Om immer te glo …

Kyk ook:

Die volgende het in Beeld verskyn op 3 Maart 2012.

Daniel Louw se kommentaar in [vierkantige hakies].

************

Om immer te glo … | Beeld

2012-03-03 06:00

Één van die redes waarom dermiljoene 21ste-eeuse mense in God glo, is dat hulle – met al die respek wat hulle vir die wetenskap en die prestasies van die wetenskap het – weet dat die wetenskap nooit die allerantwoord op ons diepste vrae na ons oorsprong en die sin van ons bestaan sal kan gee nie.

Dit herinner aan die storie van die wetenskaplikes wat gereken het hulle het nou min of meer alle antwoorde op alle vrae, en dat God oorbodig geraak het. Hulle is toe vrymoedig genoeg om ’n oudiënsie aan te vra om vir God te sê dis tyd om te abdikeer. Die wetenskap weet nou genoeg van wat bo die Aarde, onder die Aarde en op die Aarde gebeur, God kan rustig aftree. God het geduldig na hul relaas geluister en toe gesê dis goed, God sal doen soos hulle vra, mits hulle net eers ’n mensmaak-kompetisie hou. Soos in die Begin. “Ja,” antwoord die wetenskaplikes opgewonde, “kom ons hou so ’n kompetisie!” En hulle buk om van die grond van die Aarde op te tel. “Nee, nee, nee,” keer God hulle. “Soos héél in die Begin. Uit niks.”

Die oerknal, evolusie en natuurlike seleksie verklaar wetenskaplik hoe dinge van ’n bepaalde punt kon ontwikkel het, maar dit verklaar nie hoe iets uit niets te voorskyn kon kom nie. Die fisikus Stephen Hawking meen dat die oorsprong van dinge in die wette van die fisika te vinde is. Maar wat is die oeroorsprong van dié wette? Niks?

Ja, ek weet: geloof is nie ’n eenvoudige saak nie. Dis ’n waagstuk, ’n sprong. Dis om te glo (sonder om te kan bewys) dat God bestaan. Om nie te glo nie, is ook ’n waagstuk, dis ook ’n sprong. Dis om te glo (sonder om te kan bewys) dat God nié bestaan nie. Geloof is op stuk van sake ’n geskenk wat God aan jou gee. Maar jy moet ook iets doen. Jy moet jou hande uitsteek en die geskenk aanvaar. Of, as jy dit die een of ander tyd verloor, daarna gaan soek.

As jy nie jou hande uitsteek en die geskenk aanvaar of daarna gaan soek nie, sal jy dit ook nie (weer) kry nie.
Ek glo, Here. Help my waar ek nog ongelowig is.

J. Wentzel van Huyssteen, professor in teologie en wetenskap aan Princeton in die VSA:

Het God evolusie in die skeppingsproses gebruik? My antwoord is ’n onomwonde: Já! Trouens, ek wil dit nog sterker stel: Dit gaan nie soseer daarom of God evolusie in die skeppingsproses “gebruik” het nie, maar om ’n dieper verstaan van die evolusieproses ás die skeppingsproses. [Daniel: Dit is ’n baie inkonsekwente siening. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.]

Vir my impliseer dit inderdaad dat die Christen nooit sy of haar wetenskap van sy of haar teologie kan skei nie. Maar ewe belangrik is die feit dat die Christen ook enige kortpad van wetenskap na geloof (en andersom) moet wantrou.

Teologie en wetenskap kan dus, onafhanklik van mekaar, uitsprake maak oor dieselfde wêreld en sommige aspekte van ons kosmos (die oorsprong, dinamiese karakter, evolusie, verbasende orde en toekoms daarvan) en is dus inderdaad oop vir sowel wetenskaplike as teologiese beskrywing.
Alleen wanneer ons die verskillende perspektiewe en verklaringsbeginsels van onderskeidelik teologie en wetenskap begryp, kan ons die resultate van die twee dissiplines geloofwaardig met mekaar versoen.

Christina Landman, professor in teologie en religie aan Unisa en spesialis in geslagstudie:

Hoe ek die skeppingsverhale van Genesis verklaar? Nou kyk, die laaste ding wat jy met die skeppingsverhale van Genesis moet doen, is om hulle te probeer “verklaar”. Jy moet met hulle speel. Jy moet hulle innooi in jou en jou luisteraars se wêreld en jou deur hulle laat bekoor.

Die verhale in Genesis 1 tot 11 is in die eerste plek geskryf om die wêreld van daardie tyd vir die mense van daardie tyd te “verklaar”. Hulle is “aitologiese legendes”, verbeel ek my is die tegniese term. Dis verhale om te verklaar waarom dinge lyk soos hulle lyk. Sien, ek lees die Bybelteks postmodernisties, ek lees dit tussenin. Ek lees dit tussen die fundamentalisme aan die een kant en die historiese kritiek aan die ander kant. Oftewel, ek probeer my bes om die teks los te maak van sy fundamentele, letterlike betekenis, maar ook van sy gevangenskap in die geskiedenis, terwyl ek tog albei behou.

So wil ek die teks laat vlieg. En laat land. Soos met die vrou in die Bybel. As vrou sou ek die Bybel kon lees as ’n slagoffer. Dan sou ek my kon vasstaar teen die vroue wat afgetjop het, onderdruk en gestileer is. En ek sou baie daarvan in die Bybel kon kry. Maar jy kan ook die Bybel lees as iemand wat agency het, as ’n agent, ’n aktant. En dan lees jy baie vroue in die Bybel raak wat hulle nie deur die stelsel laat vang het nie. Of die samelewing uitoorlê het wat maar deur alle eeue sy primitiewe fiksasie op geslagtelikheid behou het. En as jy jouself so wil bemagtig, word die Bybel ’n hulplyn van inspirasie: Mirjam, Mikal, Rut, Maria, Lidia, Dorkas, ag baie. Ek wil graag saam met dié vroue vlieg.

Nico Koopman, dekaan van die fakulteit teologie aan die US:

Ek glo dat Jesus Christus die weg en die waarheid en die lewe is. Hy is die ware weg tot die Vader en tot welgeluksaligheid, tot volmaakte geregtigheid, vrede en vreugde. Die diepte en die reikwydte en die uitdrukkingsvorme hiervan kan ons egter nie peil nie.

Ons voel nogtans nie hieroor magteloos nie. Die skynbare “nie weet nie” vul my mos met ’n stille rustigheid en ’n opgewonde hoop dat in en deur hierdie Christus ek ’n wonderlike verbondenheid het met, benewens mense in die Christelike tradisie, ook mense van ander godsdienstige tradisies, sowel as met mense van sekulêre tradisies.

Dit vul my met energie om in gesprek te tree met almal oor die een in Wie ek glo.

Leopold Scholtz, historikus en joernalis:

Ek het die kruisiging- en opstandingsverhale in die Nuwe Testament bestudeer kragtens die beginsels van die sekulêre, akademiese geskiedskrywing wat ek as historikus hanteer. En tot die gevolgtrekking gekom dat, op die allerminste, die graf op die derde dag wel leeg was. Dat die allervroegste Christene enkele jare ná die kruisiging geglo het dat Jesus opgestaan het. Dat hulle iets buitengewoons ondervind het wat hulle as ’n opstanding uit die dood verstaan het. En dat daardie geloof nie iets is wat ek summier kan verwerp nie. Vir my is hierdie Jesus by uitstek die verpersoonliking van God se liefde. En uiteindelik draai alles in ons lewe rondom dié een woord – liefde.

Louis Jonker, teologieprofessor aan die US:

Ek is dankbaar dat ek in my lewe by ’n “tweede naïwiteit” kon uitkom. Paul Ricoeur het ’n onderskeid gemaak tussen ’n eerste en ’n tweede naïwiteit. In die fase van eerste naïwiteit het ons ’n oogklap-geloof: Ons wil niks in die Bybel en in ons godsdiens bevraagteken nie, en ons wil nie uitgedaag word om enigsins krities te dink nie.

Die Bybelwetenskappe het my egter na Ricoeur se tweede fase geneem, naamlik ’n fase van kritiese ondersoek. In hierdie fase leer ’n mens om aan jouself en ander te erken dat nie alles so eenvoudig is nie. ’n Mens leer ook dat daar heelwat meer agter die Bybel sit as bloot net sekere oppervlakkige waarhede.

Maar ’n mens moet ook nie in dié kritiese fase bly vassit nie. ’n Mens moet aanbeweeg na ’n tweede naïwiteit. Dis ’n fase waarin ’n mens nie bedreig voel deur kritiese vrae wat aan jou geloof- en Bybelverstaan gestel word nie. Dis ’n fase waarin ’n mens literêre, historiese en teologiese vaardighede ontwikkel het om die Bybel in ’n (post)moderne wêreld te kan interpreteer. Dit bring rustigheid, vrede en ruimte vir gesprek.

… of te vra en twyfel

In sy onderhoude met sogenaamde ongelowiges, agnostici, twyfelaars en nie-Christene vir die boek God? het George Claassen gevind godsdiens is dalk in sy herfs. Hieronder is uittreksels uit sy gesprekke oor God:

Buite die kerk geen redding nie, het die Dominikaanse teoloog Thomas Aquinas in die 13de eeu met sekerheid gesê. Vir ’n gesekulariseerde Europa het sy woorde sedert die opkoms van die Era van Verligting toenemend die patroon van ’n akkerboom se vallende herfsblare aangeneem: Eers begin die blare geringe tekens van verkleuring toon, dan word hulle bruin, en as die winter se stormwinde kom, bly die boom se takke kaal.

Die verwinteringsproses van religieuse afvalligheid geskied nie ewe vinnig by gemeenskappe nie, nes die akkerboom en die apiesdoring se blaarverlies. Miskien is dit die invloed van wetenskaplike blootstelling en ’n intelligente en uitgebreide leesprogram wat die religieuse meem by ongelowiges op dorre aarde laat val.

By die groot meerderheid van die Afrikaanssprekendes klou die akkerblare van geloof aan die Boom van die Ewige Lewe vas asof die religieuse winter wat die wetenskapswerklikheid sedert die kennisrevolusie gebring het, nooit plaasgevind het nie. En asof die pad wat die wetenskap uit die versmorende Tuin van Eden gekap het, nog nie bestaan nie.

Timor mortis conturbat me – die vrees vir die dood ontstel my, het die Skotse digter William Dunbar in die 16de eeu in sy gedig “Lament for the Makers” herhalend laat weerklink. Daardie angswekkende vrees is nog die belangrikste rede vir mense se gehegtheid aan die een of ander religieuse konsep, dat daar vir die voorbeeldiges ’n lewe hierna sou wees.

Tog het die afgelope dekade of wat beduidende veranderings by Afrikaanse mense ontplooi, asof ’n nuwe lente van kennis jong, groen blare laat ontspruit, al het dit die Afribendes, soos Hans Pietersen dit in sy onderhoud stel, se pantser nog nie deurgedring nie. In my 12 onderhoude met die sogenaamde ongelowiges, agnostici, ateïste en twyfelaars, syg dié afwerping van die verdorde religieuse blaredos onstuitbaar, selfs onverbiddelik onder die natuurkrag van rasionele gravitasie op jou neer.

Pienkes du Plessis, skrywer en sakeman:

As hierdie God wel bestaan, moet al die gruwels in die Bybel, en al die verskriklikhede van alle rampe buite die Bybel, ook deur Sy toedoen ontstaan het, en dan is Hy nie die “Al-Goeie” God nie. Die gelowige het ’n keuse: Sy god is óf boos óf al-goed. Nie albei nie. [Daniel: Kyk Om God en die Bybel te verstaan.]

Toe ’n dominee in Durban weier dat ek, as jong omroeper/regisseur, hom in die SAUK se ateljees vir ’n godsdiensprogram aankondig en ’n ander dominee kort daarna van die kansel afkondig dat ek en my vrou onder kerklike sensuur geplaas word, was die breuk tussen ons en die kerk en God finaal. Die verligting wat ons destyds ondervind het, die gewaande sondelas wat ons van ons afgeskud het, die ongelooflike gedagte-vryheid wat ons skielik kon geniet, al hierdie ontdekkings was die grootste geskenk wat ons kon gekry het. Ons huis was een van liefde, ’n samesyn sonder vrees vir ’n niebestaande god.

Piet Croucamp, dosent in politiek aan die UJ:

In ’n land met soveel armoede soos Suid-Afrika oorvleuel die bevrydingsboodskap en die verlossingsboodskap in ’n groot mate. Verder is daar bloot konseptuele, en byna geen operasionele verskille tussen voorvadergeeste, heilige geeste en bose geeste nie.

Die wetenskap is vir die meeste mense te kompleks en kan ook nie meeding met die free ride-bemarking wat die staat, skole en die media aan geloof gee nie. Dit staan in skrille kontras teenoor die posisie van wetenskap as vak in ons skole.

Ek is dit eens met Dawkins dat geloof in die evolusionêre DNS van die mens ingesluip het [Daniel: kyk Hoe evolusie werk en hoekom dit nie werk nie.], en wel in die vorm van ’n soort genetiese gebrek, en is oortuig dat daar, weens onder meer die swakhede in ons onderwysstelsel, in die meeste mense nie genoeg rasionele kapasiteit is om tot ’n vrydenkende insig te kom nie.

My weersin in godediens is te groot om ruimte te laat vir enige sporadiese behoefte daaraan. Soos kommunisme, apartheid en nasionalisme is godediens ’n kollektiewe leuen. Maar ideologie en onsuksesvolle ismes kan gestigmatiseer word, terwyl godediens in die evolusionêre DNS van die mens in ’n nie- patologiese, psigiese versteuring manifesteer.

Alex Valentine, botanis aan die US:

Ek dink dat onkunde die grootste oorsaaklike faktor (vir geloof in God) is. Daar is ’n groot leemte in die basiese opvoeding oor die natuurwette en -verskynsels, met die gevolg dat die samelewing meegevoer word deur die maklikste en mees aanneemlike verduidelikings. Mense wil graag hoor dat die bewyse van God in die natuur is. Maar dit is omdat dit die maklikste verklaring van die verskynsels is …

Mense moet gewillig wees om iets nuuts te ontdek en nie net die natuur deur die vergrootglas van geloof probeer bespeur nie.

Sedert laerskool het ek my geloof bevraagteken, en tydens hoërskool was my blootstelling aan die geskiedenis van geloof en die kerk die eerste groot bydrae tot my oorgang na ongeloof. Aangesien blinde geloof al is wat nodig was om die anker op sy plek te hou, was my studies in biologie op tersiêre vlak die skeiding tussen my en geloof in God.

Christi van der Westhuizen, skrywer en joernalis:

Christenskap berus op ’n dogma wat onvoorwaardelike aanvaarding vereis. Dus is bevraagtekening ontoelaatbaar – veral deur ’n vrou wat in hierdie dogma as minderwaardig voorgestel word.

Die Christelike godsdiens versterk die ideologiese uitkerwing van spesifieke rolle vir vroue en mans, en behoede jou as jy daarvan afwyk. Dit was met ’n fantastiese gevoel van bevryding dat ek daarvan weggestap het.

Die skuif van God na ’n intelligensie is ’n erkenning dat die dominante dogmas nie meer genoegsame antwoorde verskaf nie. Maar eerder as “?’n baie groot, ’n onbegryplik grote Intelligensie” (soos Leon Rousseau dit probeer doen in Die groot avontuur), is dit die Aarde, die heelal en alles wat daarin is wat onbegryplik groots is. In plaas daarvan om hierdie feit te erken en in verwondering daarvoor te staan, word nog ’n verdieping geskep waar ’n Intelligensie of ’n godheid vertoef wat daarvoor verantwoordelik is.

Maar eintlik is dit ons self wat ons projekteer op ’n god, deels om ons angstigheid oor die ondeurgrondelike grootsheid van alles te besweer.

Antjie Krog, digter, skrywer en joernalis:

Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek dat die mens se behoefte aan godsdiens, God, Jesus en ’n heilige gees hoofsaaklik met mag te doen het. Hoe meer “uit beheer” jy voel, hoe meer het jy iets nodig om te stabiliseer.

Maar dit is nie te sê dat dit nie vir my soms wonderlik is om in ’n kerk te wees nie, dat as ’n vorm van saamwees, veral in ’n swart kerk, dit ’n mens sterk bind aan iets groters as jyself, nie God nie, maar mense, die spiritualiteit van menswees.

Wat glo ek nóú? Ek hou nie van die woord ongelowige nie. Want ek is gevul met geloof, maar ek is nie ’n Christen nie. Ek glo nie aan God soos hy vertel word deur die Bybel of die kerk nie. Maar ek glo dat daar iets groters as ekself is. Die beeld waarmee ek dit miskien kan verduidelik, is dat elke mens aan die struktuur van dit wat groter as jyself is, drink soos ’n baba aan ’n bors. Ons voel die tepel tussen ons kake, dan sê ons: dis God. Ons voel die melk in ons mond en sê: dis Christus. Intussen is daar agter die tepel ’n hele bors met ’n ingewikkelde klierstelsel, daar is nog ’n bors, en daaragter die hele liggaam. Maar ons kyk met ons bababrein en ongekoördineerde oë na die tepel en sê: ghoeghoe-ghoe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui