Kommentaar op Jurie van den Heever se stellings op RSG

Kyk ook:

Op 26 April 2015 het die paleontoloog, Jurie van den Heever, ’n pro-evolusie stelling gemaak op die radioprogram Hoe verklaar jy dit? van RSG (kliek HIER). Emil de Villiers van Riversdal het in ’n epos daarop gereageer waarop Jurie weer gereageer het op Sondag 3 Mei 2015. Kliek HIER om die potgooi te luister of regskliek en kies “Save link as…” om te stoor.

Hier volg ’n transkripsie van wat Jurie gesê het met kommentaar tussenin in [rooibruin blokhakies]:

Emil de Villiers van Riversdal vat ons ’n bietjie aan oor wat ons oor die radio [oor evolusie] gesê het. Hy open sy brief met die sin: “U verkondig evolusie asof daar bewys voor is.”

…Daar is letterlik miljoene bewyse daarvoor in verskillende vakgebiede. Die bewyse ondersteun mekaar.

[Dit is wat evolusioniste wil voorgee, maar dit is nie waar nie. Eerstens is evolusie historiese wetenskap, nie operasionele wetenskap nie. Kyk Operasionele vs historiese wetenskap. Tweedens is alle aanduidings dat dit ’n onwerkbare hipotese is. Kyk wat sommige evolusioniste self oor evolusie sê in Aanhalings – Evolusie verkeerd/mislei.]

As iemand wil bewys dat evolusie nie plaasvind nie, is daar ’n baie eenvoudige manier: ’n mens moet net beter navorsing vorendag bring.

[Dit is glad nie so eenvoudig nie. Daar is meer as genoeg bewyse dat evolusie nie ’n feit is nie, maar daar is ’n rits redes hoekom wetenskaplikes steeds aan evolusie vasklou. Kyk Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo?.]

Emil sê: “Ek as ’n kind van Jesus wat alles geskep het.” My Bybel sê nie dat Jesus alles geskep het nie. Dit was eintlik Jesus se pa, dink ek, wat die skeppingswerk gedoen het.

[Emil is reg dat dit Jesus is wat die skeppingswerk gedoen het. Dit word in Johannes 1:1-5 gesê:

(1) In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
(2) Hy was reeds in die begin by God.
(3) Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
(4) In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.
(5) Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Kyk ook Is Jesus Christ the Creator God?.]

Dan beweer hy dat die evolusie wat ons verkondig reg van Satan is. As ’n mens teologies hierop ingaan bestaan daar nie iets soos Satan nie. Dit is ’n nuutskepping wat die mense gedoen het.

[Jurie praat mense soos Gerda de Villiers na, maar dit is dwaling. Die Bybel is duidelik dat Satan wel bestaan. Kyk Die Bybel oor die duiwel/Satan.]

Evolusie het dus eintlik niks met Satan te doen nie, want dit het te doen met die natuurlik progressie van lewe op aarde.

[’n Mens kan verstaan dat Jurie, wat ’n ongelowige is, so iets sê. Dit is egter baie duidelik dat evolusie een van Satan se beste werktuie geword het om God van Sy eer en Sy kinders te beroof. Kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed.]

Hy hou ook nie van die feit dat mense sterte gehad het nie. Ons weet dat daar vandag nog mense gebore word met sterte.

[Baie mense word met allerhande uitgroeisels gebore. Dit bewys egter nie dat mense van ape afkomstig is nie. Kyk bv Human tails? en Human tails and fairy tales.]

Dan sê hy dat die sogenaamde vermiste skakel nooit gevind sal word nie en dat dit nooit sal gebeur nie. Een van die goed wat goed gevestig is, is juis die kwessie dat daar so baie sogenaamde vermiste skakels gevind is. As dit gevind is dan kan ’n mens nie meer praat van ’n vermiste skakel nie – ’n mens moet dan eintlik praat van ’n gevonde skakel. ’n Mens hoef maar net te dink aan die evolusie van walvisse, wat baie goed gedokumenteer is. Die evolusie van die mens is baie goed gedokumenteer, die evolusie van die ontstaan van soogdiere, ongewerwelde diere, olifante, al hierdie is baie goed gedokumenteer met feite en voorbeelde. Ek weet nie hoekom Emil sê dat dit nie gevind is nie, want hulle is daar. Hulle is uitgestal in museums en geïllustreer in boeke en ’n mens kan jouself vergewis daarvan.

[Volgens evolusioniste self is daar nie oorgangskakels nie. Kyk Aanhalings – Vermiste skakels en Archaeoraptor: National Geographic dryf ’n evolusionêre agenda. Kyk Refuting Evolution—Chapter 5 en Whale evolution flops wat spesifiek die evolusie van die walvis bespreek.]

Verder sê hy dat wat ons verkondig is loodreg in stryd met die Woord van God. Daaroor kan ’n mens ’n paar opmerkings maak:

Die vraag is: “Watter god?”, want daar is baie gode.

[’n Mens kry die idee dat Jurie van hierdie geleentheid gebruik maak om die Christelike geloof aan te val, want hierdie stelling het eintlik niks met die prys van eiers te doen nie. Jurie weet watter God Emil bedoel. Kyk in elk geval Watter geloof is reg?.]

Ek kan nie sien hoe dit in styd kan wees met iemand se begrip van God nie, want evolusie is ’n feit. As iemand werklik in ’n opperwese glo wat alles gemaak het, dan het die opperwese mos op hierdie manier geskep.

[Die Bybel is duidelik nie met evolusie versoenbaar nie. Volgens die Bybel is dit baie duidelik dat God nie evolusie gebruik het om te skep nie. Inteendeel, sommige mense val juis die Bybel aan deur te sê dat evolusie ’n feit is en dat die Bybel verkeerd is. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed? en Die Bybel oor skepping vs evolusie en Aanhalings – Is evolusie en die Bybel versoenbaar?.]

Jy vermaan ons later in jou brief met: “Lees jou Bybel”. Ek lees my Bybel en ek vind goed daarin wat in stryd is met die woord van die natuur:

  1. Daar word vertel dat vlermuise voëls is.
  2. Daar word vertel dat ’n mens die afstammelinge van jou kudde se kleur kan beïnvloed deur stokkies te kerf en dit langs die krip neer te sit en dan het jy nou diere wat bont is en nou ander diere wat wit is. Dit is goed wat ons weet wat nie waar is nie.
  3. Paulus skryf in Romeine “Ek lieg vir die geloof.”

[Eerstens moet ’n mens noem dat as ’n mens fout met iets wil vind sal jy ’n fout kry. Tweedens is daar nie wesenlike foute in die Bybel nie. Vir die sogenaamde foute in die Bybel is daar gewoonlik ’n goeie verklaring, mits jy oop is vir oortuiging en mits jy bereid is om die Bybel die voordeel van die twyfel te gee. Kyk Answering Bible skeptics. Hier volg kommentaar op Jurie se aantygings:

Punt 1: Kyk Sê die Bybel in Levitikus dat ‘n vlermuis ‘n voël is?.

Punt 2. Kyk Hoe om Genesis 30:37-40 te verstaan.

Punt 3: Jurie verwys waarskynlik na Romeine 3:7 wat lui “Maar as my leuenagtigheid die betroubaarheid van God duideliker aan die lig gebring het en so dien tot eer van God, waarom word ek dan nog as sondaar veroordeel?”. As ’n mens na hierdie vers in isolasie kyk, kan dit lyk of Jurie ’n punt beet het, maar dit is totaal buite konteks. Skrif verklaar Skrif: As ’n mens twyfel oor die interpretasie van een deel in die Bybel, moet ’n mens na ander dele in die Bybel kyk om te help. In 1 Korintiërs 15:15 skryf Paulus: “Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie.”

Hier sê Paulus in effek dat hy nooit sal lieg ter wille van die Evangelie nie. In Romeine 8:8 skryf Paulus “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.”

Om te lieg is duidelik sonde, dus is dit baie moeilik om te glo dat Paulus ooit sal lieg selfs ter wille van die Evangelie.]

Dan sê jy verder daar is oorheersende bewyse van ’n wêreldwye vloed 4000 jaar gelede. As ’n mens kyk na die geologie dan is daar eintlik oorheersende bewyse dat dit nie plaasgevind het nie. ’n Praktiese wyse sou wees om na die piramides in Egipte te kyk. Die Egiptiese beskawing het vir duisende jare bestaan. Die piramides by Giza is ongeveer 5000 jaar oud. As daar 4000 jaar gelede ’n wêreldwye vloed was, hoekom het die piramides nie weggespoel nie? Hoekom is die Egiptenare wat feitlik langs die Israeliete gebly het onbewus van die feit dat hulle hele beskawing verwoes is deur ’n wêreldwye vloed?

[Volgens die Bybel was die sondvloed ’n globale vloed. Kyk Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?. Daar is ook sterk getuienis daarvan:

  • Dit is opvallend dat daar soveel volke in die wêreld is wat vloedlegendes het.
  • In die artikel Up with Catastrophism! word vertel hoe die sekulêre geoloog, Derek Ager besef dat geologie grootliks gevorm het deur katastrofes. Hy weier egter om die sondvloed te erken. Kyk ook Geology Questions and Answers.

Die ouderdom van die piramides is waarskynlik gedoen met behulp van radiometriese datering, wat al bewys het dat nie altyd baie akkuraat is nie (kyk Radiometriese datering verkeerd). Verder is daar wêreldbekende argeoloë wat glo dat die huidige Egiptiese tydlyne aangepas moet word en dat dit nie so oud is soos hulle gedink het nie. Indien dit gedoen word, pas die Bybel baie goed in met wat opgegrawe is (kyk Egyptian history and the biblical record: a perfect match?).]

Dan sê jy verder: “Die eier en die voël.” Ek vermoed jy is besig met die ou argument: wat het eerste gekom – die eier of die voël? Hierdie ding is al lankal opgelos: Die eier het eerste gekom. Lank voor daar voëls was het die reptiele ontwikkel. Lank voor daar reptiele was, was daar diere wat met behulp van eiers voorgeplant het. Dus het die eier lank voor die voël bestaan.

Dan vra jy hoe jy jouself kan oortuig dat dit alles net gebeur het: hoe dom om te dink dat ’n ontploffing dit kon veroorsaak. Ek vermoed dat jy praat van die oerknal. Dit het natuurlik nie evolusie veroorsaak nie. Dit is nie reg om hierdie twee goed bymekaar te bring nie.

[Streng gesproke is Jurie seker reg, maar hy probeer hare kloof. ’n Mens kry biologiese evolusie, geologiese evolusie en kosmiese evolusie. Net soos biologiese evolusie nie die oorsprong van lewe kan verklaar nie, kan die oerknal ook nie evolusie verklaar nie. Die punt is egter dat Jurie, soos meeste ander evolusioniste, wel glo dat alles vanself deur ’n ontploffing veroorsaak is.]

En dan gebruik jy die ou argument van: skommel ’n biljoen musieknote en verwag om ’n simfonie te kry. Dit is nie hoe evolusie werk nie. Evolusie is iets wat met tyd meer kompleks raak. Daar is sekere basiese ontwikkelinge wat moet plaasvind wat wel plaasgevind het en dan kan dit aangepas word.

[Emil se voorbeeld is geldig. Dit is hoe evolusie veronderstel is om te werk. Wat Emil uitlig is die beginsel van onvereenvoudigbare kompleksiteit. Daar is baie dinge in hierdie lewe wat nie stelselmatig sou kon ontwikkel nie, want daar is honderde dinge wat gelyktydig in plek sou moes wees voor dit enige voordeel vir die dier kon inhou. Vir meer hieroor, kyk Dawkins se rekenaar-aap en Argument: ‘Irreducible complexity’.]

Jou amper finale argument sê jy niks verbeter tot nou nie – alles verswak en is besig om agteruit te gaan. Ek dink nie dit is regtig waar nie. Ek kan nie dink dat jy dit regtig glo nie, want daar is baie goed wat beter word. Daar is baie goed wat meer kompleks word. Dink nou maar aan die evolusie van die brein van primitiewe haaie af deur reptiele deur soogdiere tot by die mens. [Hierdie is wat ’n mens ’n sirkelredenasie noem: Jurie aanvaar dat die brein deur evolusie meer kompleks geword het oor miljoene jare en dan hou hy dit weer voor as bewys vir evolusie.] Dit is ’n geweldige komplekse ding wat ons gebruik om die wêreld ’n beter plek te maak met die ontwikkeling van medisyne, ontwikkeling van tegnologie, rekenaars, selfone, ensovoorts. [Al hierdie voorbeelde van verbetering wat Jurie noem is deur intelligensie gedoen, nie deur evolusie, wat ’n blinde ewekansige proses is, nie.] Mense word baie ouer. Sportmense word sterker en vinniger – rekords word gebreek. Perde word geteel om groter vragte te dra of om vinniger op die baan te hardloop. [Hierdie argument word weerlê in die artikel Word ons beter?.]

Jy sê verder dat ons nou ons leuens moet stop, want ons luisteraars is nie almal “suckers” nie. Jy sê die nuwe bewyse word opgegrawe om die ware verhaal van die Bybel te ondersteun. Ek stem met jou saam – dit is ’n verhaal in die Bybel. Dit is nie in alle opsigte die waarheid nie en die nuwe bewyse word definitief opgegrawe, maar ek dink nie dit ondersteun jou sienswyse nie, want dink maar aan die onlangse ontdekking van die evangelie van Judas wat die hele storie van Jesus en die apostels deurmekaar krap. Glad nie soos dit in die Bybel vertel word nie.

[Die Bybelse Evangelies is die betroubaarste antieke bron ter wêreld (kyk Hoeveel integriteit het die Nuwe Testament?). Een dokument wat gevind word, gaan nie die “storie van Jesus” deurmekaar krap nie. Verder is daar lyk my baie kontroversie oor hierdie dokument. Dit lyk of National Geographic die dokument verkeerd vertaal het en selfs veranderinge aangebring het aan die oorspronklike dokument. Kyk What the Gospel of Judas really says.]

Dink maar aan die inligting oor die val van die mure van Jerigo, wat niks te doen het met trompetgeskal nie.

[Ek sou graag wou sien hoe Jurie gaan bewys dat Jerigo se mure nie agv ’n wonderwerk inmekaar getuimel het nie.]

Oor die vloed het ons al gepraat: daar was nie ’n wêreldwye vloed gewees nie.

[Daar was: Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?]

Dan moet ’n mens die goed lees van internasionaalbekende teoloë soos Andries van Aarde van die Hervormde kerk wat die boek geskryf het Fatherless in Galilee, waar hy op grond van konteks, van hermeneutiese uitleg, op grond van die kultuuromgewing van die tyd op ’n baie oortuigende manier aangetoon het dat Jesus ’n buite-egtelike kind was. Hy was ’n mens en hy was ’n buite-egtelike kind en Hy het gepreek vanuit daardie konteks uit vir die armes en vir die kinders.

[Kyk Kommentaar op Jurie le Roux se artikel “Andries van Aarde se vaderlose Jesus”.]

En Sakkie Spangenberg se boek oor Jesus, wat teologies nagevors is. Hierdie mense lees nie net hulle Bybel nie, hulle vors dit na. Sakkie Spangenberg het ook tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus ’n mens was.

So, Emil, baie dankie vir jou brief, maar ek dink tog dat jy miskien ’n bietjie moet teruggaan en dieselfde resep toepas wat jy aan ons voorstel en jou Bybel weer met aandag gaan lees.

Lafras Mouton [herpatoloog] het soos volg by Jurie aangesluit:

Jurie, ek wil by jou aansluit. Daar is eintlik twee baie belangrike punte. Die een is dat evolusie nie ’n geloof is nie – dit is wetenskap. Dit is iets wat die heeltyd verder nagevors word en aangepas word na aanleiding van nuwe inligting. So dit is nie iets waarin jy glo nie.

[Kyk Om geloof en wetenskap te skei.]

Dan die tweede ding wat vir my altyd vreemd is, is hoekom as daar nou ’n skepper is, hoekom word hy ontsê dat hy die aarde deur evolusie kon geskep het? Dit is ’n baie wonderliker manier as om ’n vinger te klap.

[Niemand ontsê God iets nie. God het dit duidelik so in die Bybel geopenbaar en daarom glo ons dit. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed? en Die Bybel oor skepping vs evolusie.

Die vraag is eerder: Hoekom word God se skeppingsmetode bevraagteken?]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui