Belydenisskrifte duidelik oor duiwel

In die volgende skrywe reageer prof Johan Janse van Rensburg op Jan Lubbe se brief “Protestante swyg nie, hulle praat én hulle luister” op 12 April 2024.

Hierdie brief is egter nie in die koerante geplaas nie.

*******

Belydenisskrifte duidelik oor duiwel

Prof Johan Janse van Rensburg

April 2024

Ds. Jan Lubbe se reaksie op my skrywe is nie verrassend nie. Dit spreek van ʼn weiering om te erken dat die Algemene Sinode besluite geneem het wat met die Skrif en die Belydenisskrifte teenstrydig is. Kortliks die volgende:

  • Sy poging om voor te gee dat Belydenisskrifte nie oor die Duiwel duidelikheid gee nie, is skokkend in die lig van die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 12) en die Heidelbergse Kategismus (Sondag 52). Sy argument oor die enkelvoud (duiwel) en meervoud (duiwels) is darem regtig nie teologies of oortuigend nie, aangesien sowel die Skrif as die Belydenisskrifte na beide verwys.
  • Die Skrif se getuienis oor die duiwel kan mos nie deur ds. Lubbe se poging om my verdag te maak, weggevee word nie. Ek het in my skrywe gevra hoe die talle tekste oor die duiwel en duiwels en Jesus se optrede verklaar moet word as daar nie ʼn duiwel is nie. Hierop het ds. Jan nie geantwoord nie. Om dit nog duideliker te maak, voeg ek by: Wat het met die versoeking in die woestyn gebeur toe Jesus versoek is (Lukas 4), as dit nie die duiwel was wat Hom versoek het nie? Sleuteltekste oor die Persoon en optrede van Christus word in gedrang gebring as die bestaan van die duiwel relativeer word.
  • Ds. Jan se poging om my met die verwysing na korrespondensie in die media verdag te maak, is ʼn persoonlike laagtepunt. Hy noem my skrywe pertinent ” ʼn klassieke voorbeeld van hoe ʼn onverkwiklike verhaal oor die NG Kerk en die Algemene Sinode geruime tyd al in briewekolomme van koerante geskep en gevoed word”. Sedert 1998 het ek op alle platforms (teologiese navorsing, artikels in die Kerkbode, openbare media en Sinodale vergaderings) teen afwykings van die Skrif en die Belydenisskrifte gewaarsku. Ds. Lubbe weet dit alles en tog hierde liefdelose en onverdiende insinuasie?
  • Dit is ʼn uitgediende argument om voor te gee dat iemand nie die volle teks gelees het nie. Met verwysing na die betrokke sinodebesluit insinueer hy dat ek net die betrokke besluit aangehaal het. Natuurlik het ek die hele besluit gelees, maar niks wat daarin staan, maak die bewoording en die bedoeling van die Sinodebesluit ongedaan nie. Die beginsel van willekeur staan uitdruklik in die sinodebesluit. Lidmate kan sélf besluit hoe hulle oor die bestaan van die Bose wil glo. Ontken ds. Lubbe dit? Die voorsitter van die ASM se brief het bewys dat daar geen bereidheid is om te erken dat foute gemaak is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui