Hiskia

Opsomming

Hiskia was die 13de koning van Juda na die skeuring van die ryk.

Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg. Hy het op God vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie. Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie. Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het. {2 Kon 18:3-7; 2 Kron 29:2}

In sy 14de regeringsjaar het hy siek geword en sou sterf. Nadat hy tot die Here gebid het, het God sy lewe verleng met 15 jaar.

Kort hierna het koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia toe gestuur omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte. Hiskia het die gesante al sy skatkamers gewys. Daar was niks wat Hiskia die gesante nie laat sien het nie.

Jesaja het sy straf afgekondig: Alles wat in sy paleis was, sou weggedra word na Babel toe. Van sy eie seuns sou gevat word om diens te doen in die paleis van die koning van Babel. Dit sou egter nie in sy leeftyd gebeur nie.

Dit is die enigste ding wat Hiskia verkeerd gedoen het tydens sy koningskap.

15 jaar later het hy gesterf.

Tydlyn

752 vC:

Hiskia word gebore. Sy pa was Agas. Op hierdie stadium was Hiskia se oupa, Jotam, koning oor Juda.

Berekening: Hiskia was 25 toe hy koning geword het. {1 Kon 18:2; 2 Kron 29:1} As hy in 727 vC koning geword het, is hy dus in 727+25 = 752 vC gebore.

742 vC:

Toe Hiskia se pa, Agas, 20 jaar oud was, word hy koning oor Juda. Dit was in die 17de regeringsjaar van Peka van Israel. Agas het 16 jaar geregeer {2 Kon 16:1-2; 2 Kron 28:1}

727 vC:

Hiskia word onderkoning van Juda toe hy 25 jaar oud was. {2 Kon 18:2; 2 Kron 29:1} Dit gebeur in die 3de regeringsjaar van Hosea van Israel.

726 vC:

Hiskia se pa, Agas, sterf {2 Kon 16:20; Jes 14:28-32}. Hy het 16 jaar geregeer. {2 Kon 16:1-2; 2 Kron 28:1}

Berekening: 742-16 = 726 vC

Hiskia, word verhoog van onderkoning na koning van Juda.

In sy eerste jaar as koning, in die eerste maand, herstel Hiskia die tempel se deure. Hy beveel ook die Leviete om hulleself te reinig. {2 Kron 28:24; 2 Kron 29:3-4}

Op die 1ste dag van die eerste maand begin die priesters om die tempel skoon te maak. Op die 8ste dag begin hulle met die voorportaal. Agt dae later, op die 16de is hulle klaar. {2 Kron 29:17}

Die paasfees vind eers in die tweede maand plaas. Dit word uitgestel volgens die wet in Numeri 9:10-11:

  • die eerste maand is gebruik om die tempel skoon te maak
  • daar nog nie genoeg gereinigde priesters is nie

Hiskia nooi selfs die stamme van Israel vir die paasfees, maar hulle lag die boodskappers uit. Tog het mense in Aser, Manasse en Sebulon berou gekry en na Jerusalem toe gekom. {2 Kron 30:1-13}

Hy laat die hoogtes verwoes, slaan die klippilare stukkend en kap die gewyde pale af. {2 Kon 18:4; 2 Kron 30:14}

Hy laat die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, stukkend slaan, omdat die Israeliete die koperslang met offers vereer het. Die slang is Negustan genoem. {2 Kon 18:4}

724 vC:

In die 4de regeringsjaar van Hiskia (die 7de regeringsjaar van Hosea) trek koning Salmaneser van Assirië op teen Samaria en beleër die stad. {2 Kon 18:9}

721 vC:

Drie jaar later, in die 6de regeringsjaar van Hiskia (9de regeringsjaar van Hosea) neem Salmaneser die stad oor en verower Samaria, die hoofstad van Israel. {1 Kon 18:10} Hosea word na Assirië weggevoer. {2 Kon 17:3-6} (Assirië se hoofstad is Nineve) Hosea is die laaste koning van Israel. Hy het geen opvolger nie.

DIT IS DIE EINDE VAN ISRAEL, DIE NOORDELIKE KONINKRYK (721 vC)

713 vC:

In die 14de regeringsjaar van Hiskia (726-13 = 713 vC) val Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aan en verower dit. {2 Kon 18:13; Jes 36}

Die hoofadjudant van Sanherib sê dat Hiskia verniet op Egipte of op God vertrou. Hulle gaan verslaan word.

God gryp in en Koning Sanherib kry berig dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. ‘n Engel van die Here maak verder 185000 man in die Assiriese kamp dood. Sanherib gaan terug na Nineve. Terwyl hy op ‘n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid, steek Adrammelek en Sar-Eser hom met swaarde dood.

Hiskia word ernstig siek. Jesaja sê vir hom dat hy gaan sterf. Hiskia is baie hartseer en vra dat God in ag sal neem dat hy getrou was aan die Here. God stuur vir Jesaja terug en sê vir Hiskia dat sy lewe met 15 jaar verleng sal word. Hiskia vra vir ‘n teken dat hy gesond sal word. God laat die skaduwee op Hiskia se pa, Agas, se sonwyser 10 trappe terug skuif. {2 Kon 20; 2 Kron 32:24; Jes 38}

In dié tyd stuur koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte. Hiskia wys die gesante alles wat hy het. Jesaja kondig sy straf af: Alles wat in sy paleis is, sal weggedra word na Babel toe. Van sy eie seuns sal gevat word om diens te doen in die paleis van die koning van Babel. Dit sal egter nie in sy leeftyd gebeur nie. {2 Kon 20:12-19; 2 Kron 32:25-31; Jes 39}

Die profeet Miga van Moreset profeteer. {Miga 3:12; Jer 26:18-19}

710 vC:

Hiskia se seun, Manasse, word gebore. 12 jaar later word hy koning. {2 Kon 21:1; 2 Kron 33:1}

Berekening: 698+12 = 710 vC

698 vC:

Hiskia sterf van natuurlike oorsake. Hy was 25 jaar oud en het 29 jaar geregeer. {2 Kon 18:1} (727-29 = 698 vC) Dit is 15 jaar nadat hy siek geword het en God sy lewe verleng het.

Hiskia se seun, Manasse, volg hom op as koning van Juda. Manasse was 12 toe hy koning geword het en het 55 jaar geregeer. {2 Kon 21:1; 2 Kron 33:1}

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui