Hoekom glo ons in die bestaan van God?

Daar is baie goeie rede om op ’n rasionele manier te glo dat daar ’n god moet wees. Hier volg ’n paar dinge wat ons nie kan verklaar sonder ’n god nie:

1. Waar kom materie vandaan?

Die wet op behoud van massa sê dat geen materie geskep of vernietig kan word nie. Dus, as daar aan die begin niks was nie, waar kom al die materie van vandag vandaan?

Jy kan redeneer dat materie geskep kan word deur Einstein se formule E = mc2, maar dan moet jy die ontstaan van energie eers verklaar.

2. Waar kom energie vandaan

Die wet van behoud van energie, ook bekend as die eerste wet van termodinamika, sê dat energie nie geskep of vernietig kan word nie. Dit kan slegs omgesit word van een vorm na ’n ander. Byvoorbeeld, potensiële energie kan omgesit word in bewegingsenergie.

As daar geen energie voor die skepping (of oerknal) was nie, beteken dit die heelal sou by nul Kelvin, of -273.15 grade Celsius wees. Waar kom die hitte van die son en al die ander sterre in die heelal vandaan?

3. Waar kom nuttige energie vandaan?

Volgens die tweede wet van termodinamika raak alle energiebronne op. Daar word ook daarna verwys as entropie wat neig na ’n maksimum. Die beste voorbeeld van ’n nuttige energiebron, is die son wat letterlik alle energie op aarde vir ons gee. Ons weet egter dat die son stadig maar seker besig is om uit te brand en sal na beraming oor 7 tot 8 miljard jaar nie meer energie aan die aarde kan verskaf nie. Dit is waar vir al die sterre in die heelal: oor miljarde jare van nou af sal die hele heelal slegs een gemiddelde temperatuur wees. Vir meer hieroor, kyk Waar kom al die nuttige energie vandaan?

4. Waar kom die natuurwette vandaan?

Die natuurwette word soms as vanselfsprekend aanvaar, maar ook dit moes geskep gewees het. Hier volg ’n lys van natuurwette:

‘n Eenvoudige ding soos gravitasie is steeds ’n misterie vir wetenskaplikes (kyk Gravity, The mystery force). Sonder gravitasie sou die heelal egter nie kon bestaan nie omdat dit onder andere planete in hulle wentelbane hou.

5. Waar kom lewe vandaan?

Wetenskaplike in ’n laboratorium met baie ingewikkelde toerusting sê: 'As ek net hier lewe kan sintetiseer dan het ek bewys dat daar nie intelligensie nodig was om lewe aan die begin te skep nie.' Of in Engels: 'If I can just synthesize life here then I'll have proven that no intelligence was necessary to form life in the beginning.'

Om die eerste lewe te verklaar is ’n reusagtige dilemma. Jy het basies die volgende dinge nodig:

  1. DNS inligting
  2. Aminosure
  3. Proteïene
  4. Lewe

Kom ons bespreek elkeen van hierdie dinge kortliks:

5.1. Waar kom DNS inligting vandaan?

Alle lewende dinge bevat DNS-inligting. Hierdie inligting is uiters noodsaaklik, want dit bepaal alle eienskappe van die lewende organisme. DNS word soms die boek van die lewe genoem. Geen regdenkende mens sal egter glo dat enige boek deur middel van ewekansige prosesse geskep kan word nie.

Kyk:

5.2 Waar kom aminosure vandaan?

Aminosure is die boublokke van proteïene wat nodig is vir lewe. Die Miller-Urey eksperiment het wel aminosure opgelewer, en is deur ateïste met ope arms verwelkom, maar daar is hopeloos te veel probleme om dit as ’n realistiese opsie te klassifiseer. Dus is daar tans nog geen realistiese hipotese hoe die regte aminosure spontaan kon vorm nie.

5.3 Waar kom proteïene vandaan?

Om alleen die boublokke van lewe (proteïene) te kry deur ’n ewekansige proses, verg ’n groot klomp geloof. In Meer oor waarskynlikhede en Hawking, word gewys hoe uiters onwaarskynlik die regte proteïene vanself tot stand sal kom.

5.4 Die probleem van abiogenese?

As jy die boublokke vir lewe het (proteïene) en daar is DNS inligting beskikbaar, beteken dit steeds nie dat jy lewe het nie. Wanneer jy ’n visblikkie oopmaak, kry jy ALTYD net dooie vis. Jy sal nooit, enige lewende ding in so ’n blikkie kry nie, ten spyte van die feit dat alles wat nodig is vir lewe teenwoordig is.

Netso, wanneer jy ’n padda in ’n voedselverwerker sit, het jy al die boublokke vir lewe, maar nooit sal daar ’n nuwe lewende vorm ontstaan uit ’n opgekapte padda nie.

Geen dokter kan ’n mens weer lewendig maak as hy eers dood is nie, ten spyte van die feit dat hy al die boublokke vir lewe tot sy beskikking het.

Kyk ook:

5.5 Panspermia

Panspermia is die idee dat buiteruimtelike wesens die eerste lewe op aarde geplant het. Die rede vir hierdie idee is niks anders nie as omdat dit so onwaarskynlik is dat die eerste lewe spontaan kon ontstaan het. Die probleem met panspermia is dat die probleem van eerste lewe sonder God bloot verder weg geskuif word. Die feit dat heelwat ateïste aanhangers hiervan is (onder andere Richard Dawkins) is op sy eie ’n bewys dat daar ’n god is.

Kyk ook Panspermia.

6. Wonderlike planeet aarde

Om lewe op aarde moontlik te maak, is daar ’n groot aantal faktore wat in plek moet wees, anders sal lewe onmoontlik wees. Dit sluit dinge in soos:

  1. Die aarde het baie water
  2. Somers en winters is nie te lank of te kort nie
  3. Die aarde is die regte afstand van die son sodat die temperatuur op aarde reg is
  4. Die aarde se wentelbaan is byna ’n perfekte sirkel wat sorg dat die temperatuur op aarde nie te veel skommel nie
  5. Die son is die regte grootte
  6. Die aarde se inklinasiehoek is reg sodat seisoene optimaal is
  7. Die aarde se rotasiespoed is reg sodat die dag en nag temperature nie te veel verskil nie

Vir meer inligting hieroor, kyk:

7. God in die wiskunde

God wys homself vir ons selfs in die wiskunde. Kyk God in wiskunde.

8. Die heelal het ’n begin

Soos genoem in Waar kom nuttige energie vandaan? hierbo, loop die heelal af. Oor miljarde jare sal al die sterre in die heelal uitgebrand wees en die heelal sal oral een gemiddelde temperatuur wees. Dit is daarom dat almal dit eens is dat die heelal ’n begin het. Ateïste en evolusioniste glo dat alles begin het met die oerknal.

Een van die mees gevestigde beginsels van logika / wetenskap / werklikheid is die oorsaaklikheidsbeginsel of kousaliteitsbeginsel (Engels=”principle of causality“):

Alles wat ’n begin het, het voldoende oorsaak.

Alles wat aan ons bekend is, in die fisieke wêreld, is die gevolg van een of ander oorsaak. Niks begin sonder ’n oorsaak nie.

Die begrip “oorsaak en gevolg” val ook hieronder.

Hier is ’n paar voorbeelde:

Begin Oorsaak
Vuur wat brand Vuurhoutjies, aansteker, vergrootglas
‘n Persoon kry griep Blootstelling aan griepvirus
Tafel Iemand het die tafel gemaak omdat hy dit nodig gehad het
‘n Klip rol van ’n berg af en land op ’n kar Erosie het die klip voldoende losgemaak sodat dit van die berg afgerol het

Dus, omdat die heelal ’n begin het, het dit ’n oorsaak en kon dit dus nie vanself ontstaan nie.

Kyk ook:

********

9. Waar kom morele waardes vandaan?

Die ontstaan van morele waardes is streng gesproke nie ’n aanduiding dat daar wel ’n god is nie, maar indien daar nié ’n god is nie, dan is daar geen absolute morele waardes nie. Ek mag dalk dink dat diefstal of moord onaanvaarbaar is, maar die volgende persoon nie. Daar is geen gronde waarop ek so ’n persoon anders sal kan oortuig nie, tensy daar ’n hoër gesag is waarop ek my kan beroep.

Kyk:

10. Waar kom God vandaan?

Alles hierbo in ag geneem is dit sinneloos om te vra waar God vandaan kom of wie het God geskep. Dit is iets wat ons nooit sal weet nie en ook nie sal verstaan nie. Die feite hierbo genoem maak die ontstaan van God baie meer waarskynlik as om die ontstaan van alles te probeer verklaar sonder God.

Dit is soos Norman L Geisler en Frank Turek sê met hulle boek se titel:

I Don’t Have Enough Faith to Be an Atheist

Dit is werklik soos die Psalmdigter in Psalm 14:1 sê:

Die dwaas dink daar is geen God nie.

En soos Paulus sê in Romeine 1:

(18)God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. (19)Wat ’n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. (20)Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, (21)omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. (22)Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas.

Kyk ook Waar kom God vandaan?

2 thoughts on “Hoekom glo ons in die bestaan van God?”

  1. Die mens het god en gode geskep nie anders om nie! Yahweh, die Bybelse god, is bewys daarvan. Daar is geen manier dat so wese kan bestaan of bestaan het nie! Lees die Bybel met n oop gemoed en jy sal die lig sien en dankbaar wees dat so n ongebalanseerde siek wese deur siek mense op gemaak is en gelukkig nie kan bestaan nie! Daar is duisende gode en gelowe al geskep deur mense, so ook die christen geloof met duisende denominasies, maar moenie worry nie. Joune is die regte een🤔 Groetnis en laat leef en laat leef!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui