Die Bybel oor Jesus se Godheid

Daar is mense wat beweer dat Jesus slegs ’n morele leermeester was, maar nie God nie (kyk bv wat Andries van Aarde oor Jesus sê in sy boek, “Fatherless in Galilee”). CS Lewis som dit egter baie mooi op:

“Ek probeer hier verhoed dat iemand die waarlike dom ding sê wat mense dikwels oor Jesus sê: ‘Ek is bereid om Jesus as ’n groot morele leraar te aanvaar, maar ek kan sy aanspraak dat Hy God is, nie aanvaar nie.’ Dis een ding wat ons nie moet sê nie. Iemand wat bloot ’n man was en die soort dinge sê wat Jesus gesê het, sou geen morele leermeester wees nie. Hy sou ’n waansinnige wees… of anders sou hy die Duiwel uit die Hel wees. Jy moet kies. Hierdie man was, en is, die Seun van God, of anders ’n malmens of iets ergers. Jy kan Hom as ’n dwaas opsluit, of op Hom spoeg en Hom as ’n duiwel doodmaak; of anders kan jy aan sy voete val en Hom Heer en God noem. Laat ons egter nie met bedrieglike onsin vorendag kom dat Hy ’n groot menslike leermeester was nie. Dít het Hy nie vir ons oop gelaat nie. Dit was nooit sy bedoeling nie.”

(Uit ’n Saak vir Christus van Lee Strobel. Kyk ook Quotes by C.S. Lewis)

1. Jesus erken dat Hy God is (of ontken dit nie)

Die volgende is verse in die Bybel waar Jesus erken dat Hy die seun van God is (of waar Hy dit nie ontken nie):

Matteus 4:3-7
(3)Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” (4)Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (5)Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan (6)en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” (7)Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

Matteus 8:29-30
(29)Skielik het hulle begin skreeu: “Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?” (30) ’n Hele ent van hulle af het ’n groot trop varke geloop. (31)Die bose geeste het Hom gesoebat: “As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.” (32) “Gaan!” het Hy vir hulle gesê.

Matteus 11
(3) “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (4)Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: (6)En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”
(25)Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. (26)Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. (27) “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak. (28) “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (29)Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. (30)My juk is sag en my las is lig.”

Matteus 14
(33)Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”
Let wel dat Jesus nie die dissipels gestop het toe hulle hierdie gedoen het nie.

Matteus 16
(13)Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” (14)Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” (15) “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” (16)Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (17) “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. (18)En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. (19)Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” (20)Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

Matteus 26:63-64
(63)Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ’n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” (64)Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.”

Matteus 28:19

(19)Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees

Markus 3:11-12
(11)As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: “U is die Seun van God!” (12)Maar Hy het hulle baie uitdruklik belet om bekend te maak wie Hy is.

Markus 8:27-30
(27)Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?” (28)Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.” (29) “Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?” Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!” (30)Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.

Markus 14:61-62
(61)Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie. Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra. (62) “Ek is,” het Jesus geantwoord, “en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.”

Lukas 4:16-21,41
(16)Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, (17)is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: (18) “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, (19)om die genadejaar van die Here aan te kondig.” (20)Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. (21)Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” (41)Ook onrein geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: “U is die Seun van God!” En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is.

Lukas 5:20-24
(20)Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.” (21)Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?” (22)Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? (23)Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? (24)Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

Lukas 10:17-20
(17)Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” (18)Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val. (19)Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. (20)En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”

Lukas 22:70
(70)Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?” Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!

Johannes 1:49-51
(49)Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” (50)Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.” (51)Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op— en afklim na die Seun van die mens toe.”

Johannes 4:25-26
(25)Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” (26)Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.

Johannes 6:29,35,38
(29)En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”
(35)Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
(38)Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

Johannes 8: Kyk die hele Johannes 8.

(46)Wie van julle kan sonde by My aanwys?

Johannes 9:35-39
(35)Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?” (36)Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” (37)Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” (38)Die man sê toe: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid. (39)Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

Johannes 10:36-42
(36)Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? (37)As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. (38)Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.” (39)Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. (40)Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly. (41)Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.” (42)Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.

Johannes 11:25-27
(25)Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; (26)en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (27) “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Johannes 14:6-31
(6)Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. (7)As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.” (8)Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” (9)En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? (10)Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. (11)Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self. (12) “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. (13)Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. (14)As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (15) “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. (16)Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, (17)naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. (18) “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. (19)Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. (20)Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle. (21) “Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” (22)Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?” (23)Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. (24)Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het. (25) “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; (26)en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. (27) “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. (28)Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. (29)En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. (30)Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, (31)maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het. “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

Johannes 15:1-2
(1) “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. (2)Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.

Johannes 18:37
“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

Johannes 19:7-8
(7)Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.” (8)Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. (Dit is dus baie duidelik hoekom Jesus gekruisig nie.)

2. Ander ontken dat hulle iets besonders is

Anders as Jesus, het ander mense in die Bybel en selfs engele ontken dat hulle iets besonders is, sodat God die eer moet kry en nie hulle nie:

Mense

Matteus 3:11 (Johannes die Doper)
Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

Handelinge 10:25-26 (Petrus)
(25)Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel. (26)Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net ’n mens.”

Handelinge 14:15 (Barnabas en Paulus)
“Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.

Engele

Openbaring 19:10
Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.”

Openbaring 22:8-9
(8)Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid. (9) “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!”

3. Mense wat self die eer wou vat

Herodes het egter die eer vir God geneem en het dadelik gesterf:

Handelinge 12:21-23
(21)Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek. (22)Die mense het toe geskreeu: “Dit is ’n god wat praat, nie ’n mens nie!” (23)Op daardie selfde oomblik het ’n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe.

4. Ander oor Jesus

Johannes 20:30-31

(31)Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Die liefling dissipel, een wat baie tyd saam met Jesus spandeer het, sluit so sy weergawe af. Die hele doel van sy skrywe is om aan die leser oor te dra dat Jesus die seun van God is.

1 Johannes 4

(2)Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. (3)En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.

2 Johannes 1:7
(7)Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met “die misleier”, “die antichris”, bedoel.

Johannes is baie duidelik oor die dwaling dat Jesus nie God is nie.

1 Korintiërs 8

(6)is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

5. Ander

Jesaja 9:5
(5)Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

Reeds in die Ou Testament word Jesus voorspel dat Hy God gaan wees.

2 Korintiërs 5

(21)Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

2 Korintiërs 13

(13)Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Efesiërs 4:8-10
(8)Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” (9)Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. (10)Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.

Kolossense 1:15-22
(15)Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. (16)God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. (17)Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. (18)Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. (19)God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon (20)en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. (21)Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. (22)Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.

Hierdie sê moontlik nie pertinent dat Jesus God was nie, maar dit is hieruit duidelik dat Jesus bo enige ander hemelwese soos engele, was.

Filippense 2:6 (NLV)
(6)Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan die Goddelikheid wat Hom toekom nie,
Alhoewel die 53 en 83 vertaling sê dat Jesus “in die gestalte van God was” in plaas van “self God was” is dit duidelik dat Paulus Jesus se godheid erken.

1 Johannes 5

(6)Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. (7)Daar is dus drie wat getuig : (8)die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen.

6. Jesus as Verlosser van sonde met die sondeval as oorsprong

Die Bybel is duidelik daaroor dat Jesus gekom het as Verlosser van ons sonde. Die oorsprong van sonde is die sondeval.

Romeine 5

(12)Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. (13)Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. (14)Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, (15)maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk.

1 Korintiërs 15

(21)Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. (22)Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

1 Petrus 1

(18)Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. (19)Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

Hebreërs 7

(26)Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, (27)een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

Hebreërs 9

(13)Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. (14)Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. (15)Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.

Hebreërs 9

(26b)Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem.

1 Johannes 3

(5)Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie.

Titus 2

(14)Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui