Wat ons glo en die NG Kerk

Kyk ook:

Johann Marais het die volgende dokument saamgestel. Hy was prof in Dogmatiek by die Universiteit van die Noorde en is tans leraar van Exelsior in die Vrystaat. Dit is in twee dele:

  1. ʼn Belydenis
  2. ʼn Bespreking van die rol van die Algemene Sinode.

*************

Wat ons glo en die NG Kerk

31 Oktober 2019

Johann Marais

So glo ek steeds

Woord vooraf:

ʼn Belydenis saam met gelowiges voor my. Ek kies om te sê; so glo ek steeds; daarmee sê ek dat die geloof wat ek bely reeds lank voor my bely is. Dit was in ander tye in ander omstandighede, nou wil ek dit sê in die tyd waarin ek nou leef met die vrae wat nou gevra word. Noodgedwonge is dit ook teenoor uitsprake van geloof waarvan ek en die wat voor my bely het, verskil. Die belydenis kom voort uit ʼn luister na en lewe met Hom van wie die Bybel my leer. Die geloof is oor eeue heen deur mense en kerke, deur hulle belydenis voort gedra, tot die dag waarin ek lewe. Ek deel die geloof met Petrus en Paulus maar ook met die kerkvaders van die tyd na Christus en die kerk deur die eeue. Veral word ek beïnvloed deur die geloof wat die Protestante in die 16 eeu bely het. Die terugkeer na die Bybel as bron van ons geloof en belydenis, is die roete wat ek graag in my belydenis met hulle voor my en saam met my, wil volg. Die geloof is tydens die Russiese revolusie en die tweede wêreld oorlog, deur ander oorloë en stryde, bely en het ten spyte van lyding stand gehou. Ek bely die geloof en vind my verbondenheid met almal voor my wat hierdie geloof bely en bewaar het. Verder verbind hierdie geloof my ook aan almal wat die geloof met my deel. Hierdie geloof soos hier verwoord, is belydenis van die God wat aan my sterflike, onvolmaakte en hardnekkige sondigheid, lewe gee. Dit is my hoop, my troos en my sekerheid, dit rig my telkens op te midde van die groot aanvegtinge van die lewe waar die betekenis van my lewe bevraagteken word.

  1. Die Skrif: Ek glo steeds dat die Bybel die woord van God is. As God se woord lees ek dit in sy geheel en in sy groot verbande. Soos dit geskryf is, so lees ek dit, sonder hoofstuk en vers indelings, sonder vertalers opskrifte. So kom God se woord tot my. Dit is hierdie Woord wat deur die Heilige Gees gebruik word om die geloof en lewe in my te verwek. Hierin vind ek God se lewensdoel, vir my wat in sy skepping lewe en Hom daarin moet verteenwoordig. Hierdie Woord is nie onduidelik of onverstaanbaar nie, dit is helder en duidelik. Ek wil dit nie aanvul nie, dit is genoeg vir my lewe met God en my medemens. So lank as wat die kerk van Christus bestaan is dit die wortel, die bron waaruit die geloof en lewe van die kerk groei en waardeur sy bestaan. Ek wys daarom alle godsdienstige oortuigings wat in stryd met die woorde waardeur God Homself as Vader, Seun en Heilige Gees bekend maak, af. Alle pogings om weg te laat of by te voeg aan die Bybelse lewe met God, verwerp ek.
  2. Jesus Christus: Ek glo steeds in Jesus soos die Bybel Hom aan ons vertoon, die Christus wat uit ʼn vrou, wat nog nie met ʼn man gemeenskap gehad het nie, gebore is. Hy is uit God gebore, die Here van die Sabbat, die Seun van God, en die Woord wat by God was en wat God is; ek glo dat Jesus die Koning van alle Konings is, Hy is die Here. Die Skrif maak Hom bekend as die gekruisigde, wat liggaamlik uit die dood opgewek is, die een wat tot in alle ewigheid lewe. Dit glo ek steeds heelhartig. Dit is voor sy regterstoel wat ek sal verskyn, daarom vind ek nou reeds lewe in my verbondenheid aan Hom as genadige Here.
  3. Verlossing: Verder glo ek steeds dat Jesus Christus die enigste Here en Verlosser van die wêreld is en dat die ganse skepping sy doel in Hom vind. Deur Hom het die skepping tot stand gekom en die skepping sal in Hom sy finale bestemming vind. Daarom wys ek af dat daar ander godsdienstige roetes, buite Christus om is, waarlangs ʼn mens in die ryk van God kan tuis kom.
  4. God drie-enig: Ek glo steeds in een God, die Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees. Hulle handel elkeen deur die geskiedenis heen sonder onderlinge stryd, dit is die een handeling van God. Ek glo dat God een en uniek is as Vader, Seun en Heilige Gees.
  5. Die kerk: Ek glo steeds dat die plaaslike gemeente in alle opsigte kerk van Christus is. Sy is nie die hele kerk van Christus nie, maar volledig kerk. In haar is Christus aan die werk met alles wat God deur Hom aan mense wil meedeel. Dit doen God deur die Heilige Gees, selfs al bestaan die kerk uit sondaar mense. Die kerk het die hele Bybel nodig om geestelik gevoed en versorg te word daarom is die verkondiging van die Woord van God voorwaarde vir die bestaan en lewe van die kerk. Dit is wanneer die Woord verkondig word dat die Heilige Gees geloof in Christus tot stand bring en sondaars navolgers van Christus laat wees. Die Gees maak van hierdie vergadering van gelowiges die plek waar die liggaam van Christus teenwoordig is. Deur hierdie woord hou Christus sy kerk in stand, troos en vorm Hy ons.
  6. Uit genade: Lidmaatskap van die kerk van Christus, net soos om ʼn kind van God te word, is omdat God uit genade vergeef en Hy doen dit deur Christus wat uit liefde homself geoffer het. Die vergifnis ontvang ek deur te glo en ek gee alles prys waaraan ek kan dink om myself te regverdiging (vir God aanvaarbaar voor te stel). Alles wat ek so van God ontvang, ook lidmaatskap van die kerk, is geskenk van God wat deur die Heilige Gees, onverdiend myne word.
  7. Kerklike vergaderings: Ek glo steeds dat alle vergaderings van kerke (gemeentes), slegs diensknegte van die plaaslike gemeente is, kerke is nie die diensknegte van vergaderings en sinodes nie. Vergaderinge het nie gesag oor die plaaslike gemeente nie, hulle is instrumente wat aan plaaslike kerke behoort. Die plaaslike gemeente waaraan ek uit genade behoort is dienskneg en oral waar jy mense van die kerk vind, in vergaderings of in die wêreld, is diensknegte van Christus. Die kerk ken net Een wat bo is, alle mense is onder, waar gedien word.
  8. Die band wat kerke bind: Ek glo steeds dat die band wat plaaslike kerke aan mekaar bind, die geloof is wat hulle saam bely en lewe. Hulle verbondenheid kan ons sien wanneer hulle saam bely, vir mekaar sorg, mekaar troos en vermaan. Waar kerke nie saam kan bely en lewe nie, is hulle nie werklik aan mekaar gebind nie.
  9. Gesag in die kerk: Ek glo steeds dat alle gesag binne die kerk (plaaslike gemeente) gesag is wat namens die Here van die kerk uitgeoefen word. Alle gesag waaroor mense beskik, word voortdurend by Christus afgelê. Aan Hom behoort alle gesag in hemel en op aarde. Dit is die taak van die plaaslike gemeente (die Kerk) om haar daarteen te verset indien dit blyk dat gesag wat aan Christus behoort, in mense, vergaderinge of orde reëlings van mense gevestig word.
  10. Beheer: Ek glo dat die kerk in haar lewe saam met Christus, altyd moet waak om nie by enige menslike instansie wat mag tot hulle eie voordeel gebruik, betrek word nie. Om te bely dat alle mag aan Christus behoort mag nie aan getas word nie. Mag, die gebruik en beheer wat dit uitoefen, is eie aan die politiek, besigheid, openbare media en selfs kultuur bewegings. Die kerk waak onverpoosd daarteen dat die belydenis van Christus, in diens van mense, hulle wense en voordeel, gestel word.
  11. Verantwoording: Die plaaslike kerk is verantwoording verskuldig aan die Hoof van die kerk en huiwer nie om openlik voor God en mense te lewe en te getuig nie. Soos die kerk verantwoording aan God doen, so doen sy verantwoording teenoor die kerk of kerke wat saam met haar glo. Hierdie openlikheid vind nie onder dwang plaas nie, in vryheid en uit eie beweging tree die kerk so op.
  12. Selfondersoek: Ek glo ook steeds dat dit eie aan die kerk is om die Skrif voortdurend in sy geheel te ondersoek en in die lig daarvan haar geloof en lewe te ondersoek en te korrigeer. So word die kerk voortdurend gereformeer om die liggaam van Christus te wees. Die kerk bevind haar altyd tussen haatdraende, losbandige, korrupte, goddelose en magsugtige mense. Oral is daar onreg en misbruik. Dit is in die omgewing vir die kerk van Christus van die grootste belang, om die wat aan haar deur die geloof verbind is, te raadpleeg in alle sake wat haar lewe, haar nood en haar uitwasse raak.
  13. Mense binne en buite die kerk: Ek glo ook steeds dat dit die opdrag en voorbeeld van ons Here Jesus is, wat die kerk daartoe dring om mense ernstig te neem. Die kerk doen alles moontlik om mekaar te verstaan, ook die swakhede en sonde wat vir onsself nie so opsigtelik is nie. Ons moet begrip ontwikkel vir ons persoonlike nood en ook die nood van ons as gemeente. Die kerk waak voortdurend daarteen dat die agenda van politici of sosiale drukgroepe haar agenda bepaal. Dit is die werklike nood van mense en nie die agenda van mense wat na beheer streef nie, wat die onverdeelde aandag van ons as kerk eis. Op alles laat die kerk die lig van Christus val. In die kerk self wys lidmate mekaar op Christus wat mense in nood bystaan, troos en versorg, wat ons red uit die ondergang wat ons vir onsself bewerk.
  14. Die samelewing: Ek glo ook dat dit die taak van die plaaslike kerk is om alle moontlike moeite te doen om nie net die Skrif te verstaan nie, maar om die samelewing en die wêreld waarin ons lewe ook te verstaan. Soos ons, ons geloof in woorde uitdruk, is dit nodig dat die kerk ook noukeurig die samelewing en groter wêreld beskryf. Ek glo dat dit die moeisame taak van die kerk is om nie net die Bybel te ondersoek nie, maar om net soveel moeite te doen om die wêreld waarin ons lewe na te vors. Ons as kerk, kry nooit daarmee klaar om die lig van die Evangelie van Christus oor die hele wêreld te laat skyn nie.
  15. Die huwelik: Ek glo steeds dat die huwelik tussen een man en een vrou die enigste manier is waarmee mense kan wys wat God bedoel met die mees intieme manier waarop mense met mekaar kan saam lewe. Dit is ook die veilige verhouding wat Hy geskep het waar kinders gebore kan word en groot word, om hulle lewe lank aan God se liefde en genade herinner te word. Daarom glo ek steeds dat hierdie huwelik, vir gelowiges die permanente plek is waar ʼn man en ʼn vrou mekaar sal lief hê. Wanneer hulle mekaar soos Christus lief het, is dit die plek waar seksuele verkeer mooi, reg en goed is. Buite hierdie huweliksverhouding is seksuele verkeer, verkeerd en afbrekend.
  16. Lyding van Christus: Ek glo steeds dat dit die taak van die kerk is om die lyding van Christus op haar te neem. Selfs wanneer ons onverdiende onreg aangedoen word, verdra ons dit, nie omdat ons minder as ander is nie, maar omdat ons waardige draers daarvan, saam met Christus is.
  17. In die wêreld: Ek glo dat die kerk deur haar lewe altyd eerlik en openlik sal wees. Ons neem dit op ons om onvermoeid in God se wêreld besig te wees en verdraagsaam te wees. Verder pas dit dat ons met pynlike besorgdheid begaan is oor mense en hulle lewensbestemming. In die kerk beywer ons, ons vir die vrede wat van God kom, deur die vergifnis wat ons ontvang, aan ander te bied, selfs al is die gevolg onverdiende lyding.
  18. Ek glo steeds: So glo ek steeds in die God van die Bybel, Hom bely ek, ek kan nie anders nie.

Is die Algemene Sinode, die Here aan die woord en verteenwoordig die AS die N G Kerke in Suid Afrika?

Die vraag is weersprekend in homself, tog moet die vraag beantwoord word, omdat die media en die Algemene Sinode van die N G Kerk die indruk werk dat daar ʼn enkele plek is waar jy die N G Kerk kan kry en waar die kerk sê wat die hele kerk glo of behoort te glo, en die enkele plek, is die Alg Sin. Teen hierdie indruk wat gewek word, is daar besware want:

  1. Die Algemene Sinode verteenwoordig nie alle N G Kerke (gemeentes) nie. Dit is ʼn klein seleksie uit die kerke binne die kerkverband wat by die Algemene Sinode teenwoordig is. Verder is daar ʼn groot verteenwoordiging van persone uit die strukture van die kerk wat nie daar is op grond van hulle deelname aan ʼn gemeente nie. Die indruk wat geskep word dat die Algemene Sinode die geloofstandpunt van die N G Kerke weergee, is dus nie korrek nie.
  2. Daar is ernstiger vrae te vra oor die Algemene Sinode van die N G Kerk. Om mee te begin kan ons vra na die ontstaan daarvan. Hoe het dit gekom dat die Sinodes van die N G Kerke tot die punt oor gegaan het om ʼn Algemene Sinode tot stand te bring. Die N G Kerke oor die land wou graag een sinode saam wees, iets wat in die 19e eeu deur ʼn hofbeslissing onmoontlik gemaak is. Daar het egter na die Anglo-boereoorlog stemme begin opgaan dat die Afrikaners moet verenig en dat ʼn manier om dit te doen een N G Kerk sal wees (Dr D F Malan). Dit is dan opmerklik dat na die oorwinning en vestiging van die Nasionale Party as regerende party in Suid-Afrika die beweging vir een Sinode vir die N G Kerke ook momentum gekry het. Daar is allerlei argumente aan gevoer hoe dit moontlik is om ʼn Algemene Sinode saam te stel wat nie uit alle lidkerke bestaan nie (Sinode contracta). Indien jy saam met die beweging vir een sinode wat die N G Kerke kan verteenwoordig, ook twee ander sake in ag neem bevestig dit dat die beweging vir ʼn liggaam wat namens die grootste Afrikaanse kerkgroepering kan praat sterk uit die politiek en afrikaner nasionale beweging aan gestu is.
  3. Die een is die onmiddellike opneem van die regverdiging van Apartheid uit die Bybel en die tweede is waarskynlik die groot getal predikante van die N G Kerke wat aan die Afrikaner Broederbond behoort het. Dit is sekerlik so dat daar ook mooi kerklike motiverings aan te bied is. Om egter ʼn sinode te vestig wat in wese nie die Gereformeerde uitgangspunt dat ʼn kerklike vergadering ʼn vergadering van gemeentes is nie, op sy te skuif en ʼn kerklike vergadering wat hierdie beginsel prys gee daar te stel, laat ernstige vraagtekens oor sommige van die redes waarom die Algemene Sinode tot stand gekom het. Vroeg in die AS se bestaan het dit reeds duidelik geblyk dat hy mag gebruik om sy standpunt oor Apartheid en die implementering daarvan binne kerklike strukture te vestig. Die AS het dus deel geneem aan die vestiging van ʼn saak waarvoor daar nie werklik ʼn opdrag in die Skrif was nie. Die prysgawe van die ondersteuning van apartheid na 1994, het nie beteken dat die AS daarmee saam ook sy mag om te beïnvloed en die kerk in ʼn rigting te neem, prys gegee het nie. Die probleem van die AS is ongelukkig steeds dat dit ʼn gevoeligheid gehad het en het vir die strominge in die samelewing en dit akkommodeer en teologies bevestig, sonder dat daar duidelike begeleiding in daardie rigting deur die Skrif is. Die goedkeuring van gay huwelike is nie anders en vind ook nie anders plaas as met die goedkeuring van apartheid en die implementering daarvan in die kerk se strukture nie. Nie een daarvan is in opdrag van die Here Jesus nie.
  4. Wanneer ʼn liggaam nie verteenwoordigend is nie, skep dit die pretensie dat dit namens almal praat, wat nie die geval was en is nie. Dat dit as Algemene sinode ʼn baie sterk politieke ondertoon gehad het, was duidelik uit die hantering van teoloë wat nie die politieke gang van die Sinode gedeel het nie, bekendes soos Beyers Naude, Ben Marais en ander vertel die verhaal.
  5. Die eerste infeksie wat ʼn organisasie opdoen wanneer dit aan ʼn magsinstrument gedienstig word, is beheer, voorskriftelikheid, invloed en marginalisering van onwilliges. Hiervan is daar genoeg voorbeelde van uit die Algemene Sinode en die kerkordelike maatreëls wat ingestel is om godsdienstige gesag van die kerkeverband in die Algemene Sinode te vestig.
  6. Soos die AS huidiglik funksioneer is dit nie ʼn vergadering van die kerke(gemeentes) van die N G Kerk verband nie, maar is dit ʼn vergadering met ʼn eie lewe en agenda. Die AS vergadering kan sonder gemeentes se instemming enige rigting inslaan en as dit lank genoeg daarmee aanhou die rigting van die N G Kerk in ʼn Skrifvreemde en belydenisvreemde rigting stuur, soos wat dit huidiglik doen met die gay huwelike.
  7. Wanneer die gay debat byvoorbeeld gevolg word, is dit duidelik dat die doelpale telkens van Sinode tot Sinode geskuif is. Die Gay Agenda is nog nie afgehandel nie en die doelpale sal nogeens geskuif word om dit uiteindelik die enigste standpunt van die AS te maak. Hou net aan om elke keer ʼn bietjie verder te skuif en maak die teenstanders net sat en moeg van baklei en die saak word in sg. liefde en vrede afgehandel.
  8. Indien die AS die vergadering van al die kerke van die N G Kerk verband is, waarom raadpleeg hulle nie die gemeentes in die verband nie?
  9. Die AS het ʼn instrument van mag geword wat vanuit ʼn klein groepie se oortuigings voorskriftelik optree en vir lidmate sê hoe hulle behoort te dink en hoe hulle nie net moet dink nie maar ook voel wanneer oor die saak van Gay Huwelike gepraat word.

Daar is min moontlikhede vir die AS om as gereformeerde vergadering te funksioneer. ʼn Skrifgetroue benadering sou wees dat alle gemeentes in kerkverband by mekaar kom en ʼn besluit neem, of alle gemeentes word oor ʼn saak geraadpleeg en die uitslag kan gewoon deur ʼn administratiewe kantoor bekend gemaak word. Daarvoor is ʼn Sinodesitting nie nodig nie.

In ʼn onlangse radio gesprek het die Moderator (hoof van die N G Kerk) gesê dat daar deeglike verslae en debat gevoer is en dat daar wel deurdagte besluite geneem is en dat daar na die besluit ʼn hartlike eenheid in die AS was. As dit die geval was, toon dit juis aan dat die AS nie al die gemeentes van die N G Kerk verteenwoordig nie. Die N G Kerk het die afgelope 2 dekades nie meer in sy AS ʼn gesonde tradisie van teologiese debatvoering nie.

Mag en beheer speel te groot rol in die AS, dit is bepalend vir die uitkoms van besluite wie die Moderator (hoof van die N G Kerk) is. Hy praat dan daarna namens die kerk, hy word gevra wat gaan aan in die NG Kerk. Hy is die verteenwoordiger van die kerk. Hy het ʼn groot invloed in besluite. Die media vra hom waarheen is die kerk op pad. So tree hy as die moderator en as meningsvormer op en het hy mag buite verband, veel meer as ʼn predikant van ʼn gemeente. Daar is dus ʼn hele klomp mag in die persoon van die moderator van die AS gevestig en dit word onregmatig benut.

Dit geld ook die ontwerpspan van die Sinode, hulle bepaal wat waar en wanneer bespreek sal word en hoeveel tyd daaraan afgestaan sal word. Hulle besluit wie doen die dag opening en hulle bepaal die atmosfeer en wie mag praat en wie nie. Die afgelope AS het mense wat nie deel van die Sinode is geleentheid gekry om te praat, maar persone wat ʼn beswaarskrif in gestuur het, is nie toe gelaat om te praat nie. Dit is die mag waaroor die ontwerpspan beskik. So kan uitkomste bepaal en aangehelp word. Werklike teologiese debat word op hierdie manier nie aan gehelp nie en dit blyk dat die AS nie ʼn geskikte forum is waar teologiese debat tot sy reg kan kom nie.

Indien die AS die weg van Christus wil bewandel moet hulle alle mag prys gee en die mag om te besluit aan gemeentes gee wat dit aan Christus moet afstaan. Dit kan gemeentes slegs doen as hulle, hulle aan die Heilige Gees se leiding onderwerp wanneer hulle die Bybel en die samelewing bestudeer.

1 thought on “Wat ons glo en die NG Kerk”

  1. Hieruit is dit nie baie duidelik hoe daar prakties as ’n Algemene Sinode gefunksioneer kan word nie.
    “Kerkbode” as magsmiddel en die Kuratoria wat toesig het oor die opleiding en vorming van leraars word steeds binne die hande van geselekteerde persone gehou, wat steeds toelaat dat sekere gedagterigtings bevorder word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui