NG teologie by UP kan tot ’n einde kom

Kyk ook:

*******

NG teologie by UP kan tot ’n einde kom | Rapport

Rapport, 2 Oktober 2005

Marlene Malan

Kaapstad

Die Oos-Transvaalse sinode van die NG Kerk wil formeel in gesprek tree met die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria om wat die sinode noem “die einde van teologiese opleiding van NG Kerk-predikante” aan dié teologiese skool te verhinder.

Dié drastiese stap hou verband met tugstappe teen mnr. Ferdie Mulder (32), ‘n student in die fakulteit, wat vroeër vanjaar in ’n vlugskrif verskeie klagtes geopper het teen. vooraanstaande hoogleraars in die UP se fakulteit teologie.

Mulder is tans in ’n tugproses omdat hy die betrokke professore se integriteit sou aangetas het: Hy het Vrydag, vier dae voordat sy verhoor begin, teruggeslaan en self ’n klag teen die kuratorium ingedien oor beweerde pligsversuim ingevolge die reglemente van die NG Kerk.

Voigens adv. Marius Helberg SC, Mulder se regsverteenwoordiger, het sy kliënt se klag “te doen met herhaalde klagtes deur studente en teoloë, deur jare”, oor die sogenaamde dwaalteologie wat volgens hulle aan studente voorgehou sou word.

Die kuratorium, wat toesig hou oor teologiese opleiding by die UP, het vroeër stappe teen Mulder aangekondig oor ’n verklaring wat hy uitgereik het — sy ’Status Confessionis aangaande die opstanding van Jesus Christus”.

Die kuratorium het Mulder daarvan beskuldig dat hy proff. Dirk Human, Jurie le Roux en Julian Müller, en twee ander teoloë, drr. Ben du Toit en Louis Jonker, “in die openbaar leed aangedoen het” en “hul goeie naam op onregverdige wyse in die openbaar belaster en geskend het”.

As Mulder skuldig bevind word, kom sy legitimasie in die gedrang en kan hy verbied word om sy studie as NG student te voltooi.

Mulder se verhoor word wyd bespreek in die NG Kerk omdat dit teologiese kwessies aanroer waaroor hewige debatte tans woed.

Die UP se teologiese fakulteit is op die agenda van die Oos-Transvaalse sinode van 16 tot 18 Oktober.

“Die probleem is baie groter as wat ons dink. Die dagbestuur van die kuratorium help ons nie deur bloot te verwys na die ongeregverdigde en ongesubstansieerde beskuldigings nie, terwyl daar wel gesubstansieerde kritiek is waarvan ons werk moet maak,” sê die moderator, dr. Johann Ernst, in die agenda.

Hy eis formele reaksie hierop en sê optrede is noodsaaklik, “anders kan dit die einde van teologiese opleiding by die UP beteken”.

In nóg ’n stap sê die NG gemeente Middelburg-Wes in ’n verklaring sy kerkraad is, “na ’n studie van verskeie artikels deur dosente in die teologiese fakulteit van die UP, asook ander kerklikes betrokke by die kuratorium, bekommerd oor die Skrif- en belydenisgetrouheid in teologiese opleiding. Die artikels bevat na ons mening gewis dwaalteologie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui