Louis Jonker aangewys as Uitgelese Professor

Die volgende gelukwensing het op die Sinode van Wes-Kaapland se webblad (kaapkerk.co.za) verskyn. Die publikasiedatum op kaapkerk.co.za is nie seker nie, maar ek het hierdie op 16 Januarie 2021 hier gepubliseer.

**********

Louis Jonker aangewys as Uitgelese Professor

Met dank ontvang van Diensgroep Toerusting en Navorsing:

Louis Jonker van Ou Testament by die US Fakulteit Teologie, is pas benoem as Uitgelese Professor (Distinguished Professor). Die aanstelling as Uitgelese Professor is ’n seldsame eerbewys wat akademiese uitnemendheid erken. ‘n Uitgelese professor het internasionale statuur en impak en het bewys gelewer van uitsonderlike prestasie en leierskap in die hoër onderwys, veral op die gebied van navorsing en publikasies, nagraadse studieleiding, leer en onderrig en sosiale impak.

Louis Jonker, boorling van Riversdal, is sedert 1992 geaffilieer by die US. Hy is veral bekend vir sy akademiese werk oor die Bybelse literatuur in die Persiese periode. As gevolg van hierdie kundigheid is hy genooi om ‘n nuwe Kronieke kommentaar te skryf vir die Old Testament Library reeks. Sy Esra-Nehemiah kommentaar gaan ook verskyn by Oxford University Press.

Louis doen ook toegepaste navorsing in die veld van interkulturele hermeneutiek, deur ‘n studie te maak van hoe die Bybel funksioneer in verskillende gemeenskappe. Hiermee speel hy, net soos met sy werk oor die Ou Testament teks, ‘n betekenisvolle rol in die akademie sowel as die kerk.

Ten spyte van die vol program weens die eise van akademiese navorsing en publikasie, het Louis sy fokus op die kerk en gemeenskap behou. Sy deelname aan sinodale sowel as gemeentelike werk, is van onskatbare waarde. Hy het tydens die grendeltyd ‘n VBO ontwikkel, asook in verskeie gemeentes kursusse oor die Bybel aangebied. Sy hulp met die ontwerp van ‘n raamwerk vir ons getuienis oor die Evangelie – Vertel: Dra die Goeie Nuus – getuig ook van die brug wat hy help bou tussen teologie en kerk.

Louis Jonker is nie net die outeur van ‘n indrukwekkende lys akademiese werke nie, maar ook van boeke vir die kerkgemeenskap. Voorbeelde hiervan is Hierdie God …telkens weer nuut (2002), Herinnering en Verlange: Gesprekke oor Mag, Geskiedenis en die Bybel (2019) en die heruitgawe van Die Bybel in Fokus: Om die Bybel gelowig én krities te lees (2020).

Louis, baie geluk met die besondere en waardevolle aanstelling. Dankie vir die wyse waarop jy in die kerk betrokke bly en ‘n verhelderende, verdiepende gesprek stimuleer oor die wonder van die Bybel as Gods Woord.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui