Dood en swaarkry voor die sondeval

Kyk ook:

Daar is baie Christene wat evolusie en ’n ou aarde met die Bybel probeer versoen. Daar is heelwat uitdagings hiermee. Een van die grootste teologiese probleme met hierdie siening is dat hulle moet aanvaar dat daar dood en swaarkry voor die sondeval was. Skeppingsleerders glo dat dood en swaarkry nie deel van God se skepping was nie, maar het eers gekom ná die sondeval omdat Adam en Eva gesondig het. Indien God egter wel deur evolusie geskep het, het God ’n wrede proses van dood en swaarkry gebruik om te skep en ook die natuur wreed gemaak. Dit is egter teenstrydig met God se karakter.

Plante en insekte uitgesluit

As ons praat van geen dood voor die sondeval, bedoel ons lewende kreature. Die Hebreeuse woord nephesh chayyah word in Genesis 1 gebruik. Wat is nephesh chayyah presies? Dit is voor die handliggend dat plante uitgesluit is omdat dit as kos gedien het vir mens en dier (kyk later). Levitikus 17:11 (en Genesis 9:4) gee ’n leidraad: “Omdat die lewe van ’n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens.” Insekte het nie bloed nie en word daarom nie gesien as nephesh chayyah nie. Eensellige organismes soos bakterieë en gis en ongewerwelde diere soos wurms, insekte en garnale sal dus nie onder nephesh chayyah tel nie. Nephesh chayyah word ook algemeen gesien as diere wat asem haal en wat emosies het. (Kyk ook The Creation Answers book, hoofstuk 6.)

God het goed geskep

In die skeppingsverslag in Genesis 1, word die woorde “is (baie) goed” sewe keer gebruik.

(4)God het gesien die lig is goed, …
(10)… En God het gesien dit is goed.
(31)Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.

Dus het God goed geskep. Indien daar egter dood voor die sondeval was, beteken dit dat dood deel van daardie “goed” was.

Sondeval

Ná die sondeval kondig God aan dat die hele aarde vervloek is. Van toe af was daar dood en swaarkry op die aarde.

Genesis 3:14-24

(16)Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” (17)Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, “is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; (18)die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; (19)net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.” (20)Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense. (21)Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.

Adam en Eva besef ook dat hulle kaal is en hulle bedek hulleself met blare, maar God gee hulle velklere (Genesis 3:21). Dit is die eerste keer dat ons lees van dood.

Kos

Voor die sondeval het God slegs plante vir mens en dier gegee om te eet.

Genesis 1:29-31

(29) … “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. (30)Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.” …

Eers ná die sondvloed gee God vir die mens vleis om te eet.

Genesis 9:3
(3) Alles wat roer en lewe, sal kos wees vir julle. Naas die groen plante gee Ek dit alles vir julle.

Dood die laaste vyand

In Jesaja 11:6-9 word ’n scenario geskets wat ’n mens as “baie goed” sou kon beskryf, soos dit byvoorbeeld voor die sondeval was:

(6)Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. (7)Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. (8)Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. (9)Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.

En Jesaja 65: (25)Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here.

Paulus praat in Romeine 8 van ’n skepping wat “sug in die pyne van verwagting”:

(22)Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

‘n Skepping wat “sug in die pyne van verwagting” kan tog nie versoen word met ’n skepping waarvan God sewe keer gesê het dat dit “baie goed” was nie. Hierdie dui duidelik op die sondeval waar God gesê het: “is die aarde deur jou toedoen vervloek.”

In Romeine 5 en 1 Korintiërs 15 is Paulus duidelik dat die eerste Adam die dood gebring het (in Genesis 3) en die tweede Adam (Jesus) wat die mag van die dood kom breek het (Dood, waar is jou angel?):

Romeine 5(12)Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. … (14)Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, (15)maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. … (17)Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.

1 Korintiërs 15(21)Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. (22)Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. … (26) Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. … (45)So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword.
(55)“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (56)Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God.

Daar is mense wat selfs glo dat die dood nie sleg is nie en dat dit bloot deel van die lewe is. Dit is nie so volgens Openbaring 21:4 nie en dit is ook nie so vir ’n ouer wat ’n kind aan die dood afgestaan het nie…

(4)Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Selfs diere treur oor die dood van ander diere.

God is wreed

As daar dood voor die sondeval was, beteken dit dat “dood” in God se oë goed is. Dit beteken dat God wreed is.

Hierdie kwessie is vir baie mense ’n struikelblok in hulle geestelike lewe. Kyk byvoorbeeld Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed.

Charles Darwin (1809–1882), die vader van evolusie het die Christelike geloof verwerp ná die dood van sy dogter, Annie. In ’n onlangse outobiografie word die volgende geskryf:

“Annie’s cruel death destroyed Charles’s tatters of beliefs in a moral, just universe. Later he would say that this period chimed the final death-knell for his Christianity, … Charles now took his stand as an unbeliever.”

Charles Templeton (1915–2001) is nog iemand wat sy geloof verloor het. In 1996 in sy boek, Farewell to God, skryf hy:

“Waarom vereis God se groot ontwerp wesens met tande wat ontwerp is om rugwerwels pap te druk of vlees te skeur, kloue gevorm om te gryp en te skeur, gif om te verlam, bekke om bloed te suig, kronkels om te wurg en versmoor – selfs kake wat kan uithaak om prooi heel en lewendig in te sluk?”
“Die natuur is, in Tennyson se aanskoulike frase, ‘rooi in tand en klou’, en die lewe is ’n karnaval van bloed.”
“Hoe kan ’n liefdevolle en almagtige God sulke gruwels skep?”

Hier volg nog ’n paar aanhalings:

Jacques Monod

Onderhoudvoerder: … ’n mens kan begryp dat God ewekansigheid gebruik het, net solank daar die patroon was wat Hy ingestel het as die resultate van toevallige mutasies.

Jacques Monod: As jy dit wil aanvaar, het ek geen probleem daarmee nie, behalwe een (wat nie ’n wetenskaplike geskil is nie, maar ’n morele een). Naamlik, seleksie is die blindste, en wreedste manier om nuwe spesies in meer en meer kompleks en verfynde organismes te ontwikkel … Die stryd vir die lewe en die uitskakeling van die swakstes is ’n verskriklike proses waarteen ons hele moderne etiek in opstand is. ’n Ideale samelewing is ’n nie-selektiewe samelewing, is een waar die swakke beskerm word, wat presies die teenoorgestelde van die sogenaamde natuurlike wet is. Ek is verbaas dat ’n Christen hierdie idee sou verdedig dat dit die proses is wat God min of meer opgestel het om evolusie te hê.

Chuck Colson en Nancy Pearcey

God is goed, en die oorspronklike skepping was goed [Genesis 1:31 sê eintlik ‘baie goed’]. God is nie die outeur van die bose nie. Dit is ’n belangrike element van die Christelike leer … daar sou ook geen basis wees om teen onreg en onderdrukking te veg nie, teen wreedheid en korrupsie nie, want dit sou ook ’n weerspieëling wees van God se eie karakter, en daarom inherent in die wêreld soos hy dit geskep het.

Vir meer aanhalings, kyk Aanhalings – Is evolusie en die Bybel versoenbaar!.

Ek sluit af met ’n aanhaling van die gereformeerde teoloog, Douglas Kelly:

Ek wil eenvoudig sê dat om “baie goed” te interpreteer met pre-sondeval pyn, dood, ens daarby ingesluit, is eenvoudig ontoelaatbaar in terme van behoorlike Hebreeuse eksegese. As ’n mens ’n woord (of twee woorde – “tobh” en “me’od”) onderstebo op sy kop kan draai om presies die teenoorgestelde te beteken van wat dit duidelik sê, dan is die gesag van die Skrif ’n bol klei (“nose of wax”) om gevorm te word deur die veranderende kultuur.

Verdere bronne

3 thoughts on “Dood en swaarkry voor die sondeval”

  1. Ds Jan
    Het deur gelees
    Die aarde was in die begin reeds woes en leeg
    1. Was daar reeds lewe gewees wat verwoes is?
    2 Dalk al die prehistoriese diere selfs n tipe mens nie na God se beeld?
    3 Ek is nie oortuig deur evolusie nie
    4. Ek glo Adam is gemaak na God se beeld

  2. Steph
    1. Nee, ek glo nie daar was enige lewe voor die sesdagskepping in Genesis 1 nie.
    2. Ek het vandag ’n artikel geplaas oor dinosourusse. Hulle is gewone diere wat uitgesterf het.
    Hoop dit help. 🙂

  3. Steph,
    Dis goeie vrae wat jy vra. Ek wil net ’n paar opmerkings maak:
    Die skepping is die grootste projek wat daar ooit was. Die gebeure word in 3 hoofstukke beskryf. Alles wat gebeur is het nie daarin vervat nie. Dit is te groot.
    Ek glo Adam het die inligting wat in Genesis 1 voorkom persoonlik van God af gekry. Voor God vir hom ’n vrou gegee het was Adam alleen op die aarde en hy was in gesprek met God oor die werklikheid waarin hy hom bevind het.
    Daar is ook ’n hemelse werklikheid, waar God en die engele woon. Ons het min inligting oor daardie werklikheid, maar ons lees daarvan bv in Esegiël, Daniel en Openbaring.
    Voor God die mense geskep het was daar nie mense in die hemel nie.
    Die eerste woorde van Genesis sê: “In die begin …” Dit wil sê: So het dit begin.
    Dan staan daar: Die aarde was woes en leeg en dit was donker. Dit is waarmee God begin het. God het begin met ’n ongevormde stuk grond en water, wat Hy uit niks gemaak het.
    Ek stel my voor hoe ’n pottebakker voor ’n hoop klei sit. Dit is ’n ongevormde stuk kleigrond. Dan begin hy met ’n proses om iets mooi van die klei te maak. Hy sit dit op ’n draaiwiel. Dan begin hy vorm daaraan te gee met sy hande terwyl die wiel draai. Dan maak hy ’n tuit en ’n oor vir die beker. Dan haal hy dit af en laat dit droog word. Dan verf hy dit en sit glasuur aan. Dan bak hy dit in ’n oond. Hy kyk daarna en dit is vir hom mooi.
    So het God in stappe aan die hemel en die aarde vorm gegee en dit met lewende wesens gevul.
    Dit is die inligting wat vir Adam gegee is en vir ons oorgelewer is. Dit is vir ons genoeg. Daarby moet ons bly. Die verskynsels soos prehistoriese diere en fossiele moet ons probeer interpreteer in hierdie terme en nie soos die evolusieleer dit wil nie. Dit moet ons wêreldbeeld wees. Deel van ons wêreldbeeld is dat ons nie vir altyd hier sal woon nie, maar dat God vir ons ’n ander woonplek voorberei, waar daar nie meer dood en trane sal wees nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui