NG Kerk win regsadvies in oor gemeentes wat verband wil opskort

*******

NG Kerk win regsadvies in oor gemeentes wat verband wil opskort | Netwerk24

Dennis Delport

02 Maart 2024

Die NG Kerk het regsadvies ingewin oor gemeentes wat hul kerkverband wil opskort.

Die doel hiervan is nie “om met dreigemente na gemeentes te gaan nie”, maar om “in gesprek te tree om die eenheid van die kerk te beskerm”, sê ds. Maartje van der Westhuizen, assessor (ondervoorsitter) van die algemene sinode.

“In ons kerkorde bestaan daar nie iets soos ’n gemeente wat apart kan funksioneer nie,” sê sy.

Die regsadvies is vandeesweek op ’n vergadering van die algemene sinodale moderamen (ASM) bekom.

Luidens ’n dokument van die algemene sinode, wat Netwerk24 onder oë gehad het, moes onder meer bepaal word of ’n gemeente die bevoegdheid, mandaat en/of reg het om sy kerkverband op te skort.

Die advies lui: “ ’n Kerkraad het nie die bevoegdheid om die Kerkorde te verander of te ignoreer nie en handel onregmatig wanneer die verband met die kerk opgeskort word. Opskorting van die kerkverband kom neer op kontrakbreuk, aangesien die kerkorde die onderlinge ooreenkoms tussen kerkvergaderings is wat hul interne funksionering en verhoudings met mekaar reël.

“Die opskorting van die kerkverband het dus geen regskrag nie en hef nie verantwoordelikhede teenoor die kerkverband op nie,” lui die dokument.

Dié gemeentes is onder meer beswaard oor die algemene sinode se besluit dat elke gemeente self kan bepaal hoe hulle selfdegeslagverhoudings gaan hanteer. Dit hou ook verband met teologiese verskille met die algemene sinode, sê Van der Westhuizen.

Op die ASM-vergadering is ook beraadslaag oor gemeentes wat hulle by ander sinodes van die NG Kerk wil aansluit.

Die NG Kerk bestaan uit tien sinodes, waarvan nege in Suid-Afrika en een in Namibië is.

Van der Westhuizen sê die hoofdoel van die ASM-vergadering was nie om die kwessie van sinodes te bespreek nie, maar om die kerk se roeping te definieer.

Rapport het in Februarie berig die NG Kerk het ’n “krisispunt” bereik.

In ’n dokument wat deur die behoudende Koinonia-sinode goedgekeur is, eis hulle dat lidmate en predikante eens en vir altyd tussen die “ware” en die “valse” kerk kies. Dié sinode bestaan uit 56 NG gemeentes.

In die dokument, berig Rapport, maak die Koinonia-sinode dit duidelik dat hy hom “distansieer van samewerking met gemeentes en meerdere vergaderings wat die algemene sinode se dwaling ondersteun”.

Die Tafelberg-gemeente in Kaapstad se middestad was in Junie die eerste gemeente wat hom losgemaak het van die algemene sinode.

Die gemeentes van Leeuwberg, Vanstadensrus en Kestell in die Vrystaat het daarna hul kerkverband opgeskort. Hulle is gevolg deur die gemeentes van Kempton Krag in Kempton Park in Gauteng en die Strand in die Wes-Kaap, wat hulle onderskeidelik in Desember en in die middel van Januarie van die algemene sinode losgemaak het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui