Die NG Kerk en skrifgesag

Die NG Kerk se Algemene Sinode het die volgende besluite geneem oor skrifgesag:

2002

2002 NGK besluit oor skrifgesag

Die manier waarop in die 2002-verslag van die Algemene Sinode oor die Bybel gepraat word, het nie die effek om lidmate of predikante se geloof in die Bybel as Woord van God te versterk nie, maar om dit af te breek. Die “menslike” aandeel in die totstandkoming van die Bybel word op só ’n manier beklemtoon, dat die oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees (2 Pet. 1:21) op die agtergrond gedruk word. Hierdie feit word duidelik uit onder andere die volgende sinsnedes wat in die verslag voorkom:

“menslike karakter van die Skrif”

“gewone mensewoorde”

“die Bybel as menslike boek”

“menslike “foute” in die Bybel”

“volgens moderne standaarde nie voldoen aan wetenskaplike eksaktheid nie”

“wetenskaplike “swakheid”

“geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”

“Die voorbeelde [van foute in die Bybel] kan eindeloos vermeerder word”

“As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie”

“Dus is die Bybel self reeds interpretasie wat in elke tyd opnuut vertolk moet word”

“Selfs “fiksie” en “foute” staan in diens van die Waarheid”

“Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen”

“bedoeling van die Skrif … nie geleë in wetenskaplik korrekte informasie nie, maar in die heilskarakter daarvan”

“bedoeling nie geleë in historiese eksaktheid nie”

“beheptheid met die letter van die Skrif”

“juis die moderne tyd as gevolg van dramatiese groei in kennis, ons diep onder die indruk gebring het van die feit dat die Bybel geen handboek is vir die wetenskap nie” en

“die Bybel nie ’n bron van onfeilbare natuurwetenskaplike en historiese informasie is nie”

“Vleeswording van die Woord” beteken volgens hierdie verslag onder andere dat daar foute in die Bybel mag en behoort te wees. Mense wat dit nie wil aanvaar nie, is glo “fundamentalisties”. Volgens dié verslag is die “historiese feite vir die Skrif van die allergrootste belang” en “alles in die Skrif draai om hierdie geskiedenis”, maar ’n entjie verder in die verslag staan: “As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie”! Hoe sinvol is sulke teenstrydighede?

Alhoewel daar ook geldige opmerkings in die verslag is, is die negatiewe en neerhalende tendens ten opsigte van die Bybel duidelik. Dit staan in skrille kontras met die siening wat Christus sélf oor die Woord van God gehandhaaf het. Hy het verklaar “dat die Skrif nie gebreek kan word nie” (Joh. 10:35). Hyself haal die Ou Testament 180 keer aan as betroubare Woord van God!

In teenstelling met bogenoemde kan gekyk word na die geloofsverklaring oor die Bybel as Woord van God wat te NG Witfield in 2003 opgestel is: Geloofsverklaring oor die Bybel as Woord van God.

Hierdie besluit is onder andere gebruik om Jurie le Roux en Julian Müller onskuldig te bewys teen die klag van Ferdie Mulder:

Dit was vir die kommissie duidelik dat prof Le Roux nie van die hermeneutiese verstaanraamwerk, soos neergelê deur die Algemene Sinode (1998, 2000 en 2002) rakende: Die Gesag Van Die Skrif, Belydenisskrifte As Historiese Dokumente, Die Messiaanse Tekste, Die Verstaan En Funksie Van Die Ou Testament In Die Kerk, afgewyk het nie.

Die kommissie het in die aanhoor en bestudering van die klagte en die verweer, deurlopend rekening gehou met die besluite van die Algemene Sinodes (1998, 2000, 2002) rakende die gesag van die Skrif en die Belydenisskrifte as historiese dokumente. … Die kommissie is van oordeel dat prof Müller in sy taak as teoloog hom kan beroep op die uitsprake van die Algemene Sinode. Dit is duidelik dat die Sinode in sy uitsprake oor skrifgesag en belydenisskrifte ‘n brug bou tussen “die tradisie” en “kritiese geloofsverantwoording.”

2004

2004 NGK besluit oor skrifgebruik en skrifgesag

Verdere bronne

3 thoughts on “Die NG Kerk en skrifgesag”

  1. Ek het met skok die 2002-verslag hierbo oor die Bybel deur die Algemene Sinode gelees. Geen wonder dat ons tans in ’n proses van skeuring is nie, want die terme en sinsnedes wat daarin gebruik word om die Skrifgesag aan te val, kom vandag net in oortreffende trap voor.

    Hierdie blatante aanval op die Skrif deur die AS van die NGK is reeds in 2002 geloots. Hoe is dit na 18 jaar steeds op die tafel? Hoekom is dit nie reeds vroeër afgehandel, sodat die kerk toe al van hierdie dwaalleraars gesuiwer kon word nie?

    1. Ek respekteer Anda le Roux se bekommernis dat die gesag van die Bybel by die 2002 se algemene sinode onder verdenking geplaas is a.g.v. die besluite wat daaroor geneem is. Ek is egter van mening dat die Kerk meer as genoeg rede het om te sê dat die Bybel is die woorde van mense oor God en nie die woorde van God aan die mens nie. Geen volmaakte, alwyse en alwetende God sal ’n handleiding wat so vol dubbelsinighede, teenstrydighede en absurditeiete is, as handleiding vir Sy volgelinge gee nie. Soos die praktyk bewys, kan dit net Sy Kerk in stukkies skeur. Hoe moet Sy volgelinge dan nou weet watter opsie in die Bybel is die regte opsie? Sommige van hierdie weersprekings elimineer mekaar geheel en al? Wat moet ons byvoorbeeld glo as God al voor die bestaan van die mens vir Jesus geïdentifiseer het om as Messias na die aarde te kom en hiermee saam geskied niks sonder God se wil en plan van God nie. Dit sê mos net een ding, as daar iets soos ’n sondeval was, dan was dit deel van God se wil en plan en daarom is al die ellende op aarde ook alles deel van die “liefdevolle” God se wil en plan. Ek sal te veel spasie hier opneem as ek meer voorbeelde moet aanhaal, maar u kan dit alles kry in my boek “Die Bybel: Woord van God? wat verkrygbaar is van Naledi Uitgewers. Wat my betref sal dit ’n belediging vir God wees om te sê dat Hy elke woord van die Bybel geïnspireer het.

  2. BRAND PRETORIUS DEEL NUTTIGE SAKEBESTUUR LEIERSKAP LESSE WAARUIT DIE KERK KAN BAAT VIND – SAL DIE ALGEMENE SINODE OOK DAARUIT KAN LEER?

    Die gerespekteerde sakeman Brand Pretorius—bekend veral as hoof van Toyota en McCarthy Holdings—het onlangs aan ʼn Na-Covid Konferensie deelgeneem wat deur Kairos Netwerk (KN) aangebied is.

    In sy aanbieding tref Pretorius ʼn analogie tussen sakebestuur en kerkbestuur. Bekende bedryfsbegrippe soos visie, missie, slagspreuke, produkdifferensiasie, spesifikasie en degradasie, is ook in kerkbestuur bruikbaar.

    By Toyota is betroubaarheid as die unieke verkoopvoorstel geïdentifiseer. Produkdifferensiasie word daarop geskoei en reklame en bedryfsfokus daarom sentreer.

    Slegs Toyota-opgeleide tegnikusse is magtiging verleen om ʼn Toyota motor te diens; ʼn afwyking van die voorskrif mag daartoe lei dat die eienaar sy waarborg verbeur. Handleidings en diensspesifikasie protokolle word aan verbruikers verskaf. Dit belyn produkspesifikasies en gebruiksaanwysings met verwagte en voorgeskrewe verbruikersgedrag. Slegs oorspronklike Toyota onderdele is toelaatbaar (voorkoming van produkmodifikasies of diversifikasies lei tot produkintegriteit) en voorkom produkdegradasie.

    Uit bostaande word die inhoud van die beginsels van belyning (‘n term wat gereeld in die aanbieding gebruik word) betekenis gegee. Met die slagspreuk “Alles loop reg, altyd reg, Toyota” het Toyota markleiers geword.

    Analogies sou mens soortgelyke afleidings kon maak betreffende geloofsdifferensiasie in die NG Kerk.

    Die NG Kerk bely amptelik die algemene Christelike geloof soos vervat in die drie ekumeniese belydenisskrifte (Apostoliese Geloofsbelydenis sowel as die belydenisse van Nicéa en Athanasius) sowel as die Gereformeerde geloofsbelydenisse, algemeen bekend as die Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, en Dordtse Leerreëls). Hiermee word die NG Kerk se leer gedifferensieer.

    Verder is dit duidelik uit NGB artikel 5 dat die heilige Skrif deurslaggewende gesag dra in die kerk, en, soos artikel 7 aandui, mag “niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die heilige Skrif geleer word nie”. Met ander woorde, die Skrif is die kerk se gesaghebbende handleiding van geloof en praktyk.

    Bedienaars van die Woord is onderhewig aan die suiwer handeling en verkondiging van die Skrif soos vervat in hierdie “handleiding”. Die kerk implementeer kontrolemeganismes in hierdie verband: eerstens ʼn kuratorium met oorsig en remediërende funksies, en tweedens persoonlike integriteitsvereistes, naamlik die aflê van ʼn legitimasie-eed, waarin predikante belowe om die Woord suiwer ten alle tye te verkondig, en die bogenoemde belydenisse te handhaaf.

    Daar is dus duidelike analogieë tussen produk- en geloofsdifferensiasie, soos Pretorius visualiseer het.

    Maar net soos Toyota motors degradeer wanneer die handleiding verontagsaam word, so kom die NG Kerk se produksintegriteit (suiwer geloof) in gedrang deur onskriftuurlike modifikasies.

    Baie lidmate ervaar ʼn wyerwordende belyningskloof tussen die Algemene Sinode (AS) se sieninge en handelinge met die kerk se amptelike leer, maar wekroepe tot regstellende maatreëls word geïgnoreer.

    Hierdie wekroepe word feller by die dag. In skrywes soos, Ontmoet Kairos Netwerk, Die Strand se brief, en Sola Scriptura van Namibië word besonderhede van die dwaalleer uitgewys.

    Die kort van die saak is dat die AS se belyningsbestuur fokus nie op “eenheid in waarheid”, soos die belydenisskrifte beoog nie, maar op wanbelyning van glo-soos-wat-jy-wil “geloofsdiversiteit”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui