‘Die pad vorentoe is nie afskeiding óf parallelle strukture nie, maar volharding binne kerkverband’ – Vraag en antwoord met Ring van Louis Trichardt

Hierdie is ‘n teleurstellende standpunt van die Ring van Louis Trichardt, wat reeds sedert ten minste 2011 ‘n behoudende roepstem in die NG Kerk was. Ek het kommentaar gelewer tussen die teks en ook sommige dele in geel uitgelig.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘Die pad vorentoe is nie afskeiding óf parallelle strukture nie, maar volharding binne kerkverband’ – Vraag en antwoord met Ring van Louis Trichardt – Kerkbode

Kerkbode

Woensdag, 18 Februarie 2026

Die Ring van Louis Trichardt het, ná jare se gesprekvoering, klarigheid by hulle streeksinode (Noordelike Sinode) gekry dat samestellende gemeentes in dié deel van die land hulle in die NG Kerk kan bly handhaaf mét die “siening en hantering van selfdegeslagverbintenisse (SGV) as sonde”. Kerkbode het sewe vrae aan die ringsverteenwoordigers gerig. Hulle het só gereageer: “Ons antwoord as ring graag met die verwysing dat u ons as ring se mening oor die interpretasie van die Sinodale Diensraad (SDR) oor die AS-besluit vra. Ons as ring het saam met die SDR Noordelike Sinode dit vir gemeentes moontlik gemaak om ’n eie oortuiging in gemeentes oor SGV te bedien sonder om alternatiewe kerkstrukture soos die Koinonia-Sinode of kategoriale ringe en sinodes naas die bestaande kerkstrukture te skep. [Daniel Louw: Dit word gesê asof dit ‘n deurbraak is. Beide die 2015– en 2019-besluit oor SGV het dit egter baie duidelik gemaak dat elke gemeente die vryheid het om hierdie saak te hanteer soos hulle wil.] Ons moet net in gedagte hou dat hierdie nou die besluit van die SDR van Noordelike Sinode is en nie ’n besluit van die Ring van Louis Trichardt is nie. Ons antwoord graag u vrae as ring met die verstandhouding dat die antwoorde nie noodwendig die mening van die SDR weerspieël nie.”

Kerkbode : Kan julle ’n paar praktiese winste noem wat hierdie uitkoms inhou vir – byvoorbeeld – lidmate in gemeentes?

Ring van Louis Trichardt: Die ruimte wat die Algemene Sinode se besluit skep, maak dit moontlik dat daar binne een gemeente verskillende, selfs teenstrydige benaderings tot SGV bestaan.

[DL: Dit is streng gesproke nog altyd die geval. Die vraag is: hoe kan daar eenheid binne ‘n gemeente wees indien dit die geval is?]

Die implikasie daarvan is dat SGV as sonde en liefde gelyktydig in ’n gemeente verkondig kan word. Die praktiese wins van die SDR se interpretasie is:

  1. Dat lidmate nou doelbewus kan inskakel by gemeentes wat as gemeente ’n duidelike en eenvormige geloofsoortuiging hieroor handhaaf.
  2. Sulke gemeentes nie in ’n staat van permanente konflik met bestaande ringe, sinodes en die Algemene Sinode staan soos die Koinonia-Sinode of kategoriale ringe of sinodes nie, maar deel van die een bestaande kerkstruktuur bly.
  3. Dit beskerm lidmate teen verwarring en innerlike verdeeldheid wat ontstaan wanneer fundamentele geloofsake soos SGV binne dieselfde gemeente verskillend verkondig, hanteer en geakkommodeer word. [DL: Hierdie stelling maak hoegenaamd nie sin nie. Daar gaan juis meer verwarrend wees wanneer een predikant glo dat SGV ‘n gawe van God is terwyl die ander predikant glo dat dit sonde is.]
  4. Lidmate kan nou stem oor SGV deur by watter gemeente hulle inskakel nadat hulle stem nie in die besluite oor SGV verreken was nie.

Kerkbode : Is daar kernaspekte van hierdie besluit wat jy dink maklik misverstaan kan word? Wat is die potensiële misverstand?

Ring van Louis Trichardt: Een moontlike misverstand is dat hierdie besluit van die SDR van Noordelike Sinode teenoor die besluit van die AS (Algemene Sinode) staan. Hierdie besluit staan nie teenoor die AS se besluit nie maar is ’n interpretasie van die SDR van die behoorlike uitvoering van die AS-besluit. Dit is nie ’n besluit oor ’n besluit nie. Dit is ’n interpretasie van ’n besluit.

Die Algemene Sinode se besluit het ruimte gelaat vir verskillende oortuigings oor die hantering van SGV binne die NG Kerk. Die SDR se interpretasie gee rigting aan hoe daardie ruimte kerkregtelik en prakties hanteer kan word, sonder om buite die raamwerk van die Algemene Sinode se besluit te beweeg.

Dat SGV tegelykertyd vir kerkrade en leraars sonde en liefde kan wees, is die bedoeling van die AS-besluit self. Daarom het die SDR die interpretasie van die besluit as ’n behoorlike vertolking van die AS-besluit goedgekeur. Die ruimte dat kerkrade en leraars kan besluit dit is óf sonde óf liefde, is die ruimte wat die AS-besluit self geskep het. [DL: En dit is presies die rede hoekom Koinonia Sinode nie daarmee kan saamgaan nie. Hoe kan behoudendes aan ‘n denominasie behoort waar ruimte gemaak word vir sonde?]

Die ander misverstand is dat dit net ’n vergunning van die SDR Noordelike Sinode aan die Ring van Louis Trichardt en gemeentes binne hierdie ring sou wees. Hierdie interpretasie geld vir alle gemeentes en ringe in die Noordelike Sinode, met die waarskynlike kerkregtelike implikasie dat dit ook in ander sinodes, ringe en gemeentes so geïnterpreteer en hanteer kan word.

[DL: Weereens, dit is niks nuut nie.]

Kerkbode : Is daar spesifieke aspekte van die konteks waarin julle lidmate leef, wat jy glo ’n mens sal help om die besluit beter te verstaan as ’n mens daardie gegewens goed verstaan?

Ring van Louis Trichardt: Nee. Daar is geen spesifieke geografiese, kulturele of sosiale konteks wat die besluit beter of anders verstaanbaar maak nie. In hierdie opsig verkeer ons lidmate, kerkrade en leraars in dieselfde situasie as enige ander gemeente binne die NG Kerk in Suid-Afrika.

Die konteks waarin hierdie besluit verstaan moet word, is hoofsaaklik kerkordelik en teologies van aard. Die Algemene Sinode het besluit om nie ’n bindende, normatiewe uitspraak oor die hantering van SGV te maak nie, en het ruimte gelaat vir kerkrade en leraars om binne die raamwerk van die kerkverband volgens hulle Skrifverstaan op te tree. Die SDR se interpretasie gee rigting aan hoe hierdie ruimte verantwoordelik binne die sinodale verband hanteer kan word, sonder om dit aan spesifieke streke, kulture of gemeenskappe te bind.

Ten opsigte van die besluit van die AS is elke gemeente, kerkraad en leraar in presies dieselfde konteks – die beleidsvormende vergadering van die NG Kerk, die AS, het sy bevoegdheid om volgens die Woord van God duidelike besluite te neem en leiding volgens die Skrif en belydenis aan ander kerkvergaderings te gee, geabdikeer. Dit het hulle gedoen met die motivering dat hulle as vergadering hulle oor SGV teen die Skrifhantering en Skrifuitleg oor SGV vasgeloop het. Toe het hulle hulle sinodale bevoegdheid met die laaste besluit effektief aan elke kerkraad en leraar in die NG Kerk oorgedra om self hieroor volgens God se Woord hulle eie geloofsoortuiging te vorm, uit te leef en toe te pas. So volg elke gemeente en leraar nou effektief oor SGV sy eie Skrifhantering en eksegese.

Kerkbode: Punt 3.4 van die Algemene Sinode se 2023-besluit rondom SGV bepaal reeds dat kerkrade nie selfdegeslagverbintenisse hóéf te bevestig nie. So ’n mens lei af julle besluit gaan daaroor dat julle spesifiek wou uitspel dat julle glo SGV is sonde. Is dit ’n regverdige afleiding?

Ring van Louis Trichardt: Ja, dit is ’n regverdige afleiding. Die ring wou dit duidelik stel dat ons SGV as sonde verstaan vanuit ons Skrifverstaan en geloofsoortuiging. Ons moet onthou dat punt 3.4 geld vir kerkrade sowel as vir leraars. Die indruk wat die besluit kan wek, is dat dit ’n besluit is oor die administrasie van SGV se bevestiging volgens die landswette vir kommissarisse van ede. Dit word ook in praktyk so gesien en toegepas asof ’n leraar los van sy gemeente en kerkraad as kommissaris van ede volgens sy eie gewete en oortuigings, en nie volgens die geloofsoortuigings en waardes van sy of haar kerkraad hoef op te tree nie. Die gesprek oor seksualiteit is ’n geloofsaak wat die geloof in die Here en die geloofsgehoorsaamheid aan die Here wesenlik raak. Dit is nie ’n kerklik of staatkundige administratiewe saak nie. Om dit nie hoef te doen nie het die direkte implikasie dat dit is omdat dit teen jou geloof in en gehoorsaamheid aan die Here is. Dit is hoe die SDR die besluit gesien en geïnterpreteer het. Dié wat SGV bevestig, sien en doen dit ook nie net as ’n administratiewe staatsplig nie. Hulle doen dit oorwegend uit die geloof dat SGV ’n gawe van die Here is en die lewe in SGV gehoorsaamheid aan die Here Jesus Christus is.

Kerkbode : Die Teologies Kategoriale Ring in die Vrystaat is verlede jaar geskep vir gemeentes enige plek in die land wat glo SGV is “on-Skriftuurlik en ’n gruwel in God se oë”. Hoekom sou julle nie daar aansluit eerder as om ’n aparte reëling te tref met Noordelike Sinode nie?

Ring van Louis Trichardt: Die kategoriale ring in die Vrystaat is in wese nie ’n ring nie. Dit is ’n nuwe sinodale verband binne die bestaande sinodale verbande waarby enige gemeente oor die land kan inskakel. Die SDR Noordelike sinode se vertolking van die AS-besluit sluit die skep van nuwe alternatiewe verbande uit. Daarom hoef die Ring van Louis Trichardt en ringsgemeentes uit geen bestaande verbande uit te tree en by ander nuwes aan te sluit nie. Hierdie kategoriale ring sal ook net soos die Koinonia-sinode na ons mening nie die toets van die Kerkorde slaag nie. Dit was ’n noodsprong. [DL: Hiermee kan ek saamstem. Nie die Koinonia Sinode of die teologies kategoriale ring is kerkordelik nie. En dit is ‘n noodsprong, maar wat die Ring van Louis Trichardt nou doen, grens daaraan om jou geloof te verloën.]

Verder verander die nuwe kategoriale ring een geloofsverband na iets anders – ’n netwerk van spiritualiteite. Die Ring van Louis Trichardt se gravamen aan die AS 2023 het spesifiek hierdie verandering van die kerkverband deur die SGV-besluit van ’n geloofsverband na “netwerk van diverse spiritualiteite” aan die orde gestel. Hierdie gravamen se inhoud is nie deur die AS aangespreek nie. Sou dit hanteer gewees het was hierdie kategoriale opsies onnodig.

Ons het aangetoon dat die kerkverband deur hierdie besluit in wese van een geloofsverband na ’n netwerk van teenstrydige diverse spiritualiteite verander word, sonder dat hierdie veranderde geloofsverband amptelik gestel of aangespreek word. ’n Geloofsverband gaan oor ons geloof in en gehoorsaamheid aan Jesus Christus soos Hy Hom in sy Woord openbaar. ’n Netwerk van spiritualiteite gaan oor diverse en dikwels teenstrydige godservarings wat iets anders is as die openbaring van die Here in en deur sy Woord. Die samestelling van die NG Kerk was tot en met die besluit oor SGV ’n geloofsverband. Die skep van iets soos ’n kategoriale ring naas ander ringe waarby gemeentes landswyd kan inskakel, is nie ’n nuwe ringsverband nie. Dit is ’n nuwe spirituele verband wat nie meer ’n geloofsverband is nie. Ons as ring, en met die besluit van die SDR, ook die SDR, wil een kerklike geloofsverband erken en behou. [DL: Dit is lagwekkend dat die Ring van Louis Trichardt enigsins kan praat van ‘n geloofsverband wanneer hulle glo dat SGV sonde is terwyl ander lede in die denominasie glo dat dit ‘n gawe van God is.]

Kerkbode : Die briefskrywer Theo Danzfuss het verlede jaar uitgewys dat die einste Teologies Kategoriale Ring dieselfde teologiese oortuigings as Koinonia Sinode en die ander kategoriale ringe huldig. Hoekom sluit julle Ring nie by Koinonia aan nie?

Ring van Louis Trichardt: Die verskil tussen die Koinonia-sinode en die AS gaan oor wat die Koinoniagroep “liberalisme” noem, en van die AS af geredelik aangedui word as “fundamentalisme”. Hierdie dualisme is misplaas. Dit stel nie die werklike geloofsake waaroor die grondliggende verskille in die NG Kerk gaan aan die orde nie. Ons wil nie by hierdie konflik betrokke raak nie, want dit is vir die besluit oor SGV nie nodig nie.

Vir die ring lê die dieper geloofsvraag daarin of die kerk in haar leer en lewe Christus as Here gehoorsaam is volgens die openbaring van God in die Skrif. Vanuit hierdie oortuiging verkies ons om binne die bestaande NG Kerkverband te bly werk, gesprek te voer en verantwoordelikheid te neem, eerder as om by nuwe of afsonderlike kerkverbande aan te sluit. [DL: So wanneer gaan die Ring van Louis Trichardt weer oor SGV gesprek voer binne die Noordelike Sinode? Spreuke 17:9 sê iets hieroor: “wie ‘n saak bly ophaal, bring verwydering tussen vriende.” Dus sal daar nooit eenheid wees nie. Nêrens lees ons in die Bybel dat ons aanhou aan mense moet bly karring totdat hulle tot bekering kom nie. Jesus het in Matteus 10:14 gesê “skud die stof van julle voete af“.]

Hierdie benadering is reeds oor ’n lang tydperk deur die ring oordink en verwoord in verskeie dokumente wat aan die SDR van Noordelike Sinode voorgelê is. Dit bevestig ons oortuiging dat die pad vorentoe vir ons nie lê in afskeiding of parallelle strukture nie, maar in getroue volharding binne die kerkverband waarin ons geplaas is.

Beide die sogenaamde fundamentaliste en liberaliste deel dieselfde bygeloof dat hulle met Jesus identifiseer en nie in Hom as Here glo nie. [DL: Ek hoor altyd van die fundamentaliste, maar niemand kon my al sê wie hierdie mense is nie.] Die werklike geloofsverskil in die NG Kerk gaan oor iets anders – dit gaan oor of jy in die Here Jesus Christus glo en Hom as Here gehoorsaam, en of jy met God deur Jesus identifiseer. Dit is die werklike geloofsaak wat die NG Kerk verdeel. Beide die sogenaamde fundamentaliste en liberaliste wil ironies genoeg gewoonlik deur Jesus met God identifiseer. Ons wil in die Here glo vir wie Hy as God en mens is, en Hom as Here gehoorsaam. Ons wil nie deur Jesus met God identifiseer nie.

Die Ring van Louis Trichardt het in 2019 hierdie saak in twee dokumente aan die SDR Noordelike Sinode gestel wat dit inhoudelik behandel het 1: “Die aanbidding van Jesus as God en verering as afgod in die NG Kerk.” 2. Die aanbidding van Jesus as God en verering as afgod in die NG Kerk in die doop.” (Antwoord verkort – Red ).

Kerkbode : Julle gebruik ’n uitdrukking wat ’n mens baie hoor in die NG Kerk, naamlik dat “ons mekaar kon vashou in hierdie gesprek”. Hoe sou jy die beeldspraak verduidelik? Gaan dit nie oor presies die soort verdraagsaamheid en verskeidenheid van sienings wat julle nou uit julle gemeente- en ringstrukture verwyder deur leraars kontraktueel aan een standpunte te verbind nie?

Ring van Louis Trichardt: Wanneer ons sê dat “ons mekaar kon vashou”, bedoel ons nie bloot ’n oppervlakkige verdraagsaamheid of ’n gemaklike saamwees ondanks diep geloofsverskille nie. Ons verstaan hierdie uitdrukking vanuit die Skrif as ’n eenheid in Christus self – een Here, een geloof, een doop en een liggaam (Efesiërs 4:4-6).

Die saak wat die ring van die begin af oor SGV gestel het, is dat ons nie as gelowiges met mekaar ’n onderlinge samehorigheid en gemoedelikheid kan smee, buite, in teenstelling tot en sonder die eenheid wat ons in Christus is nie. Die besluit van die AS raak nie net ons nie maar Jesus Christus as Here en God direk. Volgens hulle besluit is Jesus vir sommige die Here wat hulle deur sy Gees lei en oortuig dat SGV liefde is wat Hy in hulle skep en waarin Hy hulle seën. Vir ander gelowiges lei die Here deur sy Gees dat SGV sonde is en volgens sy Woord as sonde moet hanteer. Ons as ring het dit openlik op die AS 2023 aan die vergadering gestel dat met hierdie besluit ons ’n eenheid van samehorigheid en gemoedelikheid met mekaar smee wat die Here in die hemel ’n innerlik verdeelde en verskeurde God in Homself teenoor ons maak. Ons sien ware verdraagsaamheid in hierdie saak volgens Galasiërs 6:1 en 2, en nie volgens ’n nuwe gesmede spirituele eenheid met mekaar wat van God ’n verwarde God maak nie. Gemeentes kan nie met leraars so verdraagsaam wees dat hulle van God ’n innerlike verwarde, verskeurde God maak nie.

Hierdie tipe verdeeldheid wat die AS-besluit nou in die kerk ingedra het, is sake waarvan die Heilige Gees die Here se kerk oor dekades en selfs oor eeue heen deur suiwer. Dit is nie verdeeldheid wat sommer gou-gou deur ’n paar sogenaamde kerkleiers op kerkvergaderings administratief opgelos kan word nie. Die interpretasie van die SDR erken hierdie geloofskarakter van langdurigheid in die Here se kerk en skep juis hiervoor ruimte.

Verder is dit al waargeneem dat dominees die gewoonte het om nadat ’n kerkraad hulle met onderhoude gekeur het, en hulle by gemeentes met dienskontrakte bevestig is, om daarna ’n stem van God te hoor, ’n nuwe goddelike visie of missie te kry, ’n diep goddelike ervaring met God te beleef of ’n Bybelteks te kry waardeur hulle dan hulle oortuigings en verbintenisse in God se Naam verander, sonder om hulle verbintenis tot hulle dienskontrakte met gemeentes in ag te neem. Met hierdie spirituele magsposisie kan ’n leraar dan op die kansel klim en presies die teenoorgestelde geloof of gehoorsaamheid preek en leer waarvoor hy of sy aanvanklik aangestel is. Die SDR se interpretasie is dat as ’n leraar ’n ander geloof, opvatting, ervaring of lering gekry het die kerkraad dit kontraktueel met hulle mag opneem. Hy/sy mag nie teen hulle kontrak met die kerkraad hom op nuwe oortuigings en waardes beroep in stryd met hulle aanstelling asof God hulle daartoe die reg teenoor die kerkraad gee nie. (Antwoorde goedgekeur op die uitgebreide ringsitting van die Ring van Louis Trichardt, 05.02.2026).

[DL: Hierdie is bloot ‘n desperate poging om nie van die NG Kerk te skeur nie. My vraag is: het hierdie ring meer lojaliteit aan die NG Kerk as aan God?]

Kommentaar

Daniel Louw

18 Februarie 2026

Dit is uiters teleurstellend dat die Ring van Louis Trichardt op die ou einde hierdie standpunt ingeneem het. Ek wil selfs sê dat dit is om jou geloof te verloën is.

Dit lyk of daar aan die Ring van Louis Trichardt iets verkoop is wat hulle reeds lankal gehad het. Amper soos om ys aan ‘n Eskimo te verkoop.

Die 2015- en 2019-besluit was nog altyd baie duidelik daaroor dat gemeentes self kan besluit hoe hulle die saak hanteer. Nou maak hulle of dit ‘n nuwe deurbraak is.

Daar word gesê:

Die ruimte wat die Algemene Sinode se besluit skep, maak dit moontlik dat daar binne een gemeente verskillende, selfs teenstrydige benaderings tot SGV bestaan.

En dan net onder dit:

1. Dat lidmate nou doelbewus kan inskakel by gemeentes wat as gemeente ’n duidelike en eenvormige geloofsoortuiging hieroor handhaaf.

4. Lidmate kan nou stem oor SGV deur by watter gemeente hulle inskakel nadat hulle stem nie in die besluite oor SGV verreken was nie.

As jy verskillende sieninge binne een gemeente kan handhaaf, hoekom sal dit vir lidmate nodig wees om van gemeente te verander?

Ek het so ‘n suspisie dat daar baie lidmate in hierdie ring is wat ongelukkig is oor hierdie standpunt.

Kan iemand ook vir my verduidelik wie die fundamentaliste in die NG Kerk is? Ek ken niemand wat die beskrywings wat altyd aan hierdie groep toegeken word, pas nie.

Dolf

19 Februarie 2026

Daar kan nie twee weersprekende en/of teenstrydige interpretasies van dit wat vervat is in die Woord van God wees nie (oor enige onderwerp), of die een is reg en die ander verkeerd, maar albei kan nie die waarheid wees nie. Wanneer warm en koue water gemeng word, bring dit lou water voort.

Openbaring 3:15-16 lees: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.”

Danie Kritzinger

20 Februarie 2026

Ek vra maar net: Wat van Matteus 12:25-26? As ek die briewe en uitlatings lees en luister, en die verdeeldheid hoor dat dieselfde ding vir sommige sonde kan wees en vir ander, in dieselfde kerkverband, nie sonde is nie, dan is die NG Kerk as kerkverband(huis) mos besig om ten gronde te gaan, Jesus se woorde, nie myne nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui