Die Bybel oor slawe

Vandag is daar mense wat redeneer dat die Bybel slawehandel goedkeur en dit dan gebruik om te redeneer dat net soos die Bybel “verkeerd” was oor slawe, is die Bybel ook verkeerd oor byvoorbeeld homoseksualiteit. Dit is ’n totaal oningeligte redenasie wat ’n mens sal verwag van mense wat geen lojaliteit vir God se Woord het nie.

Daar is vandag ’n baie negatiewe konnotasie aan slawe. Kyk maar bloot na die fliek “12 years a slave” (ook HIER). Eienskappe van slawehandel in vandag se terme is die volgende:

  • Mense word ontvoer en teen hulle sin verkoop sonder dat hulle self ’n sent kry (soos wat met die Amerikaanse Negers gebeur het).
  • Slawe word misbruik of onbillik of selfs onmenslik behandel.
  • Slawe is in werklikheid gevangenes wat nie uit hulle situasie kan loskom nie.

Die Bybel skets egter glad nie so ’n negatiewe prentjie oor slawe nie. Eienskappe van die “slawebedryf” in die Bybel is soos volg (kyk hoofsaaklik Eksodus 21, Levitikus 25 en Deuteronomium 15):

Vrywillige reaksie

Dit was ’n vrywillige aksie. Iemand kon homself as ’n slaaf verkoop en sy familie of hy self het die geld daarvoor gekry. Hy kon homself as slaaf verkoop byvoorbeeld om sy skuld af te betaal:

Lev 25:39: (39)Wanneer ’n mede-Israeliet in jou omgewing só in die skuld raak dat hy hom aan jou verkoop as slaaf, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie.

Slawe kon selfs besluit om vrywillig aan te bly wat ’n bewys is dat hulle soms baie goed behandel is:

Eks 21:5-6: (5)As die slaaf egter uitdruklik sou sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders. (6)Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet sy eienaar hom in die teenwoordigheid van God bring, by die heiligdom se deur of kosyn, en daar moet die eienaar ’n gaatjie in sy slaaf se oor steek met ’n els. Dan is hy vir altyd sy eienaar se slaaf.

Nie permanent

’n Slaaf was net vir ’n sekere tydperk ’n slaaf waarna hy vrygelaat moes word.

Eks 21:2: (2)Wanneer jy ’n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar vir jou werk, maar in die sewende jaar moet jy hom vrylaat sonder dat hy jou iets daarvoor betaal.

Slawe kon hulleself loskoop indien die eienaar hulle nie meer wou hê nie.

Eks 21:8: (8)As haar eienaar wat haar as sy vrou wou hê, later nie meer van haar hou nie, moet hy toelaat dat sy deur haar eie mense losgekoop word. Hy het nie die reg om haar aan vreemde mense te verkoop nie, want dan pleeg hy troubreuk teenoor haar.

Lev 25:47-52: (47)Wanneer ’n vreemdeling of ’n bywoner in julle land ryk word, en ’n mede-Israeliet raak by so iemand in die skuld sodat hy hom as slaaf moet verkoop aan die nie-Israeliet of dié se nageslag, (48)het die Israeliet die reg om vrygekoop te word. Een van sy broers (49)of ’n oom of ’n neef of ’n ander manlike familielid kan hom vrykoop. As so ’n slaaf genoeg geld bymekaarkry, kan hy homself vrykoop. (50)In so ’n geval moet die bedrag waarteen hy as slaaf verkoop is en die getal jare van die tyd af dat hy verkoop is tot die volgende hersteljaar toe, in berekening gebring word. Hy moet dan krediet ontvang vir die jare wat hy reeds diens gedoen het en as dagloner sy skuld afgewerk het. (51)As dit lank voor die hersteljaar is, sal die vrykoopprys dus ’n groot deel van die oorspronklike verkoopprys uitmaak. (52)As daar net ’n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die vrykoopprys slegs ’n klein deeltjie van die oorspronklike verkoopprys wees.

Goeie behandeling

’n Slaaf moes goed behandel word.

Eks 21:26-27: (26)Wanneer ’n man sy slaaf of slavin op die oog slaan en dit blywend beskadig, moet hy die slaaf of slavin vrylaat as vergoeding vir die oog. (27)As hy sy slaaf of slavin se tand uitslaan, moet hy die slaaf of slavin vrylaat as vergoeding vir die tand.

Deut 15:13-15: (13)Maar wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie. (14)Gee hom ’n behoorlike deel van jou kleinvee, van die graan op jou dorsvloer en van jou parskuip. Van alles waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het, moet jy vir hom gee. (15)Jy moet onthou jy was self ’n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry. Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee.

Jeremia 34:16: (16)Maar nou het julle weer van gedagte verander en my Naam onteer toe elkeen sy slaaf en slavin wat hy vrygelaat het om sy eie gang te gaan, gedwing het om weer julle slawe en slavinne te wees. En julle mishandel hulle.

Mense het vir hulle slawe omgegee.

Mat 8:5-6: (5)Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het ’n offisier by Hom hulp kom vra (6)en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.”

Bybel teen slawehandel

Iemand wat iemand anders ontvoer om te verkoop of vir homself te hou, moes doodgemaak word. Dus was slawehandel onwettig volgens die Bybel.

Eks 21: (16)Wie ’n ander ontvoer om hom te verkoop of om hom in sy besit te hou, moet doodgemaak word.

Deut 24: (7)Wanneer dit ontdek word dat iemand sy broer, ’n mede-Israeliet, gesteel het en hom as slaaf gebruik of verkoop het, moet die dief sterf. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

Amos 2: (6) … Maar nou het hy nog sondes daarby gevoeg: hulle verkoop onskuldige mense vir geld, arm mense oor ‘n paar sandale; (7)hulle trap swakkes se koppe plat in die grond en veronreg dié wat hulleself nie kan verweer nie; …

 

In 1 Timoteus 1 praat Paulus van ontvoerders wat baie hoogs waarskynlik op slawehandel dui. Inteendeel, die volgende vertalings praat van slawehandelaars: NIV, MKJV, LITV, ESV, MEV, ERV:

1 Timoteus 1:9-10: (9)’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, (10)ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.

Godvresendes het slawe gehad

Abraham, Elia, Elisa en nog ander Godvresende mense in die Bybel het slawe gehad. Ek kan nie dink dat hulle hulle slawe mishandel of onregverdig behandel het nie.

Slawe met groot verantwoordelikheid

’n Slaaf het soms groot verantwoordelikhede gekry.

Spr 17:2: (2)’n Verstandige slaaf sal gesag kry oor ’n seun wat ’n verleentheid is en sal ’n erfgenaam word saam met die seun se broers.

Dink ook aan Josef en Potifar.

Gen 39:3-4: (3)Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag, (4)was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas.

Onaanvaarbaar om slawe te mishandel

Dit was nie aanvaarbaar om slawe te mishandel en dood te maak nie:

Mat 22:6-7: (6)En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. (7)Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

In die boek Filemon het Paulus by Filemon gepleit om Onesimus terug te neem as ’n slaaf – hy het nie gepleit dat Filemon vir Onesimus vrylaat as ’n slaaf nie.

Filemon 1:15: (15)Miskien was hy ’n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry, (16)nou nie langer net as ’n slaaf nie, maar meer as ’n slaaf: as ’n geliefde broer. Dit is hy besonderlik vir my; hoeveel te meer sal hy dit dan nie vir jou wees nie, as mens en as broer in die Here.

Filemon 1:13: (13)Wat my betref, ek sou hom graag by my wou hou, sodat hy my in jou plek kan dien terwyl ek ter wille van die evangelie ’n gevangene is.

Dus het God nooit bedoel dat slawe mishandel word en onregverdig behandel word nie. Volgens die Bybel moet ons selfs ons diere goed behandel. Hoeveel temeer nie ander mense nie:

  • Deut 22:10: Jy mag nie ’n bees en ’n donkie saam voor ’n ploeg inspan nie.
  • Spr 12:10: Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed.

Ten slotte

Het ons nie ook maar vandag slawe nie? Wat is die bediende wat in jou huis werk en die tuinjong wat in jou tuin werk anders as ’n slaaf? Sy kontrak is net baie korter. Is ons self nie maar slawe van ons werkgewer nie? Daarom is die Bybel nie verkeerd itv slawe nie en laat die Bybel ook nie slawehandel (soos ons dit vandag ken) toe nie.

Slawehandel is nie ’n voorbeeld van iets in die Bybel wat ons vandag anders moet interpreteer nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui