Teologiestudente verloor geloof by NG Kerk fakulteite

Kyk ook:

Briewekolom van Kerkbode, 16 November 2001

Anonieme teologie-student stryf per e-pos:

Ek is ’n teologie-student aan een van die NG Kerk se teologiese fakulteite. Ek wil graag reageer op die Sinode van Noord-Kaap se voorstel dat die kerk sy eie seminarium moet kry (Die Kerkbode, 2 November 2001).

Ek is bekommerd oor die opleiding wat voornemende predikante kry. Dit voel soms of ek vir die leeus gegooi word, en gesprekke met dosente en die Kuratorium het tot nou toe nie veel gehelp nie. Soms erken hulle die probleem, maar is hulle nie bereid om iets daaromtrent te doen nie.

Ek weet nie of ’n NG Seminarium noodwendig die antwoord is nie. Ek glo dit is die wetenskaplike benadering tot die teologie wat besig is om die kerk op sy knieë te dwing. Gaan kyk maar wat gebeur deesdae met kerke in Wes-Europa. En steeds kom die meeste toelogie wat ek moet bestudeer uit dié wêrelddeel.

Dis skokkend om van eerstejaars te hoor dat ’n dosent sommer in die eerste module vir hulle leer dat Abraham sommer ’n storie is. Ek ken teologie-studente wat reeds hulle geloof in Christus verloor het… Weet die kerk wat is die uitvalsyfer by teologiese fakulteite? By ons fakulteit het meer as 75% van ’n spesifieke jaargroep opgeskop.

Ek glo dat baie dosente aan apartheid-“bomskok” ly en nou ’n heenkome vind in postmodernisme en die liberale teologie.

Ek het die anderdag my hart by ’n dosent gaan uitpraat. Hy kon nie verstaan waarna ek verwys nie. Ek het vertel dat ek op die sendingveld grootgeword het en dat my ouers sendelinge in die township was. Ek het hom vertel van my geloofshelde, Charles en John Wesley, Andrew Murray, Brother Andrew, Billy Graham en Charles Spurgeon (hy lag natuurlik vir hulle).

Ek het hom ook vertel van die wonderwerke en bekerings wat ek van kindsbeen beleef het (in die NG Kerk). Hy het my verstom vertel dat hy nie van dié goed weet nie. Die kerk sal moet ophou om die akademie, in plaas van Christus, te dien. ’n NG Seminarium sal dus nie help nie. Kry eerder Godsmanne wat by fakulteite vir studente kan leer wat dit is om die Here en mekaar te dien.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui