Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees

Hier volg inligting oor die boek, Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees.

Inligting

  • Titel: Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees
  • Outeurs: Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie
  • Publikasiedatum: 25 Maart 2020
  • Aantal bladsye: 171
  • ASIN: B086N4RXQJ
  • Uitgewer: Lux Verbi

Toekennings

In 2022 ontvang hierdie boek ’n Andew Murrayprys vir algemene Christelike boeke in Afrikaans. Kyk ook Gaum, Smit wen Andrew Murray-pryse (18 Apr 2022).

Resensies

Tot op hede was daar nog nie baie resensies beskikbaar nie, maar indien ’n mens na die titel van die boek kyk en in ag neem wat Louis Jonker geskryf het in Oor geloof en die wetenskap (2012) dan is dit nie moeilik om te raai wat die inhoud van die boek is nie.

Hier volg ’n artikel, maar daar word bitter min verklap oor die boek:

Boek-uittreksel: Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees | Maroela media

22 Maart 2020

Hiermee ʼn uittreksel uit die boek Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees deur Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie.

Maklik én moeilik

Daar is iets van ’n teenstrydigheid in talle mense se ervarings van die Bybel. Dit is tegelyk baie maklik en baie moeilik om die Bybel te verstaan. Dit is soos liefhê: so eenvoudig dat enige kind weet wat dit beteken, maar terselfdertyd kan dit ongelooflik ingewikkeld wees om te weet wat liefde in spesifieke omstandighede van ’n mens vra. Liefde is ’n kuns wat net oor ’n hele leeftyd heen bemeester kan word, indien wel.

Iets van dié teenstrydigheid is ook waar van die verstaan van die Bybel. Daarom is die lees van die Bybel so verrykend én so vermoeiend.

Die Bybel is in vele opsigte baie maklik om te verstaan. Ons weet eintlik heel goed wat daarin staan. En ons weet watter implikasies die Bybel vir ons lewe het. Ons is van kleins af besig om ons lewe volgens Bybelse waardes te probeer inrig. Die kerk probeer boonop al eeue lank om gestalte te gee aan die betekenis van die evangelie – in die vorm van aanbidding, gebede, spiritualiteit, dissipelskap, projekte vir barmhartigheid, sendingwerk en so meer. Op al dié maniere is ons lankal besig om die boodskap van die Bybel in ons lewe te gebruik. Dit is dus maklik om die Bybel te lees en dit te verstaan. Elke Christen doen dit as’t ware vanself.

Wanneer ons die Bybel lees, hoor ons God se stem en ervaar dat ons in die teenwoordigheid van God kom. Ons word getroos. Nuwe uitsig gaan voor ons oop. God is daar. God is lief vir my. As dit nie so was nie, waarom sal ons dan aanhou om die Bybel te lees?

Dit is natuurlik net die een helfte van die waarheid, want soms is dit ook baie moeilik om die Bybel te verstaan. Jy haak vas en raak verwar deur wat jy lees. Die tipiese ervarings wat hier uitgelig is, verwoord iets van die probleme wat kan opduik wanneer jy die Bybel probeer verstaan.

Wat maak ’n mens as dit met jou gebeur? Verskillende dinge. Lees die Bybel weer en weer. Bid daaroor en vertrou die Heilige Gees ten volle om die boodskap duidelik te maak. Luister met nuwe aandag in die kerk en maak miskien ’n paar notas van die preek. Sluit aan by ’n Bybelstudiegroep of gebruik handleidings om ’n diepgaande studie van die Bybel te maak. Sommige mense skryf selfs in vir ’n Bybelkursus. Ander raak ontnugter en gaan maar liewer aan met hul gewone lewe.

Dié boek is bedoel as hulpmiddel vir mense met ’n behoefte om die Bybel beter te leer verstaan. Dit kan individueel of in groepe gebruik word, of selfs in die vorm van ’n kursus deurgewerk word. Dit bevat ook talle voorbeelde en oefeninge om ’n paar vaardighede aan te leer en in te oefen.

Waaroor elke hoofstuk gaan

Kom ons kyk kortliks na die formaat van die boek:

Struikelblokke

Hoofstuk 1 handel oor drie struikelblokke wat mense dikwels ondervind wanneer hulle die Bybel lees:

  • Die wêreld van die Bybel is so vreemd en anders as die wêreld waarin ons lewe.
  • Hoe kies ’n mens tussen verskillende, verwarrende interpretasies van Bybelgedeeltes?
  • Gebeur dit nie soms dat mense net hul eie belange en oortuigings in die Bybel inlees nie?

Hulpmiddels

Hoofstuk 2 en 3 handel oor twee hulpmiddels wat ’n mens kan gebruik om van dié struikelblokke uit die weg te probeer ruim. Dit is baie belangrik om agtergrondkennis te hê oor twee sake:

Dié hulpmiddels is egter nie twee goue sleutels wat dadelik al die waarhede van die Bybel sal oopsluit nie. Soms veroorsaak kennis oor die geskiedenis en literatuur van die Bybel selfs méér vrae. Dit laat jou selfs wonder of jy die Bybel nog kan glo. Is daar nog iewers iets waaraan ’n mens kan vashou – goeie vastrapplekke om die Bybel te kan verstaan?

Vastrapplekke

Hoofstuk 4 handel oor twee moontlike vastrapplekke te midde van twyfelvrae oor die Bybel:

  • Christene glo die Bybel is die Woord van God.
  • Daar is praktiese maniere waarvolgens Christene vanuit die Bybel kan leef.

Dit beteken nie daar is eenvoudige antwoorde of resepte om die Bybel te verstaan nie. Ons wil eerder ontdek hoe ’n mens God se stem opnuut in die Bybel kan hoor.

Die mikpunt en eindpunt van ons geloof en lewe is egter nie die Bybel nie. Ons glo in God. Ons glo dat God vir ons lief is, vir ons sorg en ons elke dag lei. Daarom wil ons God beter leer ken en met oorgawe en vreugde in sy teenwoordigheid lewe. Die Bybel kan ons hierin help en juis daarom is dit so belangrik om die Bybel regtig so goed moontlik te probeer verstaan.

[Kommentaar: Daar word gesê: “Die mikpunt en eindpunt van ons geloof en lewe is egter nie die Bybel nie. Ons glo in God.” Dit is natuurlik heeltemal korrek, MAAR dit is ’n uiters gevaarlike stelling, want die Bybel bepaal jou Godsbegrip. Sulke stellings maak die deur wyd oop om jou eie god te skep waarvan jy hou en wat slegs raakpunte met die God van die Bybel het – kyk Welkom by Bou-’n-God.]

Die uittreksel is goedgunstig deur NB-Uitgewers verskaf.

Genre: Niefiksie
Uitgewer: NB-Uitgewers
Prys: R250-00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by NB- Uitgewers

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui