Wat is genetiese entropie?

Kyk ook:

Om die term “genetiese entropie” te verduidelik, kom ons kyk eers wat “entropie” is:

In eenvoudige terme, meet entropie die hoeveelheid wanorde in ’n sisteem. Hoe meer die entropie, hoe meer wanorde. Die tweede wet van termodinamika sê dat entropie altyd neig om toe te neem – alle dinge neig na wanorde of om te degradeer. Om met ’n voorbeeld te illustreer, die son, wat al die energie op aarde verskaf, is besig om uit te brand. As die son uitgebrand is, dan is dit die einde van die aarde. Dit is ’n proses waar entropie toeneem. Vir meer hieroor, kyk Waar kom al die nuttige energie vandaan?

John C. Sanford, ’n genetikus en voorheen verbonde aan die Universiteit van Wisconsin-Madison, het met die begrip “genetiese entropie” vorendag gekom. In kort is genetiese entropie die degradering van genetika deur middel van mutasies (DNS kopieerfoute). Om met ’n voorbeeld te illustreer:

Veronderstel ek neem ’n boek en skryf dit oor: Die oorgeskryfde kopie sal hoogs waarskynlik foute bevat, maar waarskynlik nie soveel foute dat inligting in die boek verlore sal raak nie. As iemand anders nou my kopie neem en dit weer oorskryf, gaan die tweede kopie meer foute bevat as die eerste kopie. Indien jy voort sou gaan om elke keer ’n kopie van ’n kopie te maak, sal die foute elke keer toeneem en daar sal naderhand soveel foute wees, dat sommige sinne of selfs paragrawe in die boek nie meer sin sal maak nie. Dus sal die boek naderhand inligting verloor soos dit aanhou gekopieer word.[1]

“Why aren’t we dead 100 times over?”
Alexey Kondrashov, genetikus, evolusionis

Net soos die inligting in ’n boek kan degradeer wanneer dit aanhoudend gekopieer word van ’n kopie, net so kan DNS degradeer. Die DNS word in ons selle gekopieer, maar tydens die kopieerproses sluip daar foute in. Die liggaam het meganismes om DNS wat verkeerd gekopieer is te vernietig, maar dit gebeur nie altyd nie.

Alle wetenskaplikes erken dat mutasies in organismes vermeerder oor tyd. Mense het vandag meer mutasies in hul DNS as mense wat in die verlede geleef het. Daar is bepaal dat met elke seldeling in ’n mens se liggaam, drie nuwe mutasies gevorm word. Dit werk uit op ongeveer 100 nuwe mutasies per generasie (indien alle soorte mutasies in ag geneem word, kan dit selfs so baie as 1000 mutasies per generasie wees). Dit is waarskynlik een van die redes hoekom meer mense vandag sterf agv kanker. Volgens die nuutste bepaling van mutasietempos is bereken dat mitochondriese Eva (die mens sonder enige mutasies) ongeveer 6000 jaar gelede geleef het (kyk Mitochondriese Eva). Dit stem baie (perfek?) ooreen met Bybelse tydlyne.

Genetiese entropie is ’n reuse probleem vir evolusioniste. Vir evolusie om waar te wees, moet die omgekeerde waar wees: DNS inligting moenie degradeer nie, maar moet meer word. Dit is nie wat in die praktyk waargeneem word nie. Natuurlike seleksie (die oorlewing van die sterktes) kan hierdie proses vertraag, maar nooit elimineer nie.

Voetnotas

[1] Dit is die rede hoekom die Bybel nooit vertaal word van ’n ander vertaling nie. Wanneer nuwe vertalings geskep word, word daar altyd na die oorspronklike dokumente gekyk. Kyk Geskiedenis van die Bybel.

Ander bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui