Verstandstande en evolusie

Kyk ook:

Sommige mense wat aan evolusie glo noem soms verstandstande as voorbeeld van evolusie: omdat ons vandag nie meer verstandstande nodig het nie, word meer en meer mense vandag sonder verstandstande gebore en daarom is dit ’n bewys van evolusie wat plaasvind.

Dit is nie ’n geldige argument nie:

Die moontlikheid dat mense al minder verstandstande kry is geen bewysstuk vir ’n vermeerdering van genetiese inligting nie

Vir evolusie om waar te wees, moet evolusioniste voorbeelde kan gee waar dinge genetiese inligting bygekry het: byvoorbeeld, vir ’n amoeba (eensellige organisme) om ’n mens te word, moes daar baie genetiese inligting bygevoeg word in die vorm van DNS-inligting. Dit is nog nooit waargeneem nie. (Kyk bv Mutations Questions and Answers.) Mense wat sonder verstandstande gebore word, is nie ’n voorbeeld waar genetiese inligting vermeerder het nie – dit is juis ’n vermindering van genetiese inligting.

Is daar regtig meer mense wat vandag sonder verstandstande gebore word?

Daar moet eers bewys word dat daar vandag meer mense sonder verstandstande gebore word as voorheen. Hoe weet ons daar is vandag meer mense wat sonder verstandstande gebore word as jare gelede?

Evolusie verklaar nie hoekom meer mense sonder verstandstande gebore word nie (indien dit waar is)

Indien dit wel waar is dat meer mense vandag sonder verstandstande gebore word, kan dit nie met die beginsels van evolusie verklaar word nie. Kom ons kyk net vinnig wat die beginsels is waarop evolusie veronderstel is om te werk (ek illustreer mbv ’n voorbeeld): Veronderstel die eerste leeus het nie slagtande gehad nie. Nou word daar ’n leeu gebore met lang oogtande (of slagtande) – dit gebeur agv ’n mutasie (DNS kopieerfout) wat veroorsaak dat die leeu se oogtande langer is. (Terloops, dit is ’n voorbeeld wat vir skeppingsleerders ook aanvaarbaar sal wees. Let egter daarop dat ’n langer oogtand nie ’n vermeerdering in genetiese inligting is nie, want die leeu het alreeds tande gehad. Die geen wat die lengte van die oogtande bepaal, het net foutief geraak en langer groei veroorsaak. Mutasies veroorsaak oor die algemeen eerder ’n verlies in genetiese inligting – kyk Mutations: evolution’s engine becomes evolution’s end! en The evolution train’s a-comin’.) Sommige van hierdie leeu se nasate word nou ook so gebore. Die leeus met die langer oogtande het ’n voordeel, want dit veroorsaak dat hulle hul prooi makliker kan vasbyt. Nou geld natuurlike seleksie of “oorlewing van die sterkstes”: omdat hierdie nuwe spesie leeus ’n voordeel bo die ander het, is dit vir hulle makliker om bokke te vang in tye van droogte en selfs ook as hierdie leeus met ander leeus veg wat nie slagtande het nie. Die leeus sonder die slagtande sterf moontlik stadig maar seker uit terwyl die leeus met die lang slagtande bly oorleef agv die nuwe voordeel wat hulle het.

Kom ons pas hierdie nou toe op verstandstande:

Eerstens kan eksterne faktore nie DNS-inligting verander nie[1]: Veronderstel ek word gebore met verstandstande, maar dit is iets wat ek nie regtig nodig het nie, hoe gaan my DNS-inligting vanself verander sodat my kinders sonder verstandstande gebore word? Die volgende is nog voorbeelde wat nie waar is nie:

  • Veronderstel jy woon hoog bo seëvlak en van jou word vereis om baie te hardloop, sal jy naderhand goedgeoefende longe hê. Hierdie eienskap sal naderhand oordra na jou kinders en hulle kinders voor geboorte en so sal jy ’n nasie kry wat baie goed hardloop.
  • As ’n pa sy spiere oefen sal sy kind, sonder oefening, groter spiere hê as wat hy sou gehad het as sy pa nie sy spiere geoefen het nie.
  • ’n Vrou wat haar arm in ’n ongeluk verloor het se kans is groter dat haar kinders sonder ’n arm gebore sal word.
  • Diere wat in koue plekke leef, se hare groei langer omdat dit so koud is. (Wat wel waar is, is dat diere met kort hare uitsterf omdat dit so koud is sodat slegs diere met lang hare oorbly. Wat ook waar kan wees is dat diere in koue plekke ’n mutasie kan kry sodat hulle hare langer groei. Let op dat hierdie mutasie niks met die koue te doen het nie, maar slegs toevallig plaasvind. En dit het ook nie die dier se genetiese inligting vermeerder nie, want hy het alreeds hare gehad.)

Tweedens, vir natuurlike seleksie (of oorlewing van die sterkstes), moet die swakker organisme doodgaan voor dit kan voortplant. Dus, vir alle mense om oor ’n paar duisend jaar sonder verstandstande gebore te word, moet die mense wat mét verstandstande gebore word doodgaan voor hulle die kans kry om voort te plant. In die verlede kon daar moontlik mense wees wat gesterf het agv infeksies wat deur verstandstande veroorsaak is, maar vandag sterf waarskynlik baie min mense oor hierdie rede agv goeie mediese wetenskap.
’n Ander voorbeeld waar natuurlike seleksie hoogs onwaarskynlik sal werk, is om in die toekoms te verseker dat minder mense aan kanker sterf: By verre die meerderheid van mense wat aan kanker sterf, sterf eers nadat hulle kinders gehad het.

Natuurlike seleksie kan wel moontlik help dat minder mense blind gebore word, MITS jy aanneem dat ’n klein persentasie blindgebore mense trou en kinders kry. In die natuur sal natuurlike seleksie wel die gevalle waar diere blind gebore word verminder, want ’n blindgebore dier sal baie waarskynlik sterf voor hy die kans kry om voort te plant. Let wel dat al die goeie eienskappe van daardie dier ook verlore sal gaan – daardie dier kon moontlik goeie eienskappe hê soos: vinnig hardloop, sterk, goed ruik, baie gesond. Enige goeie eienskappe wat hierdie dier het, gaan ook in die proses verlore.

Net terloops, natuurlike seleksie is nie uitgevind deur Darwin nie. Reeds lank voor Darwin het mense soos Edward Blyth reeds aan natuurlike seleksie gedink (kyk Darwin’s illegitimate brainchild).

Die stelling: “Diere pas aan by hulle omgewing”

Omdat diere in die natuur oor tyd kan verander, sê sommige mense dat diere (en mense) by hulle omgewing kan aanpas. Hierdie is ’n baie misleidende stelling: dit skep die indruk dat omgewingsfaktore lewende dinge se DNS kan verander. Soos gewys is dit nie waar nie. Wat eintlik gebeur is dat die diere wat nie geskik is vir die omgewing slegs uitsterf.

Is verstandstande ’n oorblyfselorgaan (“vestigial organ”)?

Verstandstande is ook redelik prominent op ’n ander vlak in die evolusie-debat: evolusioniste beweer soms dat verstandstande ’n voorbeeld is van oorblyfselorgane – dit is organe wat na bewering vroeër deur evolusie geskep is, maar wat vandag nie meer ’n funksie het nie. Vir meer hieroor, kyk Swak-ontwerp/oorblyfsel-organe (“Vestigial organs”) of meer direk Are wisdom teeth (third molars) vestiges of human evolution?.

Opsommend:

  • Evolusie probeer basies werk op die volgende beginsel van mutasies en natuurlike seleksie:
    • Mutasies is veronderstel om genetiese inligting te verander/vermeerder wat ’n voordeel inhou vir die organisme. Eksterne faktore kan dit nie veroorsaak nie.
    • Natuurlike seleksie is die siftingsproses wat veroorsaak dat die organisme met die verandering voortleef.
  • Die verlies aan verstandstande dui beslis nie op ’n vermeerdering van genetiese inligting nie.
  • Verlies aan verstandstande word soms voorgehou as voorbeeld van natuurlike seleksie, maar dit is nie noodwendig ’n goeie voorbeeld daarvan nie, want die oorlewingsvoordeel daarvan is onseker.

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

The idea of a young earth and literal interpretation of Genesis was THE KEY that opened my mind and my heart (in 1981) to accept everything else the Holy Spirit has now been able to teach me through the Bible and wonderful servants of The Lord, such as the people at Answers in Genesis. Coming to grips with a believable Genesis lifted a veil from my eyes so I could see the true condition of this world and my self. Baptised, raised, and confirmed in a compromising church, God seemed uninvolved, unimportant, even capricious. But now, words fail me to describe how seriously I take God’s word and I couldn’t in this lifetime recount the miracles that I now can see and thank God for. Thank you for continuing in this work.

Don Nygren, US

Voetnotas

[1] Lamarck was ’n evolusionis wat geglo het dat eksterne faktore wel DNS inligting kan beïnvloed/verander. August Weisman het Lamarck se teorie egter verkeerd bewys deur ’n eksperiment te doen deur muise se sterte af te sny. Geen van die muise se nasate is sonder sterte gebore nie. Hiermee is Lamarck se teorie vireers in die hoek geskuif. Wat egter wel onlangs gevind is, is die beginsel van epigenetika: daar is gevind dat eksterne faktore wel tot ’n mate oorgedra kan word aan nasate. Daar is sekere gene wat aan- of afgeskakel kan word en slegs die posisie van die “skakelaar” kan oordra na die nasate. Bv indien muise sekere kos eet, kan dit die muis se vel verkleur. Hierdie kleur kan oorgedra word na die nasate, maar indien die nasate se dieet weer verander, sal hulle velkleur weer terug verander. Dit verklaar dus nie ’n vermeerdering in genetiese inligting nie, want geen gene is bygevoeg nie, dit is slegs aangeskakel. Dus was die genetiese inligting reeds daar.
Epigenetika verklaar ook hoekom identiese tweelinge nie presies dieselfde is nie: Identiese tweelinge se DNS is dieselfde en daarom moet hulle streng gesproke presies dieselfde lyk. Dit word ook verklaar deur sekere gene wat in die een aangeskakel is en in die ander afgeskakel is.
Vir meer hieroor, kyk:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui