Die Bybel oor sending

Kyk ook:

Die Bybel is baie duidelik dat alle Christene die evangelie aan ander moet verkondig. As jy glo dat slegs mense wat Jesus aanneem as Saligmaker en Verlosser, kan ’n mens eintlik nie anders as om ander te vertel van Jesus nie (kyk Die Nuwe Testament oor Redding).

Inhoudsopgawe:

  1. Sendingwerk is nodig
  2. Sendingwerk is nie maklik nie
  3. Om sendingwerk te doen moet jy jou Bybel ken
  4. Ons plig om sending/sendelinge te ondersteun

***********

1. Sendingwerk is nodig

As God almal red, dan sou dit nie nodig wees vir sendingwerk nie. Gaan sê dit vir sendelinge wat hulle lewe opgeoffer het om op ver plekke die evangelie te verkondig. Dit was Jesus se opdrag aan ons:

Genesis 12:3

(3)Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

Ons moet sendingwerk doen om tot seën te wees van die hele wêreld.

Eksodus 9:14-16

(14)anders gaan Ek jou hierdie keer met ’n groot ramp tref en ook jou amptenare en jou mense. Dan sal jy besef dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie(15)Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met ’n pes van die aarde af uitgewis het. (16)Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word.

1 Konings 8:60

(60)Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie ’n ander nie.

Psalm 9:12

(12)Sing tot eer van die Here wat op Sion woon, vertel die volke van sy dade!

Psalm 67:1-6

(1)Vir die koorleier: met snarespel. ’n Psalm. ’n Lied. (2)Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn, Sela (3)sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word, sy reddende krag onder alle nasies. (4)Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! (5)Mag die nasies bly wees en jubel omdat U hulle regverdig regeer en hulle op die aarde lei. Sela (6)Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof!

Psalm 96:2-3

(2)Sing tot eer van die Here, prys sy Naam, verkondig elke dag sy reddingsdade! (3)Vertel die nasies van sy mag, al die volke van sy magtige dade.

Psalm 105:1

(1) Loof die Here! Roep Hom aan! Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.

Jesaja 48:6

(6) Julle het dit alles gehoor, julle kon dit alles self sien, sal julle dan nie daarvan getuig nie? Van nou af laat Ek julle nuwe dinge hoor, dinge wat verborge was, waarvan julle niks geweet het nie.

Jesaja 49:6

(6) Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.

Jesaja 52:7

(7) Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

Matteus 10:18

(18) Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig.

Matteus 28:19-20

(19) Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en
(20) leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Vers 19 staan bekend as die “groot opdrag” of die “sendingopdrag”.

Markus 16:15-16

(15) Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.
(16) Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.

Lukas 21:12-13

(12) “Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.
(13) Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om van My te getuig.

Matteus 4:19

(19) Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

Matteus 9:35

(35) Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.

Matteus 10

(5) Jesus het hierdie twaalf uitgestuur…

(32) “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.
(33) Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.”

Vers 32-33 is duidelik dat almal van God moet getuig.

Matteus 11:20-24

(20) Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:
(21) “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het.
(22) Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle.
(23) En jy, Kapernaum, dink jy ‘jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’ As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het.
(24) Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”

Matteus 24:13-14

(13) Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.
(14) En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.

Lukas 24:47

(47) en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’

Handelinge 1

(8) “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

(16) Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.

Handelinge 8 (alle Christene moet die evangelie verkondig)

(1) Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur. Daardie dag het daar ’n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria.

(4) Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig.

Handelinge 26:28-29

(28) Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ’n Christen maak.”
(29) “Of dit nou gou-gou gebeur of langer duur,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, sal word wat ek is, natuurlik net sonder hierdie boeie.”

Dit klink hier of Paulus baie arrogant is om te sê: “…sal word wat ek is…”, maar dit wys eerder dat dit vir Paulus belangrik was dat ander mense ook bekeer word en Jesus aanneem.

Handelinge 28:28

(28) Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word. Húlle sal luister.”

Romeine 1:13-17

(13) Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen.
(14) Ek staan onder ’n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes,
(15) en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.
(16) Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.
(17) In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Romeine 10:11-18

(11) Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”
(12) “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik,
(13) want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
(14) Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?
(15) En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”
[Jesaja 52:7]
(16) Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?”
(17) Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.
(18) Maar ’n mens sou kon vra: Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie? Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê: “Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink, hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.”

Romeine 15:18 (NLV)

(18) Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die nie-Joodse nasies tot gehoorsaamheid aan die evangelie te bring nie. Hy het dit gedoen deur my prediking en my voorbeeld,

1 Korintiërs 9:19-23

(19) Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.
(20) Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.
(21) Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen.
(22) Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.
(23) Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.

1 Korintiërs 10:33

(33) Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.

2 Korintiërs 5:11

(11) Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig.

1 Timoteus 2:7

(7) Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie.

2 Timoteus 4:17

(17) Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor.

Jakobus 5:19-20

(19) My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring,
(20) weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ’n menigte sondes vergewe word.

1 Petrus 3:1-2

(1-2) Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie.

Judas 1:22-23

(22) Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm.
(23) Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.

2. Sendingwerk is nie maklik nie

En ons moet sendingwerk doen selfs as beteken dit dat ons ly as gevolg daarvan:

Matteus 10 (Mark 13, Luk 12:49-53)

(16) “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.
(17) Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel.
(18) Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig.
(19) Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê.
(20) Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.
(21) “Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs ’n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak.
(22) Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.
(23) As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na ’n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.
(24) “‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester en ’n slaaf nie hoër as sy eienaar nie.
(25) ’n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en ’n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”
(26) “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.
(27) Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin.
(28) Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.
(29) “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.
(30) Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.
(31) Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
(32) “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.
(33) Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.”
(34) “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.
(35) Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder;
(36) ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees.’
(37) “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.
(38) Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

Matteus 24 (Luk 21:7-19)

(9) “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely.

Johannes 15:18-20

(18) “As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat.
(19) As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.
(20) Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.

2 Korintiërs 11:23-33

(23) Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar.
(24) Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,
(25) drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n dag en ’n nag in die oop see deurgebring.
(26) Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.
(27) Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue.
(28) Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.
(29) As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.
(30) As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede.
(31) Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid!
(32) Toe ek in Damaskus was, het die verteenwoordiger van koning Aretas die stad laat bewaak om my te vang.
(33) Maar deur ’n venster in die muur is ek in ’n mandjie laat afsak en het ek aan sy hande ontkom.

Handelinge 7:52

(52) Was daar ooit ’n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor.

2 Korintiërs 1:6

(6) As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.

2 Korintiërs 4:15-17

(15) Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.
(16) Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
(17) Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Filippense 1:12-14

(12) Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het.
(13) Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ’n gevangene is.
(14) Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.

Filippense 2:16-17

(16) deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie.
(17) Julle geloof is ’n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly.

Kolossense 1:24

(24) Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,

2 Timoteus 1:11-12

(11) Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.
(12) Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

2 Timoteus 2

(3) Dra jou deel van die ontberings soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus.

(9) Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ’n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie.
(10) Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang.

2 Timoteus 3:10-12

(10) Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding,
(11) in vervolging en ontbering soos my te beurt geval het in Antiogië, Ikonium en Listra. Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered.
(12) Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.

Hebreërs 11:35-40

(35) Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ’n beter lewe deelagtig word.
(36) Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap.
(37) Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel.
(38) Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.
(39) En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie,
(40) omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

1 Petrus 4:15-16

(15) As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie.
(16) Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.

En ook vandag:

3. Om sendingwerk te doen moet jy jou Bybel ken

Sommige mense dink dat ons slegs deur ons lewens moet getuig. Met ander woorde, mense moet Jesus se liefde in ons raaksien en so tot bekering kom. Ons sien egter ’n ander prentjie by Paulus.

Handelinge 17:1-4

(1) Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar ’n Joodse sinagoge was.
(2) Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer.
(3) Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hy is die Christus.”
(4) Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. ’n Groot aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom.

Handelinge 18:4-6

(4) Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig.
(5) Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is.
(6) Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.”

Handelinge 19:8-9

(8) Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig.
(9) Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak. Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou.

Handelinge 28:23-26

(23) Hulle het toe ’n datum met hom afgespreek, en op daardie dag het daar nog meer mense na die plek toe gekom waar hy gebly het. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus.
(24) Deur sy uiteensetting het daar party oortuig geraak, maar ander wou nie glo nie.
(25) Hulle was dit nie met mekaar eens nie en het weggegaan, maar Paulus het nog eers dít vir hulle gesê: “Hoe waar is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het!
(26) Hy het gesê: Gaan na hierdie volk toe en sê vir hulle: Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie; en kyk en kyk en tog niks sien nie.

Romeine 10:14-15

(14) Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?
(15) En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

1 Korintiërs 2:4

(4) Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees.

2 Korintiërs 5:11

(11) Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is.

2 Timoteus 4:2

(2)verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee,

1 Petrus 3:15

(15) In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.

4. Ons plig om sending/sendelinge te ondersteun

Romeine 16:1-13

Hierdie gedeelte wys wie almal vir Paulus in sy bediening ondersteun het.

Filippense 4:14-19

(14) Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan.
(15) Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle ’n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie.
(16) Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur.
(17) Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker.
(18) Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God ’n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.
(19) En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.

Filemon 1:20-24

(20) Ja, broer, in die Naam van die Here, bewys my hierdie guns. Maak my hart bly, soos ’n broer in Christus.
(21) Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet ook dat jy selfs meer as dit sal doen.
(22) Hou sommer ook vir my huisvesting gereed, want ek hoop dat God, in antwoord op julle gebede, my aan julle sal teruggee.
(23) Epafras, wat saam met my ter wille van Christus Jesus ’n gevangene is, stuur vir jou groete;
(24) ook my medewerkers Markus, Aristargos, Demas en Lukas stuur groete.

3 Johannes 1:5-8

(5) Liewe Gaius, jy handel reg in wat jy vir jou medegelowiges doen, en dit nog terwyl jy hulle nie eens geken het nie.
(6) Hulle het hier voor die gemeente vertel van jou liefde. Help hulle asseblief vir hulle verdere reis op ’n wyse soos God dit verwag,
(7) want hulle is op reis om Christus te verkondig, en hulle ontvang niks van die heidene nie.
(8) Dit is dus óns plig om sulke mense te onderhou, sodat ons daardeur ons deel kan bydra tot die verspreiding van die waarheid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui