Herinterpretasie niks nuuts nie

Kyk KOMMENTAAR onderaan die artikel.

Kyk ook Skrifinterpretasie: Wat is die norm of gesag vir my lewe? (19 Aug 2022) waarin Chris Smit hierop kommentaar lewer en Vrae aan twee professore oor Skrifgesag waarin Fanie le Roux hierop reageer.

*******

Herinterpretasie niks nuuts nie | Kerkbode

18 Augustus 2022

Louis Jonker van Stellenbosch skryf: In die afgelope tyd was daar talle reaksies op dr Fanie Cronjé se bydrae oor eietydse toepassing van die Bybel.

Wat my opgeval het in hierdie reaksies, is dat daar byna geen bewussyn daarvan is nie dat interpretasie alreeds in die Bybelse tyd plaasgevind het, en bygedra het tot die totstandkoming van die Bybel.

My gunsteling-voorbeeld is die boek Kronieke. Dit herskryf die geskiedenis van Ou Israel soos vervat in Samuel en Konings, in ’n totaal nuwe sosio-politieke konteks, ongeveer 200 jaar later as die totstandkoming van Samuel en Konings. Enigeen wat wil sien hoe radikaal hierdie herinterpretasie vir ’n nuwe tyd was, moet maar net na Dawid of Manasse se verhale gaan kyk. Vergelyk gerus hoe Samuel-Konings oor hierdie twee konings skryf. In Kronieke is daar geen aanduiding van Dawid se “donker” geskiedenis nie – dus ook geen Batseba nie. Manasse, wat in die boek Konings die epitoom van boosheid is, word in Kronieke skielik ’n toonbeeld van boetedoening teenoor die Here, en ’n sprekende voorbeeld van hoe die Here vergewe.

Die Kroniekeskrywer het natuurlik daarmee die verhale oorvertel, op so ’n wyse dat dit ’n boodskap vir hulle eie tyd (tydens die laat-Persiese tydperk) sou inhou. Die oorvertelling was in kontinuïteit met die vorige, ouer tradisies, maar ook in diskontinuïteit daarmee om juis ’n boodskap vir ’n nuwe tyd oor te dra.

Hierdie is uiteraard nie die enigste voorbeelde nie. Die Nuwe Testament is grootliks ’n hervertolking van die Ou Testament, in die lig van die Christusgebeure. Weer eens was daar totaal nuwe sosio-politieke omstandighede (die Romeinse Ryk), maar ook ’n nuwe teologiese omgewing waarin die tradisies van ouds herbedink en herinterpreteer is. Die Christendom se ontstaan is te danke aan ’n herinterpretasie van die Jodendom!

Dit is juis wat die Woord van God “lewend en kragtig” maak. Was dit nie vir die feit dat geloofsgemeenskappe deur die eeue die ou geloofstradisies hervertolk het vir nuwe omstandighede nie, sou die Bybel nie bestaan het nie!

Lees ook: Kerkplanting: Oplossing of ’n fopspeen?

Wie dus vandag wil beweer dat ons moet vashou aan “ewige waarhede” en onveranderde interpretasies, gaan dus loodreg in teen die dinamika van herinterpretasie wat die Bybel tot stand gebring het. Sulke mense moet dan Kronieke uit die Bybel uitskeur, en dalk sommer ook die hele Nuwe Testament. Sou die kritici wat in Kerkbode negatief gereageer het op Cronjé se artikel bereid wees om dit te doen?

Natuurlik moet ons in kontinuïteit met die tradisies van ouds vashou aan die waarhede wat vroeër deur die Bybel aan ons oorgedra is. Maar, tegelykertyd daarmee, moet ons bereid wees om in ons eie tyd, en in die lig van ons eie omstandighede, ’n volgende tree te gee. Daarmee word die geloofstradisie juis lewend en kragtig gehou.

Laastens, diegene wat dalk meer wil lees oor die herinterpreterende ontstaan van die Bybel, kan gerus dié artikel lees.

Kommentaar

Louis Jonker se argument dat Kronieke ’n “herinterpretasie vir ’n nuwe tyd was” is totaal ongeldig. Natuurlik skryf verskillende skrywers verskillend oor gebeure. Vergelyk byvoorbeeld:

Die verskillende weergawes is egter nie teenstrydig nie.

Kyk ook Verwysings in die Bybel na die uittog uit Egipte.

1 thought on “Herinterpretasie niks nuuts nie”

  1. Sjoe. Praat van “Beating around the bush”. Met opmerkings soos “Was dit nie vir die feit dat geloofsgemeenskappe deur die eeue die ou geloofstradisies hervertolk het vir nuwe omstandighede nie, sou die Bybel nie bestaan het nie!” en ook “…die dinamika van herinterpretasie wat die Bybel tot stand gebring het.” My vraag is: Van wanneer af het God die herinterpretasie en hervertolking van mense nodig gehad om die tot-standkoming, bevestiging en bestaanreg van Sy Woord te veseker? Die “lewend en kragtig” maak van God se Woord is juis uit God uit en nie uit mense nie, maak nie saak hoe gelowig die mens dink hy is nie. Die Bybel is die Woord van die lewende God, nie mense woorde oor God nie. Wanneer die ware waarhede van God se Woord in so ’n mate “ge-herinterpreteer” of “ge-hervertolk” word sodat die waarheid daarvan afgewater en verdraai word om sodoende by die moderne mens aantepas en diesulkes se sondes te regverdig, word daar gekrap waar dit nie jik nie…..en dit is nie ’n ydelike waarskuwing nie! Dit wil my voorkom, dat volgens Louis, die Bybel net sowel oorgeskryf kan word nadat dit “ge-herinterpreteer” en “ge-hervertolk” is deur mense, om by die “nuwe tyd” waarin ons lewe aantepas. Dan eers sal almal in die nuwe “ruim huis” mekaar op die skouer klop en heerlik saam kan fees vier.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui