Die Enigste Weg?

Kyk ook:

Coligny Nel

12 Mei 2020

Na aanleiding van: RSG: Kan Moslems en Christene saam bid?

As klasmaat van Louis Jonker destyds, wil ek ook uit ’n hoek na sy uitlatings kyk. My vriend Marko Kiroglu het byvoorbeeld vanuit die hoek van ’n bekeerde Moslem hierna gekyk. Ek moet sê, ek verstom my oor Louis se teologiese sienings. Vir my is dit ’n baie baie liberale omgang met die Woord van God. Dis baie kommerwekkend. Ek kan duidelik sien hoe die kerk oor die afgelope halwe eeu mislei is en word, veral as dit die manier is waarop akademici met God se Woord tewerkgaan.

As Christen is daar nie ’n keuse om die Bybel as die onfeilbare Woord van God te aanvaar nie. Dis die basis. Ek herinner weer: Psalm 138:2b “for you have exalted your Word above all your name.” (KJV) Is dit hoe God sy Woord sien? Verstommend! Dit bring ons by die Evangelie of Blye Boodskap en die kern daarvan. Dit gaan oor God en die redding van die sondige mens. En die Skrif stel dit as volg: Die mens was nog nooit daartoe in staat om homself te red nie. Die mens het ’n Middelaar nodig. (1 Tim 2:5)

Is Jesus Christus die enigste Verlosser? Is daar meer as een waarheid? Hoe verkry ons die ewige lewe? Die Skrif stel dit baie duidelik. Hy is die enigste Weg na God die Vader (Joh 14:6). Hy is die weg waarheid en die Lewe. Niemand kom na God die Vader behalwe deur Hom nie. Dit kom uit Jesus se eie mond. Hy is immers die Lam van God! Dis fundamenteel aan die evangelie. Johannes herhaal die tema “deur geloof in My” 97 keer. Die enigste ding wat sonde kan wegneem is die bloed van die Lam van God. Ek herhaal, dis die enigste manier wat God gekies het om die sonde van die wêreld weg te neem. Sonder bloedvergieting is daar geen vergifnis van sonde nie. Want in bloed is die lewe. Dit is ’n ernstige saak. En God het dit self kom afhandel. Dit is die Blye Boodskap Dit is die evangelie aan alle mense, dus ook geldig vir alle gelowe.

As Jesus dan die enigste Weg na God die Vader is (Joh 14:6), hoe word die mense van die Ou Testament gered? In Hand 4:12 verklaar Petrus dat daar GEEN ander naam gegee word waardeur die mens gered word nie. Dis regtig so duidelik dat ’n kind dit kan verstaan! En die regverdigmaking en dus redding word gratis gegee aan ALMAL wat Hom aanneem. In Rom 4:3 en in Gal 3:11 (10-13) maak Paulus dit duidelik dat selfs Abraham en dus al die gelowige mense in die Ou Testament óók deur geloof alleen gered is. In Rom 3:20 verklaar Paulus verder dat, deur om die wet te onderhou, nie die mense in die Ou Testament of Nuwe Testament red nie. Dis daar om mense van sonde te oortuig. Onthou ook dat Abraham gelewe het voor die wet gegee is. Paulus sê dat niemand regverdig verklaar sal word voor God se aangesig deur die wet te onderhou nie. Dus. Redding kom alleen deur geloof in God en vertroue hoe Hy redding daarstel.

Redding buite geloof in Jesus Christus is dus ’n leuen van Satan, dit is niks anders as sinkretisme en dus afgodery nie. Trouens, as redding buite Jesus Christus gevind kan word, het Hy dan nie nodeloos gesterf nie? (Gal 2:21). Dan stort die evangelie ineen. Dan bly daar geen blye boodskap meer oor nie. Want, dis die hart van die evangelie. Omdat die mens homself nie kan red nie, het God dit kom doen, deur sy enigste Seun te gee, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. Hy was sondeloos en hy het almal se sonde op Hom kom neem. Enige persoon wat iets anders verkondig sal homself vinnig van die kansel en alle teologiese opleiding en verkondiging moet verskoon, want God sal hom of haar baie hard oordeel.

Ons is almal maar sondige mense. Ons almal het al gedwaal en afgedwaal. Daarom wonder ek, het Prof Louis Jonker dalk tussen al sy geleerdheid verdwaald geraak ten opsigte van die vraag oor hoe word mense wat nog nooit van God se redding deur Jesus Christus gehoor het nie, by die troon van God geoordeel? As klasmaat van my weet ek die vraag is op kweekskool in die klas gevra. Hy was deel daarvan.

So wat nou van al die mense wat nie die evangelie gehoor het nie? Die Skrif moet self praat. Die antwoord lê veral in Romeine. Rom 1:19 sê dat niemand enige verskoning het tov geheime en kennis van God nie. Vers 18 verduidelik hoe hulle sonde die waarheid verhoed of keer. Die mens ken God – maar onderdruk die waarheid. Vers 20 sê dat die mens sonder verskoning is, want God het Homself van die begin af aan sy skepsels openbaar. In vers 21-23 word verduidelik hoe die mens nie meer die ware God aanbid het nie, maar omdat hulle gedink het dat hulle slim is, het hulle in hulle onnoselheid afgode begin dien. Dis rebellie! Niks anders nie. Daarom verduidelik Rom 2:1-16 dat elkeen beloon word volgens sy dade. Die verse in Rom 3:10-26 sê duidelik, niemand is onskuldig nie – selfs nie een nie, ALMAL het gesondig.

Wat is die hart van die probleem? God kan niemand naby Hom toelaat wat selfs net een keer gesondig het nie. Hy is te heilig daarvoor. En dis waar die evangelie inkom…. God het SELF die duur prys betaal, vir almal wat Hom aangeneem het. Dis beslis nie wat ander gelowe glo nie.

Is dit regverdig van God? Hier moet jy nie op jou eie beperkte hart, goedheid wysheid en kennis staatmaak nie, maar op dié van God. Want jy en ek is beperk hierin. Hy is beslis nie. Onthou, die prys wat Hy hiervoor betaal het oneindig hoog.

Paulus spreek in Hand 17:30 die mense van Athene wat in hulle onkunde en selfs miskien opreg afgode aanbid het as volg aan: God het die spesifieke tyd van onkunde oorgesien maar gee nou die die mens universeel die bevel om hulle te bekeer. Gaan lees die Grieks. God stel dit dus duidelik – Hy is die enigste God na wie alle mense hulle moet bekeer. Alle ander gode is vals en afgodery. So, dien ander gelowe dieselfde God? Beslis nie. Nee!

Ek sien Louis gebruik die woord ’inklusief’. En dit bring ons by Kornelius in Handelinge 10 (vergelyk met die getuienis van broer Marko). Die man was Godvresend. Hy het God gedien met alles wat hy gehad het. Maar hy moes nog gered word. Gaan lees maar self daar. God stuur ’n engel na Kornelius. Hy moes vir Petrus laat haal om te kom en dan met hom die blye boodskap te deel voor hy en sy hele huisgesin gered kon word. Dit is duidelik dat die buitengewone toegewydheid van Kornelius nie genoeg was vir sy redding nie!!! Wat ek hier sien is ‘eksklusief’. Die reddingsweg is baie nou, baie eng. Dis nie ’n breë weg waarop almal loop nie. Maar kyk net! Dit is ook baie duidelik dat God hom nie vergeet het of misgekyk het nie. Hy stuur selfs ’n engel met die oplossing! So as mens wonder oor hoe om dit te sien en waaroor ons moet getuig, kyk net wat hier gebeur het. Moenie vir God en sy liefde genade onderskat nie! Hy is oneindig in sy wese! Jy hoef niks aan sy evangelie te gaan regmaak of verander om reddende liefde te betoon nie…

Dink dus Christosentries, fokus nie op die mens rondom die Bron en omvang van redding nie. God sal die wêreld volgens sy eie regverdige standaard benader en oordeel (Ps 96:13; 98:9; Hand 17:31; 2 Tess 1:5). Hy sal regverdig wees, want Hy is nie ’n aansiener van persoon nie (Hand 10:34).

Nie eens dié wat verlore gaan sal met Hom kan redekawel oor die saak nie. Hulle sal trouens sy soewereiniteit en sy regverdigheid rondom die saak erken (Rom. 14:11; cf. 2:5). Hulle sal hulle eie rebellieuse weë erken (Jud 1:5).

So, ek wil by Louis Jonker weet of hy die Evangelie of Blye Boodskap volledig gedeel het met die mense van die ander gelowe met wie hy saam praat? Of doen hy dit op sinkretistiese wyse? Hy moet net seker maak, want ‘inklusief’ is volgens die evangelie duidelik sinkretisties. Dis niks anders as afgodery nie. Het hy opgelet hoeveel daarvan in die Ou Testament voorkom? Dis immers sy forté, so hy behoort te weet. Het hy homself behoorlik afgevra wat Petrus bedoel as Hy vra na die oordeel van God wat by ons begin? Wat sal die gevolg wees vir dié wat nie oortuig word of is van die goeie en blye boodskap van God nie? (1 Pet 4:17). Of kyk hy die konsekwensie daarvan vir homself of ander mis – as hy of ander nie die ware evangelie deel, korrek deel of selfs net effentjies verdraai nie? Is dit nie juis wat ‘wicked’ beteken nie? Besef hy wat dit aan sy eie kerk doen as hy hier verkeerd gaan? Sien hy in wat hy dan aan die Hoof van die kerk, Jesus Christus doen as hy die evangelie op enige manier teenoor ander sou misverteenwoordig?

1 thought on “Die Enigste Weg?”

  1. Coligny, ek dink jy slaan die spyker op die kop. My vraag is, as Stellenbosch se se teologiese fakelteit nie ’n staatsgedrewe fakelteit was nie, sou Louis Jonker met sy idees weg gekom het? Kan die NG kerk dit nog volhou dat hulle ’n ooreenkoms met die universiteit gemaak het want dit is bitter moeilik om ’n teologiese dosent in die pad te steek? Indien daar wel kerklike dissipline op Louis toegepas word, dan gaan hy die hof nader en onskuldig bevind word. Ek dink die NG kerk behoort skaam te kry vir die kuratoriums wat toegelaat het dat verkeerde dosente aangestel word. Daar is sulke kosbare dominees en lidmate in die NG kerk wat gehoorsaam aan die Here en Sy woord, die belydenis is maar nou kry jy dosente wat onaantasbaar is. My hart is stukkend.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui