‘n Geloofsverklaring

‘n Geloofsverklaring

1 Drie belydenisskrifte

Ons aanvaar die Drie Formuliere van Eenheid in hulle geheel:

2 Skrifgesag

Ons glo dat die Bybel die woord van God is.

Ons aanvaar die betroubaarheid van die Bybel in beide die Ou- en Nuwe Testament.

Ons glo dat alle mense wat in die Bybel (Ou en Nuwe Testament) genoem word historiese persone was wat werklik geleef het, behalwe moontlik Lasarus wat genoem word in die gelykenis van Lasarus en die ryk man in Lukas 16:19-31.

Ons respekteer die verskillende genres in die Bybel en lees geskiedenis as geskiedenis, poësie as poësie, metafore as metafore, gelykenisse as gelykenisse, briewe as briewe, ensovoorts.

Ons glo dat die skrywers van die Bybel, en meer spesifiek die skrywers van die profetiese boeke, wysheidsboeke (Spreuke, Prediker), briewe (Paulus, Petrus, Johannes) en selfs poësie (Psalms) geïnspireer was deur die Heilige Gees.

Ons verwerp die besluit van die NG Kerk se algemene sinode oor skrifgesag in 2002 en 2004. Dit is ‘n kwaadwillige besluit wat die betroubaarheid van die Bybel ontken en die gesag van die Skrif aantas.

Ons verwerp die gedagte dat groot dele van die vroeë Ou Testament, soos die Pentateug, vir die eerste keer in ballingskap (ongeveer 600 vC) neergeskryf is van mondelinge oorvertellinge. (Die woorde “skryf” en “skrywe” en al die ander woorde wat hierdie bevat kom 168 keer in die Ou Testament voor.)

Ons verwerp die idee dat Bybelskrywers en die skrywers van die Drie Formuliere van Eenheid, geskryf het vanuit ’n voorwetenskaplike raamwerk en dat hulle iets anders bedoel het was wat voor die handliggend in die Bybel en belydenisskrifte staan (kyk byvoorbeeld Oor geloof en die wetenskap (Louis Jonker, 2012) en Geloof en die wetenskap 2015).

Kyk ook:

3 Skrifgebruik

Wanneer ons die Bybel lees, gebruik ons die gesonde beginsels van hermeneutiek:

  1. Neem die genre in ag
  2. Skrif interpreteer Skrif
  3. Konteks interpreteer Skrif
  4. Die duidelike interpreteer die onduidelike
  5. Aanvaar die voor die handliggende interpretasie

Ons verwerp die metode van historiese kritiek of skrifkritiek as gesonde skrifgebruik.

Kyk ook:

4 Skepping en sondeval

Ons bevestig punt een van die Apostoliese geloofsbelydenis:

1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde

Ons glo dat die skepping onmoontlik vanself kon ontstaan en daarom glo ons dat God die Skepper van hemel en aarde was en dat Hy dit steeds in stand hou (Psalm 90:17, Kolossense 1:17).

Ons glo dat Adam en Eva die eerste mense op aarde was en dat alle mense vandag van hulle afstam.

Ons glo dat daar ‘n werklike sondeval was waar die duiwel vir Adam en Eva in die gedaante van ‘n slang verlei het om sonde te doen en sodoende sonde in die wêreld in te bring. Die gevolg is dat dood en swaarkry vandag nog deel van die lewe is, anders as hoe God oorspronklik geskep het.

Ons glo dat die sondeval die rede is waarom Jesus (die tweede Adam) aarde toe moes kom om aan die kruis te sterf vir ons sondes. (Rom 5:1-21; 6:23; 8:18-23; 1 Kor 15:21-56; Op 21:4)

5 Profesieë

Ons glo dat profete soos Jesaja, Jeremia, Hosea, Miga, Sagaria, Maleagi en selfs Dawid, onder leiding van die Heilige Gees, ons Verlosser, Jesus Christus, se koms voorspel het selfs al het hulle waarskynlik nie die volle implikasies van hulle eie profesieë verstaan nie. Dit is ook die rede hoekom Jode vandag nog wag vir die Messias.

Ons verwerp die idee dat die profetiese uitsprake in die Ou Testament almal bloot van toepassing was op hulle huidige omstandighede.

Kyk ook:

6 Godsbeskouing

Ons glo dat God ‘n teïstiese God is. Met ander woorde, God is ‘n persoonlike God. Hy is steeds op aarde teenwoordig en sorg steeds vir sy kinders op aarde.

Daarom glo ons ook in die krag van gebed.

Ons glo dat God ‘n drie-enige God is: Vader, Seun en Heilige Gees.

Ons glo dat God ‘n monoteïstiese God is.

Ons verwerp ateïsme, oop teïsme, politeïsme, deïsme, panteïsme, panenteïsme, postteïsme en nieuteïsme.

7 Bestaan van die duiwel

Ons glo dat die duiwel ‘n werklikheid is. Dit is hy wat Jesus in die woestyn verlei het (Mat 4:1-11; Luk 4:1-13; Mark 1:12-13). Die bestaan van die duiwel is die rede waarom Paulus ons oproep om daagliks die volle wapenrusting aan te trek (Efesiërs 6:11-17).

Ons verwerp die besluit van die NG Kerk se algemene sinode in 2011 en 2013 waarin daar ruimte gemaak word vir “lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar.”

Kyk ook:

8 Huwelik

Ons glo dat die huwelik ‘n vaste verhouding tussen een man en een vrou is en dat dit deur God ingestel is (Genesis 2:22-24, Mark 10:9).

Ons glo dat die huwelik bedoel is om lewenslank te wees (“tot die dood ons skei”). Om te skei is verkeerd in die oë van die Here. Die Bybel gee egter riglyne wanneer wel geskei mag word. Kyk Bybel oor egskeiding.

Ons glo dat die seksuele bedoel was om slegs binne die huwelik plaas te vind. Enige seksualiteit wat buite die huwelik beoefen word, is sonde in die oë van die Here.

Ons verwerp die besluit van die NG Kerk se algemene sinode in 2011 waarin daar ruimte gemaak word vir die seksuele buite die huwelik (kyk punt 4).

Kyk ook:

9 Poligamie en poliamorie

Alhoewel God wel poligamie in die Bybel (Ou Testament) toegelaat het glo ons dat God se oorspronklike bedoeling was dat die huwelik bedoel was vir een man en een vrou. Daarom aanvaar ons die Bybelse riglyne daaroor soos gegee in Genesis 2:24; 1 Korintiërs 7:2; Efesiërs 5:28, 31-33; 1 Timoteus 3:2,12; Titus 1:6.

Ons verwerp die praktyk van poliamorie (liefdesverhoudings tussen drie of meer persone waar beide heteroseks en homoseks beoefen word) as afskuwelike praktyk.

Kyk ook:

10 Selfdegeslagverhoudings

Ons glo dat selfdegeslagverhoudings (of homoseksuele verhoudings) nie onder die Bybelse riglyne van ‘n huwelik val nie en dat homoseks daarom sonde is in die oë van die Here. (Levitikus 18:22; 20:13; Romeine 1:27; 1 Korintiërs 6:9-10; 1 Timoteus 1:9-10)

Ons verwerp die besluit van die NG Kerk se algemene sinode van 2015 en 2019 om ruimte te maak vir selfdegeslagverhoudings.

Kyk ook:

11 Seksuele oriëntasie

Ons glo dat mense se geslag bepaal word deur hulle biologiese geslag.

Ons verwerp die idee dat mense homoseksueel, biseksueel of transgender (transseksueel) gebore word en dat so ’n persoon nie kan verander nie. Die voorheen homoseksuele– (“ex-gays”) en voorheen transgender gemeenskap is sprekende voorbeelde daarvan en ons assossieer met hulle. Ons is saam met hulle dankbaar vir die verandering in hulle lewe.

Ons distansieer ons van die LGBTQIA+-beweging wat poog om verskillende seksuele oriëntasies te bevorder.

Ons verwerp uitsprake wat sê dat “seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is”.

Ons is gekant teen geslagsveranderingsoperasies en glo dat dit teen die wil van God is.

Ons erken die verskynsel van interseks (iemand wat byvoorbeeld gebore word wat aan die buitekant vroulik lyk, maar aan die binnekant meestal ‘n manlike anatomie het). Hierdie is deel van die gebroke werklikheid waarmee ons te doen het weens die sondeval in Genesis 3. Ons erken die kompleksiteit van so ‘n situasie en ondersteun die benadering om so ‘n kind eers genoeg kans te gee om te ontwikkel om te bepaal wat sy/haar dominante geslag is, voordat daar enige operasie of behandeling gedoen word.

Kyk ook:

12 Jesus se maagdelike verwekking

Ons bevestig punt drie van die Apostoliese geloofsbelydenis:

3. Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria

Dit beteken dat Jesus maagdelik verwek was, met ander woorde, sonder die hulp van manlike spermselle.

Ons neem met skok kennis dat die Sinode van Noord-Transvaal in 2003 nie ’n kategoriese uitspraak wou lewer oor die geskiedkundigheid van die maagdelike geboorte nie.

Ons verwerp die gedagte van onder andere Andries van Aarde in sy boek Fatherless in Galilee, dat Jesus buite-egtelik verwek was.

Kyk ook:

13 Jesus se opstanding uit die dood

Ons bevestig punt vier en vyf van die Apostoliese geloofsbelydenis:

4. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; 5. wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

Ons glo dat Jesus gesterf het tydens sy kruisiging en op die derde dag liggaamlik uit die dood opgestaan het.

Ons neem met skok kennis dat die Sinode van Noord-Transvaal in 2003 nie ’n kategoriese uitspraak wou lewer oor die geskiedkundigheid van Jesus se liggaamlike opstanding nie.

Ons neem ook met skok kennis dat teologiese student, Ferdie Mulder, sy professore Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human moes aankla oor die feit dat hulle Jesus se liggaamlike opstanding bevraagteken/verwerp het én dat die NG Kerk nie teen genoemde professore opgetree het nie.

Kyk ook:

14 Jesus se Godheid en die drie-eenheid

Ons glo in die drie-eenheid van God: Vader, Seun en Heilige Gees.

Ons bevestig dus punt twee en punt agt van die Apostoliese geloofsbelydenis:

2. En in Jesus Christus, Sy enig-gebore Seun, ons Here;

8. Ek glo in die Heilige Gees.

Ons glo dat toe Jesus op aarde was, hy waarlik God, waarlik mens en sonder sonde was.

Ons verwerp die gedagte dat Jesus bloot ‘n morele leermeester was en voeg ons by die woorde van CS Lewis:

Ek probeer hier verhoed dat iemand die waarlike dom ding sê wat mense dikwels oor Jesus sê: Ek is bereid om Jesus as ’n groot morele leraar te aanvaar, maar ek kan sy aanspraak dat Hy God is, nie aanvaar nie. Dis een ding wat ons nie moet sê nie. Iemand wat bloot ’n man was en die soort dinge sê wat Jesus gesê het, sou geen morele leermeester wees nie. Hy sou ’n waansinnige wees… of anders sou hy die Duiwel uit die Hel wees. Jy moet kies. Hierdie man was, en is, die Seun van God, of anders ’n malmens of iets ergers. Jy kan Hom as ’n dwaas opsluit, of op Hom spoeg en Hom as ’n duiwel doodmaak; of anders kan jy aan sy voete val en Hom Heer en God noem. Laat ons egter nie moet patroniserende onsin vorendag kom dat Hy ’n groot menslike leermeester was nie. Dít het Hy nie vir ons oop gelaat nie. Dit was nooit sy bedoeling nie.

Ons glo dat Jesus wonderwerke op aarde verrig het.

Ons verwerp die idee dat die wonderwerke in die Nuwe Testament vanuit ‘n sogenaamde voorwetenskaplike wêreldbeskouing geskryf is. Met ander woorde, dat die Bybelskrywers sekere gebeure as wonderwerke voorgehou het om Jesus ‘n goddelike status te gee, maar dat dit nie werklik wonderwerke was nie.

Kyk ook:

15 God se geslag

Alhoewel God se karakter soms in die Bybel vergelyk word met die van ’n vrou (Num 11:12; Jes 49:15), moet dit gesien word as vergelykings en nie letterlik nie. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat God Homself as manlik openbaar. (bv Ps 103:13; Jes 9:6-7; Jer 3:19-20; Dan 7:13-14; Joh 1:18; Joh 3:13,16; Joh 4:24; Joh 18:36; Ef 1:20-21; 1 Tim 6:13-15; Heb 1:3-4; Op 1:5-6; Op 17:14; Op 19:13,16)

Daarom aanvaar ons dat God homself as manlik openbaar en daarom moet ons na hom in die manlike persoon verwys.

Ons verwerp die idee dat daar ruimte geskep word om na God as vroulik te verwys. Dit is ‘n aantasting van die gesag van die Bybel met die motief om bloot polities korrek te wees.

Kyk ook:

16 Gendergeregtigheid

Ons glo in die Bybelse riglyne wat sê dat die man die hoof van die huis is en dat die vrou aan haar man onderdanig moet wees. Kyk 1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 5:22-25, 31-33; Kolossense 3:18-21; 1 Petrus 3:1-2,7. Ons glo dat die man se rol groot verantwoordelikheid inhou en nie ligtelik opgeneem moet word nie.

Ons erken dat daar voorbeelde in die Bybel is waar hierdie Bybelse riglyne nie nagekom is nie. Dit is egter opgeskryf as geskiedenis en nie as Bybelse morele riglyne nie. Ons distansieer onsself van sulke optredes. Voorbeelde sluit in: Genesis 29:30; 2 Sam 13:1-22.

Ons verwerp die idee dat hierdie Bybelse riglyne bloot geskryf is vanuit ‘n patriargale kultuur (waar mans alle rolle in die samelewing oorheers) en dat hierdie Bybelse riglyne daarom bevraagteken of selfs verwerp kan word.

Kyk ook:

17 Hemel, hel en redding

Ons glo aan die bestaan van ‘n hiernamaals (lewe ná die dood): alle mense wat te sterwe kom op aarde gaan óf hemel toe óf hel toe. (Kyk Luk 14:14; Joh 5:29; 1 Kor 15; 1 Tes 4:14-18; Op 20:4-6; Heb 11:35; Fil 3:10-15; Dan 12:2.)

Beide die hemel en hel is fisiese plekke waar mense tasbare liggame het.

Die hemel is ‘n plek waar ewige vreugde ervaar word en die hel is ‘n plek waar ewige pyn en lyding ervaar word.

Mense kan slegs toegang tot die hemel verkry deur bekering tot Jesus Christus.

Dit is daarom dat sendingwerk die belangrikste taak van die kerk van die Here is en ook “die groot opdrag” genoem word.

Ons verwerp universalisme (dat alle mense hemel toe gaan).

Kyk ook:

18 Hemelvaart en wederkoms

Ons bevestig punt ses en sewe van die Apostoliese geloofsbelydenis:

“6. wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, 7. van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.”

Ons glo dat Jesus 40 dae ná sy opstanding opgevaar het na die hemel en dat Hy met die wederkoms, wat in Openbaring beskryf word, die aarde met vuur sal vernietig.

19 Werking van die Heilige Gees

Ons glo dat die Heilige Gees een van die drie-eenheid is en op pinksterdag (50 dae na Jesus se opstanding) uitgestort is.

Ons glo dat die Heilige Gees reeds van die begin van die skepping teenwoordig was.

Ons glo dat slegs die Heilige Gees ons kan oortuig om kinders van God te word.

1 thought on “‘n Geloofsverklaring”

  1. Baie goeie samevatting van en korreksie op die afvallige leringe waarmee ons in hierdie tyd te doen het en waarvan ons, ons distansieer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui