Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?

Inleiding

In die skepping-evolusie-debat gebruik evolusioniste die argument dat die sondvloed (wat ongeveer 2348 vC gebeur het) in die Bybel ’n lokale vloed was of selfs glad nie bestaan het nie. Die rede daarvoor is omdat ’n wêreldwye vloed ’n vyand vir (geologiese) evolusie is: ’n wêreldwye vloed is ’n probleem vir verskynsels soos die Grand Canyon wat na bewering miljoene jare gelede gevorm het. ’n Wêreldwye vloed is egter ’n vriend vir skeppingsleerders omdat dit feitlik alle geologiese verskynsels op aarde kan verklaar (kyk Geology Questions & Answers).

Die Bybel oor die sondvloed

Kom ons kyk wat die die Bybel oor die sondvloed sê:

Daar word drie hoofstukke in die Bybel aan die sondvloed gewy (Genesis 6 tot 9).

Let op hoe duidelik is die Bybel daaroor dat die sondvloed ’n globale vloed was:

Genesis 7:20-23 : “Die water het amper sewe meter bokant die berge gestyg en dit bedek. Al wat op die aarde geleef het, het omgekom: diere wat kruip, voëls, mak diere, wilde diere, ja, alles wat op aarde wemel, ook al die mense; alles wat lewensasem in die neus gehad het, alles wat op land geleef het, is dood. So het God alles wat op die aarde geleef het, uitgewis: mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, hulle almal is weggevee van die aarde af. Net Noag en dié by hom in die ark is gespaar. Die water het die aarde honderd en vyftig dae lank oorstroom.”

In Genesis 9:14-16 maak God die volgende belofte: “Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, (15) sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. (16) Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

As die vloed lokaal was…

Sommiges redeneer egter dat Noag geglo het dit ’n globale vloed was – vir die mense van daardie tyd was dit ’n globale vloed, maar hoe kon hulle seker wees dat dit ’n globale vloed was? Wel, omdat God dit self aan Noag bekend gemaak het in Genesis 7:4 : “Oor sewe dae sal Ek dit veertig dae en nagte lank laat reën en alles wat leef, wat Ek gemaak het, wegvee van die aarde af.”

Hoe weet ons dat Noag reg gehoor het: God het so duidelik met Noag gepraat dat Noag bereid was om 100 jaar[1] lank aan die ark te bou. God het selfs die dimensies van die ark aan Noag bekend gemaak. Daar is dus nie twyfel oor die feit dat God aan Noag gesê het dat dit ’n globale vloed sou wees nie.

Verder, as die sondvloed slegs ’n lokale vloed was, is God nie getrou aan hierdie belofte nie: Daar was immers nog baie ander vloede na die sondvloed wat 1000e mense doodgemaak het. Ek dink maar aan die tsunami-vloed in Indonesië waar meer as 225 000 mense dood is op 26 Desember 2004. Met hierdie tsunami-vloed weet ons wat die omvang van die skade was en die water was maar skaars ’n paar dae op land en toe is dit weer weg. Met die sondvloed was Noag 364 dae in die ark. Dit kon beswaarlik slegs ’n lokale vloed gewees het.

As die vloed slegs lokaal was, hoekom het God vir Noag ’n ark laat bou? Hoekom het Hy hulle nie net laat trek nie?

Hoekom was daar voëls op die ark? Hulle kon mos net weggevlieg het.

Hoekom was die ark so groot? Wetenskaplike studies het aangetoon dat hierdie afmetings-verhoudings baie ideaal is vir stabiliteit in onstuimige waters. Dit bevestig dus die Bybelse verklaring dat God aan Noag die afmetings gegee het, want hy kon onmoontlik nie die ideale afmetings vir so ’n massiewe, eerste-ooit-struktuur, uit eie ervaring geken het nie. Sou die ark groot genoeg gewees het vir al die diere? Ja. Kyk How did all the animals fit on Noah’s ark?.

Hoe kon die water amper sewe meter (Gen 7:20) bo die berge gestyg het as dit net lokaal was?

Dit sou onnodig en onwaar gewees het om te verklaar dat die hele aarde vanaf die Araratberge, waar die ark tot stilstand gekom het, bevolk is indien die vloed net plaaslik was. (Genesis 9:19 : “…en uit hulle is die hele aarde bevolk.”)

In 2 Petrus 3 word daar ’n vergelyking getref tussen die wêreld wat destyds deur water vergaan het, en die aarde (en die heelal) wat in die toekoms deur vuur sal vergaan.

In Matteus 24:37-39 bevestig Jesus die vloed van Noag en die wêreldwye aard daarvan.

Dit lyk vir my ’n mens het slegs twee opsies:

  1. Of jy glo die vloed was werklik en globaal, of
  2. Jy glo nie dat daar enigsins ’n vloed was nie en dat die Bybel onwaar stories of legendes vertel.

‘n Mens kan dus nie sê dat die vloed slegs lokaal was nie.

As die vloed nooit gebeur het nie…

Indien ’n mens nie glo dat Noag werklik bestaan het nie en dat die vloed daarom nooit gebeur het nie, is daar verdere probleme:

  • Hoekom het Bybelskrywers drie hoofstukke in die Bybel (Genesis 6 tot 9) afgestaan aan ’n gebeurtenis wat nooit gebeur het nie?
  • Waar kom die Bybel aan die ark se afmetings? Dit is baie realistiese afmetings veral vir daardie tyd.
  • Waar kom al die vloedverhale van verskillende volke vandaan (Kyk die diagram hieronder)? Van al die verskillende verhale vertel die Bybel die vloed in die meeste detail. Dit is baie duidelik dat die ander volke eerder hulle vloedlegendes van die Bybelse (werklike) sondvloed geleen het.
  • Die oudste boom op aarde en die koraalriwwe van Australië is ongeveer 4000 jaar oud. Die sondvloed het ongeveer 2348 vC gebeur, dus ongeveer 4000 jaar gelede. Is dit toevallig?
  • As jy Noag en Adam en Eva wil afmaak as onwaar, wat kan ’n mens nog in die Bybel afmaak as nie waar nie?

alt

Voetnotas

[1] Noag word die eerste keer in Genesis 5:32 genoem en daar word gesê dat hy 500 jaar oud is. In Genesis 7:6 word gesê dat Noag 600 jaar oud was toe die vloed gekom het. Dit is dus ’n goeie aanname om te maak dat Noag ongeveer 100 jaar lank aan die ark gebou het.

Verdere bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui