RSG gesprek oor kettery en dwaalleer

Kyk ook:

Op 11 November 2018 het Jean Oosthuizen met Hansie Wolmarans en Andries van Aarde op die radiostasie RSG gesels oor dwaalleraars en ketters.

Andries is onder andere bekend vir sy boek, Fatherless in Galilee. Kyk Kommentaar op Andries van Aarde se vaderlose Jesus en Jurie le Roux se resensie daarop vir meer hieroor.

Nie Hansie of Andries sien hulleself as dwaalleraars nie. Die Bybel verwys egter op verskeie plekke na dwaalleraars/ketters en hoe hulle hanteer moet word (kyk Die Bybel oor dwaling). Nou wonder ’n mens hoe interpreteer Hansie en Andries hierdie gedeeltes? Wat is hulle definisie van ’n dwaalleraar of ketter en hoe moet dwaalleraars volgens hulle hanteer word?

RSG
Uit ’n ander hoek 11 November 2018 met Jean Oosthuizen
Sondag 11 November 2018
Elke letter het sy ketter. Maar wat is ʼn ketter? Jean Oosthuizen gesels met Hansie Wolmarans, professor in Griekse en Latynse Studies, en die Nuwe-Testamentikus, prof. Andries van Aarde, oor kettery en dwaalleer.
Laai af mp3 (25 536KB)

Hier volg ’n paar aanhalings uit die gesprek met kommentaar onderaan as voetnotas (let wel dat die aanhalings hieronder nie woord vir woord weergee word nie):

********

Hansie: (10:00) In 1967 in Nieu Seeland is professor Lloyd Geering (en hy leef nog, hy is amper 100 jaar oud en ’n fantastiese skrywer en teoloog) deur die Presbiteriaanse Kerk van Nieu Seeland van kettery aangekla omdat hy ontken het dat Jesus letterlik uit die dood opgestaan het en hy ontken ook die onsterflikheid van die siel.[Kommentaar 1] Die klagtes is wel later teruggetrek, maar weereens is dit vir my ’n aanduiding van ’n beweging binne die kerk van anti-intelleksualisme – ons moet die intellek wantrou. En tweedens, die mense wat daardie klagte gedryf het was die konserwatiewes binne die kerk. Ek noem dit gewoonlik die tirannie van die swakke broer, na aanleiding van 1 Korintiërs 8:9 waar Paulus gesê het ons moet die opinies van die swakke broers respekteer. Paulus self het byvoorbeeld geargumenteer dat slawe nie vrygestel moet word nie[Kommentaar 2], dat vroue hoofbedekkings moet dra[Kommentaar 3] om te wys hulle is onderdanig aan mans, dat weduwees nie mag hertrou nie vanuit die opvatting dat ’n vrou aan ’n man behoort, selfs ná sy dood. Hierdie was gedoen as ’n toegewing aan die swakke broers van daardie tyd. Dit bewys dat dit vir die kerk oor mag gaan. Vir die kerk gaan dit oor sekuriteit en om die grootste gemene deler, die laagste gemene deler, die konserwatiewes, tevrede te stel. Dit gaan nie oor die waarheid nie. En ek wil hier verwys na twee verse in die Bybel wat vir my nogal baie belangrik is:

  1. Johannes 8:32 sê: “Die waarheid maak ons vry.” Ons moet soekers wees na die waarheid.
  2. Paulus self wat in 2 Korintiërs 3:6 sê: “Die letter maak dood en die gees gee lewe.

Dit is dan dié soort van argumente wat ongelooflike probleme in die kerk veroorsaak het deur die eeue heen.

[Kommentaar 4]

Jean: (11:44) Andries, vir Christene is dit nie lekker om die wrede geskiedenis te hoor hoe mense verbrand is nie. Waarom is dit belangrik dat ons vandag nog daaroor praat?

Andries: (11:53) Ons moet daaroor praat, want dit dui soortvan ’n siekte aan van hierdie angswekkendheid, hierdie vrees, hierdie beskerming van die sogenaamde waarheid wat daar is en dat dit aanhoudend voortgaan. Om die waarheid te sê, ek is bevrees ons is nou in ’n tyd van toename hiervan. As ons nie hieroor praat nie, dan gaan dit net voortgaan soos ’n golf wat spoel. En daarby ook is daar ’n opkoms van ver [regse] politieke, konserwatiewe, neo-nasionalistiese, teologiese, populistiese, noem dit op, anti-inklusiewe, dit wil sê, eksklusiewe groepe. Kettery speel by sulke mense ’n baie groot rol. En by fundamentalisme. As ons nie hieroor praat nie is daar nie ’n manier hoe ons kan probeer om die belaglikheid, die onnodigheid van hierdie kommer en vrees, maar ook die skade wat dit kan aandoen, te beperk en teë te staan nie.

Jean: (14:19) Andries, dan is daar ook
Albert Geyser van die Hervormde Kerk wat aangekla is van dwaallering. Wat het daar gebeur?

Andries: Wat Geyser betref, het ons ’n saak wat na my mening geheel en al polities geörienteerd was binne die stryd teen apartheid. Dit was ’n projeksie: mense het hom as ’n teologiese ketter beskryf omdat hulle nie met sy politiek wou saamgaan nie. Studente is daar gestel deur ander professore en het sy lesings afgeneem. Hy is aangekla veral oor sy siening oor die Filippense lied wat gaan oor Jesus Christus wat in die gestalte van ’n mens van ’n slaaf is en dan weer verhoog is. Hy is aangekla dat hy op dié wyse die Godheid van Jesus loon en dat hy op dié wyse teen die kerklike belydenis is. Dit is waar ek presies in dieselfde prentjie inkom. Geyser het aanmekaar gesê dat hy nie sy verstaan van die Filippensebrief sien as ’n dwaalleer teen die belydenis van die kerk nie. Dit het hy herhaaldelik gesê, maar dit is nie gehoor nie. Hierdie selfde uitleg van die Bybel het ons al in die einde 40s gehad en daarom het hy gemeen dat hy onregmatig deur die kerk van sy amp as predikant ontneem is en ook deur die universiteit ontneem is van sy posisie as professor.

[Kommentaar 5]

Toe het hy hom tot die hof gewend. Hy het die hofsaak wen. Tot vandag toe herleef daardie mense wat teen Geyser was en gaan hulle voort met hulle stryd teen die huidige ketters. Deur baie word ek vandag gesien as die Geyser wat herleef het.

Jean: (18:06) Daar was ook verskeie ander dominees sommer in die onlangse geskiedenis wat al aangekla is van dwaalleer en op die ou einde onskuldig bevind is. Ek dink aan mense soos
Ben du Toit, Julian Müller en ander. Julle het ook seker iets van dieselfde ervaar. Dit kan seker nie maklik wees om deur jou eie kerk van dwaalleer of kettery aangekla te word nie.

Andries: (18:28) In my geval is dit ’n baie gekompliseerde saak wat oor baie baie jare strek en nog nie afgehandel is nie. Dit het al in die 1990s begin. Dit het alles te doen met my inklusiwiteitsbenadering wat ek het ten opsigte van ras en geslag wat nie vir mense aanvaarbaar is nie…

[Kommentaar 6]

Alhoewel ek hoeveel keer formeel in gesprek met die kerk was oor my sogenaamde kettery het die kerk my nooit amptelik aan kettery skuldig bevind nie.

[Kommentaar 7]

Hansie: (20:16) Ons [Hansie Wolmarans en Chunky Young] is van wangedrag aangekla omdat ons dieselfdegeslag huwelike bevestig het.[Kommentaar 8] Ons is op ’n tegniese punt onskuldig bevind. Die volgende jaar by die algemene kerkvergadering (en wat weereens op die politieke ondertoon hiervan wys[Kommentaar 9]) is ek aangekla van kettery (Chunky is ook aangekla, maar is oorlede voor die klagtes verder gevoer kon word). Die klagtes was dat ek die opstanding en maagdelike geboorte van Jesus ontken, dat ek die leerstelling van Jesus as plaasvervangende soenoffer ontken en dat ek die Bybel nie letterlik lees nie, maar figuurlik.[Kommentaar 10]

Jean: (21:13) Andries, is jy nie ook aangekla oor jou sien van Jesus se maagdelike geboorte en opstanding nie?

Andries: (21:21) Inderdaan, Jean. In my geval was dit oor die maagdelike geboorte, opstanding, hemelvaart en die Bybel self.

1. Die aanklag oor die Bybel self (gesag van die Bybel) is omdat ek nie die Bybel as hoogste gesag vir ’n gelowige beskou nie. Ek beskou God as die hoogste gesag. Ek glo nie aan die Bybel nie, ek glo aan God en die Bybel is vir my ’n belangrike getuienis van die liefde van God. Maar dit word ook gesien as ’n dwaalleer omdat ek nie hierdie besonderse posisie aan die Bybel gee nie.[Kommentaar 11]

2. Oor die geboorte van Jesus is dit nie net as gevolg van my boek (Fatherless in Galilee (2001)) nie, maar my boek het ’n momentum gegee in 2010 toe die konserwatiewes die kerk verlaat het. Wat my betref is my siening dat die Nuwe Testament verskillende getuienisse oor die geboorteverhaal van Jesus het. Sommige wil daaraan ’n Goddelike, wonderlike gebeurtenis daaraan koppel. Ander sien Jesus se geboorte as ’n natuurlike geboorte.[Kommentaar 12] Dit is eers in die ná-Bybelse tyd waar die kerklike leer beweer dat die maagdelike geboorte na die Godheid van Jesus verwys.

3. Oor die opstanding, baie dieselfde as Hansie: ek kan nie die opstanding anders lees as binne-in die apokaliptiese mitologie van die antieke tyd nie. Maar dit beteken nie dat ek waarde heg aan sowel die besondere geboorte van Jesus en die opstanding van Jesus nie.[Kommentaar 13]

4. Die hemelvaart is uit en uit deel van die mitologiese wêreldbeeld van die antieke tyd en dat die belydenis [van die kerk?] self metafore gebruik, soos die Bybel ook metafore gebruik oor die hemelvaart.

Wat my betref is my sieninge nie in stryd met die ortodokse leer nie en ek het my redes daarvoor. En dit is dieselfde met Geyser – hy het nooit gesien dat sy standpunte oor Jesus in stryd is met die ortodokse leer nie.[Kommentaar 14]

[Kommentaar 15]

Hansie: (24:43) Daar is Afrikaanse predikante wat genesingstoere na TB Joshua se byeenkomste in Nigerië gereël het. TB Joshua is uitgewys as ’n bedreër. Daar het nog nooit enige dissiplinêre optrede gekom nie. Daar is nog geen kerklike uitspraak gelewer teen die aartappelboer [Angus Buchan] wat deur derduisende mense gevolg word nie. Hy beweer vroue moet aan mans onderdanig wees en dat homoseksualiteit deur gebed genees kan word.[Kommentaar 16] Sy eie land van herkoms, Skotland, het geweier dat hy hierdie homofobiese boodskap daar lewer. Ons eie kerke lewer nie uitsprake oor hierdie soort van dinge nie. ’n Mens is bewus van predikante wat sogenaamd duiwels uit mense uitdryf en permanente sielkundige skade veroorsaak. Die kerke tree nie teen hulle op nie. Daarom dink ek dat die kerk se taak is om waardes te handhaaf en om in gesprek te tree met mense wat ander sienings oor geloof het.

Kommentaar

[01] Let op dat Hansie hom as ’n fantastiese skrywer en teoloog beskryf! Hierdie stelling alleen sê presies waar Hansie met sy teologie staan.

[02] Kyk egter Die Bybel oor slawe

[03] Kyk egter Vrouens en Hoede

[04] Hansie verwys hier drie keer na verse in die Bybel, maar as jy in ag neem hoeveel dinge hy in die Bybel verwerp, is dit vreemd dat hy nog enigsins die Bybel van waarde sien. Verder weet Hansie baie goed dat Paulus hom ook as ’n dwaalleraar sou sien. Om Paulus op só ’n manier aan te haal is sinneloos en eintlik oneerlik.

[05] Dit is maar ’n uiters vae beskrywing van die Geysergebeure. Andries het die geleentheid gehad om vir luisteraars te verduidelik hoekom die aantygings teen Geyser se teologie ongegrond is, maar hy doen dit nie. In plaas daarvan, noem hy slegs die volgende twee dinge:

  1. Hierdie uitleg bestaan al reeds van die 1940s: Asof dit enige argument is.
  2. Geyser self het nie geglo dat hy gedwaal het nie: Hierdie is nie eens werd om ’n argument genoem te word nie. ’n Molesteerder of verkragter sal ook nie dink dat hulle noodwendig iets verkeerds gedoen het nie.

Dit help niks.

[06]Ek kan verstaan as hy in die moeilikheid was oor sy siening oor geslag (waarskynlik LBGT). Ek is egter baie skepties oor sy bewering dat hy geteiken is oor sy inklusiwiteitsbenadering oor ras. Dit is belangrik dat lesers kennis neem van die volgende twee artikels: ‘Dis taai om kerk te los’ en Hervorming “gaan voort”.

[07]Die geskiedenis het gewys dat dit ongelukkig uiters moeilik is om dwaalleraars behoorlik in ’n hoek vas te trek en te dissiplineer. Die belangrikste rede is waarskynlik die ruggraatloosheid van die leiers van die kerk of die feit dat hulle kop in een mus is. As ’n mens in ag neem dat die Hervormde Kerk in 2016 amptelik ruimte gemaak het vir homoseksualiteit (kyk 2016 Hervormde Kerk homoseksuele besluit), is dit eintlik nie vreemd dat die leiers nog niks aan Andries van Aarde gedoen het nie. ’n Verdere rede is dat dwaalleraars uiters glibberig is. Daar is min soos Sakkie Spangenberg wat self uit die NG Kerk bedank het omdat hy geweet het dat hy teen die belydenisskrifte is.

[08] Kyk Gay kwessie ook in die Presbiteriaanse kerk.

[09] Ek weet nie hoe bewys dit die politieke ondertoon nie.

[10] Klink vir my na baie grondige redes vir ’n aanklag.

[11] Dit klink so mooi om te sê dat ’n mens nie in ’n boek glo nie, maar in God. Die Bybel leer ons egter wie God is. As die Bybel nie die hoogste gesag is nie, hoe weet ons wie God is en wat Sy wil is? As die Bybel nie die hoogste gesag is nie, dan is jy besig met afgodsdiens – dan skep jy jou eie god. Ons kan nie die Bybel net gebruik om ons te leer van die liefde van God nie. God het baie meer karaktereienskappe as liefde. Dit sou interessant wees om te weet wat Andries van die volgende sou sê: Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade. Miskien sal hy bloot redeneer dat Jesus dit nie regtig gesê het nie.

[12] Hierdie stelling is uiters oneerlik! Bedoel hy Johannes 8:41 waar die Fariseërs gesinspeel het dat Jesus uit owerspel gebore is? Die maagdelike geboorte word baie duidelik in die Bybel beskryf (kyk Die Bybel oor Jesus se maagdelike geboorte/bevrugting).

[13] Hierdie is ’n sprekende voorbeeld van die glibberigheid van hierdie dwaalleraars. Hy het sopas gesê dat hy nie in die maagdelike geboorte en letterlike opstanding glo nie, maar tog heg hy waarde aan die “besondere” geboorte en opstanding van Jesus. Wat is nou so besonders daaraan as dit nie bonatuurlik was nie?

[14] Weer die argument dat hulle nie self geglo het dat hulle ’n dwaallering aanhang nie.

[15] Sy arrogansie is verstommend: Hy is ewe verbaas daaroor dat hy aangekla word ná dit wat hy sopas erken het. Dit is skokkend dat die Hervormde Kerk hom nog nie skuldig kon vind nie. Hy is baie duidelik besig om af te wyk van die drie belydenisskrifte (kyk Legitimasie-eed van NG Kerk predikante). Ek wil so ver gaan as om te sê dat die Hervormde Kerk leierskap hulle plig versuim het deur hom nie lewenslank uit die Hervormde Kerk te skors nie. En weereens het hy ’n geleentheid gehad om te sê hoekom die klagtes teen hom ongeldig is, maar hy gebruik niks daarvan nie.

[16] Dit kan – kyk Getuienisse van voorheen gay mense

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui