Die Bybel oor die sondvloed

Daar is Christene wat ontken dat die sondvloed ’n wêreldwye vloed was of dat dit selfs letterlik gebeur het. Die Bybel is egter baie duidelik daaroor, in die Ou Testament, sowel as in die Nuwe Testament, dat die sondvloed ’n werklike gebeurtenis was. As ’n mens dus die Bybel as ’n betroubare bron sien, moet jy ook glo dat die sondvloed nie net werklik gebeur het (2348 vC) en maar dat dit ook wêreldwyd was (kyk ook Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?).

Terloops, die sondvloed sal dan verantwoordelik wees vir die meeste geologiese verskynsels wat ons vandag op die aarde sien en daarom is dit teenstrydig met ’n aarde wat na bewering 4.5 miljard jaar oud is.

Hier volg verse uit die Bybel wat na die sondvloed verwys.

Ou Testament

Genesis 6:14-16 (die ark se afmetings)

(14)”Maak vir jou ’n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak. (15)Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en ’n half meter en sy hoogte dertien en ’n half meter. (16)Jy moet ’n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig sentimeter hoog maak. Verder moet jy ’n deur aan die kant van die ark insit en ’n onderste, middelste en boonste verdieping maak.

Hierdie is baie realistiese afmetings vir die ark. Daar is mense wat beweer dat die Bybelse vloedverhaal van Gilgamesh geleen is. Dit maak egter glad nie sin nie. Kyk Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?

Genesis 6:20 (oor die diere op die ark)

(20)Van elke soort voël en dier, ook van dié wat kruip, van almal sal daar twee na jou toe kom om aan die lewe te bly.

Vir meer oor die geskape “soort”, kyk baraminologie.

Genesis 7:2-3 (oor die diere op die ark)

(2)Van al die rein diere moet jy sewe pare, manlik en vroulik, saamvat en van al die onrein diere net een paar, manlik en vroulik. (3)Ook uit die voëls moet jy sewe pare, mannetjies en wyfies, saamvat. Dit moet jy doen om al die soorte op die hele aarde aan die lewe te laat bly.

Vir meer oor die sondvloed, bv hoe al die diere op die ark gepas het, kyk:

Genesis 7:11

(11)…het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak

Dit is waar die water vir die sondvloed vandaan gekom het: van onder uit die aarde en van bo. Kyk ook Where did all the water come from?

Genesis 9:19

(19)Dit was Noag se drie seuns en uit hulle is die hele aarde bevolk.

Weer ’n aanduiding dat almal in die vloed gesterf het.

Psalm 104:6-9

(6)Die groot waters het die aarde soos ’n kleed oordek, die waters het bo-oor die berge gestaan. (7)Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug, voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem. (8)Hulle het oor die berge gespoel en in die laagtes weggevloei na die plek toe wat U vir hulle bestem het. (9)U het ’n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie: hulle mag die aarde nie weer oordek nie.

Hier word heel moontlik beskryf waar al die waters vir die sondvloed heen gegaan het. Na die sondvloed het berge en valleie ontstaan: die water het in die valeie ingeloop en die berge is hoog genoeg dat die water op die aarde nooit weer die hele oppervlak sal bedek nie. Kyk Where did all the water go?.

Nuwe Testament

Matteus 24:38-39 en Lukas 17:26-27

Mat 24: (36)“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. (37)Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. (38)In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. (39)Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.

Lukas 17(26)”Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: (27)hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.

Hier verwys Jesus na Noag as ’n werklike persoon en vergelyk die sondvloed met die wederkom, dus bevestig Jesus hiermee dat die hele wêreld vernietig is tydens die sondvloed.

1 Petrus 3:20

(20)Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered.

2 Petrus 2:4-5, 9-10

(4)God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. (5)Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.

(9)Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. (10)Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag.

Judas 1:6

(6)Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag.

Hierdie gedeelde stem baie ooreen met wat in 2 Petrus 2:4 hierbo staan oor die engele wat gesondig het. Alhoewel 2 Pet 2 en Judas 1:6 dit nie pertinent sê nie pas dit baie mooi in met wat in Genesis 6:4 staan: (4)In daardie tyd was daar reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk mense van die ou tyd, die manne van naam.

Volgens Genesis 6 was daar afvallige engele wat na die aarde toe gekom het (“wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie“). Hulle het gemeenskap gehad met die vroue op aarde en die reuse (nefilim) voortgebring.

Kyk ook Wat moet ons van die reuse sê waarvan ons in die Bybel lees?.

2 Petrus 3:3-9

(3)Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot (4)en sê: “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af.” (5)Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede ’n hemel en ’n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het. (6)En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het. (7)Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. (8)Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. (9)Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

Vers 5 en 6 verwys na Noag en die sondvloed wat werklik gebeur het en dat dit ’n globale vloed was. Dit word vergelyk met die wederkoms waar die aarde met vuur vernietig sal word.

Vers 8 word baie keer verkeerdelik gebruik om te sê dat die dae waarvan gepraat word in Genesis 1 ook as miljoene jare gesien kan word.

  • Dit is egter duidelik dat dit hier gaan oor God se geduld met die wederkoms en nie oor die skepping nie.
  • Die skrywer praat ook van duisend jaar en nie miljoene jare nie. As die aarde werklik miljoene jare oud was en as mens hierdie op die skepping van toepassing moes maak, sou daar sekerlik gestaan het “miljoene” of ten minste “duisende” en nie net “duisend” nie.
  • Daar staan ook “duisend jaar soos een dag”. Watter een is dit nou?
  • Hoekom word die lengte van “dag” slegs in Genesis bevraagteken? Dit is agv invloede van buite die Bybel.

Kyk Vir die Here is een dag soos duisend jaar …

Hebreërs 11:7

(7)Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

Openbaring 4:3

(3)Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ’n reënboog met die glans van smarag.

Hierdie gedeelte bevestig nie noodwendig die sondvloed as historiese gebeurtenis nie, maar dit is tog interessant dat daar ook ’n reënboog om God se troon in die hemel is. Dit stem ooreen met die feit dat die reënboog ’n baie besonderse teken is wat God aan die mensdom op aarde gegee het dat Hy nooit weer die aarde met water sou vernietig nie (Gen 9:12-16).

Bron

  • The global flood according to the New Testament, Creation 42(2) 2020

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui