Die Bybel oor dwaling

Anders as die hedendaagse humanistiese uitkyk, het die Bybel glad nie ’n akkommoderende of verdraagsame houding teenoor dwaalleraars nie (soms noem dwaalleraars hulself “andersdenkendes”, omdat “dwaalleraar” te kras klink en omdat daar van hulle in die Bybel gepraat word). Die Bybel het ’n òf reg, òf weg benadering: Òf jy bekeer jou van jou dwaling, òf jy word verwerp. Die Matteus 18(:15-17)-pad moet natuurlik gevolg word met enige persoon. Hier volg ’n opsomming:

“That is the only way to understand rightly this picture of the false prophets. The false prophet is a man who has no ‘strait gate’ or ‘narrow way’ in his gospel. He has nothing which is offensive to the natural man; he pleases all.”
― D. Martyn Lloyd-Jones, Studies in the Sermon on the Mount
  • Matteus 7:15 sê dat dwaalleraars soos wolwe in skaapsklere is.
  • Tussen Mat 10:34-38 en 1 Kor 1:10 lei ’n mens af dat vrede minder belangrik is as om dwaling te bestry sodat daar eenheid in die gemeente is. Dit gaan egter nie oor die eenheid in die gemeente nie, maar oor die suiwer leer.
  • Johannes 14:23-24 en 1 Johannes 2:3-5 sê dat ware liefde vir God gehoorsaamheid aan Hom is.
  • Jakobus 5:19-20 sê dat ons dwaallaars moet reghelp.
  • 2 Johannes v10 sê die volgende baie drastiese ding: “As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie”
  • Openbaring 22:15 noem dwaalleraars saam met bedrieërs, onsedelikes, moordenaars en afgodsdienaars.

Kyk ook Jesus se onverdraagsame houding teenoor dit wat verkeerd is: Die Bybel oor Jesus se houding teenoor die waarheid en verkeerde dinge.

************

1. Dwaling is soos afgodsaanbidding

Jesaja 44:9-20

(9)Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks; die dierbare gode van hulle kan nie help nie. Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie, kan nie verstaan nie; dié wat sulke gode het, word teleurgestel. (10)Wie maak nou ’n god, giet ’n beeld wat nie kan help nie! (11)Almal wat so ’n god aanhang, word teleurgestel: dit is gode wat deur mense gemaak is. Wanneer dié wat hulle aanhang, bymekaarkom vir ’n beslissing, staan hulle verbyster en verleë. (12)Die ystersmid vat ’n stuk gereedskap en werskaf in die gloeiende kole. Met hamers vorm hy die beeld, met sy gespierde arm maak hy die beeld: die smid eet nie en word swak, hy drink nie water nie en raak uitgeput.(13)Die ambagsman wat hout gebruik, meet met sy maatlyn en merk die beeld se buitelyne af. Hy bewerk hom met beitels en trek sy mate met ’n passer af. Hy maak hom in die vorm van ’n mens, ’n pragtige mens wat in ’n huis moet woon. (14)Die ambagsman kap vir hom seders af, of hy kies sipresse of eike en laat hulle groot word in die bos, of hy plant ’n lourierboom, en die reën laat dit groot word. (15)Dit dien as vuurmaakhout vir die mens; iemand vat daarvan en maak hom warm, of hy maak ’n vuur om brood te bak, of hy maak ’n god en aanbid dit, hy maak ’n beeld en buig daarvoor. (16)’n Deel van die hout verbrand hy: hy maak kos daarmee gaar, hy braai vleis en eet tot hy genoeg het; hy maak hom ook warm en sê: “Dis lekker! Ek is warm, ek geniet die vuur!” (17)Van die hout wat oorbly, maak hy ’n god, ’n beeld, hy buig voor hom en aanbid hom, hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!” (18)Sulke mense weet nie wat hulle doen nie, hulle het nie insig nie, hulle oë is toegepleister, hulle sien nie, niks dring tot hulle verstand deur nie. (19)Hulle kom nie tot besinning nie, hulle het te min kennis en verstand om te sê: “’n Gedeelte van die hout het ek verbrand, ek het op die kole kos gaar gemaak, ek het vleis gebraai en geëet, en moet ek nou van wat oor is ’n afskuwelike afgod maak, moet ek voor ’n stuk hout buig?” (20)Iemand wat hom met as besig hou, laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings. Hy kan homself nie red nie, hy vra homself nie af: “Is dit nie ’n leuen waarmee ek my besig hou nie?”

God het Homself in Sy Woord geopenbaar. Mense wat nie die gesag van die Skrif aanvaar nie en daarvan wil afwyk (maw dwaalleraars) skep in wese hulle eie afgod, soos hierbo beskryf word. Die Bybel word selektief gelees en hulle vorm vir hulle ’n god presies soos ’n mens ’n beeld sou uitkap – jy kap af waarvan jy nie hou nie en hou die dele waarmee jy gemaklik is. Om dit te doen is net so belaglik soos wat hierbo beskryf word.

Die volgende klanklêer beeld op satiriese manier presies uit wat hierdie mense doen:

(Uit The Bad Fruit of Experiential “Theology” — Pirate Christian Media, 28:35)

2. Waarskuwing teen dwaalleer

Jesaja 5:20

(20)Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.

Hierdie vers is veral van toepassing op die ontsondiging van homoseksualiteit en saamwoon.

Matteus 7:15

(15)”Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.

Hulle kom in skaapsklere, dus lyk hulle boodskap baie mooi en edel, maar in werklikheid lei hulle boodskap tot die ewige dood.

Matteus 11:25

(25)Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.

Matteus 22:29

(29)Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. (30)Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.

Markus 12:27

(27)Hy is nie ’n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!”

Volgens Jesus is dit ’n dwaling om te glo dat daar geen lewe na die dood is.

Lukas 17:1-2 (Markus 9:42)

(1)Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. (2)So ’n mens kan eerder met ’n groot klip (meulsteen) aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ’n struikelblok word.

Dwaalleraars het al baie mense tot ’n val gelei het (kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed). Volgens Jesus is dit beter as hierdie dwaalleraars verwyder word eerder dat hulle mense tot ’n geestelike val bring. Kyk ook wat sê Jesus in Matteus 13:

(41)Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, (42)en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.

Romeine 10:3

(3)Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry.

Romeine 16:17-18

(17)Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. (18)Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.

1 Korintiërs 1:10,18-25

(10)Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.
(18)Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. (19)Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” (20)Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? (21)Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. (22)Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, (23)maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, (24)maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. (25)Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

2 Korintiërs 11:2-4

(2)Ek waak oor julle met ’n ywer wat van God kom, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. (3)Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang. (4)Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ’n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ’n ander gees en ’n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.

Daar is min dwaalleraars wat openlik ’n vals evangelie bring. Almal is “Jesus volgers” (in Engels, “Jesus followers”), maar hierdie dwaalleraars verkondig ’n ander Jesus. Dit is nie dieselfde Jesus wat ons in die Bybel leer ken nie.

Galasiërs 1:6-10

(6)Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. (7)Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. (8)Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref! (9)Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het — die vloek van God sal hom tref! (10)Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.

Galasiërs 5:10

(10)Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf.

Hier gaan dit oor mense wat nog die besnydenis wil aanhang. Mens kan redeneer dat dit nie eers so ’n ernstige dwaling is nie. Volgens Paulus sal God egter hierdie dwaalleraars straf. In vers 12 sê Paulus verder: “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!”

Efesiërs 4:13-15

(13)So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. (14)Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. (15)Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.

Efesiërs 5:6-7

(6)Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. (7)Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

Kolossense 2:4-5,8

(4)Ek beklemtoon dit, sodat niemand julle met vals redenasies mislei nie. (5)Al is ek nou nie persoonlik daar nie, is ek tog in die gees by julle en is ek bly om te sien dat julle die goeie orde handhaaf en dat julle geloof in Christus stewig vas staan.

(8)Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie.

1 Tessalonisense 2:3

(3)Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings.

2 Tessalonisense 2:10-12

(10)en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. (11)Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. (12)En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.

1 Timoteus 1

(3)…Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied.

Kyk die hele hoofstuk.

1 Timoteus 6:3-5

(3)As iemand ’n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, (4)is hy verwaand en weet hy niks. Hy het ’n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, (5)voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is

2 Timoteus 2:15-18

(15)Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig. (16)Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, (17)en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, (18)wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.

Hier word miskien van ’n ander dwaling gepraat, maar dit lig ’n algemene waarheid uit – dwaling vernietig sommige se geloof.

2 Timoteus 4:1-4

(1)Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: (2)verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, (3)want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. (4)Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.

Hebreërs 3:10

(10)Daarom het Ek ’n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op ’n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’

Jakobus 1:6-7

(6)Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. (7)So ’n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

2 Petrus 2:1-3

(1)Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort. (2)Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. (3)In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar.

2 Petrus 3:17-18

(17)Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie. (18)Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Amen.

1 Johannes

Die volgende is die opsomming aan die begin van 1 Johannes volgens die 1983 vertaling:

In hierdie brief is daar blyke van kommer oor die feit dat gelowiges in die war gebring word deur dwaalleraars wat beweer dat die Seun van God nie werklik mens geword het nie en dat Jesus dus nie die Christus is nie. Wie dit glo, kan nie in die gemeenskap met God en met Jesus Christus leef en kan ook nie in die regte verhouding met medegelowiges staan nie. Christus Jesus is die Seun van God wat mens geword het. Wie dit nie bely nie, is ’n antichris. God is lig en God is liefde. Wie aan God behoort, lewe in die lig en in die liefde. Dit is die voorwaarde vir gemeenskap met God en met die medegelowiges.

1 Johannes 2

(3)As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. (4)Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. (5)Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.

Hierdie sê in effek dat iemand kan sê dat hy God en die Bybel liefhet en dat hy ’n baie mooi lewe kan lei, maar indien hy dwaalleringe aanhang, dan is die waarheid nie in hom nie.

(22)Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hy is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie. (23)Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader.

1 Johannes 4

(2)Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. (3)En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.
(5)Hulle behoort aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en die wêreld luister na hulle. (6)Ons behoort aan God, en wie vir God ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer onderskei.

In hierdie gedeelte sê Johannes dat indien jy nie in Jesus se Godheid glo nie dan het jy nie die Gees van God in jou nie.’n Mens kan hierdie net so by die liggaamlike opstandig insluit – ’n persoon wat nie in Jesus se liggaamlike opstanding glo nie, het ook nie die Gees van God in hom nie. Mense wat in elkgeval nie aan Jesus se liggaamlike opstanding glo nie, glo baie hoogs waarskynlik ook nie daaraan dat Jesus die Seun van God was nie.

Judas 1

(4)Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.

(10)Maar hierdie mense praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie. Hulle is soos verstandlose diere: al waarvan hulle kennis het, is hulle natuurlike drange, en juis dit is hulle ondergang.

Openbaring 22

(15)Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.

Interessant dat dwaalleraars saam met bedrieërs, onsedelikes, moordenaars en afgodsdienaars genoem word.

3. Moet dwaling bestry

Matteus 10:34-38

(34)”Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder; (36)ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’ (37)”Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. (38)Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

1 Kor 1:10 sê: “Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.

Matt 10 en 1 Kor 1 wys hoe belangrik dit is om dwaling te bestry: 1 Kor 1 sê dat daar eensgesindheid in die gemeente moet wees, bedoelende geen dwaling. Matt 10 sê dat vrede minder belangrik is om as om dwaling te bestry.

Matteus 12:30 (Lukas 11:23)

(30)Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.

Mense wat nie help om dwaling te bestry nie is teen Jesus en jaag die skape uitmekaar.

Johannes 14:23-24

(23)Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. (24)Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

Titus 2:1

(1)Maar jy moet verkondig wat in ooreenstemming is met die gesonde leer.
(7)In alles moet jy self vir hulle ’n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag, (8)gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal elke teenstander in die verleentheid kom dat hy niks slegs van ons sal kan sê nie.

Jakobus 5:19-20

(19)My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, (20)weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ’n menigte sondes vergewe word.

Deur mense te bekeer van ’n dwaalpad, red jy hulle.

3 Johannes 1

(3)Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe. (4)Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.

4. Moet niks met dwaalleraars toe doen hê nie

Dwaalleraars kan vergelyk word met roomys wat ’n klein hoeveelheid gif bevat: gewoonlik is daar baie positiewe dinge te sê oor hierdie dwaalleraars, maar soos in die geval van die roomys is dit die klein hoeveelheid gif daarin wat jou gaan doodmaak. Daarom moet jy al die roomys weggooi.

Jesaja 48:20

(20)Gaan uit Babel uit, vlug weg van die Galdeërs af! Jubel dit uit, maak hierdie aankondiging en laat dit weerklink tot in die uithoeke van die aarde; sê: “Die Here het sy dienaar Jakob verlos!”

Jeremia 51:9

(9)Ons het Babel gedokter, maar hy het nie gesond geword nie. Gee pad uit hom, kom ons gaan elkeen na sy land toe, want die straf wat hom tref, strek tot aan die hemel, reik tot by die wolke.

Handelinge 2:40

(40)Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.”

“Om ’n kerk, of ’n raad van kerke, te beskou as ’n forum waarin fundamentele sake gedebatteer en bespreek kan word, of as ’n geleentheid vir getuienis-aflegging, is pure verwarring en deurmekaar denke. Daar is geen bespreking oor “die fondament” soos ons dit sien nie. Diegene wat dit nie aanvaar nie, is nie broers nie en geen dialoog kan met hulle gevoer word nie. Ons moet vir sulkes preek en hulle evangeliseer. Gesprek vind slegs plaas onder broeders wat dieselfde lewe deel en dieselfde wesenlike waarheid onderskryf. Dit is reg en goed dat broeders sake moet bespreek wat nie noodsaaklik is vir redding nie … . Ons kan op hierdie stadium niks beter doen as om die ou gesegde aan te haal: ‘In noodsaaklike dinge: eenheid, in onbelangrike dinge: vryheid, in alle dinge: liefde.’”
― D. Martyn Lloyd-Jones

1 Korintiërs 5:9-12

(9)In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. (10)Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. (11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

Kyk ook 1 Korintiërs 5:9-13.

1 Korintiërs 15:33
(33)Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.”

Sommer ter inligting: Paulus gebruik hier woorde van ’n bekende Griekse digter, Menander (342 vC – 292 vC). Kyk ook How does bad company corrupt good character (1 Corinthians 15:33)?

2 Korintiërs 6:14,17

(14)Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?
(17)Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem,

Efesiërs 5:6-7

(6)Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. (7)Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

1 Timoteus 6:5 (AOV)

(5)nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.

2 Timoteus 2

(19)Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid.”

2 Timoteus 3:5-9,16

(5)Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af. (6)Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag, (7)vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. (8)Net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat in die verstand verward is en in die geloof ’n mislukking. (9)Maar hulle sal nie ver kom nie, omdat hulle dwaasheid vir almal duidelik sal wees, net soos dit die geval was met Jannes en Jambres.
(16) Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek,

Titus 1:9-14

(9)Hy [die ouderling] moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê. (10)Daar is baie, veral onder die bekeerlinge uit die Jodedom, wat in opstand kom teen gesag, wat onsin praat en mense verlei. (11)Hulle mond moet gesnoer word. Hulle bring hele huisgesinne in beroering deur dinge te leer wat nie toelaatbaar is nie, en dít net om skaamteloos geld te maak. (12)Een van hulle mense, hulle eie profeet, het gesê: “Die Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate.” (13)Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle streng teregwys, sodat hulle gesond kan word in die geloof. (14)Hulle moet hulle nie langer besig hou met Joodse verdigsels en met die voorskrifte van mense wat van die waarheid afgedwaal het nie.

Titus 3:9-11

(9)Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos. (10)Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie, (11)omdat jy weet dat so ’n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.

Dwaalleraars sal hierdie verse wil interpreteer dat mense wat vas by die waarheid staan die persone is wat skeuring veroorsaak. As jy egter die beginsel “skrif verklaar skrif” gebruik, is dit duidelik dat hier na dwaalleraars verwys en nie na mense wat by die waarheid staan nie.

2 Johannes

(7)Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met “die misleier”, “die antichris”, bedoel.
(9)Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie. Wie in dié leer bly, erken sowel die Vader as die Seun. (10)As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, (11)want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.

Hierdie is drastiese optrede: ’n mens moet so ’n persoon nie eers groet nie. Kyk ook 2 Johannes 1:7-11.

Openbaring 2:2

(2)Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is.

Hier prys Jesus die gemeente van Efese omdat hulle “slegte mense”, wat duidelik dwaalleraars is, nie verdra nie.

Openbaring 18:4

(4)Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.

Noem op die naam

Soms moet jy dwaalleraars op hulle name noem.

1 Timoteus 1: (20)Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie.

2 Timoteus 2: (16)Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, (17)en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, (18)wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.

2 thoughts on “Die Bybel oor dwaling”

  1. “….wat van die waarheid af gedwaal het deur te sê dat die die opstanding alreeds plaasgevind het.” (2 Tim 2:18)
    Het ons nie te doen ook met mense wat sê dat die Opstanding van Christus nie fisies is nie maar slegs n geloof dat Hy in ons harte opgestaan het?

    1. Absoluut, Pieter. Ek dink hierdie tekste is van toepassing op al die kern teologiese waarhede:
      * Jesus se maagdelike verwekking
      * Jesus se fisiese opstanding
      * Jesus se Godheid
      * Jesus se wonderwerke
      * Wederkoms
      * Drie-eenheid
      * Redding slegs deur Jesus

      Die vraag is of ‘n mens homoseksualiteit ook by die lys kan byvoeg?
      Ek dink tog so. Die goedkeuring van selfdegeslagverhoudings is om wat sleg is, goed te noem (Jesaja 5:20)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui