Jakobus oor die gelowige gebed

Jesus se broer, Jakobus, het baie te sê gehad oor gebed:

Jakobus 1: (5)As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

Niemand behoort met hierdie stelling ‘n probleem te hê nie.

Jakobus gaan dan voort met:

Jakobus 1: (6)Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

Dit lyk of Jakobus hier wil sê dat as jy nie geloof in jou gebed het nie, God dit nie aan jou sal gee nie.

Jakobus 4: (2)Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. (3)As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

Volgens Jakobus kry ons nie, omdat ons nie bid nie of omdat ons verkeerd bid (uit selfsug).

Beteken dit dus dat indien mens nie uit selfsug bid nie, soos byvoorbeeld vir ‘n sieke, dan sal jy dit kry?

Jakobus 5: (13)As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. (14)As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. (15)En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak…

Indien alles tot dusver in ag geneem word lyk dit dat wanneer ‘n mens gelowig vir ‘n sieke bid, dan sal so ‘n persoon gesond word. Jakobus is egter nie klaar nie:

Jakobus 5: (15) … As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. (16)Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.

Hieruit lei ‘n mens af dat Jakobus praat van siektes weens sonde. Alle siektes word natuurlik nie deur sonde veroorsaak nie (Johannes 9:2-3), maar dit kan gebeur. In die boek Healing begins with the sanctification of the heart, deur MK Strydom word ‘n lys van siektes gegee waarvan sy glo veroorsaak word deur sondes of geestelike redes.

Jakobus 5: (17)Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. (18)Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

1 Konings 17 noem nie dat Elia gebid het nie, maar ‘n mens aanvaar dat dit so gebeur het. Dit is onwaarskynlik dat Elia dit uit eie inisiatief sou bid. Dus was dit waarskynlik nie Elia se idee nie, maar God se plan.

Wat is ons gevolgtrekking?

Uit ervaring weet ons dat God nie alle gebede verhoor soos ons vra nie. Ons kan nie God se arm draai deur lewe te probeer spreek of selfs te vas nie. Ook help dit nie om te sê dat ons gebede gelowig is en daarom moet God dit verhoor nie. Soms is dit bloot eenvoudig God se wil dat slegte dinge met sekere mense gebeur en gaan gebed nie help nie (kyk Verander God van gedagte?)

Daarom lyk dit of Jakobus hier praat van siektes wat veroorsaak word deur sonde. Wanneer ‘n persoon afstand doen van ‘n sonde waaraan hy vashou, tree herstel in.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui