Operasionele vs historiese wetenskap

Mense wat in evolusie glo, gebruik baiekeer die argument dat die wetenskap al soveel nuttige dinge vir die mensdom gegee het soos selfone, rekenaars, brue, vliegtuie en die mediese wetenskappe. Hulle beweer dat skeppingsleerders (kreasioniste) inkonsekwent is om dus nie in evolusie en ’n heelal wat miljarde jare oud is, te glo nie, want dit is ook wetenskap wat evolusie en miljarde jare bewys het. Of hulle beweer op grond van die voorbeelde hierbo dat evolusie en miljarde jare wetenskaplik bewys is en nie betwyfel kan word nie. Op die oog af lyk dit na ’n redelik geldige argument. Is skeppingsleerders inkonsekwent en is evolusie en miljarde jare wetenskaplik bewys?

Die antwoord is “nee”. Dit is baie belangrik om die verskil tussen operasionele (of eksperimentele) wetenskap en historiese (of oorsprongs) wetenskap te weet:

Operasionele/eksperimentele wetenskap

Operasionele wetenskap kan waargeneem, getoets en herhaal word. Dit is tipies voorbeelde wat ook hierbo voorgehou word soos vliegtuie, motors, brue, selfone en rekenaars: ’n mens kan bv ’n vliegtuig bou en waarneem dat dit werklik vlieg. En ’n mens kan dit herhaal deur ander vliegtuie te bou wat op dieselfde beginsel werk.

Definisie van wetenskap:
’n Wetenskaplike metode is gebaseer op die insameling van data deur waarneming en eksperimentering.
(A scientific method is based on “the collection of data through observation and experimentation…” – Science Daily)

Operasionele wetenskap sluit egter ook voorbeelde in waar ’n mens nie fisies dinge kan waarneem nie, maar wel die resultaat kan waarneem:

  • Mediese wetenskappe: ’n Mens kan aspirien op verskillende pasiënte toets en bewys dat dit pyn verlig. ’n Mens kan die resultaat waarneem, en as die toets herhaal word, sal dit ongeveer dieselfde resultaat gee, selfs al verstaan ’n mens nie eers mooi hoe aspirien dit regkry om pyn te verlig nie.
  • Elektrisiteit: Alhoewel niemand elektrisiteit kan sien nie, kan ’n mens eksperimenteer met verskillende stroombane met hoër en laer stroom (Ampere), potensiaal (Volt) en weerstand en die resultaat kan waargeneem word en herhaal word.
  • Atoomteorie: Nog niemand het ’n atoom gesien nie. Daar is egter ’n teorie daaroor op die tafel en die teorie kan op sekere maniere getoets word om te kyk hoe geldig die teorie is.

Historiese/oorsprongs wetenskap

Historiese wetenskappe kan nie waargeneem of herhaal word nie omdat dit in die verlede gebeur het. Dit sluit die volgende voorbeelde in:

  • Argeologie: Argeoloë grawe sekere artefakte op. Die feite is die artefakte en waar dit opgegrawe is. Wanneer daardie artefak gemaak en gebruik is, deur wie dit gebruik is en hoe dit spesifiek daar gekom het, kan nie waargeneem word nie, want dit het in die verlede gebeur. Daaroor moet gespekuleer word en die storie wat jy glo, hang af van jou aannames of die figuurlike bril wat almal aanhet.
  • Evolusie: Ons sien vandag diere en ons grawe fossiele op. Dit is feite waaroor niemand kan twyfel nie. Evolusioniste glo dat alles self ontwikkel het deur miljoene jare, teïstiese evolusioniste glo dat God op ’n manier evolusie gebruik het en skeppingsleerders glo dat God alle diere volgens hul soort ongeveer 4004 vC geskep het. Wetenskaplikes het al toetse gedoen deur vrugtevlieë radioaktief te bestraal om sodoende die mutasietempo te verhoog en te bepaal of mutasies nie genetiese inligting van vermeerder nie. Hulle was nie suksesvol nie (kyk 100 Years of Fruit Fly Tests Show No Evolution en Mutations Questions and Answers). En selfs al was hulle suksesvol, sal dit nie ’n bewys wees dat alles deur evolusie gebeur het nie. Dit sou slegs bewys dat dit so kon gebeur het. Niemand kan egter in ’n tydmasjien klim om in die verlede terug te gaan om te sien hoe dit gebeur het nie. Die storie wat jy glo, hang van jou aannames af, want niemand kan teruggaan om te bevestig hoe dit gebeur het nie (tensy jy ’n betroubare ooggetuie kan kry wat dit gesien gebeur het, maar meer daaroor later).
  • Geologie: Vandag sien ons geologiese verskynsels soos die Grand Canyon en plooiberge in die Kaap. Dit is die feite waarna ons almal kyk. Evolusioniste glo dat dit deur miljoene jare gebeur het, terwyl skeppingsleerders glo dat daar ’n wêreldwye vloed was wat dit veroorsaak het. Skeppingsleerders het al allerhande eksperimente gedoen om te kyk of ’n sondvloed grond in sulke lae kan neerset en gevind dat dit wel sou kon (kyk Experiments on lamination of sediments en Sandy stripes.). Die gebeure by Mount  St. Helens in 1980 het ook gewys dat ’n ravyn baie vinnig kan vorm en hierdie horisonale lae in ’n baie kort tyd kan vorm, maar dit bewys nog nie dat die Grand Canyon wel deur die sondvloed gevorm is nie. Niemand kan teruggaan in ’n tydmasjien om waar te neem hoe dit gebeur het nie.
  • Datering: Alle datering is historiese wetenskap. Wetenskaplikes neem vandag waar wat die radiometriese vervaltempo’s van moederatome is en dit kan baie akkuraat bepaal word. Die aanname wat egter gemaak word is dat daardie vervaltempo’s oor miljoene jare dieselfde gebly het. Niemand kan teruggaan in tyd om te sien hoe en wanneer dinge werklik ontstaan het nie. (Vir meer oor datering, kyk Aanhalings – Ouderdom en Radiometriese datering en Radiometric dating questions and answers.)

Die mees akkurate manier om uit te vind wat in die verlede gebeur het, is om ’n betroubare getuie te kry wat dit waargeneem het. Dit is hoe geskiedenis werk en ook hoe die regstelsel werk:

  • As ons iets oor die 2de wêreld-oorlog wil weet, gaan kyk ons in geskiedenisboeke wat gebeur het. Ons gaan soek nie vliegtuig- of skeepswrakke op seebodems en skat daarvolgens hoeveel vliegtuie en skepe gebruik was nie.
  • As ons wil weet hoe blankes in Suid-Afrika aangekom het in 1652, dan gaan lees ons die geskiedenis van Jan van Riebeeck. Daar word nie genetiese studies gedoen op alle mense om dit te bepaal nie. Daar is geen wetenskap wat die geskiedenis vir ons so akkuraat kan weergee nie.
  • As ’n regter ’n hofsaak aanhoor, is daar niks wat die waarheid so goed ontbloot as ’n betroubare getuie wat alles gesien gebeur het nie (kyk ook Deut 17:6).
  • As jy van die werk af kom en daar is ’n gebreekte ruit by die huis, dan roep jy heel eerste die kinders om te hoor of iemand gesien wat gebeur het (as jou aanname is dat hulle iets daarmee te doen gehad het). As nie een van hulle weet (of vir jou wil vertel 🙂 ) nie, dan is die enigste uitweg om te spekuleer. Daar is baie opsies, sommige baie meer waarskynlik as ander: (1) As dit by die grasperk is waar die kinders altyd krieket of gholf speel, is die kans baie goed dat dit ’n krieket- of gholfbal was wat deur ’n kind geslaan is. (2) As die tuinjong of tuindienste by die huis was, kon die grassnyer ’n klip opgeskiet het en die ruit gebreek het. (3) As die gebreekte ruit aan die straat se kant is, kon ’n kwaaddoener dit sommer net stukkend gegooi het met ’n klip. Veronderstel die gat deur die ruit is so groot soos ’n gholfbal en daar lê ’n gholfbal in die kamer met die gebreekte ruit, is dit alles leidrade wat ’n mens nader aan die waarheid kan bring, maar streng gesproke bewys dit niks nie: die gholfbal kon toevallig daar gelê het en dit kon ’n klip wees wat so groot soos ’n gholfbal is wat die venster gebreek het. (Jy kry die idee.)

Skeppingsleerders glo dat die Bybel ’n betroubare ooggetuieverslag is van dit wat in die verlede gebeur het. Dit is die beste manier om te weet wat in die verlede gebeur het.
Evolusioniste gaan vanuit die aanname dat alles vanself moes ontstaan het en gebruik glad nie die Bybel om te help met die storie oor die ontstaan van alles nie.

Nog iets

  • Indien daar ’n paar verskillende werkbare scenarios vir ’n gebeurtenis is, is die waarskynlikste scenario nie noodwendig wat regtig gebeur het nie. (Byvoorbeeld, om te verklaar hoe alle verskillende diere tot stand gekom het, is twee moontlike scenarios (1) dat God verskillende soorte geskep het of (2) dit het deur evolusie gebeur. Indien eersgenoemde die waarskynlikste scenario is, beteken dit nie noodwendig dat dit so gebeur het nie.)
  • Indien daar ’n werkbare scenario vir iets is, dan is dit moontlik. (Byvoorbeeld, die feit dat daar vandag ’n hipotese is oor hoe ’n mens sterlig kan sien van sterre wat miljoene ligjare ver is in ’n 6000 jaar oue heelal, beteken dat dit werklik kon gebeur het. Kyk Ver-sterlig-jong-aarde-probleem.)
  • Indien daar nie aan ’n werkbare scenario gedink kan word nie, is daar steeds ’n kans dat iets moontlik is. (Voor Humphreys met die hipotese gekom het hoe ’n mens sterre kan sien wat miljoene ligjare ver is in ’n 6000 jaar oue heelal, was daar nie ’n baie goeie werkbare hipotese nie. Dit sou foutief wees om toe te argumenteer dat dit dan nie moontlik is nie. Netso is dit streng gesproke nie onmoontlik dat die eerste lewe spontaan kon gebeur het, omdat daar op die oomblik nie ’n werkbare scenario is nie. Die waarskynlikheid bly egter bitter skraal. Kyk Meer oor waarskynlikhede en Hawking.)

Verdere bronne

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

Fanus van der Merwe skryf die volgende op www.dialoog.co.za:

Ek het net twee insigte nodig gehad om die Christendom te groet:

Die feit dat die Bybel nie die onfeilbare geïnspireerde Woord van God is nie – wat enige persoon maklik kan vasstel deur bloot die Evangelies vergelykend te lees en op te let op hoeveel punte hulle “feitelik” van mekaar verskil, en [kyk egter Errors in the Bible?]

Die besef dat Genesis 1 (tot minstens 11) ’n mitologiese verhaal is, wat beteken dat Adam se sondeval dus nie werklik plaasgevind het nie, en die verband wat in die Bybel (veral Romeine) gelê word tussen Adam se sondeval en Jesus (die tweede Adam) se saligheidsplan. Sonder die Bybel se sondeval wat “die hele mensdom met die sonde besmet het” is daar geen nodigheid vir ’n “saligheidsplan” nie. Anders gestel: Die Christelike saligheidsplan berus eintlik op ’n mite. [Ander ateïste sê baie dieselfde. Kyk ook Aanhalings – Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?.]

Ingeval die bogenoemde dit laat klink asof dit vir my maklik was om die Christendom te “groet” – dit was nie. Dit was ’n krisis, aangesien die Christelike geloof my paradigma van waarheid en sekuriteit was. Bogenoemde insigte het gelei tot ’n vervreemding van al my vriende, wie se denke nie die bogenoemde twee insigte kon/wou akkommodeer nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui