Het Jesus wérklik opgestaan?

Kyk ook:

Frits Gaum het die volgende artikel in Rapport geskryf oor Jesus se opstanding. Dit is regtig verblydend om soveel teoloë openlik te hoor sê dat hulle in Jesus se letterlike opstanding glo, selfs al het van hulle redelik liberale teologiese sieninge andersins.

My kommentaar in [bruin blokhakies] hieronder.

*****************

Het Jesus wérklik opgestaan?

2014-04-19 22:40

Frits Gaum

Frits Gaum wonder: Kan jy twyfel in Jesus se opstanding uit die dood en steeds gelowig wees?

Dood is dood.

Dit weet ’n mens van jou kindertyd af.

En vir premoderne mense van 2 000 jaar gelede was dood ook dood, nes vir deesdae se moderne en postmoderne mense. Dáárom wou Tomas die Twyfelaar al in die Bybelse tye niks weet van Jesus se opstanding uit die dood voordat hy nie sélf sy vingers in die wonde gesteek het nie.

Om, as jy regtig dood is, uit die dood “op te staan”, is wetenskaplik gesproke onmoontlik. Maar as ons Jesus se opstanding uit die dood ontken, val die bodem van ons Christelike geloof uit. Dan sit ons met ’n handvol wind.

Tog meen die Duitse teoloog Wolfhart Pannenberg ’n mens kan selfs uit ’n “wetenskaplike”, intellektuele oogpunt Jesus se opstanding nie sonder meer van die tafel vee nie.

[Ek dink ook “wetenskaplike” moet in aanhalingstekens geplaas word. Miskien histories-wetenskaplik, maar nie operasioneel-wetenskaplik nie. Hoe dit ookal sy, daar is baie goeie rede om te glo dat Jesus wel uit die dood opgestaan het. Inteendeel, daar is beter aanduiding van Jesus se opstanding as dat mense soos Julius Caesar geleef het.]

Pannenberg beklemtoon ’n mens hoef nie jou verstand op te skort om te kan glo nie. Volgens hom kan ’n mens die metodes van moderne geskiedskrywing op die teks van die Nuwe Testament toepas en toon dit sou onwetenskaplik wees om dit nié as ’n waarskynlike feit te aanvaar dat Jesus ná sy dood weer gesien is nie. Verskillende getuies het onafhanklik van mekaar getuig hulle het Jesus gesien.

Pannenberg wys daarop dat ’n groot groep van 500 “broeders” Jesus een keer ná sy opstanding gesien het (as die “susters” bygetel word, was daar dalk 1 000). Hy meen dis uit ’n historiologiese oogpunt ’n wetenskapliker standpunt dat die opgestane Jesus weer gesien is as om net te wil aanvaar dat so iets (dat Hy weer gesien is) nié gebeur het nie.

Op my vraag aan haar of sy glo dat Jesus “letterlik op ’n bepaalde dag en datum in die geskiedenis uit die dood uit opgestaan het”, antwoord Christina Landman, feministiese teoloog van Unisa: “Ek glo, want ek verkies om so te glo, dat Jesus Christus op ’n spesifieke tyd liggaamlik opgestaan het. Dit is vir my belangrik dat Jesus liggaamlik opgestaan het – dat sy liggaam ná die marteling aan die kruis gesond was! En wanneer ek sê ek glo Hy het op ‘ ’n spesifieke tyd’ opgestaan, beteken dit vir my dat Jesus se opstanding deel van die geskiedenis is. Maar Jesus se opstanding is vir my méér as ’n ‘historiese feit’. Daar is veel meer aan sy opstanding te hang. Jesus se opstanding voorsien ons ook van ’n simbool van opstaan. Dit gee ons die energie om elke dag ons kruis te dra, nie as mense wat gaan lê nie, maar as mense wat opstaan.”

Louis Jonker, ’n Stellenbosse Ou-Testamentikus, sê die belydenis van Jesus se opstanding het wel vir hom ’n historiese basis, dit wil sê dat Jesus in ’n bepaalde stadium in die geskiedenis uit die dood opgestaan het.

Maar dan wys Jonker daarop dat ons geloof nie op historiese “bewysbaarhede” berus nie. “Ek glo nie in Jesus Christus omdat sy lewe, sterwe en opstanding op die een of ander manier feitelik aan my bewys kan word nie, maar omdat die Heilige Gees my daarvan oortuig dat Jesus Christus die lewende Here is,” sê hy.

[Let daarop dat Louis vriende was met Ferdinand Deist, wat baie aanklank gevind het by Rudolf Bultmann se siening oor Jesus se opstanding. Bultmann het nie in Jesus se liggaamlike opstanding geglo nie, maar in ’n metaforiese opstanding.]

Nico Koopman, dekaan van die teologiese fakulteit op Stellenbosch, sê al is dit nie moontlik en selfs belangrik om die presiese dag en datum van Jesus se opstanding te bepaal nie, glo hy wel Jesus het op ’n bepaalde dag en datum in die menslike geskiedenis opgestaan uit die dood.

“Hy het liggaamlik opgestaan… met ’n verheerlikte liggaam,” sê hy.

Natuurlik is daar ook teoloë wat Jesus se opstanding eerder metafories wil verstaan: Hy het in mense se “gedagtes” en in hul “herinneringe” opgestaan; Hy het “simbolies” opgestaan; Hy “bestaan voort” omdat Hy so ’n groot invloed op miljoene mense se lewe gehad het en steeds het (amper soos Nelson Mandela “voortbestaan”?). Maar dié idees doen afbreuk aan die Godswonder van die opstanding en probeer dit inperk in ons ervaringswêreld, waar opstanding uit die dood onmoontlik is.

Wentzel van Huyssteen, ’n Suid-Afrikaanse teoloog wat in Princeton in die VSA doseer, stel dit goed: “As die teologie die opstanding van Jesus uit die dood wil ontken, tas dit die Christelike geloof in sy kern aan en gaan die teologie óór sy grens. Met die opstanding het iets gebeur wat ons begrip te bowe gaan.

“Jesus se opstanding uit die dood kan gesien word as iets groter as ’n historiese gebeurtenis, maar nie as iets wat kleiner is as ’n historiese gebeurtenis nie. Dis anders met byvoorbeeld die Bybelse skeppingsverhaal.

“Dit het nie dieselfde soort historiese segmentasie nie.”

Van Huyssteen beklemtoon dat verskillende dele van die Bybel hulle verskillend aandien en dat alle dele nie op dieselfde manier verklaar en verstaan kan word nie.

As die Bybel iets klaarblyklik letterlik bedoel en dit duidelik nié tydgebonde en kultuurbepaalde uitsprake is nie, moet ons die letterlike betekenis daarvan ernstig opneem. [Hierdie is ’n baie goeie punt. Dit is net jammer dat mense baie maklik Genesis 1 tot 11 figuurlik lees, waar dit egter duidelik is dat die skrywer daarvan bedoel het dat dit letterlik gelees moet word – kyk Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word?.] (Daar kan natuurlik in sommige gevalle boonop simboliese betekenis daaraan geheg word.) En die Evangelieskrywers – Matteus, Lukas, Markus, Johannes – wil hê ons moet verstaan Jesus het letterlik uit die dood opgestaan, maar hulle sê nie hoe dit gebeur het nie. Hulle sê ook nie Jesus het met presies dieselfde liggaam wat in die graf weggelê is, uit die dood opgestaan nie.

Trouens, die opgestane Jesus het “meteens” en uit die bloute tussen sy dissipels gestaan (Lukas 24:36). Maar Hy het ook soos ’n gewone mens ’n stuk gebraaide vis saam met sy dissipels geëet (Lukas 24: 42,43). Hy was dus anders, maar ook dieselfde; dieselfde en tog ook anders. Soos die sywurm wat ’n mot word. Soos die saad wat ’n blom word.

Ja, Jesus se opstanding uit die dood is en bly ’n saak van geloof – iets wat jy nie kan “bewys” nie, iets waarvan God self jou moet oortuig. Jy kan Jesus se opstanding net so min “bewys” as wat jy kan “bewys” daar is ’n God.

Wetenskaplik bewys? Nee. [Ek kan hiermee saamstem. Streng gesproke kan geen geskiedenis wetenskaplik bewys word nie, maar vanuit ’n histories-wetenskaplike oogpunt is dit baie duidelik dat Jesus werklik opgestaan het.]

Glo? Ja. Já.

Dr. Frits Gaum is ’n vryskutskrywer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui