Die Bybel oor gebed

Kyk ook:

Soms wonder ’n mens hoekom ’n mens moet bid as God in elkgeval weet wat in mens se hart is. Die Bybel is egter baie duidelik daaroor dat ons (baie) tyd aan gebed moet afstaan. Hier volg dele in die Bybel oor gebed. Kyk ook wat ander geloofshelde oor gebed gesê het in Aanhalings oor gebed.

********

Nehemia 1:6 (NLV)

(6)Hoor my gebed! “Kyk, en U sal sien dat ek dag en nag vir die mense van Israel, u dienaars, intree in gebed. Ek bely dat ons teen U gesondig het. Selfs ook ek en my familie het sonde gedoen!

Psalm 141:2

(2)Mag my gebed voor U wees soos ’n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos ’n graanoffer in die aand.

Psalm 143:6

(6)Ek strek my hande uit in gebed na U toe, ek is voor U soos ’n uitgedorde land.

Spreuke 15:29

(29)Die Here is ver van die goddeloses af, maar Hy hoor die gebed van die regverdiges.

Daniël 6:11

(11)Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.

Miga 7:7

(7)Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.

Matteus 6:9-13

(9)”So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;(10) laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. (11)Gee ons vandag ons daaglikse brood; (12)en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; (13)en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Matteus 14:23

(23)Nadat Hy (Jesus) die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.

Matteus 18:19

(19)Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,

Matteus 21:22

(22)As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.

Matteus 26:36

(36)Daarna kom Jesus met sy dissipels by ’n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”

Matteus 26:39

(39)Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Matteus 26:41

(41)Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

Matteus 26:44

(44)Hy het hulle weer alleen laat bly en ’n derde keer gaan bid…

Markus 9:29

(29)Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

Markus 14:36

(36)Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

Lukas 6:12

(12)In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.

Lukas 19:46

(46)…‘My huis sal ’n huis van gebed wees,’…

Johannes 16:23-24

(23b) “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. (24) Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

Johannes 17

Gebed van Jesus

Handelinge 6:4

(4)Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.”

Handelinge 12:12

(12)Met dié gedagte is hy na die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem is, waar baie gelowiges saam was om te bid.

Handelinge 16:25

(25)Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.

Romeine 12:12

(12)Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.

1 Korintiërs 7:5

(5)Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ’n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie.

Efesiërs 3:14

(14)Daarom kniel ek in gebed voor die Vader

Efesiërs 6:18

(18)Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

Filippense 4:6

(6)Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

Kolossense 4:2

(2)Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar

1 Tessalonisense 3:10

(10)Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek.

1 Tessalonisense 5:17

(17)Bid gedurig.

1 Tessalonisense 5:25

(25)Broers, bid ook vir ons.

Hebreërs 13:18

(18)Hou aan om vir ons te bid, …

Jakobus 1:5-6

(5) As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. (6) Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.

Jakobus 4:2

(2b)Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

Jakobus 5:13

(13a)As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.

Jakobus 5:14-16

(14) As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. (15) En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. (16) Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.

Judas 1:20

(20)Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees.

Openbaring 5:8

(8)Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ’n siter gehad en ’n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui