Verbi Divini Minister – alom

Kyk ook:

Die volgende artikel is geskryf deur Jan Lubbe, voorsitter van die kuratorium van die Universiteit Vrystaat. Dit is geskryf na aanleiding van die debat oor die NG Kerk se drie teologiese fakulteite wat begin het na ’n berig oor Fanie Snyman op 12 Junie 2019 (kyk Fanie Snyman moeg vir verdagmakery vir die lys van artikels wat deel gevorm het van hierdie debat). In die artikel sê Fanie dat ongelukkige lidmate met die kuratoriums en teologiese dosente moet gaan gesels oor probleme wat hulle ervaar.

Soos Michiel Strauss gewys het (18 Junie 2019), wys Jan Lubbe ook dat dit nie sal help om met die kuratoriums te praat nie.

Jan Louw het op 20 Februarie 2018 ’n volledige voorlegging aan die kuratorium van UV gemaak waarin hy die teologiese probleme baie duidelik uitgespel het (Jan Lubbe was ook daar teenwoordig). Ten spyte daarvan, is Lubbe net op die verdediging. Daar is steeds geen begrip vir die teologiese probleme nie.

**********

Verbi Divini Minister – alom | Netwerk24

Deur Jan Lubbe

25 Junie 2019

Eerstejaarstudente in die fakulteit teologie by Kovsies skryf vandag ’n vraestel oor “The History of Christianity”, ’n kursus wat hulle inlei in die Christelike teologie en -ge­skiedenis as basis vir hul opleiding. Oor drie jaar sal hul kennis en nadenke oor die Ou en Nuwe Testament, God Drie-enig, etiek, die kerk en erediens, ander godsdienste en die pastorale versorging van mense verdiep.

Daar is 69 eerstejaars, van wie die meeste (27) van charismatiese en onafhanklike Afrika-kerke; 9 van die NG Kerk-familie; 6 van die ZCC; 5 van die Presbiteriaanse kerk, en 4 elk van die Metodiste-, Anglikaanse en Rooms-Katolieke kerke is. ’n Derde is van die Vrystaat en Noord-Kaap; die res van oor die land heen tot so ver as Limpopo (9). Vyf is wit, agt bruin en 56 swart. Agt is Afrikaans en die res het in Engels skoolgegaan.

Die Taizé-lied (Psalm 117) waarmee elke lesing begin, het ons in Latyn leer sing, in Engels, Sotho en Afrikaans (dis terloops ook die geskiedenis van Bybelvertaling).

Sedert 2013 het die voorgraadse studente in teologie van 114 gegroei tot 206, van wie 58% vroue is. Dié statistieke wys hoe die konteks van teologiese opleiding in Bloemfontein verander het van vier dekades gelede toe die UV en die NG Kerk in die Vrystaat die pad saam begin loop het. Die behoudend-gereformeerde fakulteit van destyds het ekumenies geword; die eens Christelik-Afrikaanse universiteit is nou ’n publieke instelling wat die demografie weerspieël. Studente word nie meer in ’n enklave van één kerklike tradisie opgelei nie, maar leer in ’n diversiteit van Christelike denomi­nasies die Bybel lees, vertolk, en saam leer sê “ons glo aan ’n heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van gelowiges” (Apostoliese Geloofsbelyde­nis).

Die teoloë-in-wording leer om in ’n wetenskapsomgewing met jong sterrekundiges of bioloë oor God se Skepping te gesels; met dokters oor aborsie en genadedood, met juriste oor geregtigheid as koninkryksbeginsel, en met sosioloë oor armoedeverligting . . . Dit stel uitdagings aan ’n teologiese kurrikulum, maar bied kans om te vra na die relevansie van die blye boodskap van Godsliefde vir ’n wêreld in nood.

Daar is ’n tweede konteks: die kerklike sy van teologiese opleiding. Die meeste studente studeer teologie om “VDM” te word: Verbi Divini Minister; bedienaar van Gods Woord in ’n spesifieke kerk. Dis te waardeer dat hierdie akademiese fakulteit kerke as volwaardige vennote in die opleiding ag; dosente by plaaslike gemeentes inskakel en meeleef; ’n kerklike adviespaneelopleidingsbehoeftes, kurrikula en -uitkomste met dosente bespreek; en kerke twee keer per week “kerkeie” opleiding bied. Die NG Kerk benut dit om ons belydenisskrifte te behandel; sinodebesluite en praktyke in gemeentes te bespreek; retreats oor gebed en geestelike dissiplines aan te bied en studente persoonlik te begelei.

Want dís die derde konteks vir teologiese opleiding: hierdie jong mense self. Hulle daag met verskillende roepingsverhale en lewenservaringe op, dikwels verwond deur die lewe in Suid-Afrika. Hulle het gawes van God gekry om mense te kan help, maar benodig vaardighede om dit goed te doen.

Lesinglokaal en opleidingsgemeente vat hande om studente te leer van empatie, kommunikasie en leierskap. Dán getuig ’n eerstejaar in haar eksamen: “Before I joined the theology family I had no clue about the church and I did not really believe in God. But now I believe and I can share my knowledge with others without any fear – that’s how good Church History is.”

Studente en dosente in teologie het die gebede en steun van hul kerke nodig, sodat God ook deur húlle ons land ten goede kan verander.

1 thought on “Verbi Divini Minister – alom”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui