Baie kort oorsig van SGV-konferensie te Stellenbosch 12 November 2015

Kyk ook:

Hierdie is ’n baie kort opsomming van die SGV-konferensie te Stellenbosch wat deur Stellenbosch se kweekskool gereël is. (Let daarop dat Stellenbosch se kweekskool progay is – kyk Laat NG kerkrade oor gays besluit.)

Dit gaan eerstens oor Louis Jonker se 20-minuut aanbieding (ongeveer 17:53 tot so 37:36) aan die begin, dan ’n stukkie oor ene “Etienne”, dan my eie opmerkings en heel laaste wat Gerhard Landman op Facebook geskryf het.

Vir die wat self na die video wil kyk, hier is die skakel: Eendag-konferensie oor selfdegeslagverhoudings, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch 12 November 2015

Louis Jonker

Louis Jonker het (krities, sê hy) gekyk na SGV gesluite vóór 2007, 2007 en 2013 vanuit drie gesigspunte:

  1. Watter soort eksegese is gebruik in daardie tye.
  2. Watter tipe hermeneutiese sleutels is by vorige besluite gekies.
  3. Watter van 1 en 2 het 2015 se besluite bepaal.

* Volgens hom was die vorige besluitnemers uiters selektief in hul keuse van tekste, so selektief dat hulle ’n baie dun Bybeltjie sou hê, volgens hom. Hulle het by die Levitikus 20 teks byvoorbeeld nie verder gelees dat mense wat dit beoefen, doodgemaak moet word nie – selfs ongehoorsame kinders moes doodgemaak word (hy het grappenderwys gesê dat sy eie kinders dan waarskynlik nie ouer as ses maande sou word nie!). Hy noem dit “eklektiese gebruik van tekste”.

* Hulle was ook onsensitief oor vertalingsvariasies, byvoorbeeld dat Lev 18 praat van “verhouding” en Lev 20 praat van “verkeer”.

* Die vorige besluitnemers was onsensitief oor die spesifieke genré waarin die tekste voorkom.

* Ook oor die “wêreld agter die teks”: sosio-kulturele konteks is geïgnoreer.

* Ook was die vorige besluitnemers onsensitief ten opsigte van geslagte in daardie tyd: daar was patriargale stelsels in plek. Die resepsietradisie is belangrik.

* Dan spesifiek by die 2013 besluit het die woord “selibaat” ingekom – hy het gesê dit is ongereformeerd, en die vorige besluitnemers het dit nie uit die Skrif gemotiveer nie. Hy het sover gegaan om te sê dat dit dieselfde soort hermeneutiek was wat gebruik is om apartheid te regverdig.

Ook het hy verwys na Gerda de Villiers se “uitstekende” stuk oor Rut in die Teologiese tydskrif.

‘n Inklusiewe hermeneutiek was nodig (om by die 2015 besluit uit te kom). Daar moes ook gekyk word na die wysheidsliteratuur. Hy het geëindig deur te sê daar is sáám met gay-medegelowiges en sáám met die natuurwetenskappe gekyk, en hy het die gay-medegelowiges hartlik bedank dat hulle deel was van die nuwe besluit.

Etienne

Dan het ek gister ook ’n baie interessante stukkie opgetel van ene “Etienne” (hier by 4 ure 56 minute tot so 4 ure 59 minute). Hy dra ’n rooi en wit blokkies hemp. Kort maar kragtig – ek het ook vinnig opgesom. Dit het vir my geklink of hy NIE saamstem met óf wat Louis Jonker gesê het nie, óf die AS2015 besluit nie. Hy het begin by die “nuwe hermeneutiese sleutels, histories en literêr” wat toegepas is. Toe het hy by ’n vorige spreker aangesluit wat sê dat sonde verdeel. Maar wat my getref het, is dat hy in plaas van “heling” voorgestel het dat gepraat word van “die herstel van die beeld van God in die mens”. Dat Jesus se kruisdood en opstanding dit moontlik maak dat elke mens in ’n nuwe unieke verhouding met God kan staan.

Henriëtta Klaasing

Ek het hierdie op Hennie se Facebook gesê so ’n rukkie terug vandag: Ek het gister lang stukke van die ses ure se Selfdegeslagkonferensie gekyk, en vanoggend weer en weer na sekere dele sodat ek notas kon afneem. Ek wil ’n uitdrukking leen by ’n politieke ontleder wat oor Dr Booysens se boek oor Zuma se nalatenskap gepraat het. Hy het gesê (soos ek rofweg onthou wat ek gelees het) dat dit nie net een vrot appel is nie, die hele boord is vol vrot appels. Sê nou maar daar kom ’n buitengewone vergadering en sê nou maar verder, ’n wonderwerk gebeur en hul trek hulle besluite terug en met NOG ’n wonderwerk word die hele moderatuur “afgedank”, gaan dit nog nie die probleem van die “vrot boord” oplos nie. Al drie teologiese fakulteite het glo saamgewerk aan die besluite, en al drie is instemmend oor “die nuwe hermeneutiese sleutels” waarvolgens die Bybel bestudeer moet word aangaande die kwessie. (Kyk NG teologiese skole progay.) Dink aan al die toekomstige predikante wat “besmet” is met hierdie siekte wat die appelboord verrot maak!

Gerhard Landman

Ten laaste is hier ook ’n opmerking op die geslote Teologiese Debat –Facebookgroep:

Gerhard Landman: Het so 2 ure spandeer om deur hierdie ses ure lange video van die Stellenbosch konferensie te scan. Dis gelukkig maklik om op YouTube rond te spring op die tydlyn.
Dit was duidelik dat al die konferensiesprekers wat genooi was om te praat, gekeur was op die feit dat hulle of neutraal oor die gay kwessie moes wees, of verkieslik progay moes wees. Nie een van die sprekers het ’n openlike anti-gay standpunt gehad nie, en dit was ongetwyfeld doelbewus.
Ene Jeremy Punt, wat een van die openingssprekers was, het gehamer op “historiese kontekste” en “lastige vertalings”, en het dit as anachronisties beskryf om sekere “ongelukkige vertalings” letterlik te vertolk.
Spreker na spreker het ook gehamer op “diversiteit” in die kerk, soos geïmpliseer in Handelinge 15. Die historiese twiste oor nagmaal en besnydenis was voorgehou as versoenbare verskille in die Bybelse tydperk, en hier word dit sommer nou uitgebrei om seksuele oriëntasie ook in te sluit.
Die mees ongemaklike aanbieding was die van Prof. Louise Warnich, wat gepraat het oor die genetiese aspekte “wat nog nie heeltemal verstaan word nie”. Nodeloos om te sê was dit ’n twintig minute tydmors-sessie van bespiegelings en “studies het bevind dat…”
Maar die grootste bubble wat hierdie “kenners” gehap het was in die oop gesprek gedeelte toe iemand in die gehoor hulle in ’n hoek gedryf het oor of gay-seks as sonde gereken word of nie. Kyk gerus daarna op die 4:55:00 tydmerk. Dis eintlik amusant om te sien hoe hulle stamel om woorde te vind..! grin emoticon
Vreemste terme wat opgeduik het…..
“Radikale Gasvryheid en Insluiting “, en “Embodied Theology “…net hulle sal weet wat de duiwel dit beteken.

Dawie Badenhorst se kommentaar

Ek het gisteraand die 40 minute van Prof Van Der Merwe en die dekaan van regsfakulteit geluister.

My kommentaar op die dekaan se aanbieding was dat dit in wese slegs ’n generiese aanbieding was van die huidige stand van ons reg, gemeet teen die grondwet. Dit weet ons almal. Ek sou graag van hom wou hoor van die beperkingsklousule in die grondwet (art 36) en dat mens vrywillig van jou verskansde regte kan afstand doen.

Prof Van Der Merwe het, soos ek dink te wagte was, nie werklik sy kaarte geopenbaar nie. Hy het tog reeds regsadvies ingewin. Ek kry die indruk dat hy hulle kaarte styf teen die bors hou en nie te veel wil openbaar nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui