Die Bybel oor die hemel

Ek het hierdie artikel geskryf om die artikel Om vertroosting te vind in die dood van ’n geliefde aan te vul.

Daar is ’n grappie van die man en vrou wat gereeld gholf gespeel het en op rype ouderdom tot sterwe kom. Toe hulle in die hemel kom is hulle baie verbaas en bly om te verneem dat daar gholfbane in die hemel is. Hulle gaan speel sommer dadelik nege gaatjies. Die volgende dag speel hulle weer. So by die vyfde gaatjie sê die man vir sy vrou: “Jy weet, as dit nie vir al jou gesonde kos was nie, kon ons al lankal hier gewees het.” 🙂

Alle mense wat in ’n hiernamaals glo, besef dat die hemel ’n lekker plek is om te wees en dat jy vir ewig daar sal wees. Dit gaan ’n baie beter plek wees as die aarde. Daar gaan geen dood, swaarkry of hartseer wees nie. Wanneer jy daar is, sal jy nie terugverlang na enigiets op aarde nie:

  • Beplande vakansie(s)
  • Stokperdjies/sport
  • Rykdom
  • Suksesvolle loopbaan
  • Vooruitsig om te trou
  • Kinders met ’n blink toekoms
  • Om te sien hoe jou kleinkinders grootword

Daar was ’n boer wat baie lief was om met staal te werk. Hy het (grappenderwys?) gesê dat hy nog lank nie gereed was om te sterf nie omdat hy seker is dat hy nie met staal sou kon werk in die hemel nie en dat hy dit te veel sou mis.

Wel, hy is verkeerd. Niks daarvan gaan saakmaak nie. Dit gaan nie saakmaak hoeveel van die vreugdes jy van die lewe op aarde kon beleef het nie. Nooit sal jy in die hemel dink: dit is darem maar ’n tragedie dat ek nooit oorsee was nie of dat ek nooit getroud was nie of dat ek nooit kinders gehad het nie. Niks hiervan gaan saakmaak nie. Mense wat in armoede op aarde geleef het gaan nie dink: Ek het darem die hemel gehaal nie, maar dit sou darem lekker wees as ek meer geld op aarde gehad het.

Francis Chan beeld dit baie mooi uit in Francis Chan – Rope Illustration.

Hier volg ’n paar verse in die Bybel oor wat ons in die hemel kan verwag:

Jesaja 11:6-9

(6)Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. (7)Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. (8)Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. (9)Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.

Lukas 15

(7)Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.

Lukas 20

(35)maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. (36)Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is. (37)En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. (38)Hy is tog nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.

(Kyk ook Matteus 22:23-33.)

Handelinge 3:21

(21) Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê.

Handelinge 7:55-56

(55)Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. (56)”Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”

Filippense 3:13-14

(13)Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. (14)Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Openbaring 21

(2)En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is. … (4)Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” (5)Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” … (11)Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos ’n kristalhelder opaal. … (18)Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos ’n skoon spieël lyk. (19)Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, (20)die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. (21)Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos ’n spieël. … (23)Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. (24)Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. (25)Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. (26)Die mense sal die luister en die rykdom van die nasies daarheen bring. (27)Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.

Nabydoodondervindinge

Daar is baie gevalle van mense wat beweer dat hulle nabydoodondervindinge gehad het. Kyk byvoorbeeld:

Ek glo dat God hierdie aan sommige mense openbaar uit Sy genade vir die mensdom. Of jy dit egter wil glo of nie, ek dink dit gee ’n idee wat ons tewagte kan wees in die hiernamaals. Dit is ’n plek wat baie beter as die aarde is waarop ons vandag woon. Indien jy daar is, gaan jy na niks verlang wat jy hier op aarde gehad het nie.

Die Bybel sê dat ons nie skatte op aarde bymekaar moet maak nie, maar in die hemel (Matteus 6:20). Presies wat daardie skatte in die hemel vir ons sal beteken weet ek nie, maar ons fokus moet daarop wees. In die hemel gaan jy veel meer vreugde hê oor die siele wat jy vir Christus gewen het as enigiets anders wat jy op aarde gedoen het.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui