Daar ís probleme met teologiese opleiding

Die volgende artikel het verskyn na aanleiding van Morelexit: Hy is moeg vir die verdagmakery waarin Fanie Snyman vra dat lidmate hulle teologiese probleme met die kuratoriums moet bespreek (kyk Fanie Snyman moeg vir verdagmakery [12 Junie 2019]).

************

Daar ís probleme met teologiese opleiding | Netwerk24

Deur Prof. Johan Janse Van Rensburg, Bloemfontein

13 Junie 2019 00:00

Oor “Morelatapark maak só teologiese fakulteite verdag” (12.6):

Die reaksie van dosente en kerkleiers op kritiek teen die teologiese opleiding is teleurstellend. Hulle gee voor daar is nie afwyking van die gereformeerde teologiese uitgangspunte van die NG Kerk nie. Kommer en ontevredenheid van gemeentes en lidmate word as verdagmakery afgemaak.

Is dit werklik hul oortuiging dat die opleiding die gereformeerde teologie verteenwoordig?

’n Paar jaar gelede het dosente van die NG Kerk in die Vrystaat besluit om nie meer gereformeerde teologie te doseer nie! Dié besluit is sonder teenspraak deur die kuratorium aanvaar. Nie lank gelede nie het ’n fakulteitsdekaan beweer die Christelike etiek is nie in ’n postmoderne tyd haalbaar nie. Daarmee word van die verklaring van die Tien Gebooie in die Heidelbergse Kategismus afstand gedoen.

Die Kerkorde verklaar die Kerk is op die Bybel en Belydenisskrifte gegrond. Wil die genoemde teoloë voorgee die huidige teologiese standpunte stem met die Belydenisskrifte ooreen?

Die Belydenisskrifte verteenwoordig immers ’n Skrifbeskouing wat in die gereformeerde teologiese tradisie gehandhaaf is.

Dit word gesê daar moet met die kuratoriums gepraat word. Hoe lank word hierdie gesprek al in sinodale en kerklike vergaderings afgemaak? Elke keer word bevind daar is geen probleem nie. Dit klink baie soos die vorige president: “There is no problem.”

Dit is nie erg dat ons teologies verskil nie, maar wel dat diegene wat nie met die vrysinnige teologie saamstem nie as moedswillig en ongeloofwaardig afgemaak word.

Daar ís ernstige probleme met teologiese opleiding: nie noodwendig met die wetenskaplike gehalte nie, maar met ongereformeerde standpunte.

Waarom is gereformeerde teologie so belangrik?

Want dit is in die naam en Kerkorde van die NG Kerk ingeskryf. Dit is ’n saak van integriteit. Ons naam sê wat ons is (nie meer nie).

As “gereformeerd” ’n struikelblok is, verander die naam sodat die wêreld kan weet waarvoor die Kerk staan. Maar om voor te gee daar is geen probleem nie, terwyl die Kerk duisende ontevrede en verwarde lidmate verloor, is eenvoudig nie teologies verantwoordbaar nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui