Die Bybel oor die vervulling van profesieë

Daar is vandag teoloë wat beweer dat profete in die Bybel (en seker vandag nog) nooit voorspellings gemaak het wat van toepassing is/was op die toekoms nie. In bv Wie is die profeet en waar kom hy vandaan? skryf Gerda de Villiers die volgende:

“Wanneer ons oor profetiese ‘voorspellings’ praat, is dit belangrik om te onthou dat die meeste hiervan vaticinia ex eventu is – voorspellings wat uit gebeure self spruit en terug geprojekteer word. Profetiese orakels het sonder uitsondering altyd betrekking op die teenwoordige tyd of hoogstens die imminente toekoms. ’n Profeet bring ’n boodskap aan iemand om hom of haar aan te moedig of te waarsku oor omstandighede binne ’n huidige sosio-politieke klimaat – gebeure wat nog binne die leeftyd van die persoon self sal plaasvind. Profetiese orakels het nooit ooit betrekking op iets wat ’n paar honderd jaar later gaan gebeur nie, hoe belangrik dit ook al mag wees. Dit geld vir Ou Nabye Oosterse sowel as Bybelse profesie.”

In die resensie Jesus is die Een! deur Johan Janse van Rensburg, skryf De Villiers ook: “Meer ontstellend is egter Janse van Rensburg se vermoë om Jesus wel in die Ou Testament te vind!” en “Jesus word nêrens in die Ou Testament voorspel nie”.

(Kyk ook wat skryf prof Alphonso Groenewald in Die Profete: Godsdienshistoriese posisie en ook Fanie Snyman: Jesaja 53 geen voorspelling van Jesus.)

Dit is so dat alle profesieë nie ewe duidelik is nie. As ’n mens sommige profesieë objektief lees, kan ’n mens wonder of dit werklik ’n profesie was wat van toepassing is op die latere gebeure (bv Mat 2:17-18). Die Bybelskrywers hou dit egter voor as ’n profesie wat vervul is, en daarom moet ons dit glo. Ons is vandag in ’n baie slegter posisie om te oordeel hieroor. Die mense van daardie tyd, wat baie nader aan die werklike gebeure geleef het, was in ’n baie beter posisie as ons vandag. (Vir meer hieroor, kyk ook Die Bybelskrywers is altyd reg.)

Die aanhalings uit die Bybel hieronder wys baie duidelik die volgende:

  • Jesus self het geglo dat profete in die verlede Sy koms en ander dinge voorspel het.
  • Die skrywers van die evangelies, wat lank tyd saam met Jesus vertoef het, was vas oortuig dat profete soos Jesaja nie net Jesus se koms as Verlosser voorspel het nie, maar ook sekere gebeure voorspel het.
  • Die mense van daardie tyd het ’n verwagting gehad van iemand (Christus) wat sou kom om hulle te verlos. Hierdie verwagting was gebaseer op die uitsprake van die profete van ouds. Hulle het egter foutiewelik gedink dat die Christus hulle sou verlos van die regering van daardie tyd (bv Mat 11:3 en Luk 3:15).
  • In Daniël se geval sê ’n engel self dat die visioene wat hy sien betrekking op die toekoms het.

Ou Testamentiese profesieë

‘n Engel sê self vir Daniël dat die visioene op die verre toekoms wys – nie vir hom in sy tyd nie! Vergelyk byvoorbeeld onderstaande gedeeltes:

Psalm 130:5

(5)Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.

Klaagliedere 2:17

(17)Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het, Hy het die woord in vervulling laat gaan wat Hy lank gelede al afgekondig het. Hy het verwoes en geen genade betoon nie, Hy het die vyand hom oor jou laat vermaak, Hy het aan jou teëstanders die oorwinning gegee.

Daniël 8
(17)Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: “Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.
(19)… en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.”
(26)”En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op ’n verre toekoms.”

Daniël 10:14
(14)“Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.”

Daniël 12
(4)“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.”
(9)En hy het gesê: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.”

Matteus 1:22-23
(22)Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: (23)”Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Jesaja 7:14: (14)Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

Matteus 2:5-6
(5)Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe: (6)En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.”

Miga 5:1: (1)Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!

Matteus 2:14-15
(14)Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek (15)en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur ’n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”

Hosea 11:1: Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.

Matteus 2:17-18
(17)Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: (18)”‘n Gekerm word op Rama gehoor, ’n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.”

Jeremia 31:15: So sê die Here: ’n Gekerm word op Rama gehoor, ’n gehuil vol hartseer: Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders is weg

Matteus 2:23
(23)Daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.

Kyk Matteus 2:23 (Jesus sal Nasarener genoem word).

Matteus 3:3
(3)Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: “Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”

Jesaja 40:3: Iemand roep: “Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God!

Matteus 4:14-16
(14)So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is: (15)”Jy, gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die Jordaan, Galilea waar die heidene woon! (16)Die volk wat in duisternis woon, het ’n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.”

Jesaja 8:23-9:2 : (8:23) Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel. (9:1) Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn. (9:2) U het dié wat nie meer ’n nasie was nie, baie gemaak, hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly soos mense bly is in die oestyd, soos hulle juig wanneer hulle die buit verdeel.

Matteus 8:17
(17)So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”

Jesaja 53:4: Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.

Matteus 11:2-6
(2)Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ’n boodskap aan Hom gestuur om te vra: (3)“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (4)Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: (5)Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. (6)En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

Matteus 11:10 (Jesus se woorde)
(10) Dit is hy van wie daar geskrywe staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’

Maleagi 3:1: Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige.

Matteus 12:17-21
(17)So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het: (18)”Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het, my Geliefde oor wie Ek My verheug; Ek sal my Gees op Hom laat kom, en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak. (19)Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. (20)’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier. (21)En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

Jesaja 42:1-4: (1)Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak. (2)Hy sal nie roep nie, hy sal nie hard skree nie, hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie. (3)’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is. (4)Self sal hy ook nie uitgedoof of geknak word nie totdat hy my wil op aarde gevestig het. Die eilande wag op wat hy hulle sal leer.

Matteus 13:35
(35) So moes vervul word wat die Here deur ’n profeet gesê het: “Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.”

Psalm 78:2: Ek gaan ’n gedig voordra, ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede.

Matteus 21:4-5
(4)Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word: (5)”Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.”

Sagaria 9:9: Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie.

Jesaja 62:11: Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan: “Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom! Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom, dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit.”

Matteus 21:42
(42)Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë.

Psalm 118:22-23 : (22) Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. (23) Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë!

Matteus 22:41-45
(41) Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: (42)”Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” “Dawid s’n,” antwoord hulle Hom. (43)Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog: (44)‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ (45)As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”

Psalm 110:1: Van Dawid. ’n Psalm. Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”

Matteus 26:31
(31)Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: ‘Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’

Sagaria 13:7: Kom, swaard, tref die herder in my diens, sê die Here die Almagtige, tref die man wat so na aan My is. Maak dood die herder, dat die skape uitmekaargejaag kan word. Ek sal self optree, ook teen die kleinstes onder hulle.

Matteus 26:56
(56) Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

Matteus 26:64
(64) Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.”

Psalm 110:1: Van Dawid. ’n Psalm. Die Here het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”

Matteus 27:9-10
(9)Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: “En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, (10)en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”

Sagaria 11:12: (12)Ek het vir hulle gesê: “As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie, laat staan dit.” Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer. (13)Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker! En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.

Jeremia 32:6-9: (6)Jeremia het vir Sedekia geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom: (7)Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’ (8)”Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here (9)en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg.

Terloops: Matteus verwys na Jeremia in plaas van Sagaria. Dit lyk of die skrywer ’n fout gemaak het, maar dit is nie noodwendig ’n fout nie. Kyk Matteus 27:9 of Foute in die Bybel/Matteus 27:9 verwys na Jeremia in plaas van Sagaria.

Markus 1:7 (Lukas 7:18-23):
(7)Hy [Johannes] het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie.

Lukas 3:15
(15)Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie.

(Die verwagting van die volk het gekom van uitsprake van die profete van ouds.)

Lukas 4:16-21
(16)Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, (17)is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: (18)”Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, (19)om die genadejaar van die Here aan te kondig.” (20)Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. (21)Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.

Jesaja 61:1-2: (1) Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ’n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, (2) om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos

Jesaja 58:6: (6)Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?

Lukas 18:31
(31)Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word.

Lukas 22:37
(37)Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.”

Jesaja 53:12: (12) Daarom gee Ek hom ’n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.

Lukas 24:25-27
(25)Toe sê Hy vir hulle: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? (26)Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” (27)Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.
(44) Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

Johannes 1:15-31
(15)Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.” (16)Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. (17)God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. (18)Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak. (19)Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?” Toe het hy hierdie getuienis afgelê (20)en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.(21)Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy. “Is jy dan die Profeet?” “Nee!” het hy geantwoord. (22)”Nou maar wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?” (23)Hy antwoord toe: “Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.” Dit is soos die profeet Jesaja gesê het. (24)Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, (25)en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?” (26)Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. (27)Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.” (28)Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop. (29)Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (30)Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘ná my kom daar ’n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ (31)Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”

Johannes 1:45
(45)Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

Johannes 3:28
(28)Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’

(Daar was ’n verwagting by mense dat die Christus sou kom. Hierdie verwagting het van die profete van ouds gekom.)

Johannes 6:14
(14)Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Deuteronomium 18: (18)Ek sal ’n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.

Kyk ook Deuteronomium 18:15-22 (’n profeet soos Moses).

Johannes 11:27
(27)”Ja, Here,” sê sy [Marta] vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Johannes 12:37-38
(37)Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie. (38)So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word: “Here, wie het geglo wat ons gehoor het? En aan wie is die mag van die Here geopenbaar?”

Jesaja 53:1: (1)Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

Johannes 12:39-41
(39)Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders: (40)”God het hulle oë blind gemaak en hulle verstand laat afstomp sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie.” (41)Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het.

Jesaja 6:10: (10)Verder het Hy vir my gesê: “Maak hierdie volk traag van begrip, maak hulle ore doof en hulle oë blind sodat hulle nie met hulle oë sien, met hulle ore hoor, en met hulle verstand begryp en hulle hulle bekeer en genees word nie.”

Johannes 13:18 (Jesus se woorde)
(18)”Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die Skrif moet vervul word: ‘Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.’

Psalm 41:10: (10) Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek.

Johannes 15:25 (Jesus se woorde)
(25)Maar die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’

Psalm 35:19: (19)Moenie dat hulle wat sonder rede my vyande is, hulle verlustig in my leed nie. Moenie dat dié wat my sonder aanleiding haat, hulle verlustig in my leed nie.

Psalm 69:5: (5)Dié wat my sonder rede haat, is meer as die hare op my kop. Dié wat my vir altyd wil stilmaak, is sterk. My vyande dwing my met vals beskuldigings om af te gee wat ek nie geroof het nie.

Johannes 17:12 (Jesus se woorde)
(12)Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.

Johannes 18:8-9
(8)Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.” (9)So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

Johannes 19:24
(24)Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.” Dit is wat die soldate gedoen het.

Psalm 22:19: (19)Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.

Johannes 19:28
(28)Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

Psalm 69:22: (22)Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.

Johannes 19:34-36
(34)Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom. (35)Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. (36)Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

Psalm 34:21: (21) Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige: geen been word gebreek nie.

Johannes 20:9

(9)Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

Handelinge 1:15-20

(15)In daardie tyd was daar ’n byeenkoms van die sowat honderd en twintig gelowiges. Petrus het die leiding geneem en gesê: (16-17)”Broers, die Skrifwoord wat die Heilige Gees tevore by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het, moes vervul word. Hy is as een van ons gereken en is ook gekies om ’n aandeel in ons werk te hê, maar hy het die gids geword van dié wat vir Jesus gevange geneem het. (18)”Met die geld wat Judas vir sy misdaad gekry het, het hy ’n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul. (19)Dit het bekend geword onder al die inwoners van Jerusalem. Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond. (20)”In die boek van die Psalms staan daar: Laat sy woonplek leeg word; laat niemand daarin woon nie, en: Laat ’n ander sy amp oorneem.

Psalm 69:26: (26) Laat hulle blyplekke verwoes word sodat daar niemand oor is in hulle wonings nie,

Psalm 109:8: (8) Laat sy lewe kort wees en laat ’n ander sy amp oorneem!

Handelinge 2:29-31
(29)”Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. (30)Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. (31)Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.

Psalm 16:10: (10) Sonder enige meegevoel, met monde wat aanmatigende dinge sê, omsingel hulle my

Handelinge 3:18-26
(18)Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur
(21)Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. (22)Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê. (23)Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ (24)En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur. (25)Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ’n seën wees.’ (26)Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Deuteronomium 18:18 Ek sal ’n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.

Kyk ook Deuteronomium 18:15-22 (’n profeet soos Moses).

Handelinge 7:52

(52)Was daar ooit ’n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor.

Handelinge 8:30-35
(30)Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?” (31)Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. (32)Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit: “Soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos ’n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. (33)In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie. Wie sal van sy nageslag kan vertel? Sy lewe op aarde word beëindig.” (34)Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?” (35)Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

Jesaja 53:1-12: (1)Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien? (2)Die dienaar was soos ’n loot wat voor die Here uitspruit, soos ’n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. (3)Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. (4)Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. (5)Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. (6)Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. (7)Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. (8)Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk. (9)Hy het ’n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie. (10)Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. (11)Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. (12)Daarom gee Ek hom ’n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.

Handelinge 13:23-47
(23)Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom.
(27)Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan. (28)En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring. (29)Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. (30)Maar God het Hom uit die dood opgewek. (31)Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. (32)”En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders (33)vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe: Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee.

Psalm 2:7: (7)Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my gesê: “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader.

(34)God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het.

Jesaja 55:3: (3)Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.

(35)Daarom sê God ook op ’n ander plek: U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

Psalm 16:10: (10)Sonder enige meegevoel, met monde wat aanmatigende dinge sê, omsingel hulle my

(46)Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, (47)want so lui die Here se opdrag aan ons: Ek het U gegee as ’n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.”

Jesaja 49:6: (6)Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.

Handelinge 17:3

(3)Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Christus.”

Handelinge 26:22-23
(22)Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het: (23)Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring.”

Handelinge 28:23
(23)Hulle het toe ’n datum met hom afgespreek, en op daardie dag het daar nog meer mense na die plek toe gekom waar hy gebly het. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus.

Romeine 1:2-3
(2)Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, (3)en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore;

Romeine 3:21
(21)Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree.

Romeine 11:26-27
(26)en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. (27)En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.”

Jesaja 59:20-21: (20)Die Here kom na Sion toe as Verlosser, na dié toe in Jakob wat hulle van hulle sonde bekeer. So sê die Here. (21)Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat Ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie.

Romeine 16:26
(26)maar nou is dit geopenbaar. Aan die hand van die geskrifte van die profete en in opdrag van die ewige God is dit aan alle nasies bekend gemaak sodat hulle in God kan glo en aan Hom gehoorsaam kan wees.

1 Korintiërs 15:54
(54)En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

Jesaja 25:8: (8)Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê.

1 Korintiërs 15:55

(55)”Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Hosea 13:14: (14)Moet Ek hom red uit die mag van die dood? Moet Ek hom verlos uit die doderyk? Kom met jou peste, dood! Kom met jou plae, doderyk! Ek sal vir Efraim nie jammer kry nie.

2 Korintiërs 6:16-18
(16)Hoe kan ’n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” (17)Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem, (18)en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige.

Galasiërs 3:22
(22)Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

Efesiërs 2:20
(20)Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

Efesiërs 3:5
(5)Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie.

Jakobus 2:22-23
(22)Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. (23)So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem.

1 Petrus 1:10-12
(10)In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. (11)Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. (12)Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

2 Petrus 1:18-21

(18)Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. (19)En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. (20)Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, (21)want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Jesus se profesieë

Jesus kondig sy eie dood en opstanding drie keer aan

  • Die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes sou Hom uitlewer aan die heidene.
  • Hulle sou Hom spot, spoeg, slaan, gésel en kruisig.
  • Hy sou op die derde dag uit die dood opstaan.

Verse:

Soos ons weet is alles wat Jesus hierbo geprofeteer het, vervul.

Val van Jerusalem

Jesus het die vernietiging van Jerusalem in al drie die sinoptiese Evangelies voorspel: Matteus 24:1-2Markus 13:1-2, en Lukas 21:5-6. Hier volg Matteus 24:1-2(1)Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. (2)Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”

Omdat dit in die algemeen aanvaar word dat Jerusalem in 70 nC verwoes is, kan ons hieruit aflei dat die Evangelies voor 70 nC geskryf is (kyk Wanneer is die Nuwe Testament geskryf?).

Wederkoms

Omdat Jesus korrek was oor bogenoemde profesieë kan ons aanvaar dat Sy profesieë oor die wederkoms ook vervul sal word.

Ander

Handelinge 11:28

(28)Een van hulle, met die naam Agabus, is deur die Gees gelei om te voorspel dat ’n groot hongersnood die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur.

Ten slotte

Waarom sal mense soos Gerda de Villiers en prof Alphonso Groenewald sulke stellings maak indien die Bybel so duidelik is daaroor dat God vir sommige mense ’n blik op die toekoms gegee het? Daaroor kan ’n mens slegs spekuleer:

  • Is dit oor menslike roem: om te kan sê dat ek iets nuuts uitgevind het? soos bv in Handelinge 17:21“Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie.”
  • Glo hulle dat God in die toekoms kan insien? Indien wel, hoekom is dit dan so vreemd as God sommige dinge in die toekoms aan mense openbaar?
  • Wil hulle nie glo dat Jesus die Seun van God is nie, en daarom die voorspellings na Hom in die Ou Testament bevraagteken?
  • Wat glo hulle oor die skrywers van die Bybel? Het hulle mense probeer mislei deur onwaarhede te skryf? Het hulle dinge aan Jesus toegedig wat nie waar was nie om Hom beter te laat lyk? Indien wel, wat kan ’n mens dan glo van so ’n skrywer? Hoe weet jy wat waar is en wat onwaar is van wat so ’n skrywer geskryf het?
  • As ’n mens sulke duidelike dinge in die Bybel kan betwyfel, wat betwyfel hulle dan nog:
    • Glo hulle dat Jesus die Seun van God is?
    • Glo hulle aan Jesus se letterlike opstanding uit die dood?
    • Watter dele in die Bybel kan ’n mens glo?

Dit is duidelik dat Jesus self en die Bybelskrywers wel geglo het dat die voorspellings in die Ou Testament op Jesus betrekking gehad het. Ek dink dit is arrogant om soveel jare na die gebeure die Bybelskrywers (en vir Jesus self) te bevraag bloot op grond van die dokumente wat tot vandag tot ons beskikking is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui