Waardigheid met Ouderdom

Waardigheid met Ouderdom

As ek sit en terugkyk besef ek dat ek in my laaste hoofstuk van my lewe is. Ek besef dat van my gedagtes begin vervaag.

Ouer word verweer nie net die liggaam nie; dit stroop en ontneem jou van die
gedagtes en lewensgeskiedenis, dit maak die verlede los van jou herinneringe.

Nostalgie is ‘n plek om te besoek, maar jy mag nie daar woon nie. Om aan gister vas te klou, steel net vandag van jou.

Wees lief vir jou kinders met jou hele hart, maar moenie van hulle jou aftreeplan maak nie want, finansiële vryheid is jou waardigheid en trots.

Besef dat jou kinders hul eie wêrelde bou.

Siekte is soos vreugde, jy is daarvoor verantwoordelik. Vandag moet gesondheid jou voltydse werk wees – jy moet beweeg, rek en goed slaap.

Om alleen in die lewe te wees is moeilik. Vind vreugde om dingetjies te doen en jouself besig te hou. Aanvaar om stil alleen te eet of die Bybel te lees. Jy moet jou eie vrede skep om eensaamheid te voorkom.

Leer elke dag iets nuut, want die oomblik wat jy ophou nuuskierig wees, is die oomblik wat jy begin oud word. Hou jou verstand aan die beweeg.

Doen vir jouself wat jy kan – dit bou selfvertroue. Jy kan wag vir ‘n redding wat dalk nooit kom nie, of jy kan opstaan en jou eie ding doen. Hou jou oë op die Here.

Danie Barnard – Mosselbaai Santos Haven

Agtergrond

Danie het hierdie geskryf in Augustus 2025, ses maande voor sy dood. Hy het 89 jaar oud geword. Hy het breinkanker gehad en het dit geskryf met die laaste vermoëns wat hy gehad het. Hy het agtergekom dat sy skryfvermoë baie agteruitgegaan het en besluit toe om dadelik sy gedagtes neer te skryf. Hy het hierdie aan ‘n vriend geskryf wat langs hom gewoon het.

Sy troosdiens in Februarie 2026 was ‘n getuienis en viering van sy lewe. Dit was nie swaarmoedig nie, maar het hoop gebring, want voor sy dood het hy getuig daarvan dat sy Verlosser leef.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui