuse steeds “die diep godsdienstige karakter van die universiteitsgemeenskap. Die woord ‘waarheid’ ondersteun ook die breë geestelike ingesteldheid van die UV.

“Hoewel daar enkele besware was teen die weglating van die woord ‘God’, het die meeste besware gehandel oor die voorgestelde ontwerp en kleure van die akademiese handelsmerk.”

Dié besware is in ag geneem, sê sy. “Die UV het ’n omvattende verbintenis tot die vryheid van personeellede en studente om hul geloofsoortuigings uit te leef,” het sy bygevoeg.

Storie via @Rapport ’n artikel geskryf deur Herman Scholtz

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui