Die Bybel oor die man en vrou se rol in die huwelik

Kyk ook:

Die Bybelse model vir die Christelike huwelik is dat die man die hoof van die huis is en die vrou onderdanig aan haar man moet wees.

In ’n tyd van menseregte en feminisme, is hierdie nie ’n baie politieke korrekte uitkyk nie. Inteendeel, soms word die man as die vyand uitgebeeld.

Beteken dit egter dat die vrou werklik vir alles wat die man sê, “ja” en “amen” moet sê?

Nee, nie noodwendig nie, maar ek glo wel dat God steeds hierdie model vir die huwelik voorskryf en dat dit vir die hele gesin ware geluk bring, mits elkeen sy rol vervul.

Wat beteken dit prakties? Ek glo dat daar baie ooreenkomste is tussen die verhouding tussen ’n man en vrou en die verhouding tussen ’n werkgewer en werknemer. Volgens die Bybel (kyk verse hieronder) is dit baie duidelik dat die vrou aan haar man onderdanig moet wees, dus in ’n mate soos ’n werknemer onderdanig moet wees aan sy/haar werkgewer.

Kom ons vergelyk die vrou met ’n werknemer en die man met ’n werkgewer:

Eienskappe van ’n goeie werknemer (vrou)

  • Die werknemer het respek vir die werkgewer.
  • Die werknemer doen wat sy beveel word om te doen.
  • Die werknemer sien om na die belange van die werkgewer en sal daarvoor beloon word (Spr 27:18).
  • Die werknemer laat toe dat die werkgewer haar berispe en reageer positief daarop.
  • Indien die werkgewer verkeerde besluite maak, waarsku die werknemer op ’n mooi manier.
  • Indien die werknemer beter leierseienskappe as die werkgewer besit, probeer die werknemer nie die verantwoordelikhede van die werkgewer oor te neem nie. Indien die werkgewer so ’n werknemer die geleentheid gee om leiding te neem, doen die werknemer dit met nederigheid.

Eienskappe van ’n goeie werkgewer (man)

Alhoewel die man ’n “hoër status” in die huwelik het as die vrou, is dit geensins so romanties vir die man soos dit moontlik mag klink nie. Met mag kom verantwoordelikheid. Kom ons kyk wat die eienskappe van ’n goeie werkgewer (en man) is:

  • Die werkgewer neem totale verantwoordelikheid vir die besigheid. As die besigheid faal, moet hy verantwoording doen.
  • Die werkgewer gee sy werknemers die geleentheid om hulleself uit te leef in hulle werk, mits dit nie teenproduktief vir die besigheid is nie.
  • Die werkgewer beloon die goeie werknemer (Spr 14:35).
  • Indien die werknemer foute maak, word die werkgewer nie dadelik kwaad nie, maar wys hy haar op ’n mooi en geduldige manier daarop.
  • Die werkgewer gee om vir sy werknemers. In Spreuke 12:10 staan “Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed.” Indien ’n regverdige goed moet sorg vir sy diere, sal die regverdige werkgewer nie soveel te meer sorg vir sy werknemers nie?
  • Die werkgewer neem die opinies van sy werknemers in ag.
  • Indien een van die werknemers sterker leierseienskappe as die werkgewer besit, voel hy nie bedreig nie, maar wend dit tot voordeel van die besigheid aan.

’n Vrou kan vra: “Hoe wil ek hê moet my werknemers my hanteer” en haar man so hanteer.

’n Man kan vra: “Hoe wil ek hê moet my werkgewer my hanteer” en sy vrou so hanteer.

Om die baas van die huis te wees, kom met baie verantwoordelikhede. Die volgende kom uit die boek, Die Standvastige Man, deur Stephen & Alex Kendrick, bladsy 83:

Besef jy dat die grootste verantwoordelikheid vir die sukses van jou huwelik op jou skouers rus as die leier van jou gesin? Jy bestuur. Wanneer ’n huwelik op die rotse is, is die vrou verantwoordelik, maar die man is meer verantwoordelik. Hy dra die grootste skuldlas vir enige mislukking omdat hy die leier is en dit gebeur het terwyl hy verantwoordelik was. Te veel mans is soos Adam in die tuin van Eden wat sy vrou die skuld gegee het nadat hy gesondig het, in plaas daarvan dat hy verantwoordelikheid geneem het.

Dit gebeur baie, baie selde dat ’n vrou ’n huwelik tot niet wil maak as ’n man haar goed lei en onvoorwaardelik liefhet. Hoewel sommige vroue sonder wysheid hul huwelik eiehandig sal afbreek (Spr 14:1), word die meeste probleme veroorsaak deur mans wat nie die stuurwiel vasvat en doelbewus hul huwelik met visie, liefde, wysheid en koersvastheid stuur nie.

Neem Kendrick dit nie te ver nie? Hoe kan die man altyd die verantwoordelikheid neem vir ’n mislukte huwelik? Hy kan tog nie oor alles beheer hê nie?

Enige perseel waarop masjienerie is, moet ’n GMR 2.1 aanstel. So ’n persoon is verantwoordelik vir al die masjiene op die perseel. Hy moet maatreëls in plek stel om die veiligheid van die mense wat op die perseel werk te verseker. Indien daar ’n ongeluk is wat ’n besering of dood veroorsaak, word die GMR 2.1 ingeroep om te hoor wat hy gedoen het om dit te voorkom. Hy moet kan bewys dat daar instandhoudingstrategieë is en dat dit uitgevoer is, dat daar duidelike reëls is, dat die reëls goed gekommunikeer is en dat hy alles in sy vermoë gedoen het om te verseker dat mense die reëls nakom. Maw, daar moet gevolge wees vir mense wat nie die veiligheidsreëls nakom nie.

Net so het die man in die huwelik ’n verantwoordelikheid om toe te sien dat alles goed verloop. Indien sy huwelik op die rotse is, moet hy die volgende vrae beantwoord:

  • Was hy lief vir sy vrou?
  • Het hy genoeg tyd saam met haar spandeer?
  • Het hy haar op ’n mooi manier gewys op haar foute?
  • Het hy genoeg gehelp of het hy alle huishoudelike verantwoordelikhede net bloot “gedelegeer”?
  • Het hy wys omgegaan met die finansies?

In die artikel Fathers have more influence in a daughter’s life than mothers, studies show word gesê dat ’n pa ’n groter invloed op sy dogter uitoefen as haar ma. Lekker? Ja, maar dit is ’n reuse verantwoordelikheid, want dit beteken dat jy dit ook kan opfoeter. Baie ekshomoseksuele mense getuig van ’n afwesige pa. ’n Pa wat nie sy verantwoordelikheid as leier van die gesin opgeneem het nie.

Dit beteken nie die vrou mag nie leiding neem in sommige aspekte nie, maar ipv om leiding te neem waar die man nie leiding neem nie, moet die vrou soms die man aanmoedig om leiding te neem met die dinge wat sy verantwoordelikheid is.

Bybelverse

Numeri 30

(6)“As ’n vrou trou nadat sy aan die Here geloftes gedoen het, of onnadenkend ’n verpligting op haar geneem het, (7)en haar man hoor daarvan en maak die dag waarop hy daarvan hoor, geen beswaar nie, bly die geloftes of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. (8)Maar as haar man dit afkeur wanneer hy daarvan hoor, verklaar hy die gelofte of die verpligtinge wat sy onnadenkend op haar geneem het, nietig, en sal die Here dit nie teen haar hou nie. (9)“Enige gelofte wat ’n weduwee of ’n geskeide vrou gedoen het of enige verpligting wat sy op haar geneem het, bly van krag. (10)“As ’n getroude vrou ’n gelofte doen of met ’n eed ’n verpligting op haar neem, (11)en haar man hoor daarvan en maak nie beswaar nie en keur dit nie af nie, bly al haar geloftes en die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. (12)Maar as haar man die geloftes uitdruklik nietig verklaar wanneer hy daarvan hoor, is alles wat sy gesê het, haar geloftes of verpligtinge, nie van krag nie, en sal die Here dit nie teen haar hou nie. (13)Elke gelofte of eed waarmee sy haarself wil kasty, kan deur haar man van krag gemaak of nietig verklaar word. (14)As haar man nie voor die volgende dag beswaar maak nie, maak hy al haar geloftes of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. Hy het dit dan van krag gemaak deurdat hy geen beswaar gemaak het toe hy daarvan gehoor het nie. (15)As hy egter die geloftes of verpligtinge eers lank nadat hy daarvan gehoor het, nietig verklaar, dra hy die skuld daarvoor, nie sy nie.”

Hierdie gedeelte bevestig die groot verantwoordelikheid van die man.

1 Korintiërs 11:3

(3)Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en ’n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus.

Efesiërs 5:22-25

(22)Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. (23)Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. (24)Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. (25)Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.

(33)Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ’n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

Vers 33 gee waarskynlik die kruks van wat die Bybel oor die rol van man en vrou in die huwelik moet vervul.

Efesiërs 6:1-4

(1)Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. (2)“Eer jou vader en jou moeder” is ’n baie belangrike gebod. En daar is nog ’n belofte by: (3)“sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” (4)En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.

Kolossense 3:18-21

(18)Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo. (19)Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie. (20)Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo. (21)Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.

1 Petrus 3

(1-2)Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie.
(7)Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

Dus moet gelowige vroue selfs onderdanig aan hulle mans wees as hulle ongelowig is. Tensy hy jou natuurlik dwing om dinge te doen wat teenstrydig is met God se wil.

1 Timoteus 3:4-5

(4)Hy [ouderling] moet sy eie huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen. (5)Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem?

1 Timoteus 5:8

(8)As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ’n ongelowige.

’n Vrou is ’n geskenk van die Here

Alhoewel die verse hierbo moontlik kan klink dat die vrou nie ’n belangrike rol het nie, is die Bybel egter duidelik dat die vrou wel ’n baie belangrike rol het en tot seën is vir die man (en natuurlik die gesin).

Genesis 2:22-24

(22)en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe. (23)Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” (24)Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

Spreuke 19:14

(14)Van sy ouers kan iemand ’n huis en besittings erf, maar ’n verstandige vrou is ’n geskenk van die Here.

Spreuke 31

(10)’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. (11)Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk.

8 thoughts on “Die Bybel oor die man en vrou se rol in die huwelik”

  1. Dit is belaglik om te dink in die tyd wat ons leef dat julle werklik voorstel dat die vrou net n man blindelings moet volg oor sy geslag. BAIE vroue het n beter kop op hul skouers as n man. Die kerk moedig die onderdrukking van vroue steeds aan. En dan wonder hulle hoekom die kerkbanke leeg is. Ek sal eerder itv die CiVil Union Act trou nadat ek hierdie gelees het.

    1. Petro, en baie werknemers is baie meer bekwaam in sekere areas as hulle base. ’n Goeie baas erken dit en laat die werknemer leiding neem in daardie area.

  2. Uitstekende opsomming van die perspektief. Ek hou van die werkgewer en werknemer beeld. Verseker nie die wêreld gewilde beeld nie, maar God s’n.

  3. Ek worstel self met die prentjie wat die Bybel Vir ons skep oor wat die rol is van ń vrou in die huwelik. Ek probeer juis nie heeltyd vinger te wys nie, al is my man al hoe minder ń man soos dit beskryf word in die Bybel. Ek probeer om aan myself te werk eerste, maar Ek sukkel want Ek word daagliks besoek met negatiewe denke oor my man se houding en optrede. Hopelik help dit dat ek eerste aan myself werk en so Sal my man verander.

  4. Ek wil graag net ‘n opmerking maak oor sekere dele in die Bybel en veral waar gesê word die vrou moet onderdanig aan die man wees. Dit moet in perspektief gesien word en ons leef nie meer in die 60,70 en 80,s nie. Baie mans misbruik die konteks in die woorde hierbo maar daar is ook mans wat hulle vrouens respekteer. Meeste vrouens moet vandag werk om die huishouding te help aan die gang hou. Baie mans is net lui om te help maar daar is ook baie wat weens Covid, swak ekonomiese toestande en die politieke klimaat hulle werk verloor het. As dit so is ondersteun dan jou vrou in alle opsigte. Sy is jou gelyke. Sê elke dag jy is lief vir haar en as sy op pad werk toe is sê vir haar sy lyk pragtig en jy waardeer wat sy bydra tot die huishouding. As sy by die huis kom in die middae maak seker daar is ‘n vreedsame atmosfeer en help met kosmaak, wasgoed was. Hou op om jouself jammer te kry. Jy mag dalk vroeer jare die voorsiener gewees het maar tye het verander. Gee vir haar die erkenning wat sy toekom. Pas haar op. Die HERE verwag dit van jou.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui