SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in

Kyk ook:

Volpunte vir Solidariteit wat besef dat daar ’n ander kant is van evolusie wat ook aan mense gegee moet word en ’n paneelbespreking georganiseer het om skeppingsleer te bespreek onder skeppingsleerders. Ateïste is nou baie ontsteld hieroor – hulle besware word hieronder genoem. Ek het hierop kommentaar gelewer waar dit in die artikel voorkom.

********

SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in | Netwerk24

Deur Johan Eybers

26 Julie 2020

’n Paneelbespreking vir onderwysers deur Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) waarin die evolusieleer as “duiwels” beskryf is, sal opgevolg word deur nog ’n aanlyn seminaar oor evolusie mits geen ateïs daarby betrokke is nie, het die SOS aan Rapport gesê.

Die SOS het in Junie ’n webinaar oor skeppingsleer op sy Facebook-blad uitgesaai as deel van Solidariteit se projek om leermateriaal te ontwikkel wat as “alternatief tot ateïstiese evolusieleer aangebied gaan word”.

Dit sal video’s, apps en ander hulpbronne met ’n Christelike inslag insluit sodat onderwysers “met min moeite alternatiewe aan Christen-leerlinge kan bied in gevalle waar evolusie in die kurrikulum as enigste moontlikheid aangebied word”.

Die paneelbespreking, onder leiding van Basie Basson, is in die middel van Junie op die SOS se Facebook-blad uitgesaai, maar later verwyder.

Die ander sprekers was Nicolene Filmalter, ’n skrywer, en Rudi Pretorius, ’n opvoedkundige.

Basson is die skrywer van die boek Juffrou, kom ek van ’n aap af? Dit is ’n gids vir ouers oor “die gevaar van evolusieleer en die misleidende aanslag daarvan teen ons kinders en selfs die kerk”.

Basson het volgens twee mense wat na die webinaar geluister het, met die intrapslag gesê evolusie is van die duiwel af.

[En dit is waar. Dit is die leuen waarmee die duiwel waarskynlik die meeste sukses behaal het in die geskiedenis van die mensdom. Kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed.]

Marius Sullivan was die josie in en het Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, gevra waarom slegs kreasioniste deel was van die gesprek en of ’n opvolgseminaar beplan word waarin die wetenskap agter die evolusieleer verduidelik word.

Vermeulen het geantwoord: “Beslis, ja.” Maar hy het bygevoeg dit sal nie gedoen word saam met mense met ’n ateïstiese agtergrond nie.

Hy het Sullivan genooi om die name van persone en instansies te voorsien wat bereid sou wees om deel te wees van die seminaar. Vermeulen het ook benadruk dat die SOS nie ’n amptelike standpunt oor evolusie het nie.

“Juis daarom het ek die eerste webinaar aangebied en hoop om nog meer mense met wyer standpunte en menings te kry.”

Hy sê in die e-pos dat die drie sprekers wat gepraat het, niks met Solidariteit of die SOS te doen het nie.

“Wat ons wel nie gaan toelaat nie, is om mense met ’n ateïstiese agtergrond ook ’n platform te bied. My hoop is dat volwasse Christene op ’n opgevoede manier meer kan weet en leer oor evolusie.”

[Aan die een kant kan mens verstaan dat ateïste boos is oor so ’n blatant uitsluiting. SOS het egter goeie reg om dit te doen. Tans het ateïste nie net die skoolkurrikulum as hulle platvorm nie, maar ook RSG. Jurie van den Heever verkondig openlik evolusie in die program Hoe verklaar jy dit?. En op Sondae-aande is dit Jean Oosthuizen wat in Uit ’n ander hoek lustig voortgaan om liberale teologie te bevorder, sonder enige debatvoering.]

Tersia du Plessis, ’n opvoedkundige wat ook na die eerste seminaar geluister het, sê haar bloed het gekook.

“Die paneel voer aan dat die evolusieleer nie by die natuurkundige Charles Darwin ontstaan het nie, maar wel by die duiwel as ’n manier om ons kinders af te rokkel. Hul uitgangspunt is dis óf evolusie óf die Bybel en hulle moedig onderwysers aan om kreasionisme te propageer.”

[“óf evolusie óf die Bybel”: Of hierdie presiese woorde gesê is weet ek nie, maar skeppingsleerders argumenteer nog altyd dat evolusie nie met die Bybel versoen kan word nie (kyk Evolusie en Bybel onversoenbaar). Daarmee word nie gesê dat jy nie ’n Christen kan wees en in evolusie glo nie, maar jy is baie inkonsekwent.

“kreasionisme te propageer”: As bloed kook begin die ore te suis en dan hoor jy gewoonlik nie baie goed nie. Skeppingsleerders sê nie dat ’n spesifieke sienswyse gepropageer moet word nie. Al waarvoor gevra word is dat beide kante gestel word. Tans word slegs evolusie in skole gepropageer. As evolusie so duidelik ’n wetenskaplike feit is, sal kinders baie maklik kan onderskei wat is reg en wat is snert. Kyk ook Creation and evolution: teaching two histories.]

Die paleontoloog en radiopersoonlikheid dr. Jurie van den Heever sê hy beskou die sprekers se raad aan onderwysers om evolusieleer te misken as “krimineel”.

Van den Heever is ’n gereelde gas van Hoe verklaar jy dit? Sondagoggende op RSG en ’n senior dosent in die Universiteit Stellenbosch se departement plant- en dierkunde.

“Hoe kan hulle wetenskap verwerp ten gunste van ’n fundamentalistiese, godsdienstige interpretasie wat aanvaar dat die aarde 6 000 jaar oud is en dat alles wat bestaan in ses letterlike dae geskep is?

[Dit is ’n tipiese argument van evolusioniste: as jy nie aan evolusie glo nie, dan beskuldig hulle jou daarvan dat jy die wetenskap in sy totaliteit verwerp. Dit is ’n vals argument. ’n Mens moet onderskei tussen operasionele en historiese wetenskap. Dit is ’n baie eenvoudige konsep maar my ervaring is dat evolusioniste nie die verskil wil verstaan nie. Hulle maak dit bloot af as slim praatjies. Beide skeppingsleer en evolusie is historiese wetenskap. Net soos enige geskiedkundige gebeurtenis, soos Jan van Riebeeck. Alles wat ons van Jan van Riebeeck weet, lees ons in geskiedenisboeke. As jy die wetenskap bo geskiedenisboeke wil gebruik om oor die verlede te wete te kom, gaan jy die pot baie ver mis sit.]

“Hulle verwag nou dat kinders se kennis oor wetenskap en biologie beperk en afgestomp word. Ek gee nie om wat hulle van my dink nie, maar kinders wat geïndoktrineer word, word te na gekom. Hulle bly agter en het nie die vermoë om krities te dink nie.”

[Nee, Jurie. Presies die teendeel. Die enigste indoktrinasie wat tans plaasvind, is die evolusie-indoktrinasie wat op alle vlakke in die samelewing bevorder word sonder dat die teendeel ook aan kinders voorgelê word. Jurie wil voorgee dat indien jy evolusie verwerp, gaan jy agterbly. Prof Louis Bounoure het egter gesê: “Evolusie is ’n feëverhaal vir volwassenes. Hierdie teorie het niks gehelp in die bevordering van wetenskap nie. Dit is nutteloos.” Daar is andere wat soortgelyke dinge gesê het – kyk Aanhalings – Evolusie dra nie by tot wetenskap. Kinders verloor hulle vermoë om krities te dink wanneer evolusie in hulle keelgatte afgedruk word sonder om nie al die feite op die tafel te sit. As evolusie so ’n duidelik bewysde feit is, sal ateïste nie bang wees dat kinders ook die ander kant hoor nie.]

Vermeulen het aan Rapport gesê die seminaar is geen aanduiding daarvan dat Solidariteit ’n standpunt oor evolusie ingeneem het nie.

“Die doel was ’n opvoedkundige gesprek vir onderwysers om meer uit te vind oor die standpunte wat daar oor skeppingsleer bestaan.”

Vermeulen sê hulle weet dat daar Christene is wat evolusie ondersteun. Daarom beplan hulle ’n opvolgseminaar met kundiges in die veld, wat weliswaar vanweë SOS se Christelike etos “uit ’n Christelike perspektief” sal plaasvind.

Die SOS het op Facebook gesê hulle het die video van die seminaar verwyder toe “ongeveer ses evolusioniste/ateïste die gewone boelietaktiek begin toepas het deur persoonlik beledigende, negatiewe, en sinnelose kommentaar” te lewer.

“Ons het duidelik op tone getrap en net die feit dat ons sulke reaksie ontlok het, wys dat dit suksesvol was,” lui die inskrywing.

1 thought on “SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in”

  1. Evolusie is goeie verklaring vir hoe lewende goed vandag lyk en fossielrekords bevestig dit. Niks kon nog ooit verklaar word met gode, spoke of enigiets bonatuurliks nie. Daar is geen aanduiding dat sulke dinge bestaan nie, ook nie die god van die Bybel nie. Ongelukkig het enige godswaan ook nie van die wêreld ’n beter plek gemaak nie, inteendeel. Sterkte, ek hoop jy sal eendag die werklikheid kan trotseer. Dalk sal jy agterkom dat soos daar nie Kersvader is nie, daar ook nie ’n Liewe Jesus is nie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui