‘Dwaalleer’-brief gekap

*******

‘Dwaalleer’-brief gekap | Beeld

Beeld, 5 Julie 2005

Johannes de Villiers

Kaapstad. Die drie Tukkie-dosente wat in ’n protesbrief daarvan beskuldig word dat hulle “dwaalleer” oor Christus se opstanding verkondig, is “verkeerdelik geëtiketteer en onbillik behandel”, lui ’n verklaring wat dié drie pas uitgereik het.

Proff. Dirk Human, Jurie le Roux en Julian Müller is drie van vyf teoloë wat in die protesbrief daarvan beskuldig word dat hulle Jesus se historiese opstanding ontken. Die brief is opgestel deur ’n vierdejaarteologiestudent, mnr. Ferdie Mulder, en aan die NG Kerk-media gestuur met die name van 46 teologiestudente onderaan. Talle van dié studente het sedertdien ontken dat hulle die brief onderteken het.

Luidens Human, Le Roux en Müller se verklaring skep die brief “vals persepsies oor ons persoonlike standpunt rondom die opstanding en kom neer op openbare naamskending. Op ’n onverdiende wyse berokken hierdie vals persepsies vir ons persoonlike en openbare skade. Verder werk dit negatief in op enige openbare teologiese debatte.

“Ons vind dit egter vreemd dat sogenaamde yweraars vir die Christelike waarheid hierdie weg van optrede volg, want nêrens het Mulder of enige ondertekenaar met ons ’n ‘broederlike gesprek’ gevoer (soos in die dokument beweer word) nie.

“Niemand het ons by die kuratorium van die kerk of by die universiteitsowerhede van dwaalleer of verkeerde optrede aangekla nie; in die verklaring word die inhoud en gees van ons akademiese werk misken en verdraai, sodat dit klink asof ons ’n dwaalleer oor die opstanding verkondig en dit blyk dat Mulder talle studente mislei het in die ondertekening van hierdie protesskrif.”

Dr. Ben du Toit, kommunikasiehoof van die sinode Wes- en Suid- Kaapland, wat ook in die protesbrief beskuldig word, het ook ontken dat hy die historisiteit van Jesus se opstanding ooit ontken het.

Dr. Louis Jonker van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, die vyfde teoloog wat genoem word, is tans in die buiteland, maar sy dekaan, prof. Elna Mouton, het gesê die protesbrief is ’n wanvoorstelling van sy opvattings.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui