Die Bybel oor Jesus se opstanding

Skeptici kan beswaarlik ontken dat Jesus ’n werklike historiese persoon was wat werklik tussen 0 en 33 nC geleef het. Skeptici betwyfel egter sy opstanding.

Hierdie artikel bespreek die moontlikheid dat Jesus nie uit die dood opgestaan het nie.

1 Die Bybel

Die Bybel is baie duidelik dat Jesus uit die dood opgestaan het. Daar word in die volgende gedeeltes daarna verwys:

  • Matteus 28:1-20 : Die vroue by die graf. Die soldate word omgekoop. Jesus se opdrag aan die dissipels.
  • Markus 16:1-20 : Die vroue by die graf. Jesus verskyn aan verskeie mense.
  • Lukas 24:1-53 : Die vroue by die graf. Die Emmausgangers. Verskyning aan die dissipels. Hemelvaart.
  • Johannes 20:1-25 : Die vroue by die graf. Verskyning aan Maria Magdalena. Jesus verskyn aan die dissipels. Jesus en Tomas.
  • Johannes 21:1-25 : Verskyning aan die dissipels.
  • Handelinge 1:1-11 : Jesus se opdragte aan die dissipels en Sy hemelvaart.
  • Handelinge 9:3-5 : Paulus se bekering.
  • 1 Korintiërs 15:3-8 : Lys van mense aan wie Jesus verskyn het.
  • 2 Timoteus 2:8 : Onthou altyd dat Jesus Christus, ’n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig.

Skeptici gebruik egter die volgende teorieë om teen Jesus se opstanding te argumenteer:

  • Beswymingsteorie
  • Hallusinasieteorie
  • Dissipels steel liggaam

2 Beswymingshipotese

(In Engels word dit die “Swoon theory” genoem). Hierdie is die teorie dat Jesus wel gekruisig is, maar nooit gesterf het nie.

Die beswymingsteorie het die volgende probleme:

  1. Jesus is teen 9:00 die oggend gekruisig en is teen 15:00 die middag, ses ure later, dood. Toe Hy gekruisig is, was hy alreeds liggaamlik baie uitgeput. Jesus het die aand voor Sy kruisiging niks geslaap nie en het ’n baie spanningsvolle nag beleef. Hy het selfs bloed gesweet (Lukas 22:44). Later die oggend is Jesus gegesel wat met geweldige bloedverlies gepaard gegaan het. Jesus is oor die kop geslaan en het ’n doringkroon gekry. Jesus sou baie onwaarskynlik nog ’n kruisiging ook oorleef.
  2. Romeinse soldate was opgelei om mense dood te maak. Hulle sou baie onwaarskynlik ’n fout gemaak het. Inteendeel, soldate wat ’n gekruisigde sou laat wegkom het, was met die dood gestraf.
  3. ’n Romeinse soldaat het ’n spies in Jesus se sy gesteek wat bevestig het dat Jesus dood was. Dit was nie nodig om sy bene te breek nie. Vandag bevestig medici dat indien Jesus dood was, ’n mengsel van bloed en water uit die steekwond sou uitkom, soos dit beskryf is in Johannes 19:33-34. Dit is ’n duidelike teken daarvan dat sy longe plat geval het en dat hy dood is van versmoring.
  4. Indien Jesus werklik al hierdie dinge oorleef het, sou die kruie waarmee Hy gebalsem was Hom doodmaak. In Johannes 19:39 word genoem dat Nikodemus ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn vir Jesus se liggaam verskaf het.
  5. En as Jesus dít oorleef het, sou Jesus heeltemal te swak gewees het om die klip van die graf weg te rol. En hoe sou Hy die wagte oorrompel het?
  6. Verder sou Jesus die dissipels in ’n kritieke toestand ontmoet het en sou hy onmoontlik aan al die mense kon verskyn genoem in paragraaf 1 hierbo en hulle inspireer om die Evangelie die wêreld in te stuur nie.

Vir meer hieroor, kyk:

3 Hallusinasieteorie

Hierdie is die teorie dat die mense wat beweer dat hulle Jesus gesien het, bloot hallusinasies beleef het. Daar is die volgende probleme daarmee:

1. Wat van dié wat die waarheid geweet het?

Almal sou nie om te bos gelei geword het met hallusinasies nie. Daar sou mense wees wat besef het dat hierdie mense bloot hallusinasies beleef het. Daarom sou dit feitlik onmoontlik wees om die Christelike geloof van die grond af te kry met die idee dat Hy uit die dood opgestaan het. Kyk Hoe nie om ’n nuwe geloof te begin nie.

2. Afwagting en verwagting

Afwagting en verwagting speel ’n baie belangrike rol in die voorkoms van hallusinasies. Uit die reaksie van Jesus se volgelinge en andere is dit baie duidelik dat daar nie by hulle ’n afwagting was dat Jesus sou opstaan nie:

  • Dissipels: Matteus 28 : (16)Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. (17)Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.
  • Dissipels: Markus 16 : (10)Sy [Maria Magdalena] het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. (11)Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie. (12)Daarna het Jesus met ’n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. (13)Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie.
  • Tomas: Johannes 20 : (25)Die ander dissipels sê toe vir hom [Tomas]: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
  • Saulus: Handelinge 9: (3)Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom gestraal. (4)Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (5)“Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg. (Ons weet dat Paulus Christene vervolg het toe Jesus aan hom verskyn het. Paulus het definitief nie verwag dat Jesus geleef het nie.)
  • Jakobus: 1 Korintiërs 15: (7)Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. (Jakobus was Jesus se broer – hy was glad nie oortuig dat Jesus die Messias was nie (kyk Johannes 7:1-9)).

3. Diversiteit van verskynings

Die diversiteit van die verskynings maak hallusinasies ’n onwaarskynlike verduideliking. Jesus het onder verskeie omstandighede en plekke aan talle individue verskyn. Hy het beide binne en buite verskyn. Hy het nie net op een bepaalde dag verskyn nie, maar oor ’n tydperk van weke. Hy het verskyn aan mense met verskillende agtergronde en persoonlikheidstipes.

4. Verskyning aan groepe mense

Kyk Lukas 24:36-43, Matteus 28:9, Johannes 20:26-30; 21:1-14, Handelinge 1:3-6, 1 Korintiërs 15:5-7.

Volgens die sielkundige Gary A. Sibcy: “I have surveyed the professional literature (peer-reviewed journal articles and books) written by psychologists, psychiatrists, and other relevant healthcare professionals during the past two decades and have yet to find a single documented case of a group hallucination, that is, an event for which more than one person purportedly shared in a visual or other sensory perception where there was clearly no external referent.

En die sielkundige, Gary Collins: “Hallucinations are individual occurrences. By their very nature only one person can see a given hallucination at a time. They certainly aren’t something which can be seen by a group of people. Neither is it possible that one person could somehow induce a hallucination in somebody else. Since a hallucination exists only in this subjective, personal sense, it is obvious that others cannot witness it.

Lee Strobel vertel dat ’n baie gerespekteerde sielkundige vir hom die volgende gesê het: “Lee, if 500 people experience the same hallucination at the same time it would be a bigger miracle than the resurrection itself.

5. Leë graf

As hierdie mense aan wie Jesus verskyn het werklik bloot gehallusineer het, sou Jesus se dooie liggaam hulle baie vinnig oortuig het dat hulle bloot ’n hallusinasie gehad het. Die graf was egter leeg! Inteendeel, die priesterhoofde het die wagte omkoopgeld gegee om te sê dat die dissipels die liggaam gesteel het (Matteus 28:12-15).

Vir meer oor die hallusinasiehipotese, kyk:

4 Dissipels steel liggaam

Daar is die volgende probleme met hierdie hipotese:

  • As die dissipels Jesus se liggaam gesteel het en gemaak het of Hy uit die dood opgestaan het, sou hulle nie bereid gewees het om vir hulle geloof te sterf nie. “Leuenaars is slegte martelare!” Kyk Hoe is die 12 dissipels dood?.
  • Jesus het totaal gefaal as morele leermeester as al sy volgelinge sy liggaam gesteel het en dan daarna voorgegee het dat Hy uit die dood opgestaan het en dat hulle Hom fisies gesien het.
  • Indien die liggaam gesteel is, hoekom het die dissipels die moeite gedoen om die doeke af te haal en selfs op te vou?
  • Wat sou die rede wees dat die dissipels die liggaam sou wou steel? Soos reeds gesê hierbo het die dissipels nie verwag dat Jesus uit die dood sou opstaan nie.

Vir meer oor die gesteelde liggaam hipotese, kyk:

5 Jesus se broers en susters

Voor Jesus se dood en opstanding was sy broers skepties oor sy roeping en sy Godheid. Na Sy opstanding het ten minste twee van Jesus se broers (Jakobus en Judas) volgelinge van Hom geword en selfs elkeen ‘n brief geskryf wat in die Bybel opgeteken is.

Kyk Jesus se broers en susters.

6 Ander bronne

7 Bylaag A: Dele in die Bybel

Voorspellings van Jesus se opstanding

Na die opstanding

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui