Die Bybel oor God se geslag

Daar is vandag ’n tendens om na God ook as ’n vrou te verwys. Die hele rede daaragter is egter politieke korrektheid en word glad nie in die Bybel gesuggereer nie.

Argument: God is vroulik

Die Bybel vergelyk God op heelwat plekke in die Bybel soos ‘n moeder wat na haar kinders (Israel) omsien:

Die Bybel openbaar God as manlik

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat God Homself as manlik openbaar:

  • Die Bybel verwys deurgaans na God in die manlike vorm: “Vader”, “Koning” en “Heer”, in plaas van “Moeder”, “Koningin” en “Dame”. (Jeremia 3:19-20)
  • Jesus self was manlik en daar word na Hom as “Seun” verwys.
  • In die Nuwe Testament spreek Jesus altyd vir God as “Vader” aan, wat manlik is.
  • Jesus word vergelyk met ‘n bruidegom (manlik) en sy kerk as ‘n bruid (vroulik).

Kyk ook paragraaf Bybelverse oor God se geslag as manlik.

Vergelykings en metafore

Alhoewel God se karakter soms in die Bybel vergelyk word met dié van ‘n vrou (Num 11:12; Jes 49:15), moet dit gesien word as vergelykings en nie letterlik gelees word nie.

Die Bybel gebruik ook ander vergelykings of metafore om na God te verwys:

  • Jesus het gesê dat Hy sy volk wou bymekaar maak soos ’n hen haar kuikens bymekaar maak (Mat 23:37). Maak dit nou van Jesus ’n hen?
  • God is byvoorbeeld ’n “herder” (Ps 23:1)
  • ’n “rots” (Ps 29:1)
  • ‘n “arend” (Deut 32:11)
  • ’n “skuilplek” (Deut 33:27)
  • ’n “leeu” (Jes 31:4)
  • ’n “leëraanvoerder” (Jos 5:14)

In dieselfde Jesaja 49 wat sê: “(15)Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.“, staan ook “(16)Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my.” ’n Mens kan tog nie vers 15 letterlik probeer lees en vers 16 figuurlik nie.

Nog metafore in die Bybel:

Jesaja 66:1 lui “So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete.” Moet ons aflei dat ons God se voete êrens op aarde gaan sien? Nee, want dit is ’n metafoor.

Jesaja 66: (10)Wees bly saam met Jerusalem en juig saam met haar, almal wat haar liefhet. Wees vrolik saam met haar almal wat oor haar getreur het. (11)Julle sal aan haar drink totdat julle genoeg het, totdat julle veilig voel; julle sal drink van die oorvloed wat sy het, en dit geniet.

‘n Mens kan tog nie aan Jerusalem drink nie, want Jerusalem is ’n stad, nie ’n letterlike vrou nie. Dit is ’n metafoor. Vers 13 bevat ook die woord “soos”, wat dit as ’n vergelyking klassifiseer.

Slotopmerkings

Nog ’n paar punte:

  • Natuurlik het God ook vroulike karaktereienskappe (oor wat presies die verskil tussen manlike en vroulike karaktereienskappe is, kan ’n mens seker ook redeneer), maar jy hoef nie aan God as ’n vrou te dink om ook Sy sagter eienskappe te aanvaar nie. Alle mans het ook tot ’n mindere of meerdere mate ’n sagter kant en dan kry ’n mens ook vroue wat harder as mans is.
  • Dit is waar dat daar in sekere tale manlike, vroulike en onsydige vorme voorkom. Dit is egter nutteloos om in die taalkunde te soek na die geslagtelikheid van woorde wat verwys na God. In sekere tale kry ons naamwoorde wat manlik, vroulik of onsydig aangedui word. Daar is egter nie altyd ’n rasionaal agter die geslagtelikheid van voorwerpe nie. By die Duitsers is ’n motorkar der wagen (manlik), maar hulle praat van das auto (onsydig). Dit is ’n algemene verskynsel by verskillende tale.
  • God is bo menslike geslagtelikheid verhewe. By die afgode van die mense kry ons manlike en vroulike gode. Dit is gewoonlik ’n weerspieëling van wellus wat in die harte van die mense gelewe het. Dit sou dus baie gevaarlik vir die kerk wees om op ’n pad te begin beweeg waar ons anders oor God begin praat en dink as wat Hy Homself aan ons geopenbaar het.
  • In die Bybel lees ons dat die skrywers onder leiding van die Gees in verhewe terme oor God gepraat het. God is aangespreek as die Almagtige of die Heilige. Daar is oor Hom gepraat in die manlike.
  • Jesus het konstant van God as sy Vader gepraat, nooit as sy Moeder nie. Hy het ons ook pertinent geleer om God as Vader aan te spreek.
  • Die prediking in die kerk word gesien as die verkondiging van die Woord van die Here. Mense kom kerk toe om die Woord van die Here te hoor. Wanneer ’n leraar dus, soos in hierdie geval ’n preek hou en voorgee dat hy by God gehoor het(!), dat God ’n vrou is en so aangespreek moet word, is dit ’n ernstige saak wat nie ongesiens kan verbygaan nie. Dit het die potensiaal om verwarring onder lidmate te skep en die integriteit van die prediking in hierdie gemeente onder verdenking te bring.
  • Is dit belangrik hoe ons oor God dink? Kan ons nie ook maar aan God as ’n vrou dink nie? Die groot probleem daarmee is dat dit nie is hoe God Homself deur die Bybel aan ons openbaar nie. As ons meer soos Jesus wil word, moet ons aan God dink as “Vader”, soos Jesus.
  • Dit is baie duidelik dat ’n mens verkeerd met die Bybel omgaan om daarin te lees dat God ook ’n vrou is. Dit is net bloot verkeerde eksegese en hermeneutiek. Dit is onverskillig om so met die Bybel om te gaan. Indien jy so met die Bybel werk, dan kan jy feitlik enigiets in die Bybel lees wat jy wil.
  • Indien sy doel was om God se vroulike, sagte eienskappe uit te lig, was daar baie beter maniere: Hy kon byvoorbeeld in die algemeee wys hoe verskillend ’n pa en ’n ma kinders grootmaak of hoe hulle teenoor hulle kinders optree en dan kon hy daarop wys dat God die beste van beide is en nog meer. Dit is egter absoluut verkeerd om verse uit die Bybel totaal buite hulle konteks te gebruik om te probeer redeneer dat God ook ’n vrou is.

Iemand het die volgende baie treffende ding gesê:

“As ek reg onthou gebruik liberales die vertaling van ELOHIM as God wat omgee soos ’n moeder om hierdie standpunt van God as vrou mee te begin. Dan word die argument nog verder verdraai na: “’n moeder is iemand met borste.” Dus het God ook borste waarmee “sy” ons voed. As jy eers op hierdie paadjie is word dit erg glibberig. Nou word God as Koning (van hemel en aarde) skielik die “koningin van die hemel”. As jy dit op Google intik, is jy baie vinnig by Isis – die koningin van die hemel. Dan is jy in pront Afrikaans – in jou moer in. Die argument kan dan nog een stappie verder gevat word naamlik – godin van liefde – en dan is jy vierkanting binne-in pornografie en uiteindelik tempelprostitusie.”

Bybelverse oor God se geslag as manlik

Psalm 103:13

(13)Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.

Jesaja 9:6-7

(6)Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg. (7)Die Here het ’n boodskap gestuur vir Jakob, vir Israel; Hy het hulle aangespreek

Jeremia 3:19-20

(19)Ek het gesê: Hoe graag wil Ek jou ’n seun van My maak en aan jou ’n lieflike land gee, ’n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het. Ek het gesê: Noem My “Vader”, en moet nooit weer van My af wegdraai nie. (20)Maar soos ’n vrou wat ontrou is aan haar man, so was julle, Israel, ontrou aan My, sê die Here.

Daniël 7:13-14

(13)“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. (14)“Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.

Johannes 1:18

(18)Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Johannes 3:13-16

(13)Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. (14)Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, (15)sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. (16)“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Johannes 4:24

(24)God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”

Efesiërs 1:20-21

(20)wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: (21)hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. (22)Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. (23)Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

1 Timoteus 6:15

(15)Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers.

Hebreërs 1:3-4

(3)Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. (4)Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam. (5)Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê:
“Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader,” (Ps 2:7)
en ook:
“Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees”? (2 Sam 7:14; 1 Kron 17:13)

(7)Van die engele sê Hy: “Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.” (8)Maar van die SeunHy:
“U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied. (9)U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.”

Openbaring 1:5-6

(5)en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos (6)en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Openbaring 17:14

(14)Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”

Openbaring 19:13,16

(13)Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.” (14)Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. (15)Uit sy mond het daar ’n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. (16)Op sy klere, by sy heupe, was daar ’n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui