Repliek: In land van evolusie is die ateïste koning

Nicolene Filmalter het die reaksie hieronder geskryf na aanleiding van George Claassen se brief In die land van Noag is skeppers koning.

Kyk ook SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in wat ’n lys gee van artikels wat hiertoe aanleiding gegee het.

************

Repliek: In land van evolusie is die ateïste koning | Netwerk24

Deur Nicolene Filmalter

09 Augustus 2020

‘Evolusie is wetenskap en skeppingsleer is godsdiens’ is ’n vervelige, irrelevante argument, skryf Nicolene Filmalter.

Die berig in Rapport op 26 Julie deur Johan Eybers (“SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in”) en die artikel verlede Sondag deur George Claassen (“In die land van Noag is skeppers koning”) verwys.

Ons reageer met teleurstelling op hierdie snydende, neerhalende en onwetenskaplike berigte.

Kinders moet die geleentheid gegun word om self die ander sy van ’n onderwerp volledig te ondersoek en self te besluit wat sinvol en logies is. Ons wil juis kinders bemagtig om kritiese denkers te wees. Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) doen kinders geen onreg aan om vir hulle geleenthede te skep en hulpmiddels te voorsien nie. Hulle is onder geen verpligting om dit te gebruik nie.

In skrille kontras word die leerstelling van evolusie eensydig afgedwing in skole vandag.

Hoekom? Voel evolusioniste bedreig selfs met al die eensydige platforms tans tot hul beskikking?

Eensydigheid veroorsaak juis dat kinders se denke “beperk en afgestomp” word.

Eksperimentele of operasionele wetenskap behels die vergelyking en meting van prosesse en data wat tans waarneembaar is. Die hipotese-stelling word gevolg deur die ontwikkeling van ’n wetenskaplike, herhaalbare teorie om die hipotese te toets deur data/prosesse direk te ondersoek. Skeppings- en evolusieleer klassifiseer egter onder historiese en oorsprongswetenskappe waarvolgens afleidings gemaak word oor dinge wat in die verre verlede gebeur het, maar waarvan die prosesse nie direk waarneembaar is nie.

Evolusie is ’n onbewysbare geloof wat sê dat alles oor miljarde jare natuurlik en spontaan ontstaan het uit niks.

Niemand het dit gesien nie, want niemand was daar nie. Evolusie is bloot ’n hipotese omdat daar geen data aangaande enige evolusionistiese prosesse is wat waargeneem, getoets en herhaal kan word nie. Jy moet kies of jy die idee wil gló. John Horgan (’n evolusionis) se artikel vir Scientific American was getiteld: “Pssst! Don’t Tell the Creationists, but Scientists Don’t Have a Clue How Life Began.

God se Woord is ’n betroubare, gesaghebbende weergawe van die skeppingsgebeure en dus van die geskiedenis. Óf jy glo die Bybel óf jy glo die evolusionis se geskiedkundige weergawe. Albei vereis gelóóf.

Michael Ruse (ook ’n evolusionis) het gesê:

Evolution is a religion. This was true of evolution in the beginning, and it is true of evolution still today.

Die holruggeryde argument van “evolusie is wetenskap en skeppingsleer is godsdiens” is irrelevant.

Dis die wetenskap van een godsdienstige siening (ateïsme/naturalisme) teenoor die wetenskap van die Bybelse siening (Bybelse teïsme). Jou godsdienstige siening gaan noodwendig jou interpretasie van die bewyse beïnvloed.

Die evolusionis Gerald A. Kerkut, in Implications of Evolution, definieer die algemene evolusieteorie as die ontstaan van alle lewensvorme vanuit een oorspronklike soort wat vanuit ’n anorganiese vorm ontstaan het. Abiogenese is onlosmaaklik deel van evolusie.

Jack W. Szostak en Alonso Ricardo (Harvard) bevestig:

First life arose from nonliving matter around 3,7 billion years ago.

Die Nobelpryswenner vir wetenskap dr. George Wald (Harvard) het gesê:

Given enough time it will almost certainly happen at least once . . . Time is in fact the hero of the plot. Given so much time, the ‘impossible’ becomes possible, the possible probable, and the probable virtually certain. One has only to wait; time itself performs the miracles.

Evolusie vereis báie geloof.

Die “partikel-tot-professor”-tipe evolusie vereis verder dat ’n natuurlike proses nuwe, funksionele genetiese inligting spontaan genereer sodat minder komplekse soorte in meer komplekse soorte evolueer (reptiele in voëls, ens.).

Die beweerde meganismes (mutasies gesorteer deur natuurlike seleksie) doen egter presies die teenoorgestelde – inligting word beskadig en/of gaan verlore. Veranderinge binne soorte is nie evolusie nie, maar wel aanpassings deur natuurlike seleksie vanuit ’n reeds bestaande genepoel.

Natuurwette toon die onmoontlikheid van evolusie:

  • Energie kan nie geskep of vernietig word deur natuurlike prosesse nie – die eerste wet van termodinamika;
  • Orde neig altyd na wanorde (entropie) – die tweede wet van termodinamika;
  • Dis onmoontlik vir niks om vanself in iets te verander – die wet van oorsaak en gevolg;
  • Dis onmoontlik vir nielewende materie om lewende organismes te produseer – die wet van biogenese;
  • Die onmoontlikheid van die ewekansige vorming van die DNS-molekule, proteïene, die sel en ander onverminderbare komplekse organe/strukture/sisteme;
  • Die totale afwesigheid van getuienis uit die verlede/hede van enige veranderinge tussen verskillende soorte soos uit die fossielgeskiedenis en deur prominente evolusionistiese paleontoloë (drs. Patterson, Raup en El­dregde) bevestig;
  • Dis onmoontlik vir natuurlike seleksie of mutasies om nuwe soorte voort te bring; en
  • Kontinentale drywing: Die eerste persoon wat in 1858 die teorie van horisontaalbewegende kontinente tydens die Bybelse Vloed voorgestel het, was Antonio Snider-Pellegrini (skeppingsleerwetenskaplike).

Dr. John Baumgardner (geofisikus) het ’n rekenaarnabootsing van katastrofiese plaattektonika (Terra) ontwikkel, gefinansier deur Nasa. Dit toon dat die kontinente binne enkele weke uitmekaar kon geskuif het, indien die hewige Genesisvloed-toestande in ag geneem word.

Evolusie is ’n ateïstiese, blinde geloof.

Die genetikus en selfverklaarde Marxis prof. Richard Lewontin, het geskryf:

“Our willingness to accept scientific claims that are against common sense is the key to an understanding of the real struggle between science and the supernatural. We take the side of science in spite of the patent absurdity of some of its constructs, in spite of its failure to fulfill many of its extravagant promises of health and life, in spite of the tolerance of the scientific community for unsubstantiated just-so stories, because we have a prior commitment, a commitment to materialism. Moreover, that materialism is absolute, for we cannot allow a Divine Foot in the door.”

* Nicolene Filmalter is ’n skrywer en deeltydse dosent in toegepaste natuurwetenskappe by Unisa. Sy skryf namens die Truth and Science-forum wat die Solidariteit-webinaar in Junie aangebied het.

2 thoughts on “Repliek: In land van evolusie is die ateïste koning”

  1. Dankie ook aan Rapport wat spasie gegee het vir die kreasionistiese (skeppingsleer) standpunt. Uitstekende weergawe Nicolene!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui