In die land van Noag is skeppers koning

Kyk ook:

Kyk ook SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in (26 Jul 2020) om meer agtergrond te kry oor hierdie kwessie en ’n lys van ander artikels oor hierdie insident.

Kyk ook Pienkes du Plessis se reaksie onderaan hierdie artikel.

*******

In die land van Noag is skeppers koning | Netwerk24

Deur George Claassen

2 Augustus 2020

Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum doen kinders ’n onreg aan deur hulle met pseudowetenskaplike prul besig te hou, skryf George Claassen.

Die berig in Rapport verlede week oor Solidariteit se Skole­ondersteuningsentrum (SOS) se betrokkenheid by ’n veldtog om kreasionisme soos ’n Trojaanse perd by skoolleerplanne in te smokkel, laat ernstige vrae oor die vakbond se benadering tot fundamenteel aanvaarde en bewese wetenskaplike teorieë.

’n Mens wonder ook of Solidariteit gerieflikheidshalwe vergeet het van die hofbeslissing ten gunste van die Ogod-beweging in 2017 oor skole se oortreding van die Onderwyswet in godsdiensonderrig op skool.

In wetenskapklasse is kinders veronderstel om deur deeglik opgeleide onderwysers in wetenskaplike bevindings en stelsels onderrig te word en nie aan die verkondiging van pseudowetenskap nie. Evolusie is nie maar net ’n teorie, soos die onkundige biologieonderwyser Basie Basson wil vertel in SOS se Junie-webinaar nie.

Basson se kreasionistiese boekies wat van Noag se ark dateer, word deur die SOS voorgestel vir gebruik deur onderwysers om die sogenaamde alternatief van kreasionisme – naas evolusie as aanvaarde wetenskap – in biologieklaskamers te verkondig.

Feit is, kreasionisme is nie wetenskap nie; dit is ’n godsdienstige verklaring van die ontstaan van die aarde en lewe wat nie in ’n wetenskapleerplan hoort nie en wat op geen enkele bewys gegrond is nie – en bewyse is die grondslag van die wetenskap.

[Die feit is dat evolusie ook nie wetenskap is nie. Beide evolusie en die geloof in ’n 6000 jaar oue aarde is ’n geloof. Kyk Operasionele vs historiese wetenskap.]

Hierdeur is Solidariteit direk betrokke by ’n proses om onderwysers – en kinders wat wetenskaplike opleiding van internasionale standaard behoort te ontvang sodat Suid-Afrika mededingend op alle vlakke van wetenskaplike tegnologie en kennis kan wees – van die wal in die sloot van kwaksalwery en pseudowetenskap te lei.

Suid-Afrika het ’n ernstige tekort aan deeglik opgeleide wetenskaplikes, wiskundiges, medici en ingenieurs om ons uit die moeras van armoede en werkloosheid te trek. Om kreasionisme volgens ’n model in wetenskapleerplanne te probeer inbring – in stryd met Ogod se oorwinning in die hof en waarteen Solidariteit verkies het om nie te appelleer nie – is reeds in talle hofsake in die VSA bloedneus geslaan.

Die SOS se hoof, Hugo Vermeulen, kan gerus die saak van Kitzmiller v. Dover Area School District in Harrisburg, Pennsilvanië, in 2005 deeglik gaan lees.

Evolusie is nie net ’n teorie nie. In die wetenskap is ’n teorie veel meer as net ’n bespiegeling oor hoe dinge is: Dit is ’n weldeurdagte groep voorstelle wat gemaak word om feite oor die werklike wêreld te verduidelik. Die evolusieteorie is veel meer as net die stelling dat evolusie “plaasgevind” het. Dit is ’n uitgebreide stel gedokumenteerde beginsels wat verduidelik hoe en waarom evolusie plaasvind, soos die genetikus Jerry Coyne dit in sy boek Why Evolution is True stel. Vir ’n teorie om as wetenskap aanvaar te word, moet dit getoets kan word en bekragtigbare voorspellings kan maak.

Een voorbeeld van die onsin wat kreasioniste soos Basson verkondig: Die aarde is net 6 000 tot 10 000 jaar oud.

[Kyk Die ouderdom van die aarde – kortliks.]

Wel, dan neem hy nie kennis van die teorie van kontinentskuiwing wat deur Alfred Wegener bewys is nie. Deur middel van GPS-waarneming weet ons die kontinente beweeg weg van mekaar teen snelhede van ongeveer 5 cm tot 10 cm per jaar.

Sou die Jong Aarde-kreasionisme van ’n aarde van niks ouer nie as 10 000 jaar aanvaar word, sou dit beteken as jy by Big Ben in Londen staan, sal jy die wolkekrabbers van New York kan sien omdat Europa en Amerika bietjie meer as 1,6 km van mekaar sou beweeg het.

Dink maar hoe Europeërs dan ooggetuies van die aanval op die World Trade Centre kon wees.

[Claassen spot te lekker met die “dom” skeppingsleerders. Die beginsel wat hy hier gebruik is uniformitarianisme. Dit is die teorie dat alle geologiese verskynsels verduidelik kan word as ’n resultaat van bestaande kragte wat uniform gewerk het vanaf die begin van die aarde tot nou. Met ander woorde, alle katastrofiese gebeurtenisse word vanuit ’n ideologiese beginsel verwerp. Evolusioniste pas egter hierdie beginsel net toe wanneer dit hulle pas. Kyk uniformitarianisme vir voorbeelde.]

Wat sê gerekende wetenskaplikes oor evolusie? Dit is dit werd om net ’n paar uitsprake daaroor te noem.

Theodosius Dobzhansky, ’n Amerikaanse genetikus, verduidelik dat niks in biologie sin maak behalwe in die lig van evolusie nie. Jared Diamond, ’n fisioloog en skrywer van Guns, Germs, and Steel en The Rise and Fall of the Third Chimpanzee, beskryf evolusie as “die diepsinnigste en kragtigste idee wat die afgelope twee eeue uitgedink is”.

Die Britse bioloog Julian Huxley gaan selfs verder en beskryf evolusie as “die kragtigste en die omvattendste idee wat tot nog toe ontstaan het”. Daarmee sluit hy aan by Daniel Dennett, wetenskapsfilosoof van die Tufts-Universiteit, wat evolusie in sy boek Darwin’s Dangerous Idea as ’n bytende suur beskryf wat deur enigiets vreet en ’n onmiskenbare ooreenkoms toon met ’n universele suur. Dit vreet deur omtrent elke tradisionele konsep en laat in sy kielwater ’n revolusionêre wêreldbeskouing, met die meeste van die ou landmerke steeds herkenbaar, maar op ’n fundamentele manier getransformeer.

Ernst Mayr, evolusionêre bioloog en skrywer van What Evolution Is, skryf onder meer: “Evolusie is die belangrikste konsep in biologie. Daar is nie ’n enkele hoekom-vraag in biologie wat ordentlik beantwoord kan word sonder om evolusie te oorweeg nie. Maar die belangrikheid van hierdie konsep strek veel verder as biologie.

“Die denke van moderne mense, of ons dit nou wil erken of nie, word radikaal beïnvloed – ’n mens word byna in die versoeking gestel om te sê bepaal – deur evolusionêre denke.”

[Daar is drie dinge te sê oor al die wetenskaplikes wat hierbo genoem word: (1) Daar is baie wetenskaplikes wat wel in ’n jong aarde glo. Kyk Wetenskaplikes teen evolusie en oerknal. Word dit dus ’n demokratiese verkiesing om te bepaal wie reg is? (2) Daar is baie verskillende redes hoekom soveel wetenskaplikes aan evolusie glo. Kyk Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo?. (3) Baie evolusioniste is skokkend eerlik oor evolusie. Kyk gerus Aanhalings – Evolusie ’n geloof/Wetenskap nie objektief.]

Kreasionisme word nie deur enige wetenskaplike van formaat, Nobelpryswenners ingesluit, aanvaar nie.

Peter Atkins, professor in chemie aan die Lincoln-kollege van die Universiteit van Oxford, som kreasionisme korrek op: “Kreasionisme, insluitende sy duidelik gekamoefleerde variant ‘intelligente ontwerp’, is nie wetenskap nie; dit is ’n ongetoetste bewering wat in die nastreef van en deur ’n anti-wetenskap-, religieus gemotiveerde agenda gedryf word.”

Vermeulen, die SOS en Solidariteit met herbesin.

Net so min as wat jy perdedrolle as vye kan probeer verkoop, kan Suid-Afrikaanse leerlinge die onreg aangedoen word om kreasionisme as wetenskap aan hulle te probeer verkwansel.

[Ons wil ons kinders leer om krities te dink. Laat hulle dan self daaroor besluit.]

  • Dr. George Claassen is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in wetenskap-joernalistiek.

*********

Evolusie: Wat sê Solidariteit? | Netwerk24

Deur Pienkes du Plessis, Somerset-Wes

02 Augustus 2020

Pienkes du Plessis, Somerset-Wes, skryf:

Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met die sotlikste optrede vorendag gekom wat ek in ’n baie lang tyd beleef het. (Lees hier.)

Die heer Basie Basson, in ’n SOS-paneelbespreking oor evolusie, verkondig in sy gruwelike onkunde dat die evolusieleer nie by die natuurkundige Darwin ontstaan het nie, maar “by die duiwel”. En nou wil hulle nóg ’n aanlyn seminaar hou en hulpbronne insluit sodat “onderwysers met min moeite alternatiewe aan Christen-leerlinge kan bied waar evolusie in die kurrikulum as enigste moontlikheid aangebied word”. Bid jou aan! G’n wonder dat die gerekende paleontoloog dr. Jurie van den Heever die optrede van die SOS teenoor kinders as “krimineel” beskryf nie.

4 thoughts on “In die land van Noag is skeppers koning”

  1. As jy kreasionisme in skole wil aanbied kan die Satanistiese kerk en ander gelowe ook ń geleentheid kry om hulle saak te stel by Afrikaanse skole. Hierdie is ń slinkse poging van Solidariteit om weereens ń enkelgodsdiens in kinders se kele te wil forseer. As dit weer ń hofsaak verg, sal dit gedoen word.

  2. Gaan Solidariteit ook ń vir kinders “alternatiewe” gee soos bv ñ plat aarde? Aangesien daar ń redelike hoeveelheid mense is wat glo die aarde is plat behoort iemand seker kinders te kan oortuig dat dit die geval is, veral aangesien Wetenskaplike bewyse en feite, volgens julle, nie nodig is nie.
    Daar is natuurlik ook mense wat nie glo in swaartekrag nie, waar sal daardie teorie inpas by julle en Solidariteit se aanslag in skole?

  3. JD, soos Daniel noem (argumenteer) is daar ’n verskil tussen “Operasionele vs historiese wetenskap” (sien Daniel se skakel bo).
    Om te bewys dat die aarde nie plat is nie vorm deel van “Operasionele” wetenskap. Sien https://creation.com/refuting-flat-earth#spherical-earth
    As dit egter kom by die ouderdom van die aarde is daar te doen met “historiese wetenskap” en soos Daniel noem word “katastrofiese gebeurtenisse” in die evolusieleer verwerp “vanuit ’n ideologiese beginsel”.
    Kyk gerus na “Is Genesis History?” ( https://www.youtube.com/watch?v=UM82qxxskZE )
    en lees ’n resensie daarvan by https://creation.com/is-genesis-history-doco-review

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui