Wie is Johannes du Plessis?

Kyk ook:

Johannes du Plessis 1 (Ferdie Mulder, 8 April 2022)

Johannes du Plessis 2 (Ferdie Mulder, 24 April 2022)

Prof Johannes (John) du Plessis was ’n omstrede teoloog van die NG Kerk wat vanweë sy moderne beskouings ná ’n lang stryd uit sy pos aan die Stellenbosse Kweekskool onthef is.

Hy is in 1868 op Cradock gebore waar sy vader NG leraar was. In 1893 behaal hy sy BD (Baccalaureusgraad in Godgeleerdheid) in Edinburgh, Skotland.

Kort na die Tweede Vryheidsoorlog word hy die NG Kerk se eerste sendingsekretaris en in 1905 saakgelastigde, soos sy pa. Een van sy pligte was redakteur van die De Kerkbode. Ná ’n kort onderbreking word hy die eerste redakteur van die verenigde De Kerkbode en publiseer omstrede uitsprake in die blad. Dit het veroorsaak dat ’n leertugsaak van toe af geleidelik teen hom begin opbou het. Hy bedank in 1912 en onderneem ’n reuse-toer deur Afrika. Hieroor skryf hy ’n boek uit ’n sendingoogpunt. Hy het in 1911 ’n boek oor die lewe van ds. Michiel Christiaan Vos geredigeer, van aantekeninge voorsien en laat uitgee.

Kort ná sy terugkeer word hy hoogleraar aan die Stellenbosse Kweekskool (ten spyte van die vorige leertugsake teen hom). Hy bevraagteken onder meer:

  • Moses se outeurskap van die eerste vyf boeke van die Ou Testament
  • Jesus se kennis van die Ou Testament

Dit dompel hom weer in omstredenheid. Hy begin ’n blad, Het Zoeklicht, waarin hy baie kernwaarhede bevraagteken, byvoorbeeld:

Tydgenote het Du Plessis daarvan beskuldig dat hy ’n modernis was en verskeie dwaalleringe aangehang het.

Tussen 1928 en 1930 bemoei verskeie ringe en sinodes hulle hiermee. In 1932 slaag Du Plessis se appèl na die Hooggeregshof teen die kerk se hantering van sy saak. Later in dieselfde jaar stem die sinode hom nietemin uit sy hoogleraarsamp, hoewel hy sy pensioen en ander voordele kon behou.

Hy sterf in 1935. Uit sy pen het onder meer ’n biografie oor dr Andrew Murray (1828-1917) asook The History of Christian Missions verskyn.

Ter nagedagtenis van hom maak van sy vriende ’n pienk marmer standbeeld van hom, genaamd Pienk Piet. Dit word in 1944 opgerig. Deur prof Louis Jonker se toedoen kry die standbeeld ’n prominente plek op die Universiteit Stellenbosch se teologiese fakulteit: Op 19 Junie 2006 word dit geskuif van die agtertuin van die Sasol Kunsmuseum na die voortuin van die Kweekskool.

Artikels

Bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui