Genesis 30:37-40 (gebruik lote om lammers se kleur te bepaal)

Kyk ook:

Genesis 30:37-40 lui soos volg:

(37)Jakob het toe jong lote van populiere, amandels en plataanbome gevat en stroke daarvan afgeskil, sodat daar wit strepe op die lote was. (38)Hy het die lote wat hy so afgeskil het, in die waterkrippe gesit, reg voor die kleinvee waar hulle kom suip het. Wanneer die ooie dan op hitte kom en kom suip, (39)is hulle by die lote gedek en het hulle gevlekte en gestreepte en bont lammers gekry. (40)Jakob het die skape uitgekeer en hulle laat kyk in die rigting van die gevlekte en swart vee van Laban. So het Jakob vir hom sy eie kuddes opgebou en hy het hulle nie by Laban se kleinvee laat kom nie.

Op die oog af is dit ’n baie vreemde gedeelte. Almal weet dat ’n mens nie die afstammelinge van diere kan manipuleer deur eksterne faktore nie (kyk bv Verstandstande en evolusie). ’n Mens kan verstaan dat die mense in die Bybelse tyd ’n baie meer beperkte verstaan van biologie gehad het, maar was dit so beperk? Daarom gebruik Bybelskeptici soms hierdie gedeelte om ’n bespotting van die Bybel te probeer maak (soos wat Jurie van den Heever probeer doen in Kommentaar op Jurie van den Heever se stellings op RSG).

Die Bybel probeer egter nie in hierdie gedeelte die leser ’n nuwe teelmetode te leer nie. Die Bybel vertel ons bloot wat Jakob gedoen het. Dis dieselfde beginsel as die plat aarde-kwessie: daar was waarskynlik mense in die Bybel wat geglo het dat die aarde plat is, maar die Bybel verkondig nie ’n plat aarde nie (kyk Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?).

‘n Mens weet nie hoekom Jakob dit gedoen het nie, maar daar is ’n paar opsies:

1. Bygeloof

Dit kan wees dat dit ’n bygeloof of soort van boereraad was van daardie tyd.

2. Kon werklik werk

Dit kan wees dat die lote ’n reuk aan die diere gegee het wat insekte of kieme weggehou het wat aan hierdie diere ’n oorlewingsvoordeel gegee het.

3. Opdrag van God

God kon vir Jakob gesê het om dit te doen. ’n Mens kan dit vergelyk met Elisa wat in 2 Konings 5 aan Naäman gesê het om homself in die Jordaanrivier te gaan was sodat hy van sy melaatsheid genees moes word. Die Bybel wil nie hiermee sê dat jy van melaatsheid genees kan word as jy jou in die Jordaanrivier gaan was nie. En ook het Jesus ’n blinde man genees deur klei aan sy oë te smeer en hom gesê het om homself in die Siloambad te gaan was (Johannes 9:6-7). Dit was nie die klei of die Siloambad wat sy oë genees het nie, maar God.

********

Wat ookal die rede is hoekom Jakob dit gedoen het, die Bybel is duidelik dat God vir Jakob deur ’n wonderwerk geseën het. Net ’n paar verse later, in Genesis 31:11-13, lei ’n mens af dat ’n engel van die Here Jakob daaraan herinner het dat dit God was wat hom geseën het en dat dit nie as gevolg van sy eie plannetjies is dat sy vee aangeteel het nie:

(11)“Die Engel van God het my in die droom geroep: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’ (12)“Toe sê Hy vir my: Kyk mooi: al die bokramme waardeur die ooie gedek word, is gevlek, gestreep en gespikkel. Ek het alles gesien wat Laban jou aangedoen het. (13)Ek is die God van Bet-El waar jy olie op ’n klippilaar uitgegiet en ’n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.”

Ander bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui