Bybel oor egskeiding

Die volgende verse in die Bybel gee riglyne oor egskeiding:

Genesis 2:24

(24)Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

Maleagi 2:16

(15)Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ’n nageslag moet wees wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie.(16)Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

Matteus 5:31-32 (Mat 19:9; Mark 10:11-12, Luk 16:18)

(31)“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ (32)Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Matteus 19:11-12

(11)Maar Hy sê vir hulle: “Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. (12)Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. “Wie dit kan doen, laat hy dit doen.”

Kyk ook Matteus 19:1-12 (Glo die Bybel).

Markus 10:2-12

(6)Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ (7)‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, (8)en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. (9)Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.” (10)In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. (11)Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. (12)En as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

Kyk ook Markus 1:1-12 (Glo die Bybel).

Lukas 16:18

(18)“Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Romeine 7:2-3

(2)Die getroude vrou, byvoorbeeld, is deur die wet aan haar man gebind so lank as hy lewe. As haar man te sterwe kom, is sy onthef van die wet wat haar aan haar man gebind het. (3)Maar as sy ’n ander man se vrou word so lank as haar man lewe, sal sy as ’n egbreekster beskou word. As haar man gesterf het, is sy egter vry van die wet en is sy nie ’n egbreekster as sy ’n ander man se vrou word nie.

1 Korintiërs 7:10-11,15,39

(10)Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie. (11)As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ’n man ook nie van sy vrou skei nie.

(15)As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe.

(39)’n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met ’n gelowige is. (40)Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.

Efesiërs 5:33

(33)Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ’n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

Hebreeus 13:4

(4)Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

1 Petrus 3:1

(1-2)Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui