Die volgende verse is duidelik dat God nie van gedagte verander nie.
- Numeri 23: (19)God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?
- 1 Samuel 15: (29)Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”
- Psalm 33: (11)Maar die planne van die Here staan vir altyd vas, sy besluite van geslag tot geslag.
- Psalm 102: (27)Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. … (28)Maar U bly dieselfde, …
- Spreuke 19: (21)Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas.
- Jesaja 40: (13)… wie kan sy raadgewer wees? (14)Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree?
- Maleagi 3: (6)Ek, die Here, het nie verander nie
- Romeine 11: (29) As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.
- Jakobus 1: (17) Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.
Volgens die volgende verse in die Bybel lyk dit egter of God wel van gedagte kan verander:
- Genesis 6: (6)…was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.
- Eksodus 32: (9)Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit ‘n opstandige volk is hierdie. (10)Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. … (14) Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.
- 1 Samuel 15: (11)Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het…
- 1 Konings 21: (29)Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig? Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sý lewe laat plaasvind nie. Tydens die bewind van sy seun sal Ek die ramp oor sy familie bring.
- 2 Konings 20: (5)Gaan terug en sê vir Hiskia: Ek het jou gebed verhoor, …. Ek gaan jou gesond maak, … (6)Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng …
- Jona 3: (10)Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.
Implikasie
Sou God in sekere omstandighede sy gedagte verander is die implikasie hiervan dat God se aanvanklike plan nie baie goed was nie en dat die aksies van mense God oortuig het om van plan te verander. Dus, het mense beter geweet as God en het mense vir God oortuig om die regte ding te doen.
Hierdie gedagte is teenstrydig met die res van die Bybel wat God as ‘n alleswetende wese beskryf.
Die probleem is, hoe moet ‘n mens dan laasgenoemde verse interpreteer?
Agab, Hiskia en Jona
In Agab, Hiskia en Jona se geval, kan ‘n mens redeneer dat God nie sy gedagte verander het nie, maar dat dit gaan daaroor dat dade gevolge het: Indien die persoon A doen, gaan God X doen en as die persoon B doen gaan God Y doen.
God het geweet wat in elke geval sou gebeur, maar hulle moes steeds die besluit neem.
Genesis 6 en 1 Samuel
Uit Genesis 6 en 1 Samuel blyk dit dat God spyt was daaroor dat Hy die mens gemaak het en dat hy Saul tot koning gesalf het. So asof dit vir God ‘n onaangename verrassing was dat dit gebeur het. Niks verras God nie, dus moet ‘n mens hier ‘n ander interpretasie kry.
Hierdie is waarskynlik ‘n geval van antropopatisme: Die emosie wat in die Bybel beskryf word, is nie God se werklike emosie nie, maar God word beskryf asof Hy menslike emosies ondergaan het.
Eksodus 32
In Eksodus 32 lees ons dat God lyk my sy belofte aan Abraham (Gen 12:2) vergeet het en die volk wou uitroei weens die goeie kalf wat hulle aanbid het. Dit blyk dat as dit nie vir Moses was wat God anders oortuig het nie, God wel die volk sou uitwis.
Dit is teenstrydig met ‘n God wat:
- Altyd getrou bly aan Sy beloftes.
- ‘n Alleswetende God is vir wie niks ‘n verrassing is nie.
- Alle besluite in wysheid neem en nie oorhaastig nie.
Daarom is dit ook ‘n geval van antropopatisme, soos hierbo. Dit mag dalk lyk of God sy gedagte verander het maar wat waarskynlik hier gebeur het is:
- Die volk het gesondig en moes gestraf word.
- Moses het ingetree vir die volk en sodoende vergifnis vir die volk bewerkstellig.
Bronne
- COMMENTARY: A question in apologetics: Does God change his mind? (Paul Baxter, 22 Jul 2021)
- Does God change His mind? (Got questions)
- Did Hezekiah Convince God to Allow Him to Live Fifteen Extra Years? (Does God Know Everything? – Question 26, Don Stewart)
- Did Moses Persuade God to Change His Mind? (Does God Know Everything? – Question 24, Don Stewart)
- Does Prayer Change God’s Mind? — Four Truths & One Conclusion (Jean Wilund, 30 Sep 2020)
- If God Knows Everything, Why Did He Change His Mind? (Greg Koukl, 24 Feb 2025)
- If God Is All-Knowing, Does That Invalidate the Idea of Free Will? (Time of Grace Ministry, 17 Julie 2025)
- Relenting, Repenting, and Contradictions – Exodus 32:14 (David Guzik, 11 Aug 2021)