Die gerief van net gló

Soos George Claassen in Rapport twee weke gelede, trap Jurie van den Heever skeppingsleerders in kleur en geur (in 1200 woorde) uit oor hulle “onnoselheid” om nog enigsins in die sesdagskepping te glo, ongeveer 4004 vC.

Sy titel begin met ’n vals argument: dit impliseer dat skeppingsleerders bloot ’n blinde geloof in die Bybel het. Dit is natuurlik baie ver van die waarheid. In die res van sy brief is daar nog vals argumente en aantygings en probeer hy verneder en afkraak. Is dit dalk omdat selfs 1200 woorde nie genoeg is om skeppingsleerders te weerlê nie?

Ek het kommentaar gelewer hieronder in rooi-bruin blokhakies.

Kyk SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in wat ’n lys gee van artikels wat hiertoe aanleiding gegee het.

*********

Die gerief van net gló | Netwerk24

Deur Jurie van den Heever

16 Augustus 2020

Kreasioniste is nie net vies en verward nie, maar ook oneerlik, skryf Jurie van den Heever.

Nicolene Filmalter beweer verlede week verkeerdelik in haar artikel In die land van evolusie is die ateïste koning dat kreasionisme saam met evolusie in die klaskamer aangebied moet word sodat kinders self kan besluit watter van dié twee “sienings” sinvol en reg is.

Dit is doodgewoon ’n denkfout, want evolusie en kreasionisme is nie twee kante van dieselfde muntstuk nie.

Die soort kreasionisme wat Filmalter verdedig, is ’n naïewe geloofsbeskouing met sterk sektariese elemente. Dit het aanvanklik in die VSA ontstaan en word die wêreld oor met goeie rede deur hoofstroomgelowiges verwerp. Daarenteen ontsluit die wetenskap, en by uitstek die evolusionêre biologie, vir werklik gelowige mense die wonder en grootsheid van God se skepping.

Mense wat in ’n Skepper of Kreator glo, beskryf hulself dikwels as kreasioniste. Amerikaanse kreasioniste het egter die woord gekaap deur dit baie eng te definieer. Hiervolgens is kreasioniste slegs diegene wat gewilliglik ’n dokument onderteken wat die King James-vertaling van die Bybel as die absolute waarheid erken, met dien verstande dat die kosmos in ses dae van 24 uur elk geskep is, dat die skeppingsberig en die arkverhaal feitelik en histories korrek is en dat die aarde ongeveer 6 000 jaar oud is, maar beslis nie ouer as 10 000 jaar nie. Die ouderdom van die aarde word egter nêrens in die Bybel vermeld nie en omdat dié bepaling op ’n vergissing van James Ussher, ’n 17de-eeuse aartsbiskop van Ierland, berus, is kreasioniste wat dié aansprake maak vir alle praktiese doeleindes gestonk.

[Dit is verseker nie net die King James Bybel wat baie duidelik is daaroor dat God in ses, 24-uur dae geskep het nie. Verder is dit verstommend dat Jurie argumenteer dat die Bybel nie die ouderdom van die aarde vermeld nie. Hy is dood reg dat dit deur James Ussher uitgewerk is. Dit is egter ook deur ander uitgewerk en hulle het op basies dieselfde datum uitgekom:

  • Jose ben Halafta (3761 vC)
  • Bede (3952 vC)
  • Scaliger (tydgenoot van Ussher) (3949 BC)
  • Johannes Kepler (3992 vC)
  • Isaac Newton (4000 vC).

As Jurie self die Bybel bestudeer sal hy sien dat daar genoeg inligting in die Bybel is om dit te doen en as hy nie ongeveer by dieselfde getal uitkom nie, dan kan hy nie somme maak nie. Die blote feit dat ’n mens wel kan uitwerk wanneer Adam en Eva geskape is, is alreeds ongelooflik merkwaardig vir ’n antieke boek. Dit sê iets oor die integriteit van die Bybel. Weereens, dit is uiters vreemd dat Jurie hierdie bevraagteken. Ek dink dit wys hoe problematies hierdie inligting in die Bybel is vir ateïste.]

Gevolglik het die Joodse, Katolieke en Protestantse kerkverbande in die VSA reeds in die 1960’s gesamentlik ’n amptelike verklaring uitgereik dat die naïewe uitsprake van die kreasioniste onbybels is en afgewys moet word. Sedertdien het pogings om hul aweregse siening van die Bybel deel van biologie-leerplanne te maak in ’n rits vernederende hofsake klaaglik misluk.

Omdat die kreasioniste in Suid-Afrika bloot die oorsese kreasioniste na-aap en ook geen navorsing doen nie, is die mat dus lank reeds op wetenskaplike, teologiese en regsgronde onder hul voete uitgepluk. Omdat hulle reglynig met die hoofstroomkerke oor die interpretasie van die Bybel verskil, poog splintergroepies soos dié in Suid-Afrika steeds om die hoofstroom- Christelike teologie te ondermyn. Predikante en teoloë wys by herhaling daarop dat die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie, terwyl kreasioniste teen alle logika in krampagtig aan die teendeel vasklou. [Niemand het gesê die Bybel is ’n wetenskapshandboek nie. Dit is ’n strooipopargument – kyk Die Bybel is nie ’n geskiedenis of wetenskapshandboek nie.] Kreasioniste is dus oneerlik as hulle beweer dat slegs hul siening van die skeppingsverhaal korrek is. [En evolusioniste is net so oneerlik as hulle beweer dat slegs hul siening van die ontstaan van alles korrek is. Sommige evolusioniste is egter wel eerlik – kyk Aanhalings – Evolusie ’n geloof/Wetenskap nie objektief.]

Kreasionisme het niks met wetenskap te doen nie. Dit is ’n naïewe vorm van geloof en volgens ons Grondwet mag dit op skool, saam met ander gelowe, slegs as deel van ’n vergelykende godsdiensprogram figureer.

[En evolusie het ook niks met wetenskap te doen nie – kyk Operasionele vs historiese wetenskap.]

Hiervoor is kreasioniste so bang soos die duiwel vir ’n slypsteen, want as hulle moet uithaal en wys, sal teoloë en Bybelnavorsers gou met hul wolhaarstories klaarspeel. In stede daarvan dat hulle eerlik aan ’n godsdiensprogram deelneem, verkies hulle klaarblyklik die futiele omweg om die wetenskap en veral evolusie as ’n soort Trojaanse perd op te saal.

[Kreasioniste is nie bang vir teoloë en Bybelnavorsers nie. Onder hulle is daar verteenwoordiging in beide kampe. James Barr is maar een Hebreeuse kenner wat in effek erken dat kreasioniste die Bybel verstaan soos wat die skrywer(s) van Genesis 1 tot 11 oorspronklik bedoel het alhoewel hy nie self Genesis 1 tot 11 letterlik glo nie. Verder was kreasioniste nog altyd oop vir debatvoering. Anders as byvoorbeeld Richard Dawkins wat nie teen kreasioniste wil debat voer nie.]

Filmalter se aanspraak dat prosesse uit die verre verlede nie direk waarneembaar is nie en daarom nie ondersoek en bewys kan word nie, is onwaar. Sy is duidelik onbewus van die gebruik van die hipoteties-deduktiewe navorsingsmetode wat deur regstelsels en navorsing in die medisyne, evolusie, genetika, fisiologie, anatomie, embriologie, fisika, geologie en paleontologie bewese resultate lewer sonder dat sy dit persoonlik waargeneem het. Een só ’n voorbeeld is die bekende Luca-grafiek – ’n sirkelvormige grafiek wat die genetiese verwantskap van alle lewe aantoon.

[Jurie wil nou maar eenmaal nie die verskil tussen operasionele en historiese wetenskap erken nie. Dit is nie ’n moeilike begrip nie. Net baie ongemaklik vir evolusioniste wat wil beweer dat evolusie wetenskap is en skeppingsleer nie.]

Haar idees oor mutasies staan ook op losse skroewe. As dit nie vir die sukses van mutasies was nie, sou ons nie vandag heerlike kakamas-perskes kon geniet het nie.

[Dat daar voordelige mutasies gebeur is nie debateerbaar nie. Dit gaan egter altyd gepaard met ’n verlies aan genetiese inligting. ’n Voorbeeld hiervan is die volgende: wanneer besies wat op ’n eiland woonagtig is hulle vlerke verloor as gevolg van ’n mutasie, is die kans kleiner dat die wind hulle in die see sal inwaai. Dus het hulle ’n oorlewingsvoordeel weens ’n vermindering van genetiese inligting.

Hierdie tipe mutasies (verlies in genetiese inligting) kan nie verklaar hoe ’n vis, wat die DNS vir kieue en skubbe het, in ’n landdier, met die DNS vir longe en hare, kon verander nie. Kyk ook Het varkgriep geëvolueer? wat ’n lys van voorbeelde gee van voordelige mutasies.

Jurie se gemuteerde kakamas-perskes is nogsteeds perskes.]

In teenstelling resorteer Bybelse genetika onder die voorskoolse soort.

Jakob oortuig Laban dat die bont aanteel syne sal wees. Hy plaas toe, ewe onderduims, stokkies met plek-plek gestroopte bas by die veekrippe en siedaar, die bont aanteel vermeerder. Selfs laerskoolkinders vind dit amusant. Kreasioniste ignoreer willens en wetens die beginsels van Mendel se genetika en suggereer by implikasie dat hul alwetende en almagtige God ook niks daarvan weet nie.

[Jurie is lief vir hierdie argument oor Jakob en Laban. Op 26 April 2015 op RSG het hy dieselfde argument gebruik. Kyk egter Genesis 30:37-40. En kreasioniste ignoreer ook nie Mendel nie. John Sanford is ’n kreasionis en genetikus en lig uit dat genetiese entropie ’n reuse probleem vir evolusie is. Kyk ook Mendel’s Accountant: A New Population Genetics Simulation Tool for Studying Mutation and Natural Selection.]

Filmalter struikel ook met die tweede wet van termodinamika deur die belangrike tweede helfte, “in ’n geslote sisteem”, eenvoudig weg te laat. Die heelal kan wel ’n geslote sisteem wees wat soos ’n horlosie afloop, maar in ons hoekie daarvan verskaf die son daagliks enorme hoeveelhede energie wat groei, voortplanting en evolusie aandryf. Om willens en wetens die wette van die fisika te verdraai om jou eie agenda te pas is oneerlik.

[Wat Jurie hier bedoel sal net hy weet. Hier erken hy dan dat die heelal afloop soos ’n horlosie. Wie het dan die horlosie opgewen? Erken hy dan nie hiermee die bestaan van ’n skepper nie? Ek het nog nooit verstaan hoe kom ateïste rondom die tweede wet van termodinamika nie. Jurie het my weereens nie hier enigsins oortuig nie. Kyk Waar kom al die nuttige energie vandaan?.]

Evolusie vorm so ’n integrale deel van ons lewe dat kreasioniste dit onwetend ondersteun. Elke keer as hulle ’n hoofpynpil of ander medisyne sluk, wetende dit sal help, ondersteun hulle die baie nou evolusionêre verwantskap tussen ons en die ander werweldiere, aangesien die meeste medisyne eers op diere getoets word voordat mense dit kan gebruik.

Die menslike liggaam is ook deurspek van ontwerpfoute.

Die senubedrading van ons oë is verkeerdom, terwyl dit by seekatte op die korrekte manier werk. Die urineleier loop by mans deur die prostaatklier en nie verby nie. Ons ly aan chroniese laerugprobleme en besit kake wat nie meer plek vir ons verstandtande het nie. Al hierdie probleme en heelwat meer word rasioneel met behulp van evolusie verklaar.

In hierdie verband pleeg kreasioniste ’n kritiese denkfout, want deur die patentreg van die skepping alleen aan hul alwetende Opperwese toe te dig, maak hulle hom verantwoordelik vir alle ontwerpfoute in die menslike liggaam. Hulle beaam dus stilswyend dat hy duidelik onbeholpe is.

[Sjoe! Dit is nou gryp na strooihalms in die hoogste graad. Baie ironies dat ’n arend en valk, wat se oë ook “verkeerdom” bedraad is, baie beter sien as ’n seekat wat se oë “regom” bedraad is. Daar is goeie ontwerpredes vir hierdie bedrading. Die menslike liggaam is meesterlik ontwerp (selfs Darwin het dit erken van die oog) en al hierdie sogenaamde ontwerpfoute en sogenaamde oorblyfselorgane is al weerlê. Kyk Swak ontwerp/oorblyfselorgane (“Vestigial organs”) en Verstandstande en evolusie.]

Dit is algemene kennis dat seismografiese, geologiese en paleontologiese navorsing, saam met die verskynsel van paleomagnetisme, die stadige tempo van kontinentale drywing bevestig het. Die buitengewone aansprake van selfverklaarde “skeppingsleerwetenskaplikes”, wat sonder enige empiriese data kontinentale drywing as ’n baie vinnige proses beskou, is gevolglik van alle waarheid ontbloot.

[Soos ek reeds uitgewys het in George Claassen se brief, pas evolusioniste slegs uniformitarianisme toe wanneer dit hulle pas.]

Die astrofisikus Carl Sagan was sekerlik reg toe hy gesê het buitengewone aansprake vereis buitengewone bewyse. Sedert die oerknal kon geen kreasionis nog daarin slaag om selfs met ’n gewone bewys vorendag te kom nie.

[Dit is nie nodig dat kreasioniste die oerknal kritiseer nie. Selfs sekulêre wetenskaplikes kritiseer die oerknal – kyk Probleme met die oerknal/Wetenskaplikes self.]

Filmalter haal die filosoof van die biologie, Michael Ruse, ’n persoonlike vriend van my, aan om haar saak te sterk. Dit is maklik om selektief aan te haal as mens ondersteuning soek.

[Kyk Wie is Michael Ruse? en besluit maar self oor hierdie stelling.]

Ruse het egter ook gesê: “Today’s professional evolutionism is no more a secular religion than is industrial chemistry.”

Om die Bybel in sy geheel as onfeilbaar te beskou is ’n gevaarlike aanname binne die Suid-Afrikaanse konteks, aangesien kreasioniste dan ook, by implikasie, slawerny en rassediskriminasie moet goedkeur. Dit is so goed as om die drogbeeld van apartheid as ’n misdaad teen die mensdom met ’n goedkeurende regmerkie te verwelkom. Mens wonder onwillekeurig watter regsaspekte hier van toepassing kan wees.

[Regsaspekte om die Bybel as onfeilbaar te beskou!? Dit is lagwekkend! Oor slawerny, kyk Die Bybel oor slawe. Dit is BAIE interessant dat Jurie rassediskriminasie noem. Ek neem aan hy verwys na die feit dat die NG Kerk in die verre verlede apartheid uit die Bybel regverdig het. Die teendeel is waar: Dit is algemeen bekend dat Hitler die Holocaust/Sjoa deur middel van evolusie geregverdig het. Kyk ook Racism Questions and Answers en Aanhalings – Evolusie en rassisme/eugenetika.]

Of die baie belangrike gebod oor naasteliefde hoegenaamd nog by die, resoneer, is ’n ope vraag, aangesien die ondergeskikte rol en sosiale vervreemding wat die Bybelskrywers van vroue vereis sekerlik enige normaal denkende mens, maar veral feministe en regskenners, verontwaardig sal maak.

[Die Bybel leer dat die man die hoof van die huis is (kyk Die Bybel oor die man en vrou se rol in die huwelik). Veral feministe kan maar verontwaardig wees oor hierdie siening, as hulle wil.]

Die kreasioniste is uiteraard ’n onvergenoegde en verwarde groepie siele wat, as hulle werklik ernstig oor hul geloofsoortuigings was, nie hul arms stompies hoef te baklei teen die wetenskap nie, maar liewer op ’n eerlike en nederige manier met die hoofstroomkerke in gesprek behoort te tree.

[Ek is verstom oor Jurie se vyandigheid en aanvallende taalgebruik regdeur sy brief. En dan het hy die vermetelheid om nog te preek oor naasteliefde.

En die feit dat hy die hoofstroomkerke as ’n vriend sien, spreek boekdele oor die hoofstroomkerke…

Jurie, the lady doth protest too much, methinks…]

* Dr. Jurie van den Heever is ’n paleontoloog van Stellenbosch.

2 thoughts on “Die gerief van net gló”

  1. Ek is só bly jy het hierdie geskryf! Ek het begin om ’n repliek in die koerant te skryf, ook oor die strooipoppe wat hy so opstel, maar besef dat daar net nie genoeg ruimte is om my misnoë uit te spreek nie.

  2. Om enige verwarring op te klaar, doen die volgende: Maak evolusie en kreasionisme ’n verpligte keusevak op skool. En staar verstommend hoe onskuldige kinders kreasionisme verwerp teen ’n spoed wat sal maak dat dit baie vinnig nie meer aangebied word nie agv geen leerders. Logika seevier altyd.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui