NG teoloë kap ‘dwaalleer’-brief

Lesers word aangemoedig om na die skakels na hierdie teoloë te gaan kyk om te besef dat alles wat in Ferdie Mulder se brief geskryf is, waar was. Dit is egter hierdie brief wat tot sy lewenslange skorsing gelei het.

Die waarheid is dat hierdie 46 studente wel die brief onderteken het. Toe Flip du Toit, skakel tussen die studente, dosente en die kuratorium, die studente egter met regstappe gedreig het, het die studente hulle name onttrek. Ferdie het egter voortgegaan omdat hy geweet het dat die studente in hulle hart sy saak ondersteun het.

*******

NG teoloë kap ‘dwaalleer’-brief | Beeld

Beeld, 25 Jun 2005 (Saterdag) bl. 14

Talle ‘mede-ondertekenaars’ ook vies; het glo nooit geteken

Johannes de Villiers

Kaapstad. — NG teoloë het gister verontwaardig gereageer op ‘n protesbrief wat deur ‘n vierdejaar-teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria versprei word en waarin hy dosente en vooraanstaande teoloë aanval oor hul beskouing van Jesus se opstanding.

In dié brief, opgestel deur mnr. Ferdie Mulder, beweer hy dat 46 van sy klasmaats dit onderteken het, hoewel dosente aan dié fakulteit ontken dat dit die geval is.

Die brief bevat sienings oor die opstanding waarvan Mulder en sy mede-ondertekenaars hulle distansieer. By elke “dwaalleer” word die naam genoem van ‘n teoloog wat volgens hulle dié gedagte verkondig.

Dit lui: “Ons wil verskil van beskouings wat meen dat Jesus se opstanding nie histories- letterlik en liggaamlik plaasgevind het nie. “Sulke teorieë behels onder meer dat Jesus se opstanding moontlik ‘figuurlik’ (prof. Julian Müller), ‘metafories’ (Müller), ‘nie letterlik’ (Müller), ‘mitologies’ (prof. Dirk Human), ‘simbolies’ (dr. Ben du Toit), ‘n pre-moderne ‘wêreldbeeld’-uitspraak (prof. Jurie le Roux), en dat die opstanding nie om ‘historiese belang’ gaan nie (dr. Louis Jonker).”

Muller, Human en Le Roux is verbonde aan Tukkies se teologiefakulteit, Jonker is ‘n dosent aan die Universiteit van Stellenbosch en Du Toit is die kommunikasiehoof van die Wes- Kaapse sinode.

Onderaan die brief verskyn die name van 46 studente wat na bewering die brief onderteken het.

Dr. Flip du Toit, skriba van die kuratorium in Pretoria, het gister gesê talle van die 46 studente wie se name ingesluit is, ontken skriftelik dat hulle die brief onderteken het. Ander sê hulle is bloot gevra of hulle in die historiese opstanding van Jesus glo en dat hul name ingesluit is indien hulle ja geantwoord het.

“Hierdie brief is baie oneerlik,” het prof. Cas Vos, dekaan van die Pretoriase fakulteit teologie, gister gesê.

“Die studente wie se name deur Mulder ingesluit is, is baie ontsteld daaroor.”

Ben du Toit , een van die teoloë wat in die brief genoem word, het gesê dit is “absolute nonsens” dat hy die historiese opstanding van Jesus ontken het. “Mulder beweer ook in sy briewe hy het broederlike gesprekke met die betrokke teoloë gevoer voordat hy die protesbrief geskryf het — en dit terwyl ek nog nooit een van daardie studente ontmoet het nie.

“Hierdie veldtog is wat my aanbetref ‘n leuenagtige projek.”

Die Pretoriase fakulteit het ook ‘n verklaring uitgereik om te bevestig dat hy die Bybel as Woord van God beskou en dat Jesus op die derde dag opgestaan het uit die dood.

Mulder kon nie gister op sy selfoon bereik word nie.

Een ondersteuner het wel opgeduik in ‘n kletskamer van die Kerkbode , waar iemand onder die opskrif “Kom ons ondersteun die heldhaftige Tukkie-studente!” geskryf het: “Kom ons ondersteun hierdie heldhaftige Tukkie-studente wat met hierdie klag probeer stry teen die wolwe wat in skaapsklere ons toekomstige predikante oplei.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui